SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Uitblinkers in Deon Meyer se Trackers
27 November 2019
Jill Middelkop speel die rol van Teliha Osman in Trackers.

Die TV-reeks van Deon Meyer se topverkoper-boek Trackers (Spoor) vat die spoor vanaf die energieke strate van die Bo-Kaap tot die diepe wildernis van Zimbabwe, van die luukse landgoed in die noordelike voorstede van Kaapstad tot diep in die bende-geteisterde gebiede van die Kaapse Vlakte.

Dié reeks op M-Net oor die boek kom byna ’n dekade nadat die bekroonde skrywer die storie neergepen het. En of jy nou al sy boeke gelees het of nie, Trackers was beslis een om dop te hou.

Dis ’n eg-Suid-Afrikaanse storie wat deur die bestes van die bestes vertolk word. Die spanning het jou op die puntjie van jou stoel gehou. Jy wou nie jou oë knip nie, want jy was bang jy mis die aksie. Dit het jou laat wonder tot aan die einde. En net soos ’n spoorsnyer, moes jy as kyker probeer ontsyfer. En só het die storielyn kykers regoor die land elke Sondagaand die afgelope twee maande vasgenael voor die kassie gehou . . .

Die boeiende verhaal en uiteenlopende karakters het steeds die land aan die gons. Elke episode was so lank soos ’n vollengtefliek, en met rede. Soos die aksie ontvou het, was daar om elke hoek en draai ’n onverwagte verrassing, verraad of geheime wat stadig uitgesypel het. Trackers vertel die storie van ’n diverse groep mense wie se lewens saamgegooi word in ’n maalkolk van terreur.

Deon Meyer was betrokke by die produksie om seker te maak die reeks behou die balans tussen die integriteit van die oorspronklike boek en ’n goeie TV-program. Luidens berigte het Deon en die produksiespan ’n wenslysie gehad van watter akteurs hulle wou hê om die karakters te vertolk en Jill Middelkop was op daai lysie.

Sy het die karakter Teliha Osman gespel. Jill is nie ’n onbekende gesig nie en sy was al te sien in reekse soos Egoli en Suidooster, toneelstukke en as lid van die groep Shine 4, maar Trackers was haar groot break en dít in haar 40’s!

Boonop speel sy een van die mees gehate figure in die hedendaagse samelewing – ’n Moslem-terroris. Vir Jill was die lang wag vir haar droomrol beslis die moeite werd en sy is ’n inspirasie vir ander ouer vroue wat nog drome het om te bewaarheid. Haar karakter, Teliha, is getroud met Osman (Brendan Daniels), ’n Moslem-ekstremis wat moont-lik betrokke is by die beplanning van ’n terroriste-aanval en diamantsmokkelary.

Droomrol

Jill (44), van Heathfield in Kaapstad, erken sy het nie aanvanklik besef hoe groot die Trackers-produksie sou wees nie. “My agent het gebel en gevra of ek ’n oudisie wou doen en toe besluit ek ‘hoekom nie?’ Dit was eers ná die oudisie dat ek begin besef het waarvoor ek myself ingelaat het . . .” verklap sy.

Hoewel Jill en Teliha soos dag en nag verskil, sou sy nie enige van die ander karakters wou vertolk nie. “Daar was net iets omtrent Teliha wat my aangegryp, gefassineer en geskok het. Dit het gevoel asof ek haar meer moet explore, onder haar vel inkruip om te probeer verstaan wat haar motiveer,” verduidelik sy. Dít nadat Jill vir ’n paar jaar ’n bietjie uit die kollig beweeg het om op haar gesin te fokus.

“Ek het dit nie heeltemal laat gaan nie, maar moes meer aandag aan my gesin gee. Noudat my dogter, Donna, amper sewe jaar oud is en meer onafhanklik is, voel ek ek kan meer doen in die vermaakbedryf as die afgelope paar jaar.”

Tog erken Jill sy het aanvanklik gesukkel om haar selfvertroue weer terug te kry. “Ek kan nogal self-destructive raak met my gedagtes, maar die oomblik toe ek Teliha word, het alle negatiewe denke soos mis voor die son verdwyn. Die belangrikste ding was om lewensgetrou te wees aan die karakter.”

Vir Jill was die grootste uitdagings van haar rol Teliha se geloofsoortuigings, haar wêreldbeskouing en net hoe ver sy sal gaan vir dit wat sy glo is reg. “Ons is totaal en al teenoorgesteldes op elke vlak. Sy is baie konserwatief en godsdienstig. Maar soos met elke karakter wat ek vertolk, moet ek iets vind wat ’n klein bietjie ek is. En Teliha is baie eiewillig en kan mense goed lees. Sy wil haar mense beskerm so goed as wat sy kan. Ek hoop en glo dat ek ook hierdie eienskappe het,” meen sy. Om voor te berei vir hierdie moeilike rol, het Jill baie tyd in die Bo-Kaap spandeer om die tradisies, kultuur en “togetherness” van dié gemeenskap eerstehands te ervaar.

Die ervare Sandi Schultz vertolk die rol van Janina in Trackers.

“Om hierdie vroue se rolle in die geloof te verstaan, was baie belangrik. Dis nie dat ek nie van Teliha hou nie, maar ek voel baie jammer vir haar. Sy is ’n toegewyde ma, maar sy sukkel ook met haar eie demone.”

Oor haar karakter se doen en late en besluite wil Jill nie verder meer verklap nie, omdat sy nie die reeks vir kykers wil bederf nie. Sy wil ook nie verklap wat haar gunsteling of moeilikste -tonele was nie. “Ek sal te veel weggee van die plot, maar al wat ek kan sê, is dat dit ’n aksiebelaaide oomblik was wat kykers tot in hul sokkies sal skok!”

Vir Jill was dit aanvanklik ’n bietjie oorweldigend, maar baie opwindend om teenoor die ervare Sandi Schultz (55), wat die rol van Janina vertolk, te speel.

“Ek is al lank ’n fan van haar, so om saam met een van Suid-Afrika se bestes op skerm te wees, was ’n eer en ’n voorreg. En Sandi is ’n baie warm, giving mens wat jou gou gerus stel en gemaklik laat voel sodat jy jou beste kan gee.” En in ’n wêreld waar bruin mense gewoonlik stereotipiese rolle speel soos gangsters of skoonmakers, was dit vir Jill fantasties om ’n diep rol met vleis om die bene te vertolk teenoor ’n ander bruin vrou – altwee sterk en hardkoppig, wat ’n integrale deel van die storielyn uitmaak. Sandi, wat al jare in die bedryf is, stem saam.

“Ek dink ons het ongelooflike powerful vroue van kleur wat positiewe rolle speel in alle vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing, so dit is ’n eer om daardie realiteit op skerm uit te beeld. Beide Jill en ek vertolk vroue wat die moed het om hul oortuigings uit te lewe, wat lojaal is teenoor dit wat hulle glo.”

Sy vertel verder haar reis met Janina, haar karakter, was baie spesiaal en ’n rol waaroor sy altyd nog gedroom het. Dat Jill elke oomblik van die produksie geniet het, is ooglopend. “Dit was ’n ongelooflike ervaring en ek was mal daaroor om inspirasie te kry by die ander talentvolle akteurs, die regisseur en die produksie-span! Almal het my net so gemaklik laat voel, sodat ek kon explore wat ek moes,” gons sy opgewonde.

Vir haar was daar geen laagtepunte nie. “Ek is so trots op Suid-Afrika! Hierdie produk wys ons hét wat nodig is. Suid-Afrika het so baie talent, ons het net die regte platform nodig.” Kwaliteit. Boeiend. Onvoorspelbaar. Dís hoe Jill Trackers beskryf.

Vir haar was dit ’n voorreg om deel te wees van hierdie merkwaardige avontuur en reeks. Trackers sal tot 29 Desember op DStv Catch Up te sien wees en nog ’n rukkie daarna op Showmax.

WEN
SMS KUIER SPOOR na 42508 om 1 van 4 getekende kopieë van Spoor te wen. R1,50/SMS.Kompetisie sluit 6 Des. 2019. Wenners sal in die uitgawe van 8 Jan. 2020 aangekondig word.
Meer oor:  Trackers  |  Kuier  |  Deon Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.