Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tumors treiter haar: Ma vas in kankerhel
15 Oktober 2020

As sy vir haar jonger self een les kon leer, sou dit wees om sonroom te gebruik en soveel moontlik uit die son te bly.

Cheree McEwen (39), veg nou al die afgelope ses jaar verbete teen fase vier metastatiese melanoomkanker (velkanker) nadat sy op 33 gediagnoseer is met dié siekte. Cheree van Queenstown in die Oos-Kaap, was vir 15 jaar ’n onderwyser totdat die kanker te erg begin word het, waarna sy verskeie skoonheidskursusse voltooi en ’n skoonheidsalon tuis geopen het.

Cheree is die afgelope ses jaar hospitaal in en ui
Cheree is die afgelope ses jaar hospitaal in en uit.

“Dit het begin met ’n klein moesie op my arm wat uiteindelik ’n tumor so groot soos ’n gholfbal onder my vel was,” vertel dié blondekopvrou met die mooi glimlag. Teen die tyd wat dokters die kanker gevind het, was dit klaar in fase drie en sy moes ’n enorme operasie ondergaan om verskeie letsels, tumors en kliere te laat verwyder. Sedertdien ondergaan Cheree konstant behandeling en operasies. Dokters het ook al tumors verwyder uit haar bors, maag en heupe. “Dis non-stop. Ek dink nie twee maande het al verbygegaan sonder dat ek ’n operasie of behandeling gekry het nie.”

Maar kanker kry nie sommer vir Cheree onder nie. Sy het tot en met twee maande gelede gewerk as skoonheidstegnikus om haarself en haar twee seuns te onderhou. Maar op die oomblik maak die kanker haar so siek dat sy nie meer kan werk nie.

Omtrent vier of vyf dae nadat hulle die 21 (tumors) uitgesny het, het hulle my ge-skandeer en nog tumors in my hand, arm en my borskas gevind en weer geopereer.

Vreemdelinge help

Cheree deel haar reis met kanker op Facebook om ander mense te inspireer. Só het sy vir Kathleen van Zyl van Kaapstad ontmoet en hoewel dié twee nog nooit in dieselfde vertrek was nie, is hulle deesdae boesemvriendinne.

“Haar storie het my net so aan die hart geraak omdat ek ook ’n ma is dat ek nie anders kon as om uit te reik na haar en haar te ondersteun nie. Sy is ’n ongelooflike en merkwaardige vrou,” vertel Kathleen. “Ek kan nie wag om my vriendin en haar seuns eendag in lewende lywe te ontmoet nie, maar tot dan doen ek wat ek kan om haar van hierdie kant af te ondersteun.”

Die twee vriendinne gesels amper daagliks en dit is vir Kathleen vir wie Cheree bel wanneer dit voel asof sy nie meer kan nie. “Sy sal nooit kla nie, oor niks. Maar partymaal het sy net nodig om haar hart uit te huil, soos wanneer sy langpad bestuur en so moeg en seer word dat sy nie weet of sy by die ander kant gaan uitkom nie. Maar sy droog altyd weer haar trane af, lig haar kop op en gaan aan.”

Op haar beurt sê Cheree: “Sonder daai vrou in my lewe weet ek nie waar ek vandag sou wees nie. Sy help my deur haar liefdadigheidsorganisasie, Wings of Love, om fondsinsamelings vir my te doen en sy het my regtig onder haar vlerk geneem. Sy het net soos ’n engel in my lewe ingekom toe ek iemand die meeste nodig gehad het.”

Ongelukkig kry Cheree nie veel ondersteuning van haar eie familie nie, maar die mense wat na haar uitreik en haar ondersteun deur Facebook, het vir haar ’n kosbare lifeline geword. Cheree het eers in Oos-Londen gebly. Vroeër vanjaar moes sy Johannesburg toe reis om 21 gewasse te laat uitsny. “Omtrent vier of vyf dae nadat hulle die 21 uitgesny het, het hulle my geskandeer en nog tumors in my hand, arm en my borskas gevind en weer geopereer. Ek en my dokter het besluit dis die laaste operasie. Ek moes daarna baie tyd in ICU spandeer as gevolg van die pyn.”

Dit was vir haar vreeslik swaar dat sy geen besoekers kon ontvang in hierdie moeilike tyd nie. Terwyl sy daar was, het die hospitaal ’n uitbraak van Covid-19 gehad en moes toemaak nadat 88 mense positief getoets het vir die virus. Sy moes nadat sy ontslaan is haar siek self, vrou-alleen, terug bestuur Oos-Kaap toe (’n nege uur lange rit), omdat sy by haar seuns wou uitkom. Twee dae later het sy siekerig begin voel en ook positief getoets vir die virus. Weer moes sy alleen aansterk. “Dit was regtig moeilik, amper twee-drie maande sonder my kinders.”

Daarna het sy uit Oos-Londen verhuis na Queenstown om nader te wees aan haar seuns, Luke (9) en Josh (13), wat sy saam met haar eksman, Mark McEwen, grootmaak. Cheree, wat teen hierdie tyd gewoond is daaraan om vir haar eie gesondheid te veg, het lag-lag met die virus afgereken.

“Ek het Covid-19 se gat geskop net soos ek kanker se gat gaan skop. Want ek is ’n ma en dis wat ons doen. Ons gee nie op nie. Ons veg tot ons laaste asem. Ek het my seuns, my kosbare seuns, om voor te lewe.” Maar dit was nie heeltemal so maklik soos wat sy dit laat klink nie. Cheree moes daagliks, hoewel sy in intense pyn was, haar eie wonde (van die operasie) skoonmaak en haar verbande omruil omdat sy in isolasie was en nie kliniek of apteek toe kon gaan daarvoor nie. Sy het ook, as gevolg van die corona-virus, vreeslik gesukkel met hoofpyn en lyfseer.

“Baie van die simptome wat ’n mens ervaar as jy Covid-19 het, is soortgelyk aan die simptome wat ek ervaar tydens my kankerbehandeling.” Hierdie behandeling behels dat sy haarself drie keer per week moet inspuit met medikasie wat jou laat voel asof jy ernstig griep onder lede het. Dit maar vir Cheree ook vreeslik naar.

Positief deur die pyn

Nadat sy teruggekom het in die Oos-Kaap, het haar gesondheid egter vinnig begin agteruitgaan. Met ’n skok het dokters bevind dat die tumors wat sy vroeër die jaar laat uitsny het, en nog meer, weer aan die groei is.

“Ek gaan nie vir jou jok nie. Ek was verpletter toe ek die nuus kry – 99% van die nuus wat ek kry oor toetsuitslae en so aan, is slegte nuus. Dit was nie net dat dit teruggeroei het waarmee ek gesukkel het nie, maar die feit dat ek en my dokter aan die begin van die jaar besluit het chirurgie is nie meer ’n opsie nie. My opsies is nou baie beperk en dis up to me om hierdie ding te fight.

WAARSKUWING: GRAFIESE FOTO'S

Tumors in haar hand.
Ma se kankerhel
Dokters het al herhaaldelik tumors uit Cheree se arm, hand en verskeie ander liggaamsdele verwyder.
Vroeër vanjaar het dokters meer as 21 tumors verwyder. Dit was tydens hierdie hospitaalbesoek wat Cheree Covid-19 opgedoen het.

“Maar ek het al lankal geleer, daar is niks wat jy kan doen om slegte nuus te verander nie. Dit is wat dit is. Al wat jy kan doen, is om die manier wat jy dit hanteer of daarop reageer, te verander. Jy kan maar net opstaan, jouself afstof en voluit aangaan – 90% van die geveg is mind over matter. As jy jou gedagtes kan regruk, hoef jou liggaam net die laaste 10% van die werk te doen. Jou liggaam is net so siek soos hoeveel jy dit toelaat. As ek elke dag kan opstaan, so moeilik as wat dit ook al soms is, (glo my, soms moet ek maar hard met myself praat voordat ek bereid is om uit die bed te klim), kan ek aanhou veg.”

Cheree vermoed die oorsaak van haar kanker is omdat sy so baie tyd in die son en op sonbeddens deurgebring het. Dís hoekom sy mense waarsku om hulself te beskerm en ook te kyk na moesies wat abnormaal lyk of voel. Dit is vir Cheree belangrik om haar storie te deel om vir ander te wys dit maak nie saak wat jy moet deurmaak nie – of dit nou egskeiding, geldelike probleme, issues met jou kids, siekte . . . Enigiets – dit gaan oor jou gedagtes, oor hoe jy die situasie benader. Vir haar gaan dit nie net oor kanker nie en sy sien haarself nie as iemand spesiaal nie. “Dis alles oor jou positiewe attitude, jou fighting spirit, jou geloof en hoop. Jou eie persoonlike dryfkrag. Jy moet persevere deur alles wat die lewe jou kant toe gooi. Dít is wat belangrik is.”

Sy erken daar is oomblikke wat sy ’n bie-tjie hoop verloor. “In daai oomblikke van extreme, verblindende pyn, is dit soms ’n bietjie moeilik om jou self te motiveer om aan te gaan.” Maar wat haar elke keer weer inspireer om aan te gaan, is haar twee seuns. “Daar is geen manier wat ek kan opgee met hulle in my lewe nie. Ek kan myself toelaat vir ’n enkele oomblik om hopeless te voel, om my trane te stort, want ek is ook maar net mens. Maar net vir ’n oomblik. Want ek veg om te oorleef vir hulle!”

Ek sal nie opgee nie, al kan ek sien hoe die kankertumors teruggroei in my hand en arm, hoe scary dit ook al vir my is. Ek bedoel, ons weet nie wat in my liggaam aangaan nie.

Rekeninge hoop op

Cheree se tipe kanker reageer volgens haar nie op chemoterapie en bestraling nie. Die kanker versprei vinnig regdeur haar liggaam en kan op enige plek ver-skyn, want dit is in haar bloedselle. Haar grootste vrees op die oomblik is dat dit op pad is na haar brein. Operasies verleng dalk haar lewe met ’n paar maande, maar dis uitmergelend op haar sisteem.

Immunoterapie, wat Cheree se beste hoop op ’n toekoms is, word ongelukkig nie deur haar mediese fonds gedek nie. Dit kos ongeveer R90 000 per maand en vir Cheree is dit net eenvoudig nie bekostigbaar nie. “Ek is nie bang vir die dood nie. My geloof is sterk. My hart breek net vir my twee klein seuntjies,” sê Cheree saggies.

Sy is op die oomblik so siek en so seer dat dit moeilik is om te praat. Cheree kan op hierdie stadium glad nie meer werk nie, nie net omdat sy siek is nie, maar haar hand en arm is te seer vir haar tipe werk in die skoonheidsbedryf. Kathleen werk dag en nag om vir Cheree geld in te samel om ’n dak oor haar kop te hou en haar mediese onkostes te dek, maar die rekeninge hoop stadig, maar seker op. “Ek het die afgelope ses jaar nog altyd gewerk en my mediese rekeninge betaal, ten spyte van die daaglikse behandeling en gereelde operasies, selfs al het ek altyd êrens in my lyf steke en skete. Ek gee nooit op nie, maak nie saak hoe swaar dit raak nie, of hoe sleg die diagnose is of hoe ver die kanker versprei nie. Ek sal nie opgee nie, al kan ek sien hoe die kankertumors teruggroei in my hand en arm, hoe scary dit ook al vir my is. Ek bedoel, ons weet nie wat in my liggaam aangaan nie.”

Sy verduidelik voor haar laaste skanderings het dokters oorweeg om haar arm te amputeer om die verspreiding van die kanker stop te sit en ontslae te raak van die konstante pyn. Maar ná die skandering het hulle besluit daar is geen punt nie, want die kanker het reeds haar bloed- en limfstelsel geïnfiltreer. “Soos ons nou oor die foon sit en gesels, wieg ek op my bed en ek cradle my arm in my hand as gevolg van die pyn. Ek moet elke vier ure morfien neem net om die pyn effens te verdoof. Die pyn is nooit heeltemal weg nie, jy leer net om met dit saam te leef. Ek sê altyd vir myself: ‘Cheree, put on your big girl panties now and just fight . . .’ ”

Sterk vir kinders

As ’n ma en as iemand wat probeer om ander mense te inspireer met haar lewensverhaal, weier Cheree om op te gee, om op te hou veg in haar oorlog met kanker. Al het dokters haar ’n rukkie gelede aangemoedig om net die tyd wat sy oor het met haar seuns te geniet, sal sy nie aanvaar dat die einde van haar pad om die draai is nie.

Omdat sy nou in Queenstown bly om nader aan haar seuns te wees, wat daagliks ná skool tot so 17:30 by haar bly, moet sy weekliks en soms meer, Oos-Londen toe ry vir behandeling. Nie net is haar hele liggaam seer en moeg nie, maar sy moet met haar regterhand ratte verander omdat haar linkerhand te vol tumors is. Sy vermoed as gevolg hiervan het sy nou aaklige spasma wat in haar nek ontwikkel het en maak dat om haar kop te draai, of selfs te praat, nog meer intense pyn veroorsaak die afgelope paar dae.

“Partykeer is dit so seer ek kan nie my kop oplig of eens opstaan om toilet toe te gaan nie. Om asem te haal of te praat, is uitmergelend. Ek moet vir myself reminders stel om water te gaan drink omdat die pyn soms maak dat ek nie lekker kan onthou nie.” Dis een ding om teen ’n onsigbare monster te veg, maar as jy kan sien hoe die tumors groei, kan voel hoe die kanker jou van binne na buite opvreet. Jou lewe stukkie vir stukkie vermorsel en dit elke stukkie van jou menswees begin aantas, is dit ’n heeltemal ander ball game.

“Dokters het verlede jaar vir my vertel ek is, volgens die statistieke, die persoon in die wêreld wat al die langste met metastatiese melanoomkanker oorleef het. Die meeste mense sterf ná ’n paar maande tot ’n jaar. Toe ek aanvanklik gediagnoseer is, het dokters my drie maande gegee om te lewe omdat die kanker so aggressief is. En hier is ek, ses jaar later . . . Steeds besig om te veg.”

En al het sy in die proses haar loopbaan, haar huwelik, toesig oor haar kinders en haar inkomste verloor, is sy nie bereid om tou op te gooi nie, maak nie saak watter struikelblokke die lewe oor haar pad saai nie. Sy rus in haar geloof en hoop en dit is die liefde en ondersteuning van haar seuns, maar ook al die talle vreemdelinge wat al deel geword het van haar reis, wat haar inspireer om elke dag weer op te staan en aan te gaan. Vir haar is opgee nie eens ’n opsie nie omdat sy so hard geveg het om net tot hier te kom . . .

Meer oor:  Kankerstryd  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.