Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Trots deur die trane ná matriekdogter aan kanker sterf
lynette ruiters, kieshia
lynette ruiters, kieshia ruiters
lynette ruiters, kieshia ruiters


Elke ma droom daarvan om vir haar kinders beter geleenthede te gee as wat hulle self gehad het. Vir Lynette Ruiters (36) was dit iets so eenvoudig soos ’n matrieksertifikaat wat vir haar sou bewys sy hét in hierdie doel geslaag met haar oudste dogter, Kieshia (19). Die wêreld sou so baie vir hulle albei beteken het.

Maar ’n massiewe uitdaging het Kieshia in die gesig gestaar – sy was dodelik siek met leukemia (bloedkanker) in haar matriekjaar en haar droom het by tye buite bereik gelyk. Maar terwyl siekte haar tenger liggaam afgetakel het, was Kieshia vasbeslote om matriek te slaag. Soveel so dat Kieshia in November verlede jaar nog op haar siekbed haar laaste twee vakke in die hospitaal geskryf het.

Terwyl Lynette van Uitsig, naby Elsiesrivier in die Kaap, se moederhart gebars het van trots met Kieshia se toegewydheid, het dit terselfdertyd in stukke omdat sy geweet het haar pragtige meisiekind veg om oorlewing teen ’n genadelose siekte. ’n Emosionele Lynette onthou hoe Kieshia altyd meer bekommerd was oor haar skoolwerk as haar gesondheid. Sy onthou ook hoe Kieshia gehuil het toe daar ’n moontlikheid was dat sy nie haar matriekeindeksamen sou kon skryf nie.

Maar toe gee God hulle daardie genade en Kieshia skryf nie net haar matriekeindeksamen nie, maar sy slaag dit ook. En om die kersie op die koek te plaas, was sy die topstudent in haar skool, Marion Hoërskool. Kieshia het ook in Januarie vanjaar (postuum) ’n merietetoekenning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ontvang.

Ongelukkig sou Kieshia egter nooit in hierdie ongelooflike oomblik met haar ma kon deel nie, want sy is in die hospitaal oorlede ’n week nadat sy haar laaste vak geskryf het. Lynette het Kieshia se merietetoekenning ontvang by die WKOD se geleentheid waartydens topmatrieks vereer word. So terwyl soveel matrieks en hul ouers kon celebrate, het Lynette net haar kind se toekenning in haar hande gehad terwyl sy met eintlik net haar kind teen haar bors wou vasdruk.

Net ná die matriekuitslae bekendgemaak is, het die media vinnig Kieshia se storie opgetel, maar dis eers wanneer jy teenoor Lynette sit dat jy besef hoe rou haar moederhart nog is. En hoe absoluut seer hierdie Moedersdag gaan wees omdat ’n deel van haar nie meer lewe nie.

Maar op hierdie oomblik is dit God se genade en hoe Kieshia haar trots gemaak en geïnspireer het, wat Lynette deur ’n onbeskryflike seer tydperk dra.

Na aan mekaar

Lynette hou haar ken vas en staar voor uit. Sy raak doodstil vir ’n oomblik, amper asof sy in daardie oomblik van vooraf alles moet verwerk. Uiteindelik kyk sy op.

“Vir my voel dit alles nog so onwerklik. As ek dink hoe opgewonde sy was toe sy pre-admission vir universiteit gekry het en hoe sy uitgesien het na haar toekoms, kan ek nie glo dat sy nie meer met ons is nie. Haar lewe sou nou eers begin het, sy het nog haar hele toekoms voor haar gehad,” sê Lynette wat in graad 10 uit die skool is. Syself het nog altyd van matriek gedroom en toe word Kieshia die eerste een in haar familie wat universiteitstoelating kry.

“Dit voel vir my asof dit nou eers vir my begin tref dat sy regtig weg is, dat dit nie net ’n droom is nie en dat sy nie een van die dae weer ingestap gaan kom nie. Vir ’n beter kind kan ’n ma nie gevra het nie. Sy was saggeaard, inspirerend en was my beste vriendin.”

Vir so lank as wat sy kon onthou, was dit net sy, Kieshia en haar jongste dogter, Claudette (12). Lynette en haar kinders se pa is nie meer saam nie, so sy was gewoond daaraan dat dit net sy en haar dogters is. Al het sy nooit die geleentheid gekry om te gaan swot nie, is dit iets waaroor sy gedroom het en het haar kinders se drome haar eie ook geword.

Sy en Kieshia het alles met mekaar gedeel, saans langs mekaar geslaap en soggens voor skool saam ontbyt geëet. As sy in ’n man belanggestel het, het sy vir Kieshia gesê en gevra of sy dink dit ’n goeie besluit is of nie. Kieshia, wat self ’n kêrel gehad het, het ook daarvan gehou om sake van háár hart met haar ma te deel.

Lynette sê dit is hierdie klein goedjies en oomblikke waarna sy die meeste verlang.

“Dit is nooit reg wanneer ’n kind op so ’n jong ouderdom weggeneem word nie. Sy wou ’n social worker word en ek weet sy sou soveel van haarself vir mense gegee het en liefde versprei het waar ookal sy haarself bevind het,” sê sy.

Kieshia se siekte het die familie onver-wags in April 2017 getref toe Kieshia verskriklik moeg begin word het. Ná vele doktersbesoeke is Kieshia uiteindelik met leukemia gediagnoseer. Vir die res van daardie jaar was Kieshia op behandeling en sou sy ná haar behandeling ’n beenmurg-oorplanting ontvang het. Haar suster was ’n match, maar ná haar chemo het die dokter gesê sy is in remissie.

“Ons was só bly. Ek onthou toe sy uitkom moes ek vinnig speel om vir haar ’n matriekafskeid te reël. Al was sy nie daardie jaar op skool nie, het hulle dit so gereël dat sy nog saam met haar vriende en klas matriekafskeid kon hou. Sy sou in 2018 net op haar skoolwerk konsentreer en haar matriek skryf, maar al die ander dinge soos afskeid hou en valedictory toe gaan wou sy met haar eie klasmaats doen.”

Vir die hele 2018 was Kieshia gesond en was sy soos enige ander kind. Sy het net vir universiteit gewag, maar toe begin Kieshia weer moeg word. Sy het aanhou probeer maak asof sy gesond was, maar Lynette het net geweet iets is fout.

Toe hulle die nuus kry dat haar siekte weer terug is, het dit Kieshia verpletter, maar sy het aangedring om haar matriek klaar te maak. Soos enige ma wou Lynette haar kind gelukkig en gemaklik maak en het sy met die hulp van die skool gereël dat Kieshia haar laaste twee vakke in die hospitaal skryf. Sy het ook dat Kieshia se drip aan haar linkerhand gesit word, sodat sy nog met die regterhand kon skryf.

Maar toe doen Kieshia longontsteking op en nadat sy klaargeskryf het, het sy vinnig swak geword. Lynette het egter nooit gedink haar kind sou sterf nie...

Die laaste keer

lynette ruiters, kieshia ruiters
Lynette Ruiters saam met haar dogter, Kieshia.

Die dag van haar afsterwe op 4 Desember het hulle nog die oggend gesels en sy het net huis toe gegaan om te stort en slaap toe Kieshia se organe begin ingee.

“Daardie oggend was die laaste keer dat ek moet haar gepraat het. Sy het nooit weer bygekom nie. Ek het vir haar gesê ek is baie lief vir haar en toe is ek huis toe. Dit was vir ons almal ’n groot skok toe sy daardie aand sterf en sedertdien was niks in ons huis dieselfde nie,” sê sy.

“Maar selfs op my slegste dag, moet ek nog sterk bly en onthou dat ek ’n ander dogter het wat my ook nodig het en dat ek nie net op Kieshia se sterfte kan fokus nie.”

Lynette sê sy hoop noudat al die hype rondom matriekuitslae minder word en die jaar aan die gang is, dat hulle uiteindelik sal kan begin rou, want tot nou was dit baie moeilik vir haar om al Kieshia se prestasies sonder haar te vier.

Niemand sal Lynette se seer heeltemal verstaan nie. Sy sê daar is nie ’n spesifieke Bybelvers wat haar deur moeilike tye dra nie, maar sy vind troos in die feit dat God nie dinge op jou pad sal bring wat jy nie sal kan hanteer nie. Sy glo dat die Here ’n plan met alles het en sy weet dat Kieshia vandag by die Here is...

Meer oor:  Kieshia  |  Kuier  |  Lynette Ruiters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.