Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Uit 'n ander oogpunt
4 September 2019
marteli brewis


Die gedagte kom nogal baie by my op dat ?’n mens nie eintlik veronderstel is om jou werk so baie te geniet nie. Maar in die Kuier-kantoor is dit ’n algemene gevoel.

Nog nooit het ek in ’n span gewerk wat so na aan mekaar is, mekaar so ondersteun en mekaar so gereeld uit die maag maak lag nie.

Net meer as twee jaar gelede het ek en my twee monstertjies sak en pak Kaap toe getrek sonder dat ons amper ’n siel geken het. Platgeslaan deur die lewe, het ek met my blou rokkie aan Kuier se deur kom klop om die pot aan die kook te hou. Min het ek geweet waarvoor ek myself sou inlaat deur die pos as joernalis by die land se grootste Afrikaanse vrouetydskrif te aanvaar.

Groot impak

Nadat Kay my sommer dadelik in die diep kant ingegooi het met ’n ware lewensdrama oor antie Sandra, ’n enkelma en haar dogter, Marilyn, van Eersterivier (Marilyn is serebraal verlam en is al vir 40 jaar totaal en al afhanklik van haar ma.) het ek vinnig besef die lewe is nie heeltemal so eenvoudig as wat ek gedink het nie en dat ek met my ou gebroke hartjie en twee gesonde kinders eintlik niks het om oor te kla nie.

Kort daarna het John de Klerk van Mitchells Plain vir my vertel van die nag wat hy so wreedaardig en sinneloos aangerand is dat dokters hoop verloor het dat hy ooit weer iets vir homself sou kon doen.

Inteendeel, noodpersoneel het hom op die toneel dood verklaar. Met ’n kopwond so diep dat ’n volwassene se hand daarin kon pas en die skade wat hy opgedoen het toe die boewe nie net een keer nie, maar twee keer bo-oor hom gery het, sou niks anders as ’n wonderwerk, ’n ingryping van Bo, hom kon red nie.

John, ’n eens sterk en gesonde man, moes weer soos ’n baba alles van die lewe van vooraf leer, nie net hoe om te loop nie, maar ook wat voorwerpe se name is, hoe om te praat en hoe om te eet. Tog het hy besluit om terug te veg en om nie net te oorleef nie, maar te oorwin.

Storie ná storie het ek geleer om wyer te kyk as net my eie lewe. Dis moeilik om vir jouself jammer te voel as jy daagliks te doen kry met mense wat baie swaarder as jy het en tog positief oor die lewe voel.

Dit was my eerste les – Kuier-mense het ’n innerlike krag, ’n dapperheid en die vermoë om wat ook al oor jou pad kom met grasie te aanvaar. Die lewe slaan ons soms plat, maar ons bly nie lê nie.

Ons staan op, stof af, glimlag en gaan aan. Die respek en be-wondering wat ek het vir elke mens wat hul storie met my gedeel het, is onmeetbaar. Die lesse wat ek by elkeen geleer het, is van onskatbare waarde.

Kuier is ’n plek wat jou lewensuitkyk verander, jou grense verskuif en jou in diepte leer wat dit is om voluit te leef, elke emosie in die boek daagliks te ervaar en alles te gee.

Nuwe uitkyk

marteli brewis
Marteli Brewis
Kuier

As die enigste blondine (my bynaam is glad Barbie) in ’n kantoor vol brunettes was die eerste paar weke in die kantoor maar stil terwyl die res van die span besluit het of hulle my kan vertrou. Dit was egter nie lank nie of iemand het besluit ek is die WEE (White economic empowerment)-kandidaat, die kwota-speler van die kantoor. En netso was ek deel van die span. En wat ’n eye opener was dit nie!

Dis nog ’n verfrissende ding van die Kuier-kantoor – niemand het ’n filter nie en almal word aanvaar net soos hulle is, warts and all! Geen onderwerp is taboe nie en almal sê hul sê.

As iemand wat grootgeword het in Gauteng, was ek glad nie bekend met die Kaapse kultuur nie. Hoe ek ’n hele amper 40 jaar oorleef het sonder dat ek geweet het van die bestaan van koesisters (ek het gedink die mense spreek ‘koeksisters’ verkeerd uit!) en gatsbys is ’n raaisel. En wat ’n life changer was dit nie toe ek uitvind jy kan maar jou eie bakkies na partytjies toe vat vir barakat nie!

Ek moet erken ek verstaan steeds nie heeltemal hoe ’n swirlkous werk nie. Sweet jou kop dan nie juis meer as jy ’n sykous vir die hele nag daaroor trek nie? Maar dit was opvoedkundig om uiteindelik te weet wat met my hare gebeur as dit mistig is. En ja, wit mense se hare mince ook. Een van my kollegas het op ’n besondere reënerige dag verbaas uitgeroep “sjoe, Marteli, with hair like that you may as well be Coloured!”

En op daardie noot is dit belangrik om iets te sê oor hoe verweef bruin mense met hul kultuur is. Dit klink dalk voor-die-hand-liggend, maar vir ’n buitestander is dit ’n baie interessante ervaring.

“Dis ’n Coloured-ding,” is woorde wat baie gereeld gehoor word. Vir my is die meeste goed wat gebeur, maar net ’n mense-ding. Ek kan nie dink dat ek al ooit iets of iemand gesien of oor gelees het en gedink het “ai, dis nou ’n witmensding nie”. (Hoewel ek sedertdien besef het daar is iets soos ’n wit mens-smile. Dit is wanneer jy dink jy smile, maar jou mondhoeke lig net so effentjies.)

Maar my belewenis is dat, bruin mense effens trots, effens skaam is oor hul kleurvolle kultuur. Dis asof alles deur daardie lense gesien word.

Maar, met tyd het ek besef, daar is tog ook “witmensdinge”. Ons is nie almal só nie, maar ons is almal maar ’n bietjie só.

Hier is die waarheid van die meeste wit mense wat ek ken: hulle is nie doelbewus rassiste nie, maar hulle verstaan werklik nie watter ongelooflike, onmeetbare impak Apartheid gehad het op bruin gemeen-skappe nie en daarom kan hulle nie begin om die layers en layers van white privilege te verstaan nie.

Dis nie asprisgeid nie. Dis nie rassisme nie. Dis ignorance – totaal niks van iets weet nie. En dít is ongelukkig die waarheid.

Partykeer wil ek vurig inspring en iets sê, verdedig of verduidelik wanneer Steve en sy trawante iets belagliks kwytraak en die hele kantoor op hol gaan, maar dan besef ek tensy ek die diep spore van seer wat die Apartheidsjare getrap het kan verstaan, éérstehands kan verstaan en ervaar, moet ek eerder my mond hou.

Want as my ma en ouma my by die huis moes los om jou groot te maak, jou huis skoon te maak, nie kon stem nie, ’n pas moes kry om snags op straat te wees, na ’n ander strand toe moes gaan en al die ander onmenslike dinge waaroor ’n mens nie eintlik wil praat nie, sou ek vandag nog baie, baie kwaad gewees het. En bitter.

Eintlik haal ek my hoed af vir enigiemand wat daardie sondes kan vergewe. Al was dit sondes van die voorvader. Ek besef elke dag hoe geseënd ek is om saam met mense te werk wat elkeen eintlik ’n Kuier-storie op sy eie is, top in hul veld is en behalwe dit, sulke merkwaardige mense is.

“Kom jy môre terug?” het Kay laggend gevra ná my eerste dag op die job en ek dank die Vader elke dag dat ek het!

Meer oor:  Kuier  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.