Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verhoudings: Hulp as julle sukkel vir 'n baba
19 Februarie 2020


Vir baie paartjies is swangerskap en die geboorte van ’n gesonde pienkvoet die mees natuurlike volgende stap in hul verhouding of huwelik. Dit is die laaste skakel om hul huweliksband te verstewig en hul verhouding te verdiep.

Maar dit is die ideaal wat ongelukkig vir baie nie die realiteit is nie, want baie verhoudings beland op die rotse wanneer iets fout gaan. Geen verhouding kan die sielkundige impak vryspring van ’n miskraam, fertiliteitsprobleme (waar paartjies byvoorbeeld jare lank sonder sukses sukkel om swanger te raak) en/of ’n kind wat met ’n gebrek gebore word nie. Kenners is dit eens: enige van bogenoemde situasies kan ’n verhouding maak of breek.

Clarissa van Niekerk* (34) van Malmesbury in die Wes-Kaap en haar eksman was sedert haar hoërskooldae ’n paartjie. “Ons het mekaar ontmoet toe ons baie jonk was, so toe ons klaarmaak met skool en albei klaar geleer het, het ons besluit om te trou, want ons het geen rede gesien om nog langer te wag nie.” Dié twee was toe onderskeidelik 22 en 24 jaar oud.

Sy vertel hulle het onmiddellik ná die troue begin probeer vir ’n baba. “Ek was altyd een wat lief was vir kinders daarom my besluit om onderwys te swot. Ons twee het altyd gepraat en die plan was altyd daar om ná die troue met ’n gesin te begin.” Dinge het egter nie so vlot verloop soos hulle beplan het nie. Ná so twee tot drie jaar van probeer het hulle besluit om na ’n ginekoloog te gaan.

“Ná verskeie toetse is ek met endometriose gediagnoseer wat dit vir my moeilik gemaak het om swanger te raak.” Dié paartjie was teen die vloer toe hulle die nuus kry. “Ons was platgeslaan, want soos ’n mens maar is, het ons die ergste vermoed.”

Ses maande ná die diagnose het Clarissa egter swanger geword. “Dit het seker gebeur omdat ons nie meer gefokus was daarop nie. Sjoe, om te sê dat ons in sewende hemel was, is ligtelik gestel.” Hul geluk was egter van korte duur, want drie maande later het Clarissa ’n miskraam gehad en daarna nog twee. Hul stryd om ’n baba van hul eie te hê en die aanhoudende miskrame het sy tol op hul huwelik geëis. “Ons kon mekaar nie vind nie en het mekaar nie meer verstaan nie. Verwyte is rondgeslinger tot op die punt waar ek sielkundige hulp moes kry en ons het uiteindelik geskei.”

Impak op verhouding

Louis Venter, stigter en berader by Couples Help, sê wanneer mense trauma beleef, is hulle geneig om onbeskikbaar te word vir hul maat en te beweeg na selfbehoud. “In selfbehoud gaan dit meestal oor oorlewing. Jy doen alles wat nodig is om jou emosionele onrus te oorleef. Vir die meeste mense beteken dit om hulle af te sluit van alles en almal om hulle.

Die persoon stoot mense natuurlik weg en sukkel om te vra wat hy/sy wil hê.” Volgens Louis is dit juis wanneer jy trauma ervaar dat jy ander die nodigste het. “Jy het mense nodig, maar jy stoot hulle weg. Jy verloor die vermoë om beskikbaar te wees vir die emosionele behoeftes van jou eggenoot. Vir alle mense is die uitdaging in trauma om verbind te bly, te sê hoe ons voel en te vra wat ons nodig het; dit is die enigste manier hoe jy die pyn kan aanspreek. Gewoonlik is daar een persoon in die verhouding wat ’n ruimte kan skep vir die ander om deur trauma te beweeg.” Hy sê voorts stres en angs oor swangerskap dra by tot paartjies wat skei of opbreek.

“Dit kan lei tot een party wat skuldig voel en voel hy of sy is nie goed genoeg om tot ’n normale bevrugting by te dra nie. Hierdie maat kan depressie ontwikkel, wat intimiteit kan beïnvloed. Die ander maat kan weer voel dat die swangerskap die verhouding oorneem. Gemoedstemming en emosies word gereguleer deur die missie om swanger te raak. Die proses van liefdemaak word ingeruil vir ovulasie-seks. En dan is daar nog die blaam en skaam wanneer swangerskap nie gebeur nie. Dit is een van die ergste probleme om in ’n verhouding te ervaar.”

Allison Steenkamp* (52) van Midrand het op 47 onverwags swanger geraak. Sy en haar man het reeds twee kinders gehad en nooit beplan om weer swanger te raak nie.

“Toe ek uitvind ek is swanger, het dit gevoel asof iemand met ’n vuis in my maag geslaan het. Ons het nie beplan om weer kinders te hê nie en hier sit ons toe nou op dié ouderdom met ’n broodjie in die oondjie.” Nie net was hulle al in hul veertigs nie, maar toe Allison dokter toe gaan vir ’n ondersoek, het dit gewys die baba gaan moontlik aan Downsindroom ly. “Weet jy toe ons daar uitstap, toe sê my man onmiddellik dat ons nie die kind kon hou nie. Om eerlik te wees, was dit ook my aanvanklike gedagte.”

Allison het heelnag op haar foon gelê en navorsing doen oor Downsindroom. “Die foto’s van die Downsindroom-kindertjies en die suksesverhale was vir my die defining moment. En net daar het ek besluit ek gaan my kind hou, met of sonder my man.” Tog moet Allison erken dat die besluit amper hul huwelik gekos het. “Daar was ’n tyd wat my man gedreig het om by die deur uit te stap omdat hy, volgens hom, nie ’n kind finansieel en emosioneel kon ondersteun wat spesiale behoeftes het nie. En ek het hom nie kwalik geneem nie. Ek het vir hom gesê as hy wil gaan, kan hy gaan, maar die kind gaan ek hou – al moes ek hom alleen grootmaak.”

Die paartjie het vir berading gegaan en maak nou saam hul vyfjarige kind groot. “Ons het met die dokters gaan sit en hulle het alles aan ons verduidelik. Ons het toe ook ’n huweliksberader gaan sien om ons te help met kommunikasie en hoe ons mekaar beter kan ondersteun en hierdeur werk. Was dinge ooit weer dieselfde na hy my gedreig het om uit die huwelik te stap? Nee, maar ons vat dit een dag op ’n slag.” Sadé Dubois, ’n berader by Conscious Relationships, sê om die emosionele verwoesting van sensitiewe kwessies soos ’n gesukkel om swanger te raak, miskrame of die geboorte van ’n kind met ’n gebrek te oorkom, is gesonde kommunikasie ’n baie groot faktor.

“Die vorming van gesonde, liefdevolle kommunikasiepatrone is ’n prioriteit wanneer mense dié uitdagings het. Paartjies wat liefdevol kan kommunikeer, is dikwels diegene wat waarskynlik hierdie soort uitdagings sal kan oorkom.” Sy sê as bogenoemde aspek vir julle ’n probleemarea is, is haar professionele advies aan paartjies om nie alleen daardeur te probeer gaan nie.

“Soek vroegtydig hulp van ’n terapeut wat kan ingryp om hulpmiddels aan te bied om julle kommunikasievaardighede te ontwikkel, veral as dit ’n nuwe gebied is vir paartjies wat nog nie ’n emosionele stryd van hierdie omvang in hul verhouding beleef het nie.” Volgens Sadé is dit wanneer paartjies saam deur die stryd, pyn en lyding staan dat daar ’n nuwe geleentheid geskep word om mekaar se innerlike wêreld te leer ken en nader aan mekaar te beweeg, eerder as om uitmekaar te groei. “Sodra julle in ooreenstemming met mekaar is, kan daar ’n plan gemaak word en daaraan gewerk word. Sodoende kan julle mekaar ondersteun en al die opsies openlik, eerlik en prakties bespreek.”

Tydens ’n doktersondersoek het ’n sonarfoto (soos die voorbeeld hiernaas) gewys Allison Steenkamp* se baba gaan moontlik aan Downsindroom ly, maar sy het besluit sy gaan haar kind hou, met of sonder haar man.

*Skuilnaam

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Gesondheid  |  Verhoudings  |  Kuier  |  Onvrugbaarheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.