Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Arendsvlei-skrywer: Van Kuier tot kassie!
4 September 2019
theltom masimila

Ek het dit altyd vreemd gevind hoe ek op skool daarna uitgesien het om opstelle te skryf, terwyl heelparty van my maats dit gehaat het. Wat ek nie daardie tyd besef het nie, is dat ek nie net gehou het van skryf nie, ek hou van droom. Daar was iets magical daaraan om ’n wêreld te beskryf wat nie werklik bestaan nie en karakters bekend te stel wat voor my woorde net in my kop gewoon het.

Woorde het my mag gegee. In my opstelle was ek vreesloos. Ek kon op A4-bladsye opstaan teen die ouens wat my op skool geboelie het. Die laaitie in die opstel het nie agter die skoolgebou weggekruip voor die eerste klok gelui het nie. Hy het vriende gehad wat nie vir hom lag nie en hy het klere gedra wat ek nie kon bekostig nie. En ek het nie eens besef ek skryf oor myself tot ek agtergekom het dat die ou wat in my stories was, nie ’n pa het nie. Ek het nie geweet hoe om die man met die bril en die koerant wat smiddae in die voorkamer sit, te beskryf nie, want hy was nie in my voorhuis nie.

My liefde vir skryf het in graad 7 by Petunia Primêr in Kraaifontein begin toe my destydse mentor, Thérèse Hulme, na die skool gekom het. Sy het vir ons Breyten Breytenbach se Mondmusiek-CD gespeel en een van die liedjies het by my gespook: “Ek sal sterf en na my Vader gaan”.

Juffrou het vir ons gesê ons kan ons skryfwerk vir haar bring en ek het ’n gedig geskryf. Ek kon oor enigiets skryf en dit het my uiters opgewonde gemaak. Skielik was ek heeltemal vry. Ek kon sê wat ek wil soos ek dit wil sê.

Glo in hom

Theltom was nog altyd vasbeslote om sy drome te bewaarheid.

Ek, my tweelingbroer en ses maats het later ons werk in ’n digbundel getiteld Piemp gepubliseer – ons was 15 jaar oud. Nie lank nie, toe word twee van my gedigte geselekteer vir die publikasie Poort, wat uitgegee is deur die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns. Op 16 is my gedig “Die Testament” op die literêre blad van Die Burger gepubliseer.

Skielik het ’n ander wêreld vir my oopgegaan. Op 15 was ek ’n gepubliseerde digter en die woorde het nie gestop nie. Hoewel skryf duidelik my passie was, was ek ook mal oor biologie (lewenswetenskappe) en het besluit om ná skool medies te swot. Maar net voor ek my studies by Stellenbosch begin het, het ek in my matriekjaar op ’n Kuier afgekom. My ma het die tydskrif gekoop en vir my gewys hulle betaal R500 per verhaal. Vir ’n 18-jarige was dit baie geld en ek het seker gemaak ek kom by ’n rekenaar uit. Ek het drie verhale op my Sahara-rekenaar met die stukkende skerm geskryf en vir die verhaleredakteur gemail.

’n Paar maande later, kort ná my 18de verjaardag verskyn my eerste verhaal, “Die Besoeker”, in Kuier. Ek was verskriklik trots op my prestasie. Nie net was my gedigte in bundels en in ’n koerant nie, maar ek het nou ’n verhaal in ’n tydskrif gehad. Omdat Kuier die kans gevat het om my storie te publiseer en in my geglo het, het dit my gemotiveer om nog verhale te skryf.

Ek was ’n skrywer en was vasbeslote om ná my studies een te bly. In 2014 het ek vir Danie Odendaal gekontak en idees gestuur vir sy sepie 7de Laan wat op SABC2 uitgesaai word. Hy was skepties, want ek was toe net 21 jaar oud en het nog nooit vir TV geskryf nie, maar 23 van my stories is toe al in Kuier gepubliseer.

Nie lank nie, toe vra hy my om ’n episode van 7de Laan te skryf en in 2015 begin ek werk by Danie Odendaal-produksies as draaiboekskrywer. ’n Paar maande later het Homebrew Films my gekontak om te help skryf aan ’n nuwe sepie getiteld Suidooster. Ek was toe amptelik ’n sepieskrywer en dit het alles begin by verhale in Kuier.

Kuier het ’n artikel oor my geskryf en Ernusta het my gevra wat my volgende groot droom was. Ek sê toe vir haar ek wil my eie sepie hê op kykNET. Dit was die eerste keer dat ek dit hardop gesê het. Wanneer jy eers jouself van iets oortuig en dit uitgestuur het in die universe, kan niemand jou keer nie.

Vandat ek 19 jaar oud was, het ek die idee gehad vir ’n storie wat afspeel by ’n hoërskool op die Kaapse Vlakte. Dit was veronderstel om ’n kortverhaal te wees wat ek ook vir Kuier sou stuur, maar dit was te lank met te veel karakters en storielyne.

Die storie was bedoel vir TV en ek het besef dit is my groot reeks wat eendag uitgesaai sou word. Ek het die dramareeks sewe keer voorgelê aan M-Net, kykNET, die SABC en verskeie produksiehuise in Engels en Afrikaans.

Dis ses keer deur TV-kanale afgekeur, maar ek het geweet dis ’n goeie storie, want Kuier het my oortuig ek het ’n stem en dat dít wat ek met woorde regkry, iets beteken. Die reeks is uiteindelik in Februarie 2018 deur kykNET aanvaar en ek gee dit toe die titel Arendsvlei.

Werk hard

Theltom en die Arendsvlei akteurs, Melanie du Bois; Jolene Martin; Ann Juries-May en Maria Valente.

Dis een ding om talent te hê, maar jy moet baie hard werk om jou drome te bewaarheid. Ek het nooit opgegee nie. Die probleem met skryf, is jy moet baie tyd alleen met jouself spandeer. Wat moeilik kan wees as jy nie mal is oor stilte en nie maklik kan stilsit vir ure aaneen nie.

My advies aan opkomende skrywers is: lees soveel moontlik. Tydskrifte, boeke en koerante kan jou gedagtes prikkel. Jy moet jouself forseer om elke dag iets te doen met woorde. Al skryf jy ook net ’n brief vir jouself, skryf dit. Wanneer jy ’n idee kry, moet jy dit dadelik neerskryf dus skryf ek dit in my notes app op my selfoon, want jy dink jy gaan dit onthou, maar dis ongelukkig nie altyd die geval nie.

Soos met baie dinge in die lewe moet jy net ’n kans vat en hoop vir die beste. Wanneer jy jou eerste storie skryf en dit aan ’n redakteur of uitgewer stuur, gaan dit terugkom met heelwat notas, vrae en kommentaar. En die probleem met kreatiewe mense is, ons vat dinge te persoonlik op, want ons werk kom van binne ons. Jy skryf oor jou eie drome, vrese en hartseer en wanneer mense kommentaar lewer, voel dit asof jy persoonlik aangeval word.

Terselfdertyd is dit ook nie goed om kommentaar te vra by jou familie en vriende wat altyd positief gaan reageer nie, want dan sal jy nooit beter raak as kunstenaar nie. En iets wat ek gelukkig vroeg besef het, is dat alles gaan oor smaak. Net omdat ek van ’n storie hou, beteken nie iemand anders gaan netso mal wees oor die storie en karakters nie. Soms stuur jy jou werk vir ’n uitgewer wat net nie die wêreld verstaan waar jou storie afspeel nie en die persoon sê dan vir jou dit wat jy gedoen het, werk nie. Maar eintlik werk dit net nie vir hom nie. So jy moet net aanhou, want eendag gaan die regte persoon dit lees.

Ek is dankbaar vir kanale soos kykNET-&kie waar ons stories in Kaaps kan vertel en tydskrifte soos Kuier wat sê ons stories moet gehoor word en daagliks baklei vir ons stem. Wanneer mense met jou praat en soos jy klink, is jy dadelik tuis. Hoekom moet dit net by die huis gebeur en nie by die skool, werkplek en op televisie nie? 

Ek dedicate my stories aan my ouma, Magrieta Masimila, wat ’n groot Kuier-aanhanger was en al my verhale uit die tydskrif gecopy en gelamineer het. Sy het vreeslik gespog oor die publikasies en seker gemaak almal weet dis haar kleinkind wie se gedagtes oortyd werk. Al is sy nie meer met ons nie, weet ek sy gaan nog al die toekomstige verhale sien, want haar gees is om ons. My 34ste storie is in Julie vanjaar in Kuier gepubliseer en ek weet sy het soos gewoonlik saamgelees. 

Meer oor:  Kuier  |  Kuier10  |  Arendsvlei  |  Theltom Masimila
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.