Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tuisonderrig: 'n Alternatief vir gewone skool?
8 Januarie 2020

Met al die berigte oor geweld, oorvol klasse, boelies en sekspeste sit talle ouers met hul hande in hul hare oor hul kinders se opvoeding.

Dinge gaan deesdae so sleg in Suid-Afrikaanse klaskamers dat baie ouers tuisonderrig as ’n alternatief begin oorweeg. Volgens die South African Homeschool Curriculum, het ongeveer 100 000 Suid-Afrikaanse families reeds op hierdie opsie besluit. Hoewel jy nie ’n kwalifikasie nodig het om jou kind tuis te onderrig nie, is hierdie opsie nie vir jou as jy ’n voltydse werk of min geduld het nie.

Ouers wat sukkel om te kommunikeer, dit nie kan bekostig nie of regtig nie daarin belangstel om hands-on betrokke te wees by hul kind se opvoeding nie, moet ook maar wegbly. Een ma wat haar taak as tuisopvoeder baie ernstig opneem, is Heideli Loubser (34) van Langeberg Ridge in die Kaap.

Sy homeschool haar kinders (6 en 2) sedert Augustus verlede jaar en is so opgewonde daaroor dat sy ’n blog begin het waar sy hulpbronne makliker en minder oorwel-digend probeer maak vir ander ouers. “Ons doen tuisskool omdat ons die tyd saam met ons kinders wil geniet. Ons wil ons Christenskap met hulle deel en vir hulle ’n opvoeding gee wat pas by hul tempo, leerstyl, belangstellings en Godgegewe talente. Met tuisonderrig kan ons onderrig van ’n hoë gehalte verseker,” sê sy.

Al verg dit opofferings en moet jou beplanning van tyd en geld baie goed wees, is dit vir Heideli beslis die moeite werd. “Jy kan soveel spesiale oomblikke en tye vaslê en spontaan geniet. Dit doen wondere vir jou verhouding met jou kind. Wanneer jou verhouding met jou kind gesond is, is leer soveel makliker. Jou kind kry die tyd en geleentheid om met jou te praat en vir jou te wys en verduidelik hoe sy oor iets dink en voel. Dis goud werd!”

Verder voel Heideli haar kinders is veiliger omdat daar nie boelies of aanvalle tuis is nie. Haar raad vir ander ouers is om oopkop te bly, baie te lees en gewillig te wees om nuwe dinge te probeer en verhoudings te bou met ander tuisopvoeders. Sunelle le Roux (46) van Port Alfred in die Oos-Kaap, het vir ses jaar haar kinders (19, 16, 12 en 9) tuis onderrig, omdat sy betrokke wou wees by hul opvoeding.

“Ek dink dis voordelig dat hulle nie ure elke dag mors nie, maar werk in baie minder tyd kan klaarmaak. Hulle kan meer onafhanklik leer, op hul eie manier en tempo.” Die nadele is egter dat dit moeilik is om sport en ander sosiale buitemuurse aktiwiteite te reël as jy meer as een kind het. Dis ook effens gekompliseerd in SA wanneer hulle na die FET-fase toe gaan. “My kinders het gevra om skool toe te gaan toe hulle ouer word, omdat ons op ’n klein dorp bly en amper alle sosiale aktiwiteite om die skool draai en hulle het uitgesluit gevoel.”

Sunelle dink steeds tuisonderrig is voordelig, veral vir jong kinders, maar as jy daaraan dink om hulle later skool toe te stuur, is dit veral moeilik vir hulle om aan te pas met byvoorbeeld sport, want dan is hulle ’n paar jaar agter met spansport. “Maak net seker hulle is deel van sportklubs of iets soortgelyks.” Rose Nel (52) van Johannesburg het haar kinders ook vir ’n hele paar jaar tuis onderrig. Vir haar was dit lekker om so betrokke te wees en haar kinders se besondere talente kon ontwikkel. “Dit kan baie duur uitwerk, veral as jou kinders belangstel in ander buitemuurse aktiwiteite.” Haar kinders is ook uiteindelik skool toe.

Hang van kind af

Frances Kaplan, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê die behoeftes en belange van die kind moet die deurslaggewende faktor wees wanneer ouers besluit oor hul kind se opvoeding. “Alle kinders sal nie baat by tuisonderrig nie. Ek dink baie kinders floreer in hoofstroom-onderrig en het ’n vervullende ervaring. Dis belangrik om te onthou kinders is sosiale wesens wat die klaskamer-omgewing geniet,” verduidelik sy.

In haar ervaring is kinders wat kan baat by tuisonderrig diegene wat sukkel in ’n tradisionele skool-omgewing, soos byvoorbeeld iemand met leerprobleme, op die outistiese spektrum is of wat sukkel met sensoriese prosessering. Die voordele van tuisonderrig vir só ’n kind, is onderrig wat die kind se spesifieke leerstyle en behoeftes in ag neem, een-tot-een interaksie en skedules wat by die kind se geaardheid pas. Dit kan ook emosionele en gedragsprobleme verminder en die kind se passie vir leer aanmoedig. “ ’n Kind wat nie aan hierdie kriteria vir tuisonderrig voldoen nie, sal verveeld en geïsoleerd vassit in ’n ongesonde huis-omgewing,” meen Frances.

Verder, waarsku sy, moet ouers onthou tuisonderrig is nie ’n maklike of goedkoper opsie nie. “Dit verg toewyding, navorsing en baie tyd.” Frances raai ouers aan om al die moont-like opsies na te vors. “Tuisonderrig is lankal nie meer ’n ouer wat ’n kind in isolasie tuis onderrig nie. Daar is ’n klomp wonderlike opsies om van te kies, sodat kinders sosiaal gestimuleer kan word. Bestuur die proses reg en wees teenwoordig in jou kind se opvoeding.”

Deon Louw, adjunk-direkteur van die Wes-Kaapse departement van onderwys, verduidelik ingevolge die Suid-Afrikaanse skolewet moet kinders van verpligte skoolgaande ouderdom (7 tot 15), geregistreer wees by die departement om tuisonderrig te kan ontvang.

Die aansoek moet teen September vir die volgende jaar by die betrokke onderwysdistrikskantoor ingedien word. Daar is geen koste hieraan verbonde nie, maar alle ander uitgawes, soos leermateriaal, kom uit die ouers se sak. “ ’n Leerder wat tuisonderrig ná graad 9 ontvang, moet registreer by ’n onderwysverskaffer wat geregistreer is by die assesseringsliggaam wat verantwoordelik is vir die aflê van die finale Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen.

Dít is om te verseker hy of sy voldoen aan die programvereistes vir graad 10, 11 en 12 onderskeidelik; die Skoolgebaseerde Assessering (SGA), Praktiese Assesseringstaak en mondelinge assesseringvereistes vir taal vir graad 10, 11 en 12; en die eksterne assesseringsvereistes van graad 12, soos bepaal in die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring van die verskillende vakke. Leerders wat tuisonderrig ontvang, moet bewys lewer dat hulle by ’n onderwysverskaffer geregistreer was voordat hulle toegelaat word om vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te lê.

Maak só

Volgens Karin van Oostrum, uitvoerende bestuurder van Pestalozzi Trust, ’n regsfonds wat tuisskolers help om kinders se beste belange te beskerm, is die wet besig om te verander en die nuwe beleid wil beheer oor tuisonderwys baie strenger maak en mik uiteindelik daarna dat alle onderwys in Suid-Afrika eenderse uitkomste het. Karin sê dis verbasend maklik om te begin met tuisskool.

“Begin deur jou kind uit die skool te haal en vir ’n rukkie te ‘ontskool’. Sit dan saam as gesin en besin oor wat julle wil verander in jul lewe en wat is jul ideale vir jul kind. Stel vas op watter vlak jou kind is met sy verskillende vaardighede en vakke – dikwels verloor ’n mens tred met dit wat jou kind kan doen en nie kan doen nie as hy in die skool is. “Koop leermateriaal wat pas by sy vaardighede.

Daar is ’n wye verskeidenheid materiale beskikbaar. Dit word byvoorbeeld op www.sahomeschoolers.org geadverteer. Onthou kinders leer nie net uit boeke of ’n kurrikulum nie. Laat hom genoeg speel, betrek jou kind by jou lewe, en leer hom lewensvaardighede. Maak kontak met ander tuisskolers vir geselligheid en ondersteuning.

Sluit aan by ondersteuningsgroepe, verenigings en die regsfonds vir tuisonderwys.” Marietjie Ueckermann van Cape Home Educators herinner ouers elke geleentheid is ’n kans om te leer. “Leer hou nooit op nie, dis gebaseer in die werklikheid, of jy nou jou kinders leer om te help kosmaak, hulle betrek by die opstel van begrotings, die roete vir vakansie te beplan, om te sien hoe die loodgieter die herstelwerk doen, elke geleentheid bied blootstelling om iets nuuts te leer. Die lewe is die kurrikulum!”

Ongeveer 100 000 families gebruik tuisonderrig in SA.

Meer oor:  Tuisonderrig  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.