Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vannie Kaap: Eienaar gee tips vir jou besigheid
22 Januarie 2020


Danksy een man van die Kaapse Vlakte is dit deesdae die in-ding om met sêgoed eie aan die Kaap op jou kop, jou bors of in jou hand rond te loop. Vannie Kaap het ’n paar jaar gelede die wêreld op horings geneem deur die Coloured-kultuur te vier en weereens te bewys daar is ’n groeiende mark vir trots Suid-Afrikaanse produkte.

Met sêgoed soos “tsek”, “awê masekin” en “just be lekke!” het een man dit nie net reggekry om die Kaapse kultuur weer cool te maak nie, maar dit in ’n suksesvolle besigheid te verander. “Ôsse taal is oek wie ôs is en vir Vannie Kaap is dit belangrik dat mense begin trots is op wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” sê die man agter die brand.

Almal wat iemand is, loop deesdae rond met iets van Vannie Kaap, tog weet amper niemand wie is die geheimsinnige eienaar van dié gewilde handelsmerk nie – selfs nie eens sy ma nie! VK (nou 37, maar sê hy ‘identifiseer’ as 29), wat in Manenberg op die Kaapse Vlakte saam met sy enkelma grootgeword het, beskryf homself eenvoudig as ’n creative lanie.

“Die meeste mense dink ek is ’n freelance graphic designer.” Volgens hom is sy ma se gunstelingvraag aan hom: “Wanne’ gat djy ’n regte wêk kry?” In 2016 het hy met ’n geleende laptop en ’n dolleë bankrekening ’n Facebook-groep begin waar hy pittige sêgoed met sy sowat 400 volgelinge gedeel het. So vinnig soos blits het die blad meer as 100 000 volgelinge gehad en het VK besluit om in te cash op die geleentheid deur T-hemde aanlyn te begin verkoop.

Daarvandaan het Vannie Kaap ontplof. VK moes noodgedwonge ’n vennoot inbring om te help met die besigheidsaspekte sodat die onderneming kon groei. “Baie jare gelede was daar ’n vriend van my wat my gehelp het toe ek letterlik homeless was, so dit was tyd om die guns terug te betaal aan Marc Jacobs,” verklap hy.

Sleutel tot sukses

Nadat Marc by Vannie Kaap aangesluit het, kon die span hul aanlynverkope en hoeveelheid produkte groei en selfs ’n winkel in Woodstock oopmaak. “We bit the bullet and went all the way,” vertel VK. Die sukses van daardie winkel het daartoe gelei dat Vannie Kaap hul eie produksie-eenheid kon begin. “Die brand het net aanhou groei en, fast forward tot einde 2019 en ons het nou winkels in Canal Walk, Watershed (in die Kaapse Waterfront) en Cape Gate-winkelsentrum.”

Hul bekers is ook beskikbaar in vier FreshStop Caltex-winkels en hulle verkoop ook hul produkte aanlyn op Zando en Takealot. “Dis ’n reis wat steeds aangaan, en dít sonder beleggers. Wie sê jy het geld nodig om ’n besigheid te begin?” glimlag VK.

Deesdae is hul topverkoper die koffiebekers, spesifiek die een wat sê “I drink coffee cause we’re not allowed to moer people at work”. Met al die bohaai oor die brand, is dit moeilik om te glo amper niemand, behalwe Marc natuurlik, weet wie die man agter die besigheid is nie. Aanvanklik het hy nie eens sy eie produkte gedra of gebruik nie, want hy was bang dit sou die aap uit die mou laat.

“Nadat ek so baie mense in die openbaar met die brand gesien het, het ek besef ’n beter manier van wegkruip is deur in te pas.” Waarom die geheimsinnigheid? “In die tradisie van die misterie gaan ek vir jou drie moontlike antwoorde gee . . . Bekendheid is vlietend en afleidend wanneer jy weet wat jou doel is en verstaan hoe beperk jou tyd is om jou doel te bereik. Vannie Kaap was nooit oor my nie, maar oor die kultuur wat my gemaak het.

Mark Zuckerberg het Facebook begin sonder om sy gesig te gebruik . . . Daai laaste sin is so diep ek garrit trademark,” skerts hy. Tweedens, verduidelik hy ernstig, kom mense nie agter jou aan as hulle bedreig voel deur jou nie, maar hulle kom vir die mense naaste aan jou.

“In my gunsteling-Batman-fliek, The Dark Knight Rises, sê Batman vir Robin hy moet ’n masker dra. Robin antwoord dat hy nie bang is nie, waarop Batman sê ‘the mask is not to protect you, but to protect those you love,’ ” verkonding VK in sy beste diep, heroïese en lekker sexy radiostem. “Die laaste moontlike antwoord is ek is ’n introvert wat lief is vir die eenvoudige goed in die lewe en ek koester die sacredness van my privaatheid. Los my af!” Die redes vir die vinnige en astronomiese groei van Vannie Kaap, is volgens VK relevansie, konsekwentheid en kreatiwiteit.

“Maar dit is ’n hele TED Talk op sy eie,” meen hy. Maar hoe kom hy amper daagliks op met nuwe memes en sêgoed wat sy amper 400 000 volgelinge nie net laat dink nie, maar laat skater van die lag? “Ek hou daarvan om die humor of die profound te sien in goed wat dalk nie eens snaaks of diep is nie. Dis hoekom ek mal is daaroor om mense dop te hou . . . Maar nie in ’n creepy way nie, natuurlik!” skerm hy.

“Selfs wanneer ek in ’n gesprek betrokke is, verwyder ek myself van die gesprek om die gesprek dop te hou terwyl ek nog in die gesprek is . . . Dai klink baie deemekaa, but it makes sense to me . . .” Die derde sleutel tot sy amper onuitputbare kreatiwiteit, is baie lees. “Ek is verslaaf aan lees, insluitend Kuier.

En nee, Kay Karriem het my nie betaal om dit te sê nie,” lag hy. VK se advies aan jong entrepreneurs is om dit nie net vir die geld te doen nie, maar om met iets te begin omdat jy lief is daarvoor. “Dit sal jou soveel meer met effort, geduld en passie laat werk. Jy sal so goed raak daarin dat die geld jou uiteindelik sal vind,” verduidelik hy.

’n Bitter les wat hy vroeg moes leer, is soms wanneer jy daaraan werk om bruin mense te uplift, jou grootste kritiek gewoonlik van ander bruin mense af kom. “So jy hou aan deur te fokus op die groter prentjie met die wete dat baie mense eers verander met hindsight.” Deesdae is sy grootste kopseer egter om plaaslike vervaardigers en verskaffers te kry wat in dieselfde hoë vlak van kwaliteit en konsekwentheid glo as hy en Marc.

Van krag tot krag

Is sy bankrekening darem nou al ’n bietjie voller? “Never discuss your private wealth when you still owe Edgars money or when you know there are people in your community who will soema claim to be related to you,” skerts hy.

Tog, as ’n besigheid is dit vir Vannie Kaap belangrik om ander entrepreneurs te motiveer en daarom is hulle oop oor hul finansiële groei. “Ons jaarlikse inkomste het gegroei van ’n paar honderdduisend tot ’n multi-miljoenrand-inkomstestroom. Verlede jaar het ons ’n 200% verhoging in ons jaarlikse omset gehad en hierdie jaar is die beraming 300%,” vertel hy.

Vannie Kaap het 28 werknemers van wie meer as 75% vroue is, insluitend een in ’n senior bestuurspos. “Dis altyd crazy om terug te dink oor die afgelope paar jaar en te onthou hierdie hele ding het met ’n geleende laptop begin. #blessed.” VK en Marc droom groot oor die toekoms en is van plan om binnekort die media-arm en die offline-omvang van Vannie Kaap te verbreed.

“Dis alles goed en wel om jou storie deur sosiale media en klere te vertel, maar om ’n groter impak te maak, moet jy deur ander platforms ook werk. You own your narrative when you own the entire ecosystem. Ek kom virrie hele blerrie system!” waarsku hy. Oor die laaste paar jaar, in sy reis van zero na ’n gesiglose hero, was daar baie oomblikke wat sy hart vinniger laat klop het.

“As ek ’n onlangse een moes kies, was dit nou die middag toe ek terugkom by my kar nadat ek by die bank was. ’n Hawelose man het my kom vra vir geld, maar ek het nie kontant gehad nie, toe gee ek hom my Vannie Kaap-keppie.” Daar was geen rede vir VK om te dink die man ken die Vannie Kaap brand nie, so hy was stomgeslaan toe die man se gesig verhelder met ’n glimlag, hy die kep opsit en trots vir sy vriende skree: ‘Yor! Kyk hie’! ’is ’n Vannie Kaap-kep!’ Maar die ding wat hierdie stil man die trotsste maak, is die dag toe hy vir sy ma haar eie huis kon gee en haar help om uit die Kaapse Vlakte te trek

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.