Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Skokkend: Verkragting van seuns ruk Ceres
7 Augustus 2019
kinderverkragting


In ’n tyd waar verkragting en moord amper elke dag in die nuus is, word min Suid-Afrikaners deesdae deur dié tipe misdaad geskok. Maar wanneer jy in ’n klein dorpie soos Ceres in die Wes-Kaap kom en hoor van vier laerskoolseuns wat na bewering deur vier ander seunsleerders in dieselfde skool verkrag is, is dit asof die harde werklikheid van dié gruweldaad jou soos ’n emmer yskoue water in die gesig tref.

Dit is eenvoudig té veel om te verwerk. Hoe gebeur dit dat seuns – almal nog blote kinders – só ’n misdaad kan pleeg? Die manier waarop en wáár dié dade glo gepleeg is, is net so skokkend.

Dis asof die voorvalle van die laaste paar maande soos ’n donker wolk oor die dorp hang. Op 19 November 2018 het agt kinders se lewens onherroeplik verander toe vier van hulle (tussen 10 en 12 jaar oud) na bewering deur vier ander seuns (van dertien en ouer) in ’n plaaslike skool se biblioteek verkrag is.

Die naam van die skool is aan Kuier bekend, maar om die kinders – slagoffers en vermeende oortreders – te beskerm omdat hulle minderjarig is en weens die sensitiewe aard van die saak, gaan ons dit nie bekend maak nie.

Grudaad

kinderverkragting
Die slagoffers se lewens is onherroeplik verander.

Die slagoffers het aan Kuier vertel hoe hulle op daardie betrokke Maandag nog in die klas gesit het toe een van die vermeende verkragters hulle roep om te kom help om stoele en tafels uit die biblioteek terug na die klasse te dra. Die vier slagoffers het met die toestemming van die onderwyser die klas verlaat en die ander seuns in die biblioteek gaan help. Met hul aankoms by die biblioteek was daar reeds drie ouer seuns binne. Die een wat hulle by die klas kom roep het, het glo die biblioteek se deur agter hulle toegetrek en dit van buite gesluit. Die vermeende verkragters het toe die vier slagoffers met geweld gedreig om stil te bly. Een van die vermeende verkragters het ’n doek oor ’n groot tafel getrek en die slagoffers aangesê om onder die tafel in te kruip en hul broeke af te trek. Die vier jonger seuns is toe na bewering om die beurt deur die drie ouer seuns in die biblioteek verkrag. Die slagoffers moes na bewering ook orale seks uitvoer. Nadat die voorval by die nodige owerhede aangemeld is, is die seuns medies ondersoek en daar is bevind dat penetrasie by al vier slagoffers plaasgevind het.

Beide die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) en die polisie het die betrokke verkragtingvoorvalle bevestig. Sersant George Mjiwu, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die saak is tans in die hof.

Vir die WKOD is hierdie voorval “van groot kommer” en die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het ook reeds betrokke geraak.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê met dié spesifieke voorval is ’n skool-maatskaplike werker na die skool ontbied en die saak is na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verwys. “Berading is aan beide die slagoffers en vermeende oortreders sowel as hul ouers, verskaf. Die vermeende verkragters is onmiddellik geskors in afwagting op die uitslag van ’n dissiplinêre verhoor wat later aanbeveel het dat die vier oortreders geskors word.”

Ek is nie meer gelukkig nie. Ek wil niks anders as geluk hê nie.

Kuier het egter betroubaar verneem al vier is intussen by ander skole in die omgewing aanvaar.

Bronagh sê hoewel skorsing aanbeveel is, is die Suid-Afrikaanse Skolewet baie uitdruklik oor ’n kind se reg op onderwys, daarom het “die beweerde oortreders ten spyte van wat gebeur het, elke reg gehad om by ’n ander skool in te skryf terwyl die kriminele ondersoek aan die gang was”.

Die slagoffers het ook almal na ’n ander skool geskuif. “Ons is absoluut geskok deur hierdie voorval. Dit is vir ons ’n groot bekommernis dat leerders van so ’n jong ouderdom nie net bewus is van sulke gedrag nie, maar na bewering ook daarby betrokke raak. Die betrokke klasonderwyser is ook ondersoek, maar daar is teen enige dissiplinêre optrede teen hom besluit,” het Bronagh gesê. Volgens haar het die hoof ook die voorval aangemeld en hanteer.

Probleem op Ceres

Maar terwyl hierdie voorval ons dalk tot in ons diepste wese skok, het dit baie inwoners van Ceres nie verbaas nie, want verkragting is glo aan die orde van die dag in dié omgewing.

Volgens gemeenskapslede loop die dorp deur onder ’n vlaag verkragtings en kan dit nie meer onder die mat gevee word nie. Tot hier toe en nie verder nie, sê hulle.

Volgens die polisie se 2017/2018-misdaadstatistieke is 75 seksuele misdade in 2017 in Ceres aangemeld en verlede jaar 49 voorvalle. 

Mark Mentor, stigter van die Witzenberg Abuse Crisis-sentrum in Ceres, sê daar is amper elke naweek ’n geval waar ’n vrou of kind verkrag word. “Dit is amper asof hier ’n nuwe tendens is – verkrag, verkrag, verkrag.”

 Volgens Mark speel drank die grootste rol in dié misdaad.

“Baie van die vroue wat verkrag word, was óf dronk óf op pad huis toe nadat sy êrens gedrink het. Ander kere is dit weer wanneer ouers afwesig is wanneer daar van hul kinders misbruik gemaak word. Ons weet nie meer wat om te doen nie en daar is ernstige ingryping nodig in die dorp. Daar word nie eens meer ’n bohaai opgeskop wanneer hier ’n verkragting of moord plaasvind nie. Dit is asof verkragting vir die mense van hier normaal is en dít is kommerwekkend,” meen Mark.

Volgens ’n kenner is seuns wat ander seuns verkrag, ook glad nie so ongewoon soos ons dalk dink nie. Volgens Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige en medestigter van die Traumakliniek in Pretoria, is die verkragter in tot 40% van alle kinderverkragtings ’n ander kind.

Maar hoewel daar volgens die WKOD die nodige berading aan die kinders en hul ouers verskaf word, is die wonde van die slagoffers en hul ouers steeds rou en die pad na herstel ’n lang een.

Steeds seer

kinderverkragting,ouers
Die ma's van die slagoffers is diep geskok en sukkel om die gebeure te verwerk.

As jy nie self in die betrokke ouers se skoene staan nie, kan jy nie jouself die ondenkbare pyn indink waarin hulle tans verkeer nie. Die wete dat jou seuntjie, wat nog maar net kind is, verkrag is, is ’n nagmerrie wat nie end kry nie. As jy gaan slaap, speel die nagmerrie af en as jy wakker is, moet jy in jou kind se bedroefde ogies vaskyk.

En wanneer een van die slagoffers sê, “ek wil net weer gelukkig wees”, breek dit enige hart in stukke. Want hoe gee jy sy kinderlike onskuld wat op so ’n wrede manier van hom af gevat is, weer terug? Hoe herstel jy sy vertroue in mense wanneer een van die verkragters sy maatjie was wat net twee huise van hom af bly? Een by wie hy altyd gespeel het?

En hoe moet die ma’s van die oortreders voel? Want vir hulle is hul seuns ook maar nog net kind. Kinders vir wie hulle die beste onder hul uitdagende omstandighede gee. Kinders wat hulle na die beste van hul vermoë die regte pad in die lewe probeer wys. En nou dít...

Silvia Keyster* (39) sê sy het nie eens geweet haar seun, Melvyn* (een van die slagoffers van die biblioteekverkragtings wat 10 was ten tyde van die voorval) is by die skool verkrag nie en het eers uitgevind toe die speurders een aand na hul huis kom. “Melvyn het agter oor die draad gespring en weggehardloop. Hy het niks vir my oor die voorval op die dag of daarna gesê nie. Die speurder het vir my vertel van wat daardie dag gebeur het. Ek was so geskok.”

Silvia is bedlêend en kan nie op haar eie loop of beweeg nie. “Melvyn is ’n baie stil kind en sal nie maklik met ander kinders speel nie, hy is maar altyd in die huis en voor die TV. En ek dink dit is omdat hy so stil is dat hy ook voorheen deur een van die vermeende verkragters by die skool geboelie is.”

Silvia vertel sy het voorheen aan die skool ’n brief geskryf waarin sy vertel van haar kind wat geboelie word en gevra het dat die skool moet ingryp.

“Hulle het nie aandag gegee aan my brief nie en kyk wat het nou met my kind gebeur. Dit is baie hartseer en dit het my nog sieker gemaak as wat ek was.”

Silvia ly aan depressie en stres en het al twee beroertes gehad. Melvyn kyk hartseer na sy ma voor hy (met sy ma se toestemming) begin vertel wat dié betrokke dag gebeur het. “Ons het in die klas gesit toe hulle ons kom roep het om te kom help om die tafels uit die biblioteek terug na die klasse te dra. Ons meneer was in die klas, maar hy is altyd op sy laptop besig. Ons het na die biblioteek gegaan om die stoele en tafels te help dra en toe ons binne is, het iemand die deur van buite gesluit. Binne in die biblioteek het een seun ’n lap of doek gevat en dit oor een van die tafels gegooi. Hulle het ons toe gesê ons moet ons broeke aftrek en onder die tafel ingaan.”

Volgens Melvyn het die ouer seuns gedreig om hulle te slaan as hulle nie doen wat hulle sê nie. “Hulle het hulle penis gevat en binne ons stêre (anusse) gedruk, dit was baie seer.”

Melvyn vertel hy is baie bang dat dié seuns of ander seuns hom weer gaan “seer” maak. “Ek is baie hartseer en sukkel ook met my skoolwerk. Dit is nie meer vir my lekker om skool toe te gaan nie.”

Hy ontvang tans een keer ’n maand berading by die skool. “As ek met die antie (die sielkundige) by die skool praat, voel ek ’n bietjie beter. Ek wil net nie weer saam met die seuns praat wat my seergemaak het nie of vir hulle sien nie.”

Die wens om nie weer sy vermeende verkragters te sien nie, is egter tevergeefs, want een van hulle bly net twee huise van hom af. Dié was glo boonop ook ’n vertroueling van die seuntjie en hulle twee het elke dag saam skool toe gestap deur die boord en was ook maats. Melvyn sê al wens wat hy tans het, is om weer gelukkig te wees. “Ek is nie meer gelukkig nie. Ek wil niks anders as geluk hê nie.”

Dit is nie net Melvyn se wens om weer gelukkig te wees nie, maar ook dié van Sergio* (12). Sy ma, Telisha Kloppers* (44), sê haar kind is sedert die voorval nie meer dieselfde kind nie. “Hy is baie stil en praat nie meer regtig nie. Hy het een aand met ’n blaai hier aangekom waarop daar geteken was.”  Telisha sluk diep voor sy haar nat oë met die agterkant van haar hand afvee. “Op die blaai was twee seuntjies wat mekaar ‘stout’ maak (seks het). Hy het die blaai huis toe gebring om my te wys en ek is die volgende dag saam met hom skool toe. Die onderwyser het gesê hy sal voortaan seker maak dat daar altyd iemand in die klas is om te verhoed dat so iets weer gebeur. My kind slaap sleg en daar is party aande wat hy nagmerries kry. Dinge gaan nie goed nie.”

Telisha sê ’n mens hoor amper elke dag van die tipe goed wat gebeur, maar jy dink nooit dat dit met jou kind sal gebeur nie. “Ek weet nie wat die pad vorentoe vir ons inhou nie, maar ek hoop dat my kind gesond sal raak. Dat sy hart weer gesond sal raak en dat sy vertroue in mense herstel word.”

’n Oortreder se ma

Maar dis nie net die ma’s van die slagoffers wat sukkel nie.

Kate Small* (36), een van die vermeende verkragters se ma, sê die voorval het ook háár familie se lewens onherroeplik verander. “Ek werk elke dag, heeldag, so ek weet nie wat my kind aanvang in die tyd wat ek by die werk is nie. Toe ek een aand by die huis kom van die werk af, het ek dit nogal vreemd gevind dat my kind in die huis is omdat hy gewoonlik as ek by die huis kom, nog buite speel. Hy was ook ongewoon stil, maar toe ek hom vra of alles oukei is, het hy ‘ja’ geantwoord.”

Kate sê dis eers later die aand wat sy lont begin ruik het toe een van die ouer kinders wat by ’n ander skool is, haar kom roep het om te sê sy moet die volgende dag by die skool wees. “Ek het na my seun in sy kamer gegaan en hom gevra wat hy aangevang het dat ek so dringend by die skool moet wees en dis toe hy begin huil het.”

Kate vertel sy sou nooit in haar wildste drome kon raai wat haar kind volgende aan haar sou sê nie. “Hy het met die sak patats na vore gekom en gesê hy was deur die ander twee seuns gedreig as hy nie met die vier jonger seuns ougat maak nie, sou hulle hom geslaan het. Hy het gesê hy moes sy ‘penis in die seuntjies se stêre druk’. Ek was stomgeslaan.”

Kate sê sy stem glad nie saam met wat haar kind gedoen het nie, maar meen hy is ook ’n slagoffer. “Hy was gedreig en omdat hy bang was, het hy dit gedoen. Toe ek by die skool kom en sien wie die seuntjies is wat hulle verkrag het, was ek nog meer stukkend, want dit is kinders wat onder my dak geslaap het, dit is my kind se vriende. Hulle het my huis se drumpel afgetrap.”

Sy vee met haar bewende hande die trane af wat oor haar wange begin loop.

“’n Mens stuur nie jou kind uit die huis om dié goed te gaan doen nie. Jy is nie elke oomblik van die dag by jou kind nie – my hart is ook seer. Die mense sit hulle eie stertjies aan die storie, maar hulle dink nie hoe dit vir my en my gesin affekteer nie. Ek is jammer vir wat met daai vier seuntjies gebeur het. My kind is ook jammer en dit is nie hoe ek my kind grootgemaak het nie. Dit voel asof ek in diep gat is waaruit ek nie kan ontsnap nie.”

Harte is stukkend

Met Kuier se aankoms by die laerskool was die perseel verlate en die eerste ding wat ’n mens opval, is hoe klein die skooltjie is en ook hoe na aan mekaar die klaskamers is. En dit is juis hoekom die slagoffers se ouers voel dat daar moontlik ingetree kon word indien die onderwyser enige aandag aan die kinders geskenk het.

“Hoe kon hy nie opgelet het dat die kinders so lank weg is nie? Kon hy nie die kinders se gemoedstoestand sien toe hulle terugkeer na die klas toe nie? My kind kon nie eens reg loop nie, so hoe het die onderwyser dit nie opgelet nie?” wou Michelle Wiese*, een van die ander slagoffers se ma, ontsteld weet.

Sy sê sedert die voorval sukkel sy en haar kind om dinge te verwerk. “My kind is nie meer die kind wat hy was nie. Hy is kort van draad en as jy met hom probeer praat, sluit hy hom in sy kamer toe.” Sy sê dit het net gelyk asof dinge nou meer opdraand gaan as afdraand toe nóg ’n struikelblok in die pad van hul heling kom.

“My man het ook nou geloop. Ek moet nou alleen hierdeur sukkel, maar ek weet met die hulp van Bo sal ek dit maak. Hy is my babatjie en ek sukkel met soveel verwyte, want as ek my kind na ’n ander skool gestuur het, sou dinge anders gewees het. Dit is iets wat jou as ma van binne af opvreet, want jy wonder konstant of jy meer kon gedoen om jou kind te beskerm.

“Elke dag is die vrees groter as die vorige dag dat so iets weer kan gebeur. Jy stuur jou kind skool toe met die gedagte dat dit ’n plek van veiligheid is, maar dis dan nou juis die plek waar hy die seerste gekry het en ek het hom daarheen gestuur,” sê Michelle. 

Sy het ook haar werk gelos sodat sy nou voltyds by die huis kan wees. “?’n Mens is nou meer oorbeskermend as ooit en dit voel asof ek hom soms versmoor, maar hoe kan ek anders? Al stuur ek hom met iemand wat ek ken of sy suster, dit is asof ek nie rus vir my siel kry as hy nie by my is nie. Ek wil net my kind beskerm; hy is dan nog net ’n babatjie. Geen kind verdien dit nie. My hart is stukkend en ek weet nie hoe ons hierdeur gaan kom nie, maar ek gaan veg. Ook hierdeur sal ons sterker aan die anderkant uitkom, dinge sal makliker raak.” 

Ouers moet wawyd wakker wees vir gevaartekens. As 'n kind 'n ander kind verkrag, is dit heel moontlik dat daai kind al voorheen seksuele misdrywe gepleeg het.
Marita Rademeyer

Seunsverkragting

Marita, die kenner met wie Kuier gepraat het, sê seuns op seuns verkragtings is glad nie so seldsaam as wat dit voorkom om te wees nie. Inteendeel, seuns word 1% meer verkrag as meisiekinders.

“Dié voorval is nie ’n uitsonderlike geval nie en die probleem kom baie voor veral by skole. Mense moet verstaan dat ’n kind nie net een oggend wakker skrik en besluit om ’n verkragter te wees nie, nee, daar is baie aspekte wat in ag geneem moet word. Met tegnologie word kinders deesdae op ’n baie jong ouderdom aan pornografie blootgestel.”

Volgens Marita is pornografie baie verslawend en hoe meer kinders daarna kyk, hoe meer wil hulle hê. “Die bietjie wat hulle dan sien, is te min en hulle begin dan al hoe meer aggressief daarna kyk. Ouers moet wawyd wakker wees vir gevaartekens. As ’n kind ’n ander kind verkrag, is dit heel moontlik dat daai kind al voorheen seksuele misdrywe gepleeg het. Hy of sy het al byvoorbeeld iemand betas. Dit is iets wat oor ’n tyd ontwikkel en hoe gouer die gevaartekens gesien word, hoe gouer kan daar ingetree word.”

Sy sê een van die grootste probleme is dat ouers nie oor seks met hul kinders praat nie. “Daar is nooit die openlike gesprek oor seks tussen ouer en kind nie, so dit is moeilik vir ouers om op te tel wanneer daar wel ’n probleem is. Sodra jou kind onvanpaste gedrag of kommentaar lewer, is dit tyd om die gesprek te hê. Daar moet nie net na die kinders gekyk word en dink die probleem lê by hulle nie. Dit doen nie, die probleem lê by die samelewing en die vermoë om nie ’n situasie direk aan te spreek tot die paw paw die fan tref nie. Daar kan baie meer voorkomende werk gedoen word.”

Marita vertel sy is tans by ’n saak betrokke waar kinders pornografie van mekaar verfilm en verkoop. “Dit is verslawend en die kinders se drange neem toe, dit raak al hoe erger. Mense besef nie aldag waarmee hul kinders besig nie. Dit is kinders wat kinders afneem – erger as dit, kan dit moontlik nie raak nie. Daar is baie dinge wat kinders sal doen vir geld.”

Sy verwys ook na ’n ander voorval waarby sy ook betrokke is van ’n seuntjie wat homself verkoop vir geld.

“Hy stel homself bloot aan die gedrag omdat hy dan op dié manier kos in sy maag kan kry. Die lewe is moeilik vir ons kinders hier buite en dit is ons verantwoordelikheid om in te tree.”

Volgens Marita is daar gans te min diens-te beskikbaar aan slagoffers en oortreders van verkragting.

“Dit is ouers se verantwoordelikheid om vir hul kinders die nodige hulp te kry, maar as die hulp beperk is, waarheen dan? Meer dienste moet beskikbaar gestel word sodat dit vrylik toeganklik is vir beide die ouers en hul kinders. Dit is ook moontlik om oortreders te rehabiliteer, maar vir dan moet ouers besef hul kind het ’n probleem en aan boord kom om by die wortel van die probleem uit te kom.”

Dit is dus duidelik dat nie net die slagoffers berading nodig het nie, maar ook die beweerde oortreders en almal wat deur die voorval geraak is.

Berading

Joshua Chigome, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling sê die voorval in Ceres is sedert 27 November 2018 aan die departement bekend.

“Veiligheids- en risikobepaling is by die huis van elke slagoffer en beweerde oortreder uitgevoer om te bepaal of enige van hulle sorg en beskerming nodig het. Reëlings is getref vir trauma-debriefing en opvolgberading met die sielkundige van die departement van gesondheid.”

Volgens Chigome is drie van die slagoffers en hul familielede na FAMSA Worcester vervoer vir berading. Die maatskaplike werker in die saak het agt sessies met die partye gehad en op 5 Maart 2019 is ’n sessie deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS), en WKOD gehou met skoolhoofde in die gebied oor die Wet op Seksuele Misdrywe.

Hy sê voorts die NVG en FCS het ook op 15 Maart vanjaar ’n inligtingsessie gehou met die betrokke skool se leerders wat gehandel het oor die bewustheid van seksuele misbruik.

Die skoolseuns wat ander seuns in Ceres verkrag het, is moeilik om te verwerk, maar herinner ook ouers en die hele samelewing dat ons ons oë selfs nouer op ons kinders moet hou en waarmee hulle besig is. Ons kan nie dat hierdie verkragtings, of enige ander verkragting, “normaal” word nie. Deur te maak of goed nie gebeur of om dit onder die mat in te vee, gaan nie die probleem vanself laat verdwyn nie. Óns moet ingryp en dis ook tyd dat my kind werklik ook jou kind begin word.

*Skuilnaam

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.