Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verslawing kan kinders knak
8 Augustus 2018


Dis ’n ouer se werk om na hul kind te kyk, maar soms word die kind gedwing om die rol van die ouer in te neem. Dis veral die geval wanneer die ouer se gedrag deur drank en dwelms beïnvloed word.

En al hou hulle op om dit te gebruik, bly die emosionele letsels en het die verhouding met hul kind reeds skade gely. Monique Abrahams* (30) van Wellington in die Boland, was omtrent 12 toe sy vir die eerste keer daaraan gedink het om haar pa dood te maak. “Hy het altyd geval en homself seergemaak. Dit sou maklik gewees het om dit soos ’n ongeluk te laat lyk.”

Volgens haar was haar pa ’n alkoholis wat hul lewe hel gemaak het. Hy het geld by haar ma gesteel om sy gewoonte te onderhou en het herhaaldelik sy werk verloor. Dit het stres, spanning en depressie onder Monique en haar gesin veroorsaak.

“Wanneer hy nugter was en hom soos ’n regte pa wou gedra, sou ons altyd kwaad wees vir hom dan verstaan hy nie hoekom nie. Hy het nooit die dinge onthou wat hy aangevang het terwyl hy dronk was nie.”

Só het die lewe aangegaan vir Monique. Sy het gou vergeet van die sorgvrye dae voordat die drankduiwel in haar pa oorgevat het en toe sy nog ’n normale kinderlewe gehad het. Die rol van kind en ouer was nou omgekeerd. Haar pa was onvoorspelbaar toe hy dronk was en moes altyd mooi dopgehou word. Sy kon nooit vriende na haar huis toe neem nie omdat sy skaam was vir haar pa. Sy het die meeste van haar tyd ná skool in die huis spandeer “om seker te maak hy brand dit nie per ongeluk af nie”.

Hoewel hulle soms sy drank uitgegooi het, het hy altyd ’n manier gevind om drank in die hande te kry. Die situasie met haar pa het ook spanning tussen haar en haar ma veroorsaak.

Eendag toe sy hom nie reg “opgepas” het nie, het hy dronk gery met ’n voertuig wat nie aan hom behoort het nie. Haar ma het haar kwaai gevra hoekom sy geslaap het terwyl haar pa wakker was. “Ek het natuurlik sleg gevoel. Gelukkig het hy nie ’n ongeluk gemaak nie. Dit sou nie die eerste keer gewees het nie.

En alhoewel ek nooit wou hê my ma moet hom los nie, het ek haar later begin verwyt omdat sy aanhou gedreig het om dit te doen, maar dit nooit gedoen het nie.” Toe sy skool klaarmaak, het sy onmiddellik uit die huis getrek. Haar pa het verskeie kere probeer om op te hou drink en sou soms vir dae aanmekaar nugter wees. Ná verskeie pogings kon hy dit egter die laaste keer regkry nadat hy ’n na rehabilitasiesentrum toe is. Dis nou vier jaar sedert hy opgehou drink het en sy probeer nou haar verhouding met haar pa herstel. “Vier jaar se nugterheid kan egter nie opmaak vir jare se hel nie,” sê Monique.

Die gevoel van onsekerheid kan tot vrees en angs lei. Voorts word die verhouding erg beskadig weens wantroue, teleurstelling en aanhoudende konflik. Dit kan alles lei tot depressie en selfmoordrisiko’s.

Kies dwelms bo kind

Ricardo Fielies* (14) van Elsiesrivier buite Kaapstad sê hy het nou uiteindelik ’n goeie verhouding met sy ma nadat sy vir 14 jaar op dwelms was. Sy is nou vir die afgelope drie jaar nugter. Ricardo sê hy word nog soms kwaad wanneer hy dink aan “al die tyd wat hulle verloor het”. Dit was glad nie maklik vir hom toe sy ma nog op dwelms was nie.

“Dit was baie embarrassing omdat al my vriende geweet het. As ek met hulle gestry het, het hulle dit altyd voor my kop gegooi. ‘Jou ma is ’n tikkop.’ En dit het my baie seergemaak.” Hy kon altyd op sy ouma staatmaak vir ondersteuning en hulle het saamgebid.

Hy sê al was dit moeilik, het hy altyd by sy ma gestaan en geweet sy sou eendag ophou dwelms gebruik. “Dit was glad nie maklik nie en ek wens dit vir niemand toe nie. Dis nie lekker wanneer jou ouers dwelms bo jou kies nie.” Ricardo, wat tans in graad 7 is, sê hy het soms gesukkel om op skoolwerk te konsentreer en het een keer ’n graad gedruip daaroor. “Ek moes nou in hoërskool gewees het.” Hy is egter bly omdat dinge nou “baie beter” tussen hom en sy ma is.

Die skade kan bly

Judith Gordon-Drake, ’n kliniese maat-skaplike werker in Johannesburg, sê daar is vyf algemene eienskappe wat kinders van verslaafdes toon. Hulle voel hulle moet in beheer van hul gedrag en gevoelens wees, sukkel met intieme verhoudings, hulle is perfeksioniste (het ’n verhoogde sin van verantwoordelikheid), het ’n neiging tot kompulsiewe gedrag en het vrese om verlaat te word.

Volgens Judith staan verslawing bekend as ’n familie-siekte omdat dit die hele familiestelsel aantas en disfunksie in die familie veroorsaak. Dit is normaal vir kinders van verslaafdes om verward, gefrustreerd, kwaad en hulpeloos te voel.

“Die daaglikse skande om met verslawing te lewe, het ’n uitwerking op die hele gesin. Dis ’n siekte wat op skande gebaseer is. Kinders moet deur die skande werk. As die verslaafde hulp kry om nugter te word, moet die hele gesin hulp kry omdat hulle almal (emosioneel) beskadig is.”

Sy sê dis belangrik vir kinders om te besef hulle kan nie hul ouers se verslawings beheer nie, maar volwasse kinders kan verantwoordelikheid vat vir hul eie geluk en gesondheid. Dis belangrik vir kinders van verslaafdes om drie basiese dinge te verstaan: Hulle het dit nie veroorsaak nie, kan dit nie beheer nie en kan dit nie genees nie.

“Hulle moet egter bewus wees van nuwe oortuigings wat hulle het wat deur hul ervarings gevorm is. Hulle kan ook nuwe gesonde maniere identifiseer om verslawing en hul verslaafde ouers te hanteer. Dit is verder goed om hulself af te sonder en hulp vir hulself te kry. Hulle moet bewus wees van hoe hulle geraak is.”

Marna Acker, ’n arbeidsterapeut by Akeso-kliniek in Nelspruit, sê volwasse kinders van verslaafdes is telkemale onseker van hul ouer se toekoms weens die fisiologiese gevolge van dwelm- en drankmisbruik. “Die gevoel van onsekerheid kan tot vrees en angs lei.

Voorts word die verhouding erg beskadig weens wantroue, teleurstelling en aanhoudende konflik. Dit kan alles lei tot depressie en selfmoordrisiko’s.” Sy stel voor die gesin ondersteun die verslaafde emosioneel en fisies en dat dit dalk kan beteken om professionele hulp te kry. Sy sê kinders moenie bydra tot die probleem deur vir hul ouer geld of toegang tot dwelms of alkohol te gee nie.

“Probeer om konflik oor die probleem te vermy, veral wanneer hulle onder die invloed is, maar maak seker elkeen in die gesin weet dat hul gedrag onaanvaarbaar is.” Volgens Marna is dit belangrik vir volwasse kinders om grense te het, konsekwent te wees en om nie toe te laat dat hulle gemanipuleer word nie. “Tough love is soms nodig om jouself en jou gesin te beskerm.”

Mense het die opsie om ’n hof te vra om iemand te dwing om teen hul sin behandeling te kry. ’n Maatskaplike werker moet gekontak word om te help met hierdie proses. Volgens Marna kan dié proses egter traumaties wees vir beide die verslaafde en die familie, maar dis nodig om hulp te soek.

*Skuilnaam

Kry hier hulp

• Sadag-hulplyn: 0800121314

• Narcotics Anonymous Family Groups South Africa: 088 129 6791

• Family Life Centre: 011 788 4784

Meer oor:  Drank  |  Dwelms  |  Verslawing  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.