Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Uncle Joe: Eregraad vir sy Distrik Ses-lesse
25 Junie 2020


Die jaar is 1939 en die grootste deel van die Kaapse middestad soos wat ons dit vandag ken, het toe nog nie bestaan nie. Die kinders van Distrik Ses kon toe nog klim en klouter op Tafelberg, die “speelpark in hul agterplaas” en dit was toe nog veilig om vir ure weg te raak tussen die grotte en bosse daar.

Vir ’n spesiale bederf het Distrik Ses se kinders Sondae tot bo-op die berg geklim om die view te sien, al was alles plat en selfs die hawe se praggeboue nog meestal net vissershawens. Dit is ook die jaar toe uncle Joe Schaffers (80) van Wynberg gebore is in block C van die Bloemhof Flats in Distrik Ses.

Dit is waar hy self die pyn van die geskiedenisboeke beleef het tydens die apartheidsjare, maar dit is ook waar hy sy vrou, Audrey (80), ontmoet het twee blokke van sy huis af in die strate waar hulle as kinders kennetjie en aan-aan gespeel het. Die singende stemme van hul bure het gewoonlik die “agtergrondmusiek” verskaf.

Dít was die gelukkige tye voordat die apartheidsregering hul lewe in Distrik Ses omvergewerp het met die forced removals van 1968. Daarna het ’n lewe van swaarkry, misdaad en bekommernis gevolg waar uncle Joe soos baie ander Distrik Ses-families na die Kaapse Vlakte verskuif is en oor moes begin. Maar in plaas daarvan om in sak en as te sit, maak uncle Joe vandag seker sy mense se geskiedenis gaan nie verlore nie.

Hy is deesdae ’n lewende “geskiedenisboek” en vertel al vir 26 jaar die stories van Distrik Ses se mense en hul lyding in sy kapasiteit as toergids en spreker by die Distrik Ses-museum in Kaapstad. Hy doen dit só goed dat hy onlangs deur die Edinburgh-Universiteit met ’n eredoktorsgraad vereer is vir sy toegewydheid tot onderrig en sosiale ontwikkeling. As gevolg van die lockdown sal hierdie spoggeleentheid egter nie meer in Junie in Skotland plaasvind nie. Dit is vir eers tot November uitgestel.

Hy, prins Harry en Meghan Markle by die Distrik Ses-museum.

Alles word weggeruk

Wanneer dit kom by oor begin en vir jou medemense omgee, is daar niks wat jy vir uncle Joe kan vertel nie. Sy ouerhuis in Distrik Ses is tydens apartheid platgeslaan en vir die grootste deel van sy jong lewe moes hulle op ’n inkomste van R2,50 klaarkom omdat hy nooit kon gaan swot nie.

Joe het vir jare baie hard in die Kaapse vissershawe gewerk en toe hy eendag die geleentheid kry om ’n kursus te doen om ’n gesondheidsinspekteur vir sy maatskappy in die hawe te word, het hy dit met albei hande aangegryp. Uncle Joe sê hy het geweet hoe swaar die aanpassing van Distrik Ses na die Kaapse Vlakte vir mense was, nie net omdat dit sy geliefdes geaffekteer het nie, maar omdat hy dit self beleef het. In plaas van 20 minute werk toe stap, moes hy nou ’n uur of twee op ’n trein spandeer.

Dit het nie net langer gevat en sonder ’n view van Tafelberg gekom nie, maar dit was ekstra geld wat nie in sy begroting was nie. ’n Onkoste wat baie mense nie voorheen gehad het nie. As gevolg hiervan moes die ma’s ook begin werk, nie uit keuse nie, maar omdat daar geen ander opsie was nie. “Die pa’s se inkomstes was net nie meer genoeg nie.

Ek glo dit is een van die redes hoekom misdaad op die Kaapse Vlakte ook so erg geword het. Met dié dat kinders alleen was deur die dag, het hulle minder tyd met vriende en familie in hul straat spandeer en hulself op die straathoeke bevind. Wanneer iemand nie iets het om die doen nie, vind hulle gewoonlik verkeerde dinge om hulself mee besig te hou en só het daardie groepe op die hoeke in vandag se gangs verander,” sê hy.

“Mense is nie net van hul families en gemeenskappe af weggeruk en met vreemdes geplaas nie, hul kinders is ook beroof van die geleentheid om in die natuur en rondom plekke soos Tafelberg groot te word. Dit was ’n traumatiese tyd vir baie gesinne en mense se swaarkry en armoede het hulle meer desperaat gemaak. Dit is hoekom misdaad ook al hoe erger geword het, dít alles stam uit ons geskiedenis.”

Maak ’n verskil

Joe se vrou, Audery, in 1965 by hul huis in Bloemhof Flats, Distrik Ses.
Block C van die Bloemhof Flats waar Joe gebly het.

Uncle Joe meen egter nie dit gee mense die reg om misdaad te pleeg nie, maar die verlede het beslis bygedra tot dinge wat ons vandag ervaar. Dit is hoekom hy sy geleenthede aangegryp het. Hy het al baie verskillende werke oor die jare gedoen van winkelwerk, in die vissershawens totdat hy ’n gesondheidsinspekteur geword het en waar hy kon, het hy mense se lewens probeer verbeter.

In sy kapasiteit as gesondheidsinspekteur het hy seker gemaak dat al die winkels en plekke waar hy inspeksies gedoen het, die regte sanitasie en toerusting in plek het vir hul werknemers sodat hulle te alle tye veilig en onder die beste omstandighede kon werk.

Hy het geen shortcuts toegelaat nie en het nie geskroom om seker te maak dat mense en ondernemings hul pligte nakom nie. Hy het ook seker gemaak dat woongebiede en veral armoedige gemeenskappe toegang het tot water, sanitasie en elektrisiteit. Dat die gemeen-skap skoongemaak word en mense met waardigheid behandel word.

Hy het ook ’n paar sokkerspanne in gemeenskappe soos Hanover Park gestig. Daarom sal mense op die Kaapse Vlakte hom vandag waarskynlik steeds onthou. Dit was egter eers ná sy aftrede in 1994 dat sy werk by die Distrik Ses-museum hóm gevind het. Uncle Joe is ’n ware storieverteller en was mal daaroor om die museum te besoek.

Kort ná sy aftrede is hy ’n paar keer gevra om vir ’n toergids in te staan omdat die museum se mense geweet het hy is self ’n goeie storieverteller en het ’n passie vir Distrik Ses. Hy was só goed dat hulle hom gevra het om permanent deel van die span te word.

Wanneer ek saam met hulle in die strate loop, weet ek wat voorheen daar was, ek onthou die lekkerte van lewe op Tafelberg.

En tydens sy tyd by die museum het hy nie net vir studente van regoor die wêreld ’n geskiedenisles of twee gegee nie; hy het ook al met Hollywood-sterre soos Matt Damon en Samuel L. Jackson sy geskiedenis gedeel sowel as met prins Harry en Meghan Markle toe hulle Suid-Afrika laasjaar besoek het. Uncle Joe grap dat mense, celeb ofte not, vir hom in sy “museumhuis” kom kuier, want hy “hardloop nie agter mense aan nie!”. Uncle Joe lag wanneer hy byvoeg dat hy ná sy aftrede ’n tweede loopbaan op 61 gekry het.

“Ek dink die rede hoekom ek so goed met die studente (en mense) connect, is omdat dit wat ek met hulle deel, nie dinge is wat ek in ’n geskiedenisboek gelees het nie. Wanneer ek saam met hulle in die strate loop, weet ek wat voorheen daar was, ek onthou die lekkerte van lewe op Tafelberg, ek onthou die armoede en hoe moeilik dit was, hoe ons sommige aande nie baie gehad het om te eet nie, maar dat ons op een of ander manier gesorg het dat ons nie honger gaan slaap nie,” sê hy.

Oor sy eredoktorsgraad is hy net dankbaar en meen hy gaan dit nie oor hom nie, maar die gemeenskappe wat vir hom sy stories gegee het. Hy kon nooit gaan studeer nie, so hierdie eregraad en seremonie gaan vir hom baie spesiaal wees en hy sien uit om oorsee te gaan vir die geleentheid sodra dit moontlik is. “Ek hoop dat dit vir ander en veral my kleinkinders ’n inspirasie sal wees om te wys dat jy jou omstandighede in seëninge kan verander en dat dit jou nie hoef terug te hou nie.”

Meer oor:  Distrik Ses-Museum  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.