Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vaarwel Chester
2 Oktober 2019


Hy het wedstryd ná wedstryd op provinsiale en nasionale vlak  diep in ons harte kom kruip. Nou moet ons dié besonderse  legende, inspirasie en rolmodel groet.  

Op Vrydag 6 September 2019, is Suid-Afrika tot stilstand geruk. Chester Williams (49), oud-Springbokvleuel, goue seun van rugby, legende van 1995 se seëvierende Bokspan, is op dié dag aan ’n hartaanval oorlede. Hý wat juis sy pad in ons harte oopgespeel het met sy sonderlinge talent, wat ons harte warm laat klop het van trots, was nou nie meer daar nie.

En ons is stukkend, want hy ís vir ons familie. Dis ’n paar weke ná sy skielike sterfte, die begrafnis is reeds verby en huldeblyke het reeds oor en oor sy lof besing, maar vir ons het die tyd stil gaan staan. Chessie, soos hy geliefd bekend gestaan het, het sy heldestatus verdien. Voor die 1995-Wêreldbeker het hy reeds sy merk gemaak in provinsiale wedstryde en vir die Bokke.

Maar dit was in daardie wedstryd teen Wes-Samoa toe hy vier drieë gedruk het wat almal regop gesit het en notisie gevat het van dié boorling van die Paarl. En met elke wedstryd daarna het ons saam geskree, gesing en selfs snot en trane gehuil elke keer wat Chester net naby die bal gekom het. By die werk, om die braaivleisvure of sommer net in die taxi, het mense oor Chessie gepraat, want dit was nie net op die veld wat hy ’n verskil gemaak het nie. Hy het ’n baken van hoop en inspirasie geword vir bruin en swart, wat nooit voorheen gedink het hulle kon ook hierdie hoogtes bereik nie.

Chester het die onmoontlike moontlik gemaak. As daar daai jare social networks bestaan het, sou Chester getrend het op al wat website is. Eintlik het hy – oral het sy foto’s en lewensgroot cut-outs gepronk; sy naam was op almal se lippe, selfs Madiba s’n. Francois Pienaar, voormalige Springbokkaptein wat die 1995-Bokspan gelei het, het op Chester se begrafnis sy voormalige spanmaat as ’n “baanbreker” beskryf “na wie baie swart kinders kan opkyk” en “iemand wat ons so trots gemaak het”, berig Sport24.

Chester was deel van die seëvierende 1995-Wêreldbekerspan.

Maak ’n verskil

Chester en sy gesin in 2011 toe Kuier hulle besoek het.

Hoe groot hierdie verantwoordelikheid op sy skouers moes lê, kan ons ons nie indink nie. Maar hy het dit op sy stil manier gedoen en oorwin. Nadat hy weens beserings opgehou speel het, het Chester se werk nie opgehou nie.

Hy het die Chester Williams Foundation gestig, wat kinders help met onder meer opvoeding en maatskaplike ontwikkeling. In die laaste paar jaar het hy die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se rugbyspan afgerig. Gasant Abarder, die kommunikasiehoof by UWK, het net lof vir Chester en sê in sy kapasiteit as hoofafrigter van rugby, het hy het ’n groot impak by UWK gemaak.

“Hy het die Varsity Shield twee seisoene agtermekaar gewen en het uiteindelik die span gelei om te kwalifiseer vir die Varsity Cup, wat die premier-rugbytoernooi in Suid-Afrika is vir universiteite. Hy het omgegee vir die spelers se welstand,” sê Gasant. Onder Chester se leierskap, het UWK rugbysuksesverhale opgelewer waarop hulle baie trots is, sê hy verder.

“Herschel Jantjies wat nou ’n ster in die Springbokspan is, was onder Chester se mentorskap sowel as Kurt-Lee Arendse wat vanjaar Varsity Cup gespeel het en in die middel van die toernooi gekies was vir die Springbok Sewesspan. Hulle het die (lesse van Chester se) leierskap saam met hulle gevat na hierdie nasionale spanne.”

Oor wat die UWK-gemeenskap die meeste van Chester gaan mis, is die waardigheid wat hy na sport gebring het. “Vir my persoonlik is dit sy glimlag (wat ek gaan mis). Hy was iemand wat jy kon vertrou en het dit by die spelers ingeprent om hul akademie eerste te stel en dan om ’n rugbyspeler te wees. Hy het ’n driejaarplan gehad en die beste ding wat ons as ’n universiteit kan doen, is om sy planne vorentoe te vat en sy nalatenskap te vereer.” En sy nalatenskap sal nog vir generasies bly voortbestaan en ons sal ons kinders en kleinkinders leer van dié merkwaardige man. Ons gaan jou mis, Chester – rus sag . . .

Hy woeker op die veld.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en Jacques Stander

Meer oor:  Kuier  |  Chester Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.