Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Twaalf koeëls: Man oorleef wonderbaarlik
13 November 2019


Menige jong man op die Kaapse Vlakte het al onskuldig met sy lewe geboet as gevolg van mistaken identity. En dít is presies wat met Wayne Dickens (25) van Lavender Hill gebeur het toe ’n onbekende man hom drie maande gelede twaalf keer vol lood gepomp het.

Wayne het wonderbaarlik oorleef en slegs een van sy organe, sy long, is in dié sinnelose aanval beskadig. Wayne, beter bekend as Junior, het nie net oorleef nie, maar ook ’n tweede kans op die lewe gekry. En hiervoor is hy ontsettend dankbaar. Junior weier ook om sy energie te vermors deur ’n wrok te koester teen sy vermeende aanvaller, wat steeds op vrye voete is. Hy het hom vergewe, al het die aanval veroorsaak dat sy lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie . . .

Junior is twee keer point blank (op kort afstand) in die gesig geskiet, drie keer in sy bors, vyf keer in sy rug en twee keer in die arm. Die skote in sy gesig het ernstige skade aan sy kakebeen en tandvleis aangedoen. Die drie skote in sy bors het sy long laat ineenstort.

Hy het ook twee gebreekte ribbes weens die vyf skote aan die regterkant van sy rug opgedoen. Die twee skote in sy arm het ernstige skade aan sy hele regterarm en -skouer veroorsaak. Gérard Labuschagne, ’n kliniese sielkundige en voormalige hoof van die polisie se ondersoekende sielkundige afdeling, het in sy 14 jaar lange polisieloopbaan al baie misdaadtonele gesien.

Volgens hom is dit “wonderbaarlik dat Junior leef”, maar hy sê ook dat noodlottige skietwonde afhang van verskeie aspekte. Oor Junior se geval sê hy: “Dit hang af waar presies in die gesig hy geskiet was en watter kaliber vuurwapen gebruik was. Die noodlottigheid van die skoot hang ook af uit watter hoek die skoot afgevuur is; of dit die skedel gepenetreer het en of dit slegs ’n been getref en weggeskram het sonder om te penetreer.”

Junior is dus gelukkig dat die koeëls nie enige kritieke organe geraak het nie. Junior sê hy is nie by enige bende-aktiwiteite betrokke nie en hy werk by ’n mechanic-besigheid. Hy weet steeds nie hoekom hy ’n teiken was nie. Hy is twaalf keer geskiet terwyl hy gepleit het vir sy lewe.

Tevergeefs, want die aanvaller het net aanhou en aanhou skiet. Maar selfs terwyl die aanvaller sy lewe skoot vir skoot probeer neem het, het Junior sy meisie se lewe gered toe hy in ’n heldhaftige daad sy liggaam as ’n human shield gebruik het om haar te beskerm. Uit vrees vir haar lewe, wil sy nie haar naam bekend maak of haar gesig wys nie.

Aanval

Die voorval, wat in September in Westridge, Mitchells Plain, plaasgevind het, het sy lewe verander. Nie net is hy nou daagliks in pyn nie, maar hy moet ook rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig ondergaan. Junior onthou die aand van die voorval soos gister. Dis amper asof hy die voorval weer herleef en sy hande begin bewe terwyl hy met ’n bewerige stem vertel wat daardie bisarre aand gebeur het.

“Ek het Westridge toe gegaan omdat my meisie die naweek by my in Lavender Hill sou spandeer. Nadat ek haar opgetel het, het ons gaan inloer by haar vriendin, want sy het pas in ’n nuwe plek ingetrek.”

Volgens Junior het hulle toe ’n uur daar gekuier voor hulle besluit het om pad te vat. “Ek het nog gesê ons moet gaan, want ons kan nie later as 22:00 in Lavender Hill ingaan nie. Ons het kar toe gestap en my meisie het ingeklim toe ek iemand met ’n vuurwapen in sy hand sien aankom. Ek het my cap van my kop gehaal sodat hy kon sien ek is nie die een na wie hy vermoedelik gesoek het nie. Dit het nie gehelp nie.”

Vir ’n rukkie moet Junior asemhaal voor hy verder vertel wat gebeur het. “Die aanvaller het die sneller getrek en ek onthou hoe my hart in my bors begin klop het. Die vuurwapen het gejam en ek kon die verwardheid op sy gesig sien. Hy het nie verstaan wat gebeur nie en het weer die sneller getrek. Dié keer was ek nie so gelukkig nie en hy het my in die gesig geskiet. Twee keer. Ek het toe my rug op hom gedraai om my meisie te beskerm en haar uit die kar te stoot. Toe skiet hy my nog tien keer.”

Terwyl Junior vertel, ruk sy ma se rou snikke hom terug na die hede en vir die eerste keer sedert hy begin vertel wat gebeur het, maak hy sy oë oop. Die trane blink daarin. Hy sug swaar voor hy skielik sê, “Dis baie moeilik vir my om hieroor te praat. Dis amper asof ek dit uit my mind wil blokkeer, maar dit wil nie weg nie. Dit kan nie weg nie.”

Hy kyk ’n rukkie na sy verstrengelde vingers en vertel voorts: “Ek onthou hoe ek my rug op hom gedraai het om myself en my meisie te beskerm. Daarna niks. Ek onthou nie die skote in my rug nie. “Toe ek wakker skrik, het ek voor in die kar gelê en iets het vreemd gevoel in my mond. Ek het gespoeg en vyf van my tande en ’n koeël het uit my mond gekom. Daar was bloed oral en ek het mense hoor skree. Mense wat probeer help. Maar alles was ’n waas.”

Stryd om oorlewing

Junior se meisie het die ambulans gebel, maar hulle kon nie in die gebied kom sonder die polisie nie. “Ek het net daar gelê en probeer kalm by. Dis iets wat ek nie kan beskryf nie. Terwyl almal om my paniekbevange was, het ek net geweet ek moet stil wees om te kan oorleef. Al waarop ek gefokus het, was my asemhaling.”

Junior vee met die agterkant van sy hand oor sy oë voor hy sy keel skoonmaak en sê: “Ek kon voel hoe die lewe my liggaam verlaat. Soos die bloed geloop het, het dit gevoel dis die lewe wat my verlaat. Elke druppel was ’n bietjie van my . . .”

Hy raak ’n rukkie stil voor hy met ’n bewerige stem sê daar is tog ’n bo-natuurlike krag wat hom aan die lewe gehou het. “Ek het verskriklik warm gekry. Dit het gevoel soos hot flushes, maar skielik het daar ’n koue wind oor my gewaai. Dit was asof dit my wonde gestreel het. ’n Guardian angel het oor my waak gehou.” Junior het vir ongeveer 45 minute lank lê en bloei tot hulp uiteindelik opgedaag het.

“My meisie het haar medical aid se ambulans gebel en hulle het tot op die toneel gekom. Dit is die enigste manier hoe ek hulp gekry het anders sou ek seker net daar lê en doodbloei het.” Sy meisie, wat saam met hom was ten tyde van die voorval, sit en luister met haar hande in haar hare terwyl Junior vertel van hul gruwelaand. Sy bly steeds in Westridge en omdat sy vrees vir haar veiligheid wil sy haar naam weerhou.

“Dit is vir my baie moeilik om te praat oor wat daai aand gebeur het. Dit speel amper elke aand in my drome af. Ek kon my lewe verloor het as hy my nie beskerm het nie en vir wat? Omdat iemand besluit het om op verkeerde mense los te brand? Dit is nie fair nie.”

Dis duidelik dat dié twee steeds ná drie maande nie tot verhaal gekom het nie. Ná ’n hele ruk van stilte is dit Junior wat sê hy sou nooit kon dink dat so iets met hom sal gebeur nie. “ ’n Mens lees en hoor gewoonlik van dié goed, maar nooit dink jy dat dit met jou gaan gebeur nie.

Om op die Kaapse Vlakte te bly en groot te raak, is klaar ’n uitdaging omdat daar altyd die moontlikheid is dat jy geskiet kan word.” Hy vryf met sy hand oor sy neus en sê afgetrokke: “My neus was in twee geskeur. Dit het so mooi toegegroei, nè, Mammie?” terwyl hy na sy ma kyk en met sy vinger oor die litteken streel.

Toe ek wakker skrik, het ek voor in die kar gelê en iets het vreemd gevoel in my mond. Ek het gespoeg en vyf van my tande en ’n koeël het uit my mond gekom.

Sy ma se hartseer

Wayne moes verskeie operasies ondergaan ná die skietvoorval.

Dit is ’n baie emosionele Cheryl Daniels (52), Junior se ma, wat haar seun antwoord. “Dit het, ja. Dit het.” Cheryl sê sy kan nie glo dat iemand haar seun wou vermoor nie. “Wie stap net na iemand en trek die sneller twaalf keer? Twaalf bleddie keer!”

Met ’n bewende hand vee sy die trane af wat oor haar wange stroom. Sy vertel die Vrydagaand toe sy die tyding kry, het sy flou geword. “Iemand het kom sê Junior se meisie het gebel en gesê hy is geskiet. Dit was asof iemand my lugpyp toegedruk het. Ek kon nie asem kry nie.”

Sy vertel sy kan nie onthou hoe sy dit reggekry het om van Lavender Hill tot in Mitchells Plain te ry nie. “Dit het soos ’n droom gevoel. Liewer ’n nagmerrie. Toe ek my kind so daar sien lê, my hart kon dit nie hou nie. Ek kon nie verstaan hoekom iemand dit aan hom sal doen nie.”

Cheryl sê sy het agter die ambulans gejaag hospitaal toe. “Hulle het my kind aan verskeie masjiene gekoppel en ek het gedink ek gaan my kind verloor. Ek kon sien hoe die lewe sy liggaam verlaat.” Met swaaiende arms wys sy na koeëlgate in hul huis. “Kyk hoe het hulle al hier geskiet. Hier skiet hulle ook amper daagliks, maar ek het net nooit gedink my kind sal ’n slagoffer wees nie. Hy is ’n goeie kind en nie by bendes betrokke nie.”

Junior sê hy is getraumatiseerd en vind dit moeilik om geestelik te herstel. “My grootste bekommernis is om nou my kragte te herwin. Om weer ’n normale lewe te lei sonder pyn en operasies. Ek moet eers liggaamlik herstel en dan sal ek sielkundig hiermee deal.” Hy sien tans ’n fisioterapeut om te help met die herstelproses, maar hy sal verdere behandeling en chirurgie aan sy arm en gesig benodig.

“As ek in die spieël kyk, is dit ’n reminder van wat gebeur het. In die begin was dit moeilik om myself te sien, maar met tyd het dit beter geraak.” En terwyl die aanvaller steeds op vrye voete is, sal Junior altyd in vrees lewe. “My lewe het baie verander sedert die voorval. Ek is, of liewer was, ’n baie outgoing mens en nou spandeer ek die meeste van my tyd binne. Ek kon ook nie gaan werk nie en sal seker my werk verloor, maar ek koester geen wrokke nie. Ek leef in vrees omdat ek nie weet wie dit gedoen het en waarom nie. Al wat ek weet is dat ek nie nog met kwaad ook in my hart kan leef nie. Ek kan nie en het hom vergewe.”

Vir Junior se beste kans op ’n volledige herstel, is addisionele fondse nodig. “Die mediese rekeninge is ook besig om op te hoop en dit frustreer my omdat ek nie nou kan bekostig om dit te betaal nie. Ek kan ook sien dat dit my ma laat stres.” ’n Vriend van Junior se ma het ’n GoFundMe-rekening begin om die familie te help met die onkostes. Al is die pad na herstel moeilik is Junior tog optimisties oor die toekoms.

“Terwyl ek daar lê en uitbloei het, het ek die Here gevra vir ’n tweede kans en Hy het dit vir my gegee. So ek moet die meeste maak van die kans, want daar is so baie ander wat dit nie gekry het nie. Ek gaan ook nie toelaat dat dié voorval my lewe beheer nie.” Cheryl sit haar hand op haar kind se been en gee hom ’n drukkie en sê dan: “Alles gebeur vir ’n rede en ook dít, glo ek, het gebeur vir ’n rede. ’n Mens kan nie jou lewe leef gebaseer op een voorval nie. Nee, hy is geseënd met ’n tweede kans en moet sy lewe nou voluit leef!”

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.