Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Eerste vrou in Afrika wat duikboot mag bestuur
gillian malouw, vloot


Om vir weke lank op die oop oseaan te vaar, kan verskillende emosies by verskillende mense meebring. Dalk klink dit soos ’n onoorkombare uitdaging; dalk klink dit pret; dalk laat die idee jou kalm voel of dalk maak die gedagte dat daar niks vir kilometers naby jou is nie, jou bang.

Maar vir een meisie van Kaapstad maak die gedagte aan die oop oseaan haar opgewonde. Dit voel vir Gillian Malouw (29), oorspronklik van Grassy Park, asof die see haar huis weg van die huis af is.

Maar die kersie op die koek is dat sy nie sommer op enige boot vaar nie. Gillian, oftewel luitenant Gillian Malouw, is aan die stuur van een van ons vloot se duikbote en vir haar is daar nie ’n groter eer nie.

Dit mag dalk vir Suid-Afrikaners snaaks klink om te hoor dat ons duikbote het, veral omdat mense gewoonlik slegs in Hollywood-flieks of televisieprogramme soos NCIS hiervan hoor, maar ons het en Gillian is een van min mense wat kan sê dat hulle aan die stuur van een is.

Met haar lank swart hare, versorgde naels en fyn postuur, sal ’n mens Gillian makliker in ’n kantooropset kan voorstel, maar moenie dat haar skoonheid jou flous of haar in ’n boksie plaas nie. Want dié pakkie dinamiet, wat al agt jaar deel is van die Suid-Afrikaanse Vloot, het verlede jaar as duikboot-navigator gekwalifiseer en het die eerste vrou in Afrika geword wat gekwalifiseerd is om as ’n commanding officer op ’n duikboot te werk. Dit beteken dat sy in ’n bestuurspos is en sal eendag die duikboot kan oorvat as hoof-offisier.

Gillian sê dit is vir haar lekker wanneer mense so verbaas lyk as hulle hoor wat haar beroep is. Volgens Gillian sou ’n mens verwag dat mense in 2019 gewoond daaraan sou wees dat mans en vroue nie meer spesifieke werk het nie, maar dat enige persoon enige werk kan doen. Tog gee sy nie om wat mense dink nie. Sy sê of dit nou die vloot of enige ander werk is waar mense dink dit ’n “manswêreld” is, voel sy altyd as mense passievol oor iets is, moet hulle dit gaan doen.

“Maak nie saak wat dit is nie. Moet nie dinge doen wat ander gelukkig gaan maak of wat hulle dink jy moet doen nie. Doen dinge wat vir jou gelukkig gaan maak,”

sê sy.

“Dit is om hierdie rede dat ek dankbaar is vir my geleenthede en dat ek my passie kan uitleef. Dit is ’n groot eer vir my om die eerste vroulike commanding officer te wees wat aan die stuur is van ’n groot combat ship soos hierdie duikboot, maar dit was glad nie ’n maklike taak of iets wat sommer oornag in my skoot geval het nie.”

Haar ma en ouma

gillian malouw, vloot
Vir Gillian Malouw is die seer haar huis weg van die huis af.

Gillian sê haar loopbaan het gekom met harde werk, opoffering en baie tydperke weg van haar familie en vriende.

Vir haar was dit moeilik om weg van haar familie af te wees en veral van haar ma en ouma af.

Sy beskryf hierdie twee vroue as haar inspirasie en haar rots. Haar ma het hier en daar gewerk waar sy kon om vir hulle te sorg, maar het nie enige formele geleerdheid nie. Haar ouma het nooit gewerk nie en het by die huis gebly om na hulle te kyk en om vir die huishouding te sorg.

Gillian begin lekker lag wanneer sy terugdink aan haar ouma en hoe haar ouma altyd ’n slim antwoord vir alles gehad het.

“My ouma was net op skool tot standerd twee, maar sy was baie slim en was eindelik snaaks genoeg die een wat vir ons gehelp het met ons leeswerk. Sy het ook baie van baie dinge geweet en as iemand vir ons ’n vraag gevra het en ons nie die antwoord geken nie, het sy dikwels die antwoord geken,” sê Gillian.

“Maar sy het nie net geantwoord nie. Sy het seker gemaak almal weet dat sy wat die minste geleerdheid het, die antwoord uit almal anders geken het. Dit was baie spesiaal en dit is juis sulke oomblikke wat my laat verlang, want ek weet as sy nog gelewe het, sou sy baie trots wees.”

Gillian sê dit het soms maar swaar gegaan, maar al het hulle nie baie gehad nie, het haar ma en ouma altyd vir hulle

as kinders aangemoedig om groot te droom en hard te werk vir dit wat hulle

in die lewe wil hê.

Hulle het ook nooit die kinders probeer terughou nie, selfs toe Gillian besluit het om by die vloot aansoek te doen, het haar ma en ouma haar ondersteun en haar aangemoedig om haar passie te volg. 

Gillian wou al sedert haar tienerjare by die vloot aansluit. Sy het geweet haar ma sou dit nooit kon bekostig om haar te laat studeer nie en selfs al kon sy ’n beurs kry, het sy geweet daar sou ander onkoste soos verblyf of vervoer wees en sy wou nie haar ma onder druk plaas nie. Dit is hoekom die vloot vir haar ’n goeie opsie was, maar ook omdat sy as tiener dit baie geniet het om deel van die Sea Cadets, ’n uitbreiding van die vloot wat vir jong mense alles oor die see en vloot  leer, te wees.

Maar tydens haar jare by die vloot, het Gillian geleer om deel van die vloot te wees, is nie speletjies nie. En net omdat ’n mens nie gereeld lees dat Suid-Afrika in oorlog, soos die Amerikaanse weermag is nie, beteken dit nie hulle is heeltyd op “vakansie” nie.

“In vredetyd berei ons voor vir oorlog, want hoe weet jy of jy gereed is om te veg as jy nie voorberei nie?” sê sy.

Sy meen dit is die verkeerde persepsie wat mense het wanneer dit by ons weermag kom. Dit is ook iets wat sy hoop om te verander sodat mense weet dit is ’n regte en harde werk. Sy wil hulle ook wys daar is geleenthede vir kinders wat nie weet wat hulle wil doen nie of as hulle nie geld het om te gaan swot nie.

Sy onthou as kind hoe opgewonde sy was om die vlootvertoning in Simon’s Town by te woon. Dit is waar sy net nog meer op die mans en vroue in hul wit uniforms en trotse houding verlief geraak het.

“Toe hierdie vlootlede met trots vir hul land en hul werk daar staan, het dit vir my ook trots laat voel en ek wou dieselfde eer voel soos hulle,” raak Gillian nostalgies.

Sy onthou ook hoe ongelooflik al die voertuie en masjiene was. Die duikboot veral het haar baie opgewonde gemaak.

Sy het altyd gedink dit is baie cool. Sy is ook mal oor die water en duikbote het haar gefassineer.

Vereistes

Om deel van die vloot en sy duikbootspan te wees, moet jy matriek geslaag het en ’n diploma in ingenieurswese verwerf het of in die proses is om dit te kry. Jy moet tussen die ouderdom van 18 en 26 wees; fiks wees; jy moet kan swem;

jy moet in klein spasies gemaklik wees; geen kriminele rekord het nie en jy moet ook verkieslik enkellopend wees. Omdat die vloot ook dikwels rondbeweeg, moet jy aanpasbaar wees en enige tyd kan oppak en gaan.

As deel van hul werk doen hulle gereeld drills en toetse ingeval daar oorlog kom. Die toerusting word ook gereeld getoets. Hulle spandeer weke en soms ’n maand of twee in die see, maar sy verruil dit vir niks.

Wanneer sy in die water is, voel sy vry en asof sy werklik ’n verskil maak, self al dink sommige mense hulle is heeljaar op vakansie! 

Meer oor:  Simonstad  |  Kuier  |  Gillian Malouw Vloot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.