Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vertel vir Antie Val
11 Julie 2018

Vagina ruik: Is dit die pil?

Antie, ek is onlangs op ’n nuwe pil gesit wat vir my vel werk. Ek sukkel al lankal met puisies en dit het net erger geword, maar nou help die pil. Dis seker al ’n maand. Nou is my ou so op sy perdjie oor my vagina wat nou vir hom snaaks ruik. Ek voel nie snaaks nie en is nie seker hoe om dit te verwerk nie. Daar is geen afskeiding of niks wat my kan sê iets is fout nie. Moet ek die pil los? pilletjie

Beste pilletjie

As die pil jou vel beter laat voel en lyk, dan los jy dit nie. Gaan wel terug dokter toe en vertel van die reuk. Dalk is daar newe-effekte wat dit veroorsaak of dalk is dit jou hormone, maar dis beter dat jy weet.

Ongelukkig is dit só dat ’n mens nie altyd jouself kan ruik nie. Ek is seker jou ou het dit nie sleg bedoel nie, maar hy moet ook leer dat hy nie so kras hoef te wees nie en dat jy gevoelens het. Hy klink baie kinderagtig vir my, maar miskien is hy net gefrustreerd. Mans kan mos soms kop verloor as dit by seks kom. Praat hieroor met hom en verduidelik dat jy dit wil uitsorteer.

Skaamhare

Antie Val, ek het ophou om my skaamhare daaronder te skeer. Om te skeer het baie erge ingroeipuisies veroorsaak wat baie seer is en ek kan regtig sonder dit klaarkom. Noudat ek heel gewoond is aan nie meer skeer nie en oukei is met die hare, het my ou nou ’n groot probleem. Hy is nou nooit lus vir seks nie, want ek is nie skoon nie. Wat moet ek doen? boskaas

Beste boskaas

Om te skeer, werk nie vir almal nie. Ek kan my voorstel hoe ongemaklik en seer die puisies kan wees en is bly dat jy ’n oplossing gevind het.

Jou ou aan die ander kant moet oor homself kom. Jy sal jou situasie mooi aan hom moet verduidelik en as hy wel vir jou omgee, sal hy dit verstaan.

Ek wonder wel of jy ’n klein skêr het wat die haartjies lekker kort en netjies kan hou. Of probeer om te wax – dit kan ongemaklik voel aan die begin, maar dit werk baie goed. As jou boyfriend sien jy probeer darem ander opsies, sal hy meer verstaanbaar wees. Onthou, dit is ook meer higiënies om jou woud bietjie te snoei Z veral in die somer wanneer dit warm is en ’n mens geneig is om baie te sweet.

Verlief en skaam

Liewe Antie Val, ek is verlief op ’n meisie wat langs ons bly. Sy is my suster se vriendin en ek is so bang hulle vind uit. Sy is twee jaar ouer as ek en ek is so bang dat hulle vir my sal lag. Ek was verlede jaar in matriek en studeer tans. Is dit ’n slegte idee om haar te nader?Skatlam

Beste skatlam

Jy is dalk te jonk vir ’n verhouding, want as iemand anders se gelag jou bekommer, dan is ek nie so seker nie. Jy ken mos die meisie en die situasie mooi, so oorweeg al jou opsies en besluit of dit die moeite werd is.

Die ouderdom is nie ’n probleem nie, want twee jaar is mos nie so ’n groot verskil nie. As die meisie ook van jou hou, is dit nie iets wat tussen julle hoef te kom nie. Jy moet net onthou sy is jou buurvrou en as dinge nie in jou guns uitwerk nie, moet jy dit kan hanteer om haar elke dag te sien sonder kwade gevoelens.

En as hulle lag, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Wie nie waag nie, sal ook nooit kan wen nie, so besluit wat vir jou belangrik is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.