Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verhoudings: Identifiseer & deal met Mommy issues
6 Augustus 2020


Die meeste van ons het al van“Daddy issues” gehoor, wat na verskillende negatiewe verhoudings tussen mans en veral vroue en hul pa’s verwys. Maar wat is “Mommy issues?”

Dit is natuurlik vir mense om net te aanvaar Mommy issues moet die teenoorgestelde van Daddy issues wees, maar kenners meen dit is soveel meer kompleks om Mommy issues te hê as Daddy issues. Want anders as met Daddy issues, spruit die probleme nie altyd net uit ’n slegte ver- houding met jou ma nie. Soms kan dit ook wees omdat die ma-kind-verhouding té goed is.

Volgens die sielkundige Hilary Simpson van Kaapstad verwys Mommy issues na probleme wat ontstaan as gevolg van ’n verhouding tussen ma en kind, wat ’n negatiewe emosionele impak op die kind het.

“Dit kan wees as gevolg van ’n afwesige ouer, ’n ouer wat emosioneel onbeskikbaar is, of in die geval van seuns, waar ’n ma nie genoeg ruimte vir die kind gee om te ontwikkel nie. Dit laat baie min ruimte in die kind se lewe vir ander verhoudings, wat ook nie gesond is nie. Sommige meisies (met Mommy issues) vind ma-rolmodelle in ander vroue, soos hul onderwysers, oumas of vriende,” sê sy.

Hilary verduidelik gewoonlik sal ’n meisie met ’n positiewe verhouding met haar ma presies soos haar ma wil wees, maar iemand wat nie soos haar ma wil wees nie, kan die grootste aanduiding van Mommy issues wees.

“As ’n meisie nie geliefd voel nie, ervaar sy ’n gebrek aan selfvertroue wanneer sy ouer word. As haar ma controlling en dominant was, nie haar dogter geprys het vir klein en groot prestasies nie, maar meestal gekritiseer of geïgnoreer het, word daardie dogter ’n volwassene met baie insecurities,” sê Hilary.

Sukkel steeds

Só het Amy van der Westhuizen (57) van Bellville-Suid in die noordelike voorstede van Kaapstad selfs as volwassene en ma gesukkel om positief oor haarself te dink. Vir die grootste deel van haar lewe het sy gevoel dat niks wat sy doen, reg is nie en dit het haar later as volwassene geaffekteer. Al het sy, volgens haar, goed perfek gedoen, het haar ma altyd iets gevind om te kritiseer. As sy die wasgoed gestryk het, was die nate nooit reg gestryk nie. As sy kos gemaak het, was daar nooit genoeg sout nie of was dit te vaal.

Dit is belangrik om die tyd te vat om die onopgeloste seer en gevoelens wat ons oor ons ouers het, te verstaan en te verwerk.

“Dit het vir my gevoel asof sy my haat. My pa het my soos ’n prinses laat voel. Hy was baie streng, maar hy was nie bang om jou te prys en te komplimenteer nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n kompliment van my ma ontvang het nie,” sê sy. “Later was ek te bang om iets te doen, omdat ek nie sleg oor myself wou voel nie en dit het ons verhouding net vererger. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek kon sien dat sy sag en liefdevol teenoor my broer was. Dit het my net bitter gemaak en ons verhouding het nooit reggekom nie. Sy het selfs ’n rede gevind om nie by my baby shower te wees nie en dit is toe ons paaie finaal geskei het, tot en met haar dood.”

Amy sê sy wou nie hê haar kinders moet in dieselfde negatiewe omgewing soos sy grootword nie en sy raak daarom nou dalk te aktief betrokke in haar kinders se lewens. Maar dit is vir haar uiters belangrik dat hulle met selfvertroue en die wete dat hulle genoeg is, grootword. Iets waarmee sy vir dekades gesukkel het.

Vir Jason Brown (35) van Kuilsrivier in die Kaap, is sy ma weer té oorheersend en het dit elke verhouding waarin hy al was, belemmer. Sy ma is ’n enkelouer en omdat dit altyd net hulle is, het sy hom gemanipuleer en skuldig laat voel wanneer hy ’n ander vrou in sy lewe gehad het. Sy sou hom dwing om ’n afspraak met sy meisie te kanselleer omdat sy konsuis sy hulp nodig gehad het en geweet het hy sou nie nee sê nie. Hy moes ook voor sy meisie altyd sy ma se kant kies. Sy ma sou voor haar vriende ook beledigend oor die nuwe vrou in sy lewe praat. As hulle wou weggaan, het sy gesmeek om saam te gaan omdat sy nie alleen wou bly nie.

“Dit het altyd probleme in my verhoudings veroorsaak omdat hulle (die vroue) gevoel het ek altyd my ma se kant kies. Dit het my gepla, maar ek wou nie my ma teleurstel of seer maak nie. Toe ek my trouvrou amper verloor, móés ek met my ma gesels en haar laat verstaan dat my verloofde ook ’n belangrike vrou in my lewe is en dat sy haar met respek moet behandel.” Dít was ’n moeilike gesprek vir Jason, maar vandag is dit vir hom lekker dat die vroue in sy lewe mekaar respekteer.

Groot impak

Carmen Petersen (49) van Heideveld op die Kaapse Vlakte sê sy weet presies hoe dit voel om van jou ma af te wil wegkom. Volgens haar het haar ma haar altyd laat voel asof sy minder werd is as haar broers en pa. “Sy het hulle op die hande gedra, maar van my ’n slaaf gemaak. Ek kon nooit gaan speel nie, want ek moes altyd skoonmaak of vir my broers en pa sorg.”

Carmen sê sy moes alles vir haar ma doen en baie keer moes sy hoor hoe vet en dom sy is. Sy was daarom baie sensitief en het nie mense maklik vertrou nie. “Mans het gevoel dit is onmoontlik om ’n gesonde verhouding met my te hê omdat ek emosioneel onbeskikbaar is. By die werk wou niemand met my werk nie, omdat ek daardie persoon was wat nooit na ander se opinies wou luister nie en altyd in ’n mood was.”

Eers nadat sy professionele hulp gekry het om beter verhoudings met mans en vroue oor die algemeen te kan bou, het die terapeut aan Carmen verduidelik dat haar emosies en gedrag teenoor ander as gevolg van haar Mommy issues is. Kim Lakey, ’n familieberader van Kaapstad, sê dis moeilik vir vroue met Mommy issues om nuwe vriende te maak, maar dit is baie belangrik om hulp te kry. Dit is nooit te laat nie.

“As ’n vrou die liefde van haar ma moes verdien eerder as om onvoorwaardelik liefde te ontvang, sal sy altyd in haar verhoudings met ander mense twyfel,” sê Kim. “As ’n volwassene kan sy nie mense vertrou wat haar goed behandel nie, omdat sy besef hul gedrag kan uit die bloute verander en sy sal ly. As ’n dogter die moeder se aandag en liefde soek, maar haar ma ignoreer haar, doen sy haar bes om dit op een of ander manier te verdien. Soms kan dit tot mishandeling en verslawing lei omdat hulle enigiets sal doen om daardie aanvaarding te voel, al is dit negatief.”

Volgens Hilary is vroue wat mans se geselskap bo ander vroue se geselskap verkies, ook ’n aanduiding van Mommy issues. Sy meen hulle wil sover moontlik wegkom van enige vroulike assosiasie. Sy sê dit kan moeilik wees vir mense om hul gevoelens te identifiseer en dikwels vind hulle maniere om slegte herinne-ringe te begrawe of trauma uit hul verlede te ignoreer. Dit is egter nooit goed om sulke goed te ignoreer nie, want die meeste van die tyd word dit juis na die volgende generasie oorgedra.

“Dit is belangrik om die tyd te vat om die onopgeloste seer en gevoelens wat ons oor ons ouers het, te verstaan en te verwerk asook om aan ons eie verhoudings te werk,” is Hilary se raad. Verhoudings tussen ouer en kind kan soms kompleks wees, maar dis belangrik en dis eers as ons self genees, dat jy gesonde, vervullende verhoudings kan hê.

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.