Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vegter: Chris Nissen staan op vir menseregte
18 Maart 2020
Eerwaarde Chris Nissen


Met net een paar skoene en een paar sloffies trap dié man diep spore in die harte van alle Suid-Afrikaners met wie hy in aanraking kom. Eerwaarde Chris Nissen (61), oorspronklik van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, wy hom al sy hele lewe lank daaraan om die lewens van armes te verander en op ’n manier te verbeter.

En wanneer jy dié groot gees ontmoet en hoor hoe passievol hy is oor menseregte en die voorsiening van basiese dienste aan alle landsburgers, verstaan ’n mens onmiddellik hoekom hy gekies is as die Wes-Kaapse kommissaris vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Die kommissaris lyk ontspanne en gemaklik waar ons hom by sy kantoor in Adderleystraat in Kaapstad ontmoet. Sy lessenaar lê vol dokumente en hy maak vinnig verskoning: “Jammer julle, dit is maar hoe dit hier gaan op ’n Maandag – rof en onbeskof.”

Sy wortels

Hy lag voor hy sy sitplek inneem en opgewonde begin vertel oor waar presies sy wortels begrawe is. “Ek is in Goodwood, of liewer Die Akkers, gebore, maar dit is natuurlik nie waar ek my kinderjare spandeer het nie omdat ons daar uitgesit was en na Bishop Lavis geskuif is. Ek kan nie eens onthou presies hoe oud ek was nie, maar wat ek wel onthou, is die wit Volkswagen-karretjie wat die brief kom aflewer het. Dit was natuurlik die brief wat ons verwittig het dat ons moet trek.”

Met oë wat blink vertel hy hulle het maar swaar grootgeraak. “Ons was nege kinders – my pa het op die lughawe gewerk en my ma was ’n huisvrou. Toe my pa nog boonop eendag uit die bus klim en deur ’n lorrie omgestamp word, het dinge nog swaarder gegaan. My ma het toe skielik ’n enkelma geword wat net ’n toelaag van die staat ontvang het.”

Dit is juis om dié rede dat Chris al van ’n jong ouderdom begin werk het. “Ek het nie baie geld verdien nie, maar dit het baie gehelp en my ma was dankbaar daarvoor.” Chris is ook al van jongs by die politiek betrokke. In die laat 1970’s het sy loopbaan as predikant en anti-apartheidsaktivis in die land begin. “Ek het regoor die land gereis en op verskeie plekke die Woord van God verkondig en ook politieke bewusmaking onder ons mense geskep. Ná 1994 het ek die ANC-LUR in die Wes-Kaap geword.”

Hy het ook op verskeie direksies gedien, waaronder Standard Bank. Hy lag lekker voor hy sê dat dit eintlik so ironies is dat hy op dié raad dien. “In standerd nege is ek verban uit alle skole weens my politieke aktivisme en betrokkenheid by die ANC. My oom het in die printing afdeling van dié bank gewerk en was baie bekommerd oor my. Hy het voorgestel dat ek daar vir hom kom werk. En toe later dien ek op die raad – ironies nè? Nie een van ons het dit natuurlik verwag nie.”

Ná baie jare in die sakewêreld het hy sy besigheidsbetrokkenheid konsolideer en teruggekeer na sy gemeenskap as eerwaarde. “Ek het altyd gesê op 55 gaan ek aftree en teruggaan na die kerk. Dit was altyd my wens. My hele lewe was gewy daartoe om mense te dien en my beroep in die kerk is nie veel anders nie.” Hy vra dan skielik of hy ’n staaltjie kan deel oor sy lewe. Hy begin laggend vertel dat hy sy eerste paar ordentlike skoene gekoop het toe hy in standerd nege was.

As kommissaris sit ek met mense se hoop in my hande. Ek het die verantwoordelikheid om burgers se regte te beskerm.

“Ek het al die jare, voor ek daai skoene kon koop, met min klaargekom, so ek was nie van plan om te verander en geld te mors nie.” Sedert daardie eerste paar skoene koop Chris slegs ’n nuwe paar skoene as die ou paar stukkend is.

Hy wys na die swart leerskoene wat hy aanhet en merk ongeërg op: “Dis iets waarin ek steeds vas glo. Ek sal nou eers dié skoene vervang as dit stukkend is. Ek het dié paar en ’n paar sloffies. Dit is mos meer as genoeg!” Op dié nederige noot antwoord Chris eerlik sy grootste wens is dat Suid-Afrikaners mekaar se regte respekteer en uitleef.

“Suid-Afrikaners moet mekaar net respekteer,” pleit hy. “Die advies is van toepassing op almal – van diegene wat neerhalende opmerkings maak by ’n braai, tot die regeringsamptenaar wat mense drie maande laat wag en eindelose e-posse eis net om ’n waterprobleem op te los.”

Chris herroep die tyd toe hy in die tronk was. “Alles wat ons destyds gedoen het, was vir ons land en sy mense. Dit was nie gedoen vir magsposisies of geld nie. Jy was ontneem van jou menswaardigheid en wat saak gemaak het, was bevryding. Terwyl jy vir maande aaneen daar gelê het, was jou doel bevryding en menseregte.”

Hy sê die visie is steeds dieselfde, maar die manier van dinge doen, is anders. “Dis nou ’n geskarrel om geld en posisies. Leiers moet die mense van die land dien en nie net na hulself kyk nie. Daar is steeds te veel ongelykhede in die land en 25 jaar ná bevryding is daar steeds mense wat nie lopende water het nie en daar is steeds mense wat gebruik maak van puttoilette. Ons nasie is steeds verdeeld en ons moet onthou dat bevryding nie sonder versoening kan gebeur nie.” Volgens Chris moet alle ongelykhede ook eers uitgestryk word.

“Die werkloosheidsyfer in ons land is heeltemal te hoog. Ek het al in agt provinsies gewoon en dit tref my elke keer soos ’n vuishou in die maag wanneer ek sien in watter toestande ons mense woon. Ek glo tog steeds dat eendag, eendag gaan wees. En dan sal ons land die toonbeeld van versoening wees. Dié toonbeeld van groei en ’n reënboognasie, want dit is presies wat ons is.”

Beskerm regte

Oor sy werk as kommissaris kan die man nie uitgepraat raak nie. “Ek reis daagliks regoor die provinsie om mense te hulp te snel en te verseker dat hul regte nie geskend word nie. Dis vir my belangrik dat elke mens met die nodige waardigheid behandel word. Daar is altyd die algemene konsensus veral onder diegene wat in plakkerskampe bly – ons mag miskien in plakkerskampe bly en plakkers is, maar ons het nie die mentaliteit van plakkers nie.”

Hy sê voorts dit is hoekom dit vir hom so belangrik is om op die grond te werk saam met gemeenskappe. “Jy sal nooit weet van die regte swaarkry en probleme tensy jy nie daarheen gaan nie. Jy moet kan simpatiseer met lede. As kommissaris sit ek met die mense se hoop in my hande. Ek het die verantwoordelik teenoor burgers om hul regte te beskerm en indien dit nie gedoen word nie, om daarvoor te veg.” Chris sê geslagsgeweld is een van die grootste euwels in ons land en veral in die Wes-Kaap.

“Die geweld teen vroue en kinders is skerp aan die toeneem en dit is elke mens se verantwoordelikheid om dit te beveg. “Vroue en kinders word van hul basiese menseregte ontneem en dis ’n gru-misdaad wat ons nie langer verby kan kyk nie. Die ongelukkige ding is dat ons in ’n patriarchal society leef waar mans dink hulle is verhewe bo vroue. Daar moet ’n shift kom in die mindset. Ons moet die uitmoor van ons vroue en kinders hokslaan. Genoeg is genoeg.”

En dan haal hy die woorde van Rabbi Hillel, waarby hy so getrou leef, aan: “‘If I am not for myself, who will be for me? If I am not for others, what am I? And if not now, when?’ Ek leef nie net vir my nie, maar ook vir duisende ander. En as ek elke dag iets kan doen om iemand anders se lewe te verbeter, doen ek dit sonder om twee keer te dink . . .”

Meer oor:  Kuier  |  Menseregtekommissie  |  Chris Nissen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.