Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tarryn Lamb: Sexy en so talentvol
7 Augustus 2019
tarryn lamb,maak my famous


Met haar suiwersoete stem betower Tarryn Lamb (34) fans al jare lank en sy beplan om in die toekoms nog hoër te vlieg.

Tarryn was onlangs te sien as die mede-aanbieder van Maak my Famous, Emo Adams se talentkompetisie op kykNET. En hoewel haar loopbaan van krag tot krag gaan, is Tarryn ’n plat op die aarde meisie van Ocean View naby Kaapstad, wat hou van braai en tyd saam met haar familie spandeer.

“My kinderjare was ’n droom. Ek was altyd buite besig om te speel en te rolskaats met my vriende. My ouma het tien minute se stap van ons af gewoon en die gemeenskap was soos een groot familie. Almal het uitgekyk vir mekaar.”

Dit is ’n heeltemal ander kant van dié buurt wat deesdae bekend is vir bendegeweld en misdaad. “Dit maak my eintlik so hartseer om te sien wat nou daar aangaan. Ek weet nie wat verkeerd gegaan het nie. Daar is darem nog baie mense wat die area probeer regruk,” meen sy.

Talentvol

As kind was dié pragtige donkerkop ’n ballroom en Latin American danser wat vir 16 jaar saam met haar ouma getoer het om deel te neem aan kompetisies. Dit was eers op hoërskool, toe Tarryn noodgedwonge tuis moes bly om te fokus op haar studies, dat sy meer in sang belang begin stel het, maar sy het nie gedink sy sal ’n loopbaan daarvan kan maak nie.

“My ma, Lynda, was altyd my grootste ondersteuner. Sy het vir my en my broer aangemoedig om te doen en te fokus op dit waarvoor ons lief was,” gons sy.

Dis by haar wat Tarryn geleer het hoe belangrik dit is om altyd die regte, positiewe mindset te hê – maak nie saak wat nie – om altyd hard te werk, jou beste te doen en alles met passie en doelgerigtheid aan te pak. “Ek strewe elke dag daarna om meer soos sy te wees. Sy is my inspirasie!”

Op 17 het Tarryn besluit om vir die eerste Idols-kompetisie in te skryf. Die ervaring was egter oorweldigend.

Dit (Maak My Famous) was my eerste werk as aanbieder en beslis my grootste uitdaging nog.
Tarryn Lamb

“Dit was die eerste keer wat ek gevlieg het, wat ek in Johannesburg was... Alles was nuut en almal was so talentvol. Ek dink ek het omtrent die hele tyd gehuil terwyl ek daar was,” onthou sy.

Tog voel Tarryn dat haar lewe amper vooraf beplan is, dat dit nog altyd haar destiny was en sy net die geleenthede wat oor haar pad kom met albei hande aangryp en die beste daarvan maak.

“Ek het altyd hierdie gevoel in my gehad, maar ek het nooit geweet hoe ek gaan kom waar ek wil wees nie,” verduidelik sy. “My man (Lester Timothy) sê altyd ek vat die scenic route deur die lewe en my loopbaan.”

En sy is so dankbaar oor al die uiteenlopende geleenthede en werke wat al oor haar pad gekom het – selfs die keer toe sy moes aantrek soos ’n blonde meermin en ’n “singing telegram” moes aflewer. “Op daardie stadium moes ek doen wat ek moes om die rekeninge te betaal, maar ek het soveel pret gehad! Dis die moeite werd om uit jou comfort zone te kom.”

Hoewel dit vir haar moeilik is om soms so lank en ver van die huis en haar geliefdes te wees, sal Tarryn haar kleurryke loopbaan vir niks verruil nie.

Dis nie altyd maklik om jou persoonlike lewe opsy te skuif vir jou werk nie. Só het Tarryn eerstehands ervaar toe haar oom oorlede is terwyl sy besig was om ’n episode van Suidooster te skiet. “Ek was so hartseer, maar my ma het my gebel om te sê ek moet fokus op waarmee ek besig is, dat ek later kon huil as ek by die huis is. Dis iets wat ’n mens moet leer – when the lights are on you, you must deliver.”

In ’n bedryf waar jy baie gejudge word oor hoe jy lyk, verklap sy wat so sexy en vol selfvertroue op die verhoog vertoon, dat sy al op elke dieet in die boek was.

“Ek is ’n bietjie te lief vir sweeties en chips. In die verlede het ek deur sulke yoyo-stadiums gegaan waar ek streng gedieet het en dan ’n cheat-dag gevat het wat vir ses maande aangegaan het.” Oor die jare het sy geleer jy moet na jouself kyk, maar sy steur haarself nie meer aan kritiek wat soms haar kant toe kom nie. “My wens is dat vroue besef ons is almal beeldskoon in eie reg en dat ons nie moet toelaat dat ander ons waarde steel nie.” 

Op die kassie

Tarryn as aanbieder op Maak My Famous

Haar tyd as deel van musiekgroepe soos BlackByrd en La Vuvuzela het haar oneindig baie geleer, maar toe Tarryn ’n rukkie gelede besluit het om haarself ’n bietjie toe te spits op toneelspel met rolle in onder meer Suidooster (waarvoor sy ’n SAFTA-toekenning in 2018 verower het), moes sy noodgedwonge die groepe verlaat. Veral Suidooster het weer haar liefde vir Afrikaans aangewakker.

“My pa is Afrikaans en my ma Engels, so ek praat Mengels,” skerts sy. Vir ’n lang tyd was sy onseker of sy kon regkom in Afrikaans, maar sy wou so graag leer. Hierdie passie het uiteindelik gelei tot haar eie Afrikaanse solo-album, Mal oor jou, waarvoor sy drie Ghoema-musiektoekennings hierdie jaar verwerf het. “Dit was soveel pret! En my pa is so trots dat my Afrikaans so verbeter het – hy het my ná elke episode van Maak my Famous gebel om só te sê!”

Van dié talentkompetisie het Tarryn net goeie goed te sê. “Dit was my eerste werk as aanbieder en ek was so op my senuwees. Dit was beslis my grootste uitdaging nóg. Emo is so fantasties en snaaks en ek kan nie eens ’n ou grappie vertel nie. Ek het heeldag en aldag met ’n borsel in my hand in die gang afgestap en geoefen terwyl my man, ’n prokureur, agter sy lessenaar moes sit en luister,” giggel sy. Vir haar was dit belangrik om kinders met soveel groot talent se hande te vat en die pad saam met hulle te begin stap.

Met ’n lewensmotto van “go big or go home”, sien

Kuier uit om te sien watter hoogtes dié vrou nog gaan bereik.
Meer oor:  Kuier  |  Tarryn Lamb  |  Maak My Famous
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.