Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tracey staan sterk
28 November 2018

Die feestyd is ’n viering van familie en liefde en vir ons eie Tracey Lange (34) is dit een van haar gunstelingtye van die jaar. Tog is hierdie jaar vir haar bittersoet omdat dit haar eerste een sonder haar geliefde pa, Colin Lange (71), gaan wees.

Maar dit was ’n jaar vol hoogtepungte vir dié beeldskone vrou met die skitterende glimlag en aansteeklike lag. “Ek is tans besig om my drome uit te leef! Ek is op die grootste radiostasie in die Wes-Kaap, KFM, ek is die beskermvrou van WAT se Borg ’n Woord, ek het Dancing with the Stars SA hierdie jaar aangebied, ek is ná ses jaar steeds mal daaroor om deel te wees van Bravo! en is ook nou deel van ’n wonderlike talk show, Tussen Ons. Ek is die aanbieder en ook ’n vervaardiger. Dis alles waarvan ek nog altyd gedroom het,” borrel sy opgewonde.

Sy vertel een van die lekkertes is dat sy haar nooit hoef te bekommer oor klere nie, want daar is ’n stilis, Kyra Loubser, wat seker maak dat sy altyd goed lyk vir TV en haar hare en grimering doen.

“Maar eintlik is ek net in ’n bevoorregte posisie om my familie te bederf net soos ek nog altyd wou. Dít was my grootste droom en ek kan dit nou al vir ’n paar jaar doen,” vertel sy.

So besig soos wat sy is, sal sy in die nuwe jaar nóg meer wil uitbrei, nóg radioprogramme by haar lys voeg en meer groei in haar rol as vervaardiger. Daar is geen keer aan Tracey nie!

Maar haar hart het onlangs in skerwe gespat toe haar pa skielik en onverwags op 30 September weens ’n groot hartaanval gesterf het. Tracey was by haar huis in Kaapstad toe sy die oproep van haar ma, Theresa (62), ontvang. “Sy het gesê hulle het nog lekker gesels en lunch gehad by hul huis in Somerset-Wes, waarna sy op die bed gaan lê het. Sy het hom hoor val in die gang en gehardloop om hom te gaan help,” sê sy saggies. Haar ma kon nie haar pa help nie en het onmiddellik na die bure geroep.

“Die buurmense en die gemeenskap was fantasties en het haar vinnig te hulp gesnel. Ronald Manus en Des Smith is dié wat onmiddellik opgetree het,” onthou sy.

GROOT VERLIES

Tracey en haar pa, Colin, het 'n hegte band gehad.

Vroeër daardie oggend het Tracey al die pad Somerset-Wes toe gery om saam met haar pa kerk toe te gaan die dag voor sy 71ste verjaardag (op 1 Oktober), maar haar ouers het onverwags ’n diens vir bejaardes in Jamestown bygewoon, so sy kon hom nie daardie oggend sien nie.

“Hulle sou ook vir sy verjaardag na Tussen Ons toe gekom het as deel van die ateljeegehoor, so dit was bittersoet.”

Colin was die oudste van 13 kinders, pa van twee dogters, oupa van drie en amptelik oupa van ’n hele gemeenskap se kinders. “My pa was ’n plesierige mens wat altyd ’n gawe woord gehad het en niks was ooit te veel moeite vir hom nie,” onthou Tracey. Sy vertel jong, nuwe ouerpaartjies in die gemeenskap sou hom bel as hul kinders siek geraak het by die skool en hulle nie by die werk kon afvat nie. Haar pa sou dan die kinders gaan oplaai en by hom hou. Van hierdie kinders kom vra steeds vir haar ma waar hy is, want hy was hulle almal se oupa en hulle verstaan nog nie die dood nie.

Hy was reeds 11 jaar afgetree uit sy pos as verkoopsverteenwoordiger vir PG Bison, maar het tot sy dood grappies vir sy oudkollegas gestuur. Hy was lief daarvoor om mense te laat lag, maak nie saak hoe nie, hy wou mense gelukkig sien.

“Hy het byvoorbeeld vir iemand wat ’n eksamen geslaag het, ’n kaartjie gekoop wat gesê het ‘my deepest sympathy’ en dan geskryf, ‘my deepest sympathy, want nou kan jy nie meer lui wees nie’, ” lag sy. Een van sy gunstelinggrappies, die een waarvoor hy bekend was, was om vir iemand wat siek is of kla oor pyn te sê, “ ‘Ag, drink net ’n lepel Jeyes Fluid!’ Ná sy dood het soveel mense ons weer daaraan herinner,” verklap sy.

“Die dag met sy afsterwe het baie van sy oudkollegas gedink dis ’n grap van hom om hulle almal net bymekaar te kry,” glimlag Tracey. Dit was vir haar ’n riem onder die hart om die groot, ouer manne te sien met trane in hul oë en die diepe hartseer oor die verlies van haar pa. Dit het weereens bewys hoeveel hy vir hulle almal beteken het.“Hy was lief vir sy familie en kon ook moeilik raak as dinge nie reg was nie! Hy was nie ’n perfekte man nie, maar hy het perfek liefgehad,” vertel sy terwyl ’n traan van onthou saggies oor haar wang rol.

Tracey sê hoewel haar hart gebreek was en sy tot in die diepste wese van haar siel geruk is, was sy nie werklik geskok nie. “Ek het vir ’n lang tyd vir myself gesê dat ek myself moet gereed maak vir so ’n tipe boodskap, want Pa en Ma raak ouer,” erken sy.

Die dag ná sy dood het Tracey voortgegaan met die opname van Tussen Ons, want die familie wou steeds na die ver­filming gaan en haar ma het gesê dis belangrik dat sy moet voortgaan. “Sy het wel vir my gevra of ek sterk genoeg voel om dit te doen. Ek het daardie show vir my pa gedoen. Ek het die dag ná die opname ’n boodskap van Marc Lottering gekry. Hy het gesê dat hy op die dag van sy pa se dood ook nog moes optree en dat dit ’n dag is wat ek nooit sal vergeet nie,” onthou sy.

Die daaropvolgende dae was so besig met reëlings tref vir die begrafnis, want hulle het baie mense verwag omdat hy so betrokke was by die gemeenskap en kerk. Hulle moes ’n saal kry, want nie een van die gemeentes was groot genoeg nie. Daar was net so oor die 1 300 mense by haar pa se begrafnis.

MIN TYD OM TE ROU

Tracey is in die fleur van haar lewe en geniet elke oomblik daarvan.

“Dit het my baie min tyd gegee om te rou en te besef wat eintlik gebeur het. Ek moet ook erken dat ek partykeer al gekla het oor die feit dat my beroep van my verwag om daagliks net gelukkig te wees en my eie emosies te ignoreer. Met die dood van my pa het ek besef my werk het my voorberei op daardie week. Daardie week toe ek net daar moes wees en wou seker maak dat my ma en sussie weet hulle kan huil as hulle moet. Ek wou seker maak hulle weet dat hulle net kon vertrou dat alles onder beheer was,” vertel sy vol emosie.

“Nou is dit anders, want die realiteit is daar en nou is ek by die huis en ek laat myself toe om dit te voel. Dis moeilik om te besef hy is nie meer daar nie of dat ek hom nie weer gaan hoor lag of nies nie. Ek het altyd as kind gelag as hy nies, want dit was so snaaks. Ek sal hom nooit weer hoor snork nie en ja, ek is al vir jare uit die huis, maar my pa se gesnork was altyd vir my ’n troos en as kind as ek dit gehoor het, het ek altyd veilig gevoel,” onthou sy met ’n glimlag.

Vir Tracey gaan die hartseer haar nog lank bybly. “Ek het nog nie tyd gehad om net te huil en dan sonder mense te wees wat van my verwag om ’n smile op hul gesig te sit nie. Dis wat my werk van my verwag en vir daardie rede sal ek ongelukkig moet wag tot ek ’n blaaskans kan vat,” meen sy.

Haar lewensmaat, Avukile Mabombo, was in Johannesburg die dag van haar pa se dood. Tog het hy vier ure nadat sy ’n boodskap met die nuus aan hom gestuur het, by haar ma se huis aangekom. “Hy was net dáár. Al die pad. Hy het verlof geneem en gehelp met die reëlings tref en was die aand van Tussen Ons ook saam met my op stel om seker te maak ek is oukei,” vertel sy terwyl haar oë skitter. Avukile is baie soos haar pa – hy praat nie te veel nie, net as hy baie gemaklik is met mense. Hy lag maklik en neem homself nie te ernstig op nie. “Ek is baie bly dat hulle mekaar kon leer ken. Dít maak my die blyste!”

Colin het vir Tracey geleer om kanse te vat, alles te probeer, om nie bang te wees nie en om geleenthede aan te gryp. Deur sy voorbeeld het sy besef almal is belangrik – maak nie saak of jy nie geld of ’n graad of ’n mooi kar het nie – almal verdien respek. En dat rykdom nie naastenby so belangrik is soos vrede nie.

“Deur net in my te glo, het hy my in myself laat glo. ’n Pa wat sterk dogters wil grootmaak en wil hê dat sy dogters na hulself moet kan kyk, is ’n pa duisend,” vertel sy. Hy het haar altyd gemotiveer en geglo dat harde werk jou sal bring net waar jy wil wees. Hy het ook ’n onwrikbare geloof en vertroue in God gehad en het nie geglo in opgee nie. Hy het ’n gebalanseerde lewe gelei en geglo om ’n Christen te wees, nie beteken dat jy met ’n somber gesig moet rondloop nie.

'N STERK MAN

Hoewel Colin in graad 9 skool moes verlaat om geld te verdien vir die familie, het dit nie in sy pad gestaan om ’n goeie lewe vir homself en sy gesin te maak nie.

“Niks was ooit te veel moeite nie en hy het hard gewerk om vir ons ’n goeie lewe te gee,” sê sy trots. Colin het nie die maklikste kinderlewe gehad nie. Sy pa het gereeld sy ma mishandel. Miskien juis daarom het hy geweier om die leefwyse van alkohol en mishandeling te herhaal.

“Ek het dit altyd bewonder, want om van dit te kom en dit nie te herhaal nie, verg baie, maar hy het dit gedoen. Dit was ’n inspirasie. Hy het ook nooit sy ouers geblameer vir die feit dat hy nie sy skoolloopbaan kon voltooi nie, hy het altyd net sy ding gedoen en ’n week voor hy en my ma getrou het, het hy nog sy salaris vir sy ma gegee om na die familie te kyk.”

Deur net in my te glo, het hy my in myself laat glo. 'n Pa wat sterk dogters wil grootmaak en wil hê sy dogters moet na hulself kan kyk, is 'n pa duisend.
Tracey Lange
HOOFFOTO: Tracey Lange se toekoms sonder haar pa voel vir haar bittersoet.

Wat Tracey regtig van haar pa mis, is die lekker flou jokes wat hy elke week vir haar gestuur het, want hy het geglo dat ’n grap, net soos ’n Bybelvers, ’n plek het. Sy verlang na sy luister-oor en sy wyse waarhede. “Die advies as dit kom by mense met wie ek werk en hoe om dit te hanteer, dis ook nou weg. Hy was baie wys en behulpsaam en het geglo alles moet met liefde gedoen word,” sê sy.

“Die toekoms lyk maar bra vaal sonder hom,” sê sy eerlik. “Ek is hartseer oor die feit dat as ek die dag kinders gaan hê, hulle hom nooit sal ken nie of sy liefde vir kinders kan geniet nie. Dis droewig, want elke show wat ek nou doen, radio of TV, weet ek dat hy nie daar is om te sien nie,” erken sy afgetrokke.

Hierdie Kersfees is die Lange-familie se driejaarlikse reünie, so almal kom van waar in die wêreld hulle ook al is (van so ver as China) Kaap toe vir ’n groot familie-Kersfees. Almal koop vir almal geskenke en geniet ’n lieflike dag saam. Die beplanning word al vir meer as ’n jaar gedoen en daar is selfs komitees in die familie wat moet sorg vir kos, ’n venue en so meer.

“Hulle het elke maand vergaderings en stuur dan vir ons die notule van elke vergadering,” lag sy en haar kenmerkende glimlag verhelder. Hulle gaan as ’n familie, sodra almal hier is op die 23ste Desember, Colin se as strooi.

Tracey wens sy kon nog net een keer vir haar pa vertel hoe deksels trots sy op hom is, dat sy nog tyd gehad het om die dinge vir hom te doen wat sy so graag wou. Uit haar pa se dood het sy geleer dat jy moet lief wees vir almal wat God aan jou gee, want een of ander tyd gaan Hy hulle wil terughê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.