Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Uitgebrand: Wat gebeur as jou werk jou leeg tap?
28 Junie 2019
Uitbranding

Voel dit elke werksoggend vir jou soos ’n stryd om uit die bed op te staan, want jou moeg is ook al moeg en jy sien nie uit na nog ’n dag in die geselskap van jou kollegas nie? As jy konstant moeg en negatief is teenoor jou werk, jou omgewing en die mense rondom jou, is jy dalk naby uitbranding. Maar wat presies is uitbranding (burn-out) en is daar rede om bekommerd te wees?

Deesdae is die lewe so gejaagd dat dit dikwels kan voel asof jy ’n duisend balle terselfdertyd in die lug moet probeer hou. Jy spandeer die meeste van jou tyd by die werk, maar jy het ook verantwoordelikhede by die huis en dan moet jy nog aandag aan jouself gee. Maar die meeste van die tyd prioritiseer mense eerder die werk, huis, kinders of vriende eerder as hul eie welstand. Só word jou eie behoeftes van ’n goeie nagrus, ’n uur by die gym of ’n ontspannende aandjie uit maklik eenkant toe geskuif.

Kan ernstig wees

Bogenoemde klink dalk na klein, onbelangrike dinge gegewe die groter prentjie van jou lewe, maar volgens kenners kan dit help om te verhoed dat jy uitbrand. Die algemeenste tekens van uitbranding in die werkplek sluit in konstante moegheid; jy word aanhoudend siek; hoofpyne; verandering in jou eet- en slaappatrone; jy voel asof jou werk nooit goed genoeg is nie; jy voel vasgevang; jy gee nie meer jou beste by jou werk nie; jy is nie gemotiveerd nie; jy kom nie jou verantwoordelikhede na nie; dit vat langer as gewoonlik om dinge klaar te kry; jy bly gereeld uit die werk en jy gebruik kos of drank om te cope.

Die Johannesburgse sielkundige Tanya van Niekerk sê die meeste van ons het dae wanneer ons hulpeloos, oorlaai of ongewaardeerd voel. Só ’n dag elke nou en dan is normaal, maar wanneer jy die meeste van die tyd só voel, kan dit tekens van uitbranding wees. “Dit gebeur nie oornag nie, maar dit vang jou onverwags. Die tekens en simp-tome begin subtiel, maar word vinnig erger soos wat die tyd aanbeweeg.”

Uitbranding kan nie jou dood veroorsaak nie, maar dit is vinnig besig om ’n ernstige gesondheidsprobleem in die werkplek te word en dit is hoekom die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) weer besluit het om uitbranding op hul Internasionale Klassifikasielys van Siektes (ICD) te sit. Volgens dié organisasie word uitbranding as ’n beroepsverskynsel gelys, nie ’n mediese toestand nie. Uitbranding word op die ICD-lys beskryf as ’n sindroom wat veroorsaak word deur chroniese stres wat nie reg bestuur word nie.

Dit word gekenmerk deur drie eienskappe: die gevoel van min energie of uitputting, toenemende onttrekking aan jou werk en kollegas en negatiewe gevoelens teenoor jou werk of beroep sowel as verminderde professionele doeltreffendheid. “Uitbranding verwys spesifiek na verskynsels in die beroepskonteks en moenie gebruik word om ervarings in ander aspekte van die lewe te beskryf nie,” waarsku die WGO.

Volgens die WGO ly ongeveer 264 miljoen mense wêreldwyd ook aan depressie, met baie van hulle wat ook simptome van angs en uitbranding ervaar. Die WGO sê voorts depressie en angs het ’n beduidende impak op die wêreld se ekonomie en die organisasie beraam daar gaan jaarliks ’n triljoen dollar verlore weens verlore produktiwiteit as gevolg van geestesgesondheidkwessies. Roland Esterhuizen (54), ’n Johannesburgse onderwyser, was aanhoudend afwesig by die werk.

Oor ’n tydperk van agt maande het hierdie pa van twee net al hoe meer moedeloos en hopeloos begin voel. Hy was aanhoudend moeg en wou nie soggens opstaan om te gaan werk nie. Hy het net gevoel hy het nie meer lus vir kinders wat nie wil luister nie en die skoolwerk wat net meer word en konstant verander. Hy was fisies moeg, maar meer as dit was hy sielsmoeg. Hy het gedink die oorsaak is dalk stres en is dokter toe. Die dokter het vir hom ’n pil voorgeskryf om hom te help slaap en hom na ’n sielkundige verwys.

“Ek het nooit oor uitbranding as ’n toestand gedink nie, maar het eintlik gedink uitbranding is net ’n woord wat mense gebruik wanneer hulle baie moeg voel.” Roland sê deur klein veranderings soos positiewe verhoudings met kollegas te skep deur spanboupogings, meer te gym en saans vroeër te gaan slaap in plaas van op sy tablet wees of te werk, het ’n groot verskil in sy gemoed gemaak.

Anders as stres

Dr. Kim Laxton, ’n kliniese psigiater van Johannesburg, sê werk is goed, maar ’n negatiewe werkomgewing kan maklik lei tot fisiese en geestelike gesondheidsprobleme. Terselfdertyd sê sy dit is ook belangrik dat mense besef uitbranding is nie dieselfde as stres nie en dat dit nie net stres is wat tot uitbranding kan lei nie.

Volgens haar word uitbranding in die werkplek aangehelp deur swak kommunikasie en bestuurspraktyke, min ondersteuning van medewerknemers, onbuigsame werksure sowel as onduidelike take of doelwitte. Wanneer iemand nie die regte vaardighede het vir ’n beroep nie of ’n swaar werklas met onmenslik lang ure, kan dit ook ’n trigger wees.

Kim sê wanneer iemand aan stres ly, voel alles asof dit te veel is. Daar is te veel druk, te veel wat gedoen moet word en te veel wat van jou fisies en geestelik vereis word. Jy voel steeds as jy net klaar kan kom, alles weer reg gaan wees. Maar wanneer jy uitgebrand is, is dit die teenoorgestelde. Jy voel asof daar nie genoeg van enigiets is nie. Jy het niks meer oor om te gee nie, jy het geen motivering nie, jy voel niks gaan ooit weer goed wees of regkom nie en jy het geen hoop vir ’n positiewe verandering in jou situasie nie.

Angela Lourens (35) van Somerset-Wes buite Kaapstad sê as verpleegster het sy altyd gedink dit is haar skofte of die druk van haar werk wat haar moeg maak. En omdat sy moeg was, het sy gedink dít is die rede vir haar slaap- en eetpatrone wat verander het. Dit was totdat sy met ’n vriendin gesels het wat ’n dokter is en hierdie vriendin haar vertel het van uitbranding. “Hoe meer ek opgelees het oor uitbranding, hoe meer het dit my simptome gepas en toe besluit ek om vir twee weke af te vat en te gaan rus. Ek het vir daardie twee weke minder tyd spandeer op televisie kyk en kuier en het baie gerus en gelees.

“Toe ek terug werk toe gaan, was my mood heeltemal anders en het ek weer lus gehad vir werk. Ek het meer grappies met my kollegas gemaak en was minder geïrriteerd. Dit was sommer weer lekker om te gaan werk en dit het my beslis meer produktief gemaak,” sê sy. Kim sê as jy stres kan beskryf as ’n gevoel van in jou verantwoordelikhede verdrink, dan kan jy uitbranding beskryf as ’n gevoel van droogte.

“Jy is dood van binne en jy gee nie meer om nie. En terwyl mense gewoonlik bewus is van stres, sien jy nie altyd wanneer uitbranding plaasvind nie. So as jy voel asof jy dalk uitgebrand is, kan jy dinge vir jouself beter maak deur met iemand te gesels, kry een persoon wat na aan jou is wie jy kan vertrou,” verduidelik sy. Kim raai werkers voorts aan om vroeër te gaan slaap en tyd af te vat by die werk om net te ontspan. Jy kan ook beter voel deur meer te oefen en minder alkohol, suiker en carbs te eet. Maar jy móét ’n manier vind om meer positief met jou kollegas oor die weg te kom en om weer goed oor jou werk te voel, óf dit nou deur spanbou óf ’n gesprek met jou baas is. Die lewe kan moeilik raak, maar kyk na jouself voor dat jy só uitgebrand is dat jy jouself in die proses verloor

Meer oor:  Werk  |  Kuier  |  Uitbranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.