Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vergete lyke
19 September 2018

Wanneer die meeste mense tot sterwe kom, word op gepaste wyse van hulle afskeid geneem: ’n roudiens, blomme, foto’s en ander herinneringe wat deur familie en vriende gedeel word.

Ongelukkig is dit nie almal beskore nie. Baie mense word deur die staat begrawe of veras sonder dat hul lyke ooit geïdentifiseer word.

Dis veral die babas wat haar aan die hart geruk het, sê Janine Adams*, wat uit die aard van haar werk jare lank te doen gehad het met lyke wat onopgeëis in staatsyskaste lê en uiteindelik anoniem die wêreld verlaat. “’n Mens kan hulle tog nie net weggooi nie,” sê sy emosioneel oor babalykies wat op plekke soos vullishope gevind word, maar ook daardie fetusse wat hoofsaaklik weens aborsies ook hul weg na staatslykhuise vind. “Hulle is tog ook mense...”

NIEMAND EIS HULLE NIE

Janine het jare lank vir die polisie gewerk en uiteindelik nagenoeg ’n dekade by die Tygerbergse Forensensiese Patologie-eenheid in Bellville in die Kaap deurgebring. In daardie tydperk het sy keer op keer gesien hoe kollegas onder die grusaamheid van alles geestelik ingee en sielkundig hulp moet kry. Uiteindelik het dit ook met haar gebeur.

Janine skets ’n hartroerende prentjie van tot 20 babas of fetusse wat op een metaaltrollie in die yskas sou lê en personeel wat hulle so lank moontlik daar hou in die hoop dat iemand hulle kom opeis.

“Maar in al my jare daar het dit nooit gebeur nie.”

Dit was Janine se werk om nie net daardie lykies te gaan haal waar hulle ook al aangetref is nie, maar ook dié van volwassenes wat op oënskynlik onnatuurlike wyse dood aangetref is.

Sy skat die lyke van ongeïdentifiseerde volwassenes is oor die algemeen vier tot vyf maande by hulle gehou. En al was dit duidelik dat hulle ’n onnatuurlike dood gesterf het, sou post mortems in die oorgrote meerderheid van gevalle nie op hulle gedoen word nie omdat niemand in elk geval geweet het wie hulle is nie.

Uiteindelik sou die regeringsbegrafnisondernemer dan die lyke kom afhaal vir hul laaste reis op aarde.

Volgens Janine is volwassenes in die tyd toe sy daar gewerk het, veras, maar is babas en fetusse begrawe. “Die begrafnisondernemers het die babatjies altyd met baie deernis hanteer. Hulle sou tot vier op ’n slag in ’n wit kissie met ’n goue kruis op begrawe word,” sê sy sag.

’N GROOT PROBLEEM

Onopgeëistes en ongeïdentifiseerde lyke is landwyd ’n groot probleem. As net gekyk word na Gauteng, die een provinsie wat ’n databasis byhou, eindig een uit elke tien lyke in staatslykshuise daar uiteindelik anoniem in ’n graf of krematorium, sê prof. Maryna Steyn, hoof van die Skool vir Anatomiese Wetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand. Of anders gestel: daar is jaarliks tussen 1 300 en 1 600 ongeïdentifiseerde lyke nét in dié provinsie, is prof. Jeanine Vellema, hoofspesialis van Suid-Gauteng se agt lykshuise, in ’n artikel in die Mail & Guardian aangehaal.

“Die getalle oorweldig ons,” voeg Steyn by, en lyke kan weens ’n plekprobleem nie onbepaald in lykshuise gehou word nie. Die oorgrote meerderheid word tussen ’n maand – die minimum tydperk wat hulle gehou mag word – en ’n paar maande ná afsterwe deur die staat begrawe of veras.

“Uitkenning kan om verskeie redes moeilik wees. Soms is die oorskot erg ontbind of vermink weens onder meer geboue wat ineenstort, brande, trein- of taxi-ongelukke. Iets soos vingerafdrukke kan dan nie vir identifikasiedoeleindes geneem word nie.

“Ander kere sterf mense anoniem omdat hulle in hul laaste oomblikke geen identifikasie op hulle gehad het nie.

“Stel jou voor iemand gaan die oggend van die huis af werk toe en sterf langs die pad in ’n tref-en-trap-ongeluk of ’n hawelose word dood onder ’n oorbrug aangetref. As die persoon se vingerafdrukke op die nasionale databasis is, sal hy geïdentifiseer word. Indien nie, skep dit ’n probleem,” skets Steyn die harde werklikheid.

Eintlik, sê sy, is ongeïdentifiseerde lyke wêreldwyd ’n massiewe humanitêre probleem. “Dink maar net aan mense wat in bote oor die Middellandse See vaar en verdrink. Maar ons het óók ’n toestroming en ons vermoed baie ongeïdentifiseerdes is emigrante of trekarbeiders wat in die stad kom werk en doodgaan.”

Soms sal die forensiese patoloë erg ontbinde lyke of skelette na die Menslike Variasie- en Identifikasienavorsingseenheid by Wits se Skool vir Anatomiese Wetenskappe stuur vir verdere ontleding. Ook húl syfers vertel egter maar ’n droewige verhaal, sê Steyn.

As die persoon se vingerafdrukke op die nasionale databasis is, sal hy geidentifiseer word. Indien nie, skep dit 'n probleem.
Prof. Maryna Steyn

Die afgelope twee jaar het hulle 84 gevalle gekry. Van die 70 wat reeds afgehandel is, was die identiteit van twee vooraf bekend (hulle moes net trauma-analise doen), terwyl vyf geïdentifiseer kon word en nog drie ook waarskynlik sal kan word – dus ’n positiewe uitkenning in net ’n sewende van die gevalle.

“’n Groot probleem is dat Suid-Afrika baie kundigheid het, maar nie genoeg voete op die grond om inligting intensief op te volg nie,” sê Steyn.

“Êrens moet ’n polisie-ondersoekbeampte werk maak van inligting, en ek dink dis daar wat dit partykeer op die grond val.” En in die proses is daar sonder twyfel mense wat letterlik al met moord weggekom het.

Maar dis ook waar dat al hét iemand voorsorg getref met ’n begrafnispolis, is dit nie te sê dat dinge noodwendig vlot gaan verloop nie.

Rina Arendse* van Somerset-Wes sal nooit die dag vergeet toe ’n Bolandse begrafnisondernemer haar uit die bloute telefonies meegedeel het dat sy volgens haar familie vir haar oorlede suster se begrafnis sal betaal nie. Sy was toe al jare van daardie deel van haar familie vervreem.

Tot haar skok moes sy hoor dat haar suster se lyk al weke lank by die begrafnisondernemer lê sonder dat enige begrafnisreëlings getref is, en dat ’n armlastige begrafnis vir haar suster ’n werklikheid begin raak.

By nadere ondersoek het sy uitgevind dat daar wel ’n begrafnispolis was, maar dat die familie die polis uitgejol het. Nóg erger: Hulle het selfs so ver gegaan om geld by haar suster se eks-boyfriend en vriende in te samel vir die begrafnis en dít ook uitgedrink.

Met die begrafnisondernemer nou knaend op hul spoor en die verskuldigde bedrag wat ál groter word hoe langer die lyk daar lê, het hulle Rina se telefoonnommer aan hom gegee en voorgegee dat sý die koste sal dra.

Rina, ’n huishulp en enkelma wat ’n beskeie lewe saam met haar kinders lei, het eers geweier om te help. Maar uiteindelik het sy so sleg gevoel oor die onwaardige manier waarop haar vervreemde suster se liggaam behandel is, dat sy geld geleen het om haar in die grond te kry eerder as dat sy as armlastige aan die staat oorhandig word.

Munisipaliteite is vir armlastige begrafnisse of verassings verantwoordelik, met die staatskontrak wat afgewissel word en tans deur AVBOB behartig word. Hoewel die meeste van hierdie begrafnisse dié van ongeïdentifiseerdes is, word ook lyke wat nie opgeëis word nie op hierdie wyse begrawe.

Baie keer sal familielede doodeenvoudig weens finansiële druk nie ’n lyk gaan opeis nie – iets wat in die meeste gevalle nie nodig is nie omdat hulle by hul plaaslike munisipaliteit aansoek kan doen om ’n armlastige begrafnis of verassing.

Hulle moet net in ag neem dat daar aan sekere vereistes voldoen sal moet word en dat hul geliefde se chipboard-kis dalk saam met dié van een of twee ander armlastiges in ’n graf gesak sal word.

*Skuilnaam

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou mening.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.