Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tyd vir toemaak
5 September 2018

Baie paartjies is maar versigtig om oor sterilisasie te praat. Sommige glo dis net nog ’n manier vir die mens om aan die natuur se werk te peuter, terwyl ander dink die prosedure maak van jou minder man of vrou.

Tog hoor jy van al hoe meer mense wat hierdie opsie as voorbehoed kies. Dit is veilig en as jy dit eers gedoen het, hoef jy jouself nie te bekommer oor ’n pil, inspuiting of lastige gynae-besoek om jou IUD (intrauterine device-voorbehoedtoestel) te vervang nie.

Volgens Eddie Haynes-Smart, woordvoerder vir die Association for Voluntary Sterilization of South Africa (AVSSA), is sterilisasie ’n vinnige en veilige prosedure sonder enige langtermyngesondheids-
newe-effekte. Hy sê dit is boonop die doeltreffendste manier van voorbehoed.

Vir die Pretorianers Sinaed Smith* (39) en haar man, Richard* (39), was sterilisasie die oplossing nadat sy jare lank gesukkel het met eers die pil en toe IUD’s wat nie goed was vir haar liggaam nie.

Hulle het vroeg in hul huwelik besluit om nie kinders te hê nie. “Ons het met my gynae gaan praat en hy het voorgestel dat ons eers counselling kry, want soms laat doen mense die prosedure en dan is hulle later spyt, want hulle wil tog kinders hê. Die counselling was net om ons in te lig oor die onomkeerbaarheid van die prosedure en sodat ons 100% seker kon wees dit is wel wat ons wou doen,” sê Sinaed. ’n Maand ná die counselling het Sinaed ’n prosedure ondergaan waardeur haar buise afgebind is. Sy sê dit het haar en Richard nader aan mekaar gebring en hulle het nou meer seks as voor die operasie.

Samantha Reddy (39) en haar man, Simon (42), ook van Pretoria, het drie kinders. Sy sê hulle het met die geboorte van hul derde kind besluit om tydens die keisersnit te laat steriliseer. “Ons het gevoel dit is die beste opsie en dat ons dit moet doen terwyl ek klaar onder verdowing is. Dit is soos ’n two in one.”

Volgens Samantha het dit hul lewens baie vereenvoudig. “Dis ook vir my heerlik om nie die druk te hê van ander voorbehoedmiddels en die vrees dat ek dalk kan swanger raak nie,” sê sy.

Wat van seksdrang? Eddie sê dis ’n mite dat sterilisasie jou libido negatief beïnvloed. Dit is ook ’n mite dat dit ’n impak op jou seksuele funksionering het, want hormoonproduksie word nie geaffekteer nie.

“Sonder die kommer van ’n moontlike (en ongewensde) swangerskap vind baie paartjies dat hul behoefte aan seks toeneem en meer spontaan en gereeld word. Dit lei weer tot ’n sterker huwelik,” verduidelik Eddie.

Beide manlike en vroulike sterilisasie is chirurgiese prosedures wat as permanent en onomkeerbaar gereken word. Daar is geen waarborg dat ’n sterilisasie omgekeer sal kan word nie.

“Maak daarom eerste heeltemal seker jy en jou maat wil nie nog kinders hê nie, voordat julle laat steriliseer,” sê hy. Dit kan by jou privaat mediese praktisyn of by jou provinsiale departement van gesondheid gedoen word.

Hoekom steriliseer bo ander voorbehoed? Dit is eenvoudig die doeltreffendste metode. Daar is geen newe-effekte nie en ook nie gereelde opvolgbesoeke of medikasie wat jy hoef te neem ná die aanvanklike opvolgbesoek nie (’n drie maande check-up vir vroue).

Onthou, ’n omkeerprosedure kan gedoen word ná ’n buissterilisasie, maar die meeste van sulke pogings is onsuksesvol.

Indien jy enigsins twyfel, moet jy liewer langwerkende, omkeerbare, voorbehoedmiddels gebruik soos die IUD, implantate of inspuitings. Sulke metodes is 100% omkeerbaar, maar jy moet gereeld jou dokter besoek en vir baie vroue hou dit onaangename newe-effekte in, sê Eddie.

“Ouderdom speel ’n belangrike rol as dit by sterilisasie kom,” sê Eddie. Statistieke wys 20% van vroue jonger as 30 wens hulle het nooit die prosedure laat doen nie. Hierdie syfer daal net met 6% vir vroue oor 30 jaar oud. “As jy twyfel, los dit liewer,” sê Eddie.

Wanneer ’n gesin volledig is en die paartjie vryheid wil hê sonder om oor “glipsies” te bekommer, is sterilisasie voordelig.

Dit is ook ’n opsie wanneer jy wil keer dat oordraagbare siektes oorgedra word of as jy ’n mediese toestand het wat swangerskap lewensgevaarlik maak. Daar is bewyse dat sterilisasie die kanse op kanker van die eierstokke kan verlaag.

Petro Theron, direkteur van Famsa Pretoria, sê dit is belangrik dat jou verhouding stabiel en standvastig is as jy besluit op ’n sterilisasie.

“Moet geen vinnige besluite hieroor neem nie en bespreek die saak met ’n mediese praktisyn. Dit sal ook goed wees as ’n terapeut of berader jou kan begelei in die proses,” sê sy.

Petro sê ’n sterilisasie kan ’n verhouding laat verbrokkel as julle dit as ’n wapen teen mekaar gebruik en as dit ’n ondeurdagte besluit is. Die persoon wat die sterilisasie laat doen, moet onder geen omstandighede onder druk voel om dit te laat doen nie, meen sy.

WAT DIE WET SÊ

Die Wet van 1998, insluitend die wysiging van 2005, sê volwassenes (mense bo 18) het die reg om onder die regte omstandighede sterilisasie te kies.

Minderjariges en verstandelik gestremdes kan gesteriliseer word, maar net as die regte toestemming van voogde en medici verkry is.

Iemand wat sy eie toestemming kan gee, moet 18 jaar of ouer wees om gesteriliseer te word. As jy jou eie toestemming kan gee, mag jy onder geen omstandighede gesteriliseer word sonder jou toestemming nie.

As jy jonger as 18 is, mag ’n sterilisasie gedoen word wanneer jou lewe in gevaar is of jou gesondheid ernstig in gedrang is weens ’n swangerskap. Só iemand mag slegs gesteriliseer word as toestemming gegee word deur wettig gemagtigde persoon; wanneer ’n mediese praktisyn die persoon gekonsulteer het en ’n geskrewe opinie gee dat sterilisasie die beste opsie vir die persoon is, en ’n paneel van kenners dit goedkeur.

In die geval waar iemand nie hul eie toestemming kan gee nie (weens byvoorbeeld verstandelike gestremdheid) moet ’n spesiale versoek gerig word deur die ouers, voog of kurator, en ’n paneel sal dan verskeie faktore oorweeg voordat toestemming gegee word.

DIE PROSEDURE

Die prosedure vir buisafbinding of blokkasie duur 20 – 30 minute. Die chirurg sal óf ’n lokale verdowingsmiddel gebruik óf ’n algemene narkose wat jou sal laat slaap.

Die buise kan deur twee klein snytjies in die maag bereik word met ’n instrument wat soos ’n teleskoop met ’n liggie aan die voorpunt lyk. Ringe of knippe word gebruik om die buise aan beide kante te blokkeer. Een of twee selfabsorberende steke word gebruik om die vel te heg. Hierdie metode word ’n laparoskopiese sterilisasie genoem. Soms sal ’n dokter ’n mini-laparotomie kies waardeur die buise bereik word deur ’n groter sny, en word gewoonlik gedoen as die vrou oorgewig is of vorige abdominale chirurgie gehad het.

*Skuilnaam

Meer oor:  Kuier  |  Sterilisasie  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.