Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vaginavrae wat erg pla
8 Augustus 2018


'n Besoek aan die ginekoloog is ’n móét vir elke vrou, maar vir sommige kan dit nogal ’n ongemaklike saak raak, want hulle is skaam om álles te vra. Maar as daar een mens is met kennis oor al die dinge wat jy wil weet, is dit jou ginekoloog.

Baie vroue het vrae oor dit wat aangaan in hul onderdele, maar nie almal is eens gemaklik om die woord ‘vagina’ hardop te sê nie. Dr. Natalia Novikova, ’n bekende Kaapse ginekoloog, het ’n paar van die vrae beantwoord waaroor jy dalk wonder.

Lyk my vagina normaal?

Die enigste manier hoe jy kan uitvind of jou vagina normaal lyk, is om jou dokter – ’n kenner op die gebied – te vra.

Volgens Natalia is jou vagina ’n plek waar jy graag plooie wil hê – ’n normale vaginale wand is redelik gefrommel. Die opening van die vagina het oorblyfsels van jou maagdevlies (hymen) wat kan lyk soos ’n klein lussie aan die binnekant. Jou vagina is gewoonlik bedek deur jou labia (die twee velvoue of lippe) en jy kan dit (jou vagina) nie sien nie.

’n Ginekoloog sal ’n spesiale instrument, ’n spekulum of dokterspieël gebruik om te kyk wat daar onder aangaan. Dít is gewoonlik die ongemaklikste deel van die ondersoek. Natalia raai vroue aan om te probeer ontspan om die proses te vergemaklik.

Is dit normaal om ’n bietjie te piepie as ek lag of hoes?

Om onwillekeurig te piepie, is nie normaal nie en dit kan dui op druklek of urinêre inkontinensie (verlies van blaasbeheer wat veroorsaak dat urine lek)– ’n baie algemene, maar meestal ongediagnoseerde probleem. Dit is meer geneig om te ontwikkel in ouer vroue, nadat jy geboorte geskenk het en soms tydens swangerskap. Behandeling sluit in bekkenvloeroefeninge (Kegel), vaginale laserbehandeling of, in meer ernstige gevalle, chirurgie.

Kan my vagina sweet?

Jou vagina kan sweet en dit is belangrik om dit altyd skoon en droog te probeer hou. Probeer om altyd katoenonderklere te dra. Moenie roll-on aansmeer nie – dit kan meer skade doen as goed.

Is dit veronderstel om daar onder te jeuk?

Geen gejeuk is normaal nie, waarsku Natalia. Daar is baie moontlike oorsake, waarvan die algemeenste ’n swaminfeksie (of Candida) is. Dit kan ook ’n veltoestand soos ekseem, psoriase of ’n allergie vir produkte wees.

Wat is vaginale afskeiding?

Dit is slym (ook mukus genoem) wat vervaardig word deur jou serviks (baarmoedernek) en vagina se kliere. Dit is gewoonlik wit tot grys en kan deursigtig of deegagtig wees. Natalia verduidelik dit is normaal om ’n afskeiding te hê en die hoeveelheid wissel van vrou tot vrou. As jy egter voel jy het meer afskeiding as gewoonlik, moet jy maar eerder jou dokter besoek.

Is dit normaal vir my vagina om ’n reukie te hê?

Volgens Natalia het normale vaginale afskeiding nie ’n reuk nie. ’n Visserige reuk is gewoonlik ’n teken van bakteriese vaginose wat ’n wanbalans is van jou gesonde vaginale bakterieë.

Hoe weet ek ek het ’n STD?

Volgens Natalia ervaar die meeste vroue geen simptome wanneer hulle ’n seksueel- oordraagbare siekte het nie. Jy kan selfs jare met ’n STD rondloop sonder om dit te weet. ’n Branderige gevoel, oortollige vaginale afskeiding, vreemde reuke, maagpyn, pynlike seks, puisies of knoppies in jou geslagsarea, sere en swere is alles moontlike simptome.

As jy vermoed jy het ’n siekte of daar is ’n kans dat jy een het, maak dadelik ’n afspraak by jou dokter. Sonder behandeling kan seksueel-oordraagbare siektes tot baie ernstige gesondheidsprobleme soos selfs kanker lei.

Hoekom kry ek seer tydens seks?

Daar is baie redes vir pyn wanneer jy seks het, sê Natalia. Moontlike oorsake kan byvoorbeeld ’n vaginale swaminfeksie, ander vaginale of servikale infeksies, endometriose, siste of vaginismus (pyn tydens vaginale penetrasie – met ander woorde wanneer iets by die vaginale opening ingaan) wees. As jy baie droog is, kan dit ook pyn veroorsaak.

Watter lubricant moet ek gebruik?

Natalia stel voor jy gebruik K-Y gel wat ’n waterbasis het. Die meeste vroue kies natuurlike smeermiddels soos coconut olie. Solank dit nie enige abnormale simptome soos branderigheid of swelling veroorsaak nie, kan jy dit veilig gebruik. 

Kan ek seks hê terwyl ek swanger is?

Ja, seks is veilig tydens ’n gesonde swangerskap. Jou dokter sal beslis vir jou sê as jy eerder seks moet vermy.

Is my kanse minder om swanger te word as ek seks het net ná my maandstonde?

Volgens Natalia is daar ’n kleiner risiko vir swangerskap in die eerste week vanaf die eerste dag van jou menstruele siklus, asook ’n week ná jou maandstonde, maar daar is steeds ’n kans.

Werk ‘uittrek’ regtig nie?

Baie mense gebruik die pull-out-metode as voorbehoed, maar dit is nie ’n goeie idee nie, waarsku Natalia. Die kanse dat dit gaan misluk, is baie groter as wanneer jy regte voorbehoed gebruik soos die “loop”, die pil en kondome. Rek seks my vagina uit?

Daar is baie mense wat glo dat seks jou vagina kan uitrek. Dit is net ’n mite. Vaginale kindergeboorte kan jou egter uitrek. Natalia raai vroue aan om al hul vrae neer te skryf voor hul doktersbesoek. Jou dokter is daar om jou te help, jou vrae te beantwoord en toestande wat jy dalk het, te diagnoseer en behandel.

Dis dalk nie die lekkerste halfuur van jou lewe nie, maar dis baie belangrik, dis meestal nie seer nie en gereelde besoeke help om probleme vroeg op te spoor. Om meer gemaklik en ontspanne te wees, sal jou én jou dokter help. Nie almal voel gemaklik om vrae oor hul vroulike dele vir enigeen te vra nie. Maar wees verseker, daar is niks wat jy kan vra wat jou ginekoloog nog nie gehoor het nie. So trek jou big girl panties aan en vra voort! Vir meer inligting, besoek gerus drnovikova.co.za.

Eksterne seksorgane
Het jy dalk nie mooi opgelet in jou seks-voorligtingklas nie en tot vandag toe is jy te skaam om uit te vind wat is wat daaronder?
Interne seksorgane

• Eierstokke is aan beide kante van jou laer abdomen, net onder jou naeltjie. Dis waar jou hormone vervaardig word. Dit stoor ook jou eiers vir ovulasie en stel maandeliks een vry.

• Fallopiusbuise verbind jou eierstokke aan jou baarmoeder. Nadat ’n eier vrygestel word tydens ovulasie, beweeg dit af in hierdie buise en wag daar vir ongeveer 24 uur vir ’n spermsel om dit te bevrug. As dit nie bevrug word nie, beweeg die eier deur die baarmoeder en disintegreer. Dit veroorsaak uiteindelik dat jy uiteindelik jou maandstonde kry.

• Die baarmoeder is tussen jou blaas en rektum en is gewoonlik so groot soos ’n klein peer tensy jy swanger is. As ’n eier bevrug was en ’n embrio word, heg dit aan die baarmoederwand, skep ’n plasenta en ontwikkel in ’n baba.

• Die serviks verbind jou baarmoeder aan jou vagina om menstruele bloed uit en sperm in te laat.

• Die vagina is ’n elastiese kanaal met ’n sagte, soepel voering. ’n Gesonde vagina is ’n diep pienk kleur.

Meer oor:  Gesondheid  |  Seksvrae  |  Ginekoloog  |  Kuier  |  Seksuele Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.