Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verhoudings: Maak jy die eerste move in die kooi
17 September 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Lank terug was seks dalk ’n taboe onderwerp, maar jy sou dink in 2020 sou mense se persepsie rondom dié onderwerp, vroue se seksdrang en die inisiëring van seks deur vroue drasties verander het.

Maar duidelik nie! Vir jare het die samelewing ons laat glo dat dit onvanpas of unladylike is om oor seks te praat en dat die move altyd van jou man af moet kom. Maar hoe gemaak as jou seksdrang groter is as dié van jou man? Wag jy maar geduldig tot hy ’n move maak of pak jy die bul by die horings en gaan oor tot aksie?

Uit ’n openlike gesprek met ’n paar vroue, wat aanleiding gegee het tot hierdie artikel, het Kuier agtergekom baie vroue worstel nogal met seksuele selfvertroue, maar nie almal sal dit sommer erken nie. Ons het bietjie gaan krap om agter die kap van die byl te kom en uit te vind presies wat dié dilemma behels en hoe vroue dit kan oorkom.

Wat is seksuele selfvertroue of die tekort daaraan? Volgens kenners is dit wanneer jy as vrou seks wil hê, maar nie die nodige selfvertroue het om jou man daarvoor te vra nie. Gevolglik wag jy dan vir jou man om seks te inisieer en as jou man nie ’n move maak nie, gebeur daar gewoonlik niks en kan jy die krieke hoor raas.

Moenie lus inhou nie

Jenine Dippenaar (45) van Bellville-Suid in die Kaap sê die lus kan maar hoe hard klop, sy is nie grootgemaak om seks te inisieer nie. “Ek het al baie keer daaroor gelê en dink en gewonder of dit nou die regte tyd is om dit te doen, maar ek kan dit net nie regkry nie.”

Jenine vertel dat sy ook baie skaam is vir haar liggaam en dis hoekom sy nie verleidelik kan wees nie. “ ’n Mens wonder konstant of die man gaan reageer indien jy iets sou doen en wanneer hy nie gaan reageer nie, hoe dit jou emosioneel in ’n dop gaan laat kruip. So ek is maar liewer bang Jan as dooie Jan.”

Volgens Jenine is dit ook nie iets waaroor vroue graag praat nie, so jy weet nie eintlik waar om raad te kry nie. “Selfs tussen ons vroue is ons skaam om daaroor te praat omdat ons nie die nodige selfvertroue het nie. Imagine om dan nou nog seks te inisieer – dis vir my te erg! Nee wat, ek lê en wag maar my beurt af. En as my man seks soek dan gee ek, want as sy vrou is dit ook my verantwoordelikheid om hom gelukkig te hou.”

Leandie Buys, ’n verhoudingsterapeut en seksuoloog van Port Elizabeth, sê as vroue dié probleem in hul verhouding of huwelik ervaar, wil sy hulle verseker hulle is nie alleen nie.

“Daar is baie vroue wat skaam is oor seks en daar is baie redes daarvoor. As jong meisies word vroue aangesê om nie aan hulself te vat nie. Ons word geleer dat ‘nice meisies’ nie toelaat dat seuns sulke goed aan hulle doen nie.” Volgens Leandie sê die samelewing vir ons dat ons nie te veel van seks moet hou as ons as ’n “dame” beskou wil word nie.

“Maar dan betree ons ’n committed verhouding en skielik is seks deel van die ooreenkoms en is dit ’n baie belangrike deel van die verhouding. As jy die situasie uit dié perspektief bekyk, is dit duidelik waarom baie vroue met seksuele selfvertroue sukkel.” Sy sê dit is egter nie onmoontlik om dié vertroue in ’n verhouding op te bou nie. “As jy meer seks wil inisieer, maar onseker is oor hoe jy te werke kan gaan, is een manier om ’n kode uit te werk wat jy dan aan hom sal kommunikeer wanneer jy in die bui is sonder dat jy uitdruklik daarvoor moet vra.”

Christerien Snyders (52) van Eendekuil in die Wes-Kaap is al vir meer as 30 jaar getroud en sê die dae waar sy wag vir seks is lank verby. “As hy my nie vra nie of hy maak glad nie eens ’n beweging nie, dan begin woel ek hom sommer self. Aan die begin het ek dit glad nie gedoen nie en maar ewe gedweë gesit (of liewer lê) en wag, maar soos die jare aangestap het, het ek besef dat ek self sal moet intree anders gaan ek sommer soms lank wag.”

Sy vertel haar generasie is grootgemaak met die persepsie dat ’n vrou nie by ’n man moet aanlê nie. “Ons is mos geleer dat dit ’n man is wat moet vra vir seks en nie ’n vrou nie. Natuurlik het jy daai tipe ding in jou agterkop, maar wie nie waag nie, wen nie. Ons is mos al grootmense en ’n huwelik verg werk van albei kante af – óf dit nou in die bed, finansieel óf in die huis is.”

Christerien raai vroue aan om te wag tot in die bed voor hulle aan daai deur gaan klop. “Gaan lê en gesels oor die dag se gebeure. Dan lag en maak julle grappies en net wanneer julle nou op lekker voet en jul gemaklikste is, dan maak jy jou move. Woel hom bietjie daaronder en ek is amper seker jy gaan ’n reaksie terugkry.”

As jy meer seks wil inisieer, maar onseker is oor hoe jy te werke kan gaan, is een manier om ’n kode uit te werk wat jy dan aan hom sal kommunikeer wanneer jy in die bui is.

Kry hulp

Dr. Elmari Craig, ’n seksuoloog en verhoudingsberader van Pretoria, sê vroue in hul 40’s en 50’s is baie meer gemaklik met hul seksualiteit en hul lywe as jonger vroue, maar sê tog daar is diegene wat nie is nie.

“Vroue uit daai era het ook nie positiewe en gesonde seksopvoeding gehad nie. Al wat gesê was, is ‘pasop, moenie swanger raak nie’ ensovoorts. Dit is hoekom dit vir vroue moeilik kan wees om die eerste stap te neem en seks te inisieer.” Sy verduidelik verder dat die vrou dalk al die eerste stap geneem het en die man het toe nie positief gereageer nie. “Dit kan ook veroorsaak dat vroue nie weer die stap sal neem nie. Dit gee die vrou se selfvertroue ’n knou. Die belangrikste wat paartjies moet onthou, is dat albei mense gemaklik moet wees wanneer hulle seks het. En wanneer albei gemaklik is, sal albei dit geniet. Kommunikasie is belangrik.”

Pastoor Derrick Schroeder van Lighthouse Ministries in Parow in die Kaap sê seksuele selfvertoue in verhoudings of huwelike kan gebou word deur spontaan met mekaar te praat. “Dit vra veral openheid en eerlikheid in die verhouding. Dit word soms beskou as te sensitief, maar dis een van die mooiste dinge wat God aan ’n huwelikspaartjie gegee het. Indien daar vrese of onsekerhede is, is dit belangrik om dit sommer vroeg aan te spreek.”

Hy sê hy sluit gewoonlik die onderwerp as deel van sy voorhuwelikse beradingsessies in juis omdat daar baiekeer soveel wanopvattings oor seksuele bevrediging in die huwelik bestaan. “Ek het ook al met paartjies gesels wat dié uitdaging binne die huwelik ervaar hoewel dit nie aanvanklik as die eintlike probleem aangemeld word nie. Vertroue en respek in die verhouding is ook baie belangrik waar dit seks betref.”

Pastoor Derrick verwys na Genesis1:28. “God het hulle geseën en vir hulle gesê wees vrugbaar en vul die aarde”; hy verwys ook na Spreuke 18:22: “Wie ’n vrou gevind het, het iets goed gevind”.

Volgens hom moet paartjies wat met dié probleme sukkel nie te lank wag voor hulle hulp inroep nie. “Praat met mekaar. Wees oop en eerlik oor jou gevoelens. Prevention is better than cure. Gaan maak ’n afspraak met jou geestelike leier of ’n berader wat jou kan ondersteun en voorsien van waardevolle inligting wat seksuele selfvertoue en seksuele bevrediging betref.” Maar bowenal moet vroue weet jy hoef nie vir die man te wag om die eerste seksuele move te maak. Julle is mos immers albei in die verhouding . . .


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.