Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vervolgverhaal (deel twee): Die lig van hoop
15 Oktober 2020


Lauren kan nie help as om na die grys antie met die kierie te staar wat by die hospitaal se wagkamer instap nie. Sy dink aan hoe sy gevoel het toe sy die nuus van haar ma en broer gekry het. Sy weet steeds nie hoe om te voel nie.

Haar oë verskuif na haar pa, Layton, wat sonder doel op en af loop. Lauren help die antie om langs haar te sit. Layton kyk na sy dogter wat die kans kry om te glimlag. As hy kon, het hy al sy hartseer vir haar gegee. Hy weet sy sou dit aanvaar het. Sy is soos haar ma wat trauma baie goed kan hanteer. Die antie vra ’n bietjie water en Lauren stap kraan toe. Layton gaan sit langs die antie.

Sy hande vryf oor sy gesig. Hy wens net die dokters kan opdaag. Sy vingers tik-tik op sy skoot. Die antie sit haar hand op syne om hom tot bedaring te bring, maar hy ruk dit weg en staan op. Lauren gee haar pa ’n vuil kyk en help die antie om water te drink. Sy streel oor Lauren se hande wat in haar skoot rus. “Jy is diep teleurgesteld en boonop hartseer.”

Lauren kyk vraend na haar. “Alles is so deurmekaar vir jou. Jy weet nie watter kant toe nie . . . Volg net die wit lig, skat.” Lauren voel ’n oomblik ongemaklik. Toe sy in die antie se oë kyk, gewaar sy die vaalheid. Haar warm hand verhit hare. Sy glimlag hartseer en haal die rafel van die antie se groen gebreide trui af. “Vir wie het Antie kom kuier?” Sy glimlag toe sy haar soet stem hoor. “Ek kom haal iemand.” “Oukei, Antie se man of kinders?” Sy lag. “Nee wat, ek kom haal my suster.” “Watter kamer is sy? Ek kan haar gaan roep as Antie wil.”

“Sy is in die teater.” “O, jammer.” “Nie jammer nie. Wees gelukkig.” Sy knik. “Ek is Lauren.” “Aangename kennis, Lauren. Ek is Faith.” Lauren sit doodstil en staar voor haar uit. Skielik oorweldig emosie haar. Haar hart voel asof dit verpletter word. Daar drup geen bloed uit nie. Sy wil nie huil nie, anders gaan sy afskeid neem.

Haar ma, Hayley, en broer, Hayden, lewe nog en sy weet God gaan hulle help om deur hul operasies te kom. Sy het vir Hom die vorige aand gevra om hulle veilig te hou. Dokter Thuli stap nader. Layton storm vinnig op hom af. Die antie beveel haar om ook nader te staan, maar sy weier. Sy bruin oë sê alles . . . Lauren se hand streel oor haar bors wat effens pyn.

Die antie groet haar, maar sy fokus nie op haar nie. Faith verdwyn by die teater in. Daar is ’n glimlag om sy mondhoeke, maar dan smelt dit in ernstigheid weg. Hy druk Layton se skouer toe hy inmekaarsak en kliphard skree. Lauren se oë rus op haar pa. Die pyn in haar bors druk haar stywer. Sy kry nie asem nie. Die trane loop sonder dat sy weet en dan tref sy die grond.

“Lauren. Lauren!” fluister die stem. Die wasigheid bedek haar oë toe sy dit oopmaak. Sy gewaar ’n groen trui en knip haar oë om te fokus. Daar is niemand by haar in die kamer nie. Die spierwit lig verblind haar. Layton stap in met ’n koppie koffie. Hy glimlag, maar sy bloedrooi oë beantwoord elke vraag wat sy het. Lauren streel oor sy wang en wil weet waar hy was.

Dokter Thuli en die verpleegster stap in. Hy ondersoek haar deeglik en gee die goeie nuus vir hulle. Lauren kyk na haar pa wat net knik soos dokter Thuli verduidelik. Sy gewaar die seer en kan sy gebreekte hart voel. Haar hart wens sy kan syne optel en vasgom. Al wat sy gehoor het, is dat sy huis toe kan gaan.

Layton kyk lank na haar. Hy glimlag hartseer en hou haar hand vas. Sy gedagtes probeer om ’n manier te vind hoe om die nuus aan haar gaan oordra. Hy kan dit steeds nie glo nie! Hoe verduidelik ek dit aan haar? Lauren let op dat haar pa met homself baklei. Sy wens sy kan dinge makliker vir hom maak.

“Lauren, ek moet jou iets vertel.” “Dis Mammie, ek weet, Daddy.” Die trane wil vloei, maar sy keer dit. “Hoe gaan dit met . . .” Sy hou vir ’n rukkie op toe haar stem krakerig klink. “Hoe is Hayden?” Layton knik. “Hy is oukei, maar die dokters het nie hoop nie . . . Die kar het hulle 20 m ver gestamp. Mammie het die harde slag gekry.”

Hy bars uit in trane. Lauren druk hom teen haar bors vas. Met haar vinnige asemhaling probeer die trane inhou en sy kry dit reg. Stadig klim sy van die hospitaalbed af. Sy volg haar pa na die kamer waar Hayden lê. Haar voete steek voor die deur vas. Sy staar sy na haar broer wat vol bloed is. Haar kop rus teen die kosyn en haar arms is gevou.

Lauren stap nader en vee die bloed van sy gesig af. Haar pa druk haar teen hom vas. Hy weet nie meer wat om te doen nie. Lauren wonder hoekom God nie haar gebed gehoor het nie. Hy is selfsugtig! Layton stel voor dat hulle saam moet bid, maar Lauren staar net na hom. Wat as ek bid en dan vat Hy my broer ook weg? Wroeg sy met haar gedagtes.

Sy staar woordeloos na haar pa wat met trane in sy oë vir God vra om sy seun te help. Stadig maak sy haar oë toe en vat sy hande in hare. Toe hy in trane uitbars en nie verder gaan nie, vat sy oor. Die volgende dag staan Lauren vroeg op. Haar brein het besluit om haar heel aand wakker te hou. Haar pa lê beweegloos op die bank. Die bottel vodka lê leeg op die vloer.

Sy wens hy kan regkom! Hulle was in ’n bakleiery toe hy gedrink en bestuur het. Volgens hom is sy onnodig, maar volgens haar kan sy nie nog ’n geliefde aan die dood afstaan nie. Sy tel die drankbottels op en gooi dit in die drom. Woordeloos staar sy na die kringe om haar oë en die bleekheid van haar vel. Toe sy die deur oopmaak, sien sy hoe Hayden op die vloer pleit vir haar om klaar te maak.

Sy mis haar ma se stem wat op hulle skree as hulle baklei. Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy maak haar pa wakker en gee vir hom sterk koffie, maar hy verkies drank. Die woede stoot in haar op, maar sy onderdruk dit. Sy trek hom na die yskas en maak dit oop. Hy sien geen drank nie. Met bebloede oë staar hy net na haar. Lauren stap in die pad af.

Sy gewaar nie ’n siel nie, maar hierdie keer is daar geen haas nie. Haar brein wil besig bly om nie aan haar ma en broer te dink nie. Sy was veronderstel om skool toe te gaan wanneer sy baie beter voel. Sy voel nie beter nie. Sy wonder steeds hoekom sy nie ’n traan gestort het toe sy van haar ma gehoor het nie. Antwoorde kry sy nie. Lauren beland op die grond. Sy ruik en voel gras. Sy proes.

Kyle gryp haar rugsak en skud dit uit. Hy vind haar wiskundeboek, maar daar is geen huiswerk gedoen nie. Brandon skud die rugsak weer uit om seker te maak dat alles uit is. “Waar is die kos?” wil Brandon weet. Sy wil skree, huil en blou-oë op een slag uitdeel. “Ja, die kos sal mos nie in my rugsak wees nie, want my ma is dood! Ek eet nie eens nie, want sy het ons verlaat! Vir my alleen gelos!”

Kyle kyk geskok na haar. Hy weet nie hoe om te voel nie. Die skuldgevoel tref hom. Brandon wil haar help om die boeke op te tel, maar sy stoot hom weg. Sy storm by die skoolhek in. Die leerders se oë met jammertrekkies tref haar soos pyle. Haar tong wil hulle uitskel, maar sy hou alles terug. Sy sit op die stoep voor haar klas. Haar oë is opsoek na haar leesboek, maar sy het dit duidelik by die huis vergeet. Die twee figure glimlag vir haar. Kyle is nie meer bekommerd oor sy huiswerk wat nie klaar is nie. Sy pleit hulle om haar uit te los, maar hulle kyk na haar asof sy vir hulle gevra het om hulle self op te hang. Brandon sit ’n boek voor haar neer.

“Lees dié een en as jy nog soek, bel my net.” Kyle gee ook vir haar ’n boek. “Kom sê vir ons watter boek die beste was.” “Julle besit boeke?” Die skok is sigbaar. Kyle trek sy skouers op. “Net omdat ons nie van wiskunde hou nie, beteken nie ons moenie lees nie.” “Wie se boeke het julle afgevat?”

“Die biblioteek,” lag Brandon. “Dit moet volgende week ingaan.” “Jammer oor wat ons gedoen het . . . En oor jou ma,” sê Kyle en sy knik.

“Ons het jou afgeknou omdat jy altyd alleen was. Ons wou jou net aandag gee.” Brandon trek sy skouers op. “Hoekom het jy nooit vir ons kwaad geraak nie?” wil Kyle weet. Sy dink ’n oomblik. “Ek het baiekeer, glo my,” lag sy effens. “Maar kwaad word, is nie altyd die moeite werd nie.” Kyle glimlag. “Kan ons jou ten minste ná skool uitvat vir ’n milkshake?” “Net as julle my nie bejammer nie.”

“Jammer, julle, maar ek sal dit nie kan maak nie. Ek het my ma belowe ek gaan haar help om die huis te paint,” sê Brandon. Lauren sak haar kop. Kyle kyk na Brandon. Hy weet hy lieg. Sy geheim is uit! Brandon wil net sy droom laat waar word, dis al. Kyle wys hom met die vinger en lag.

Brandon stoot hom. Dis jou kans om met haar te bond oor iets, sê hy met sy oë. Kyle wys die foto van ’n grys antie vir Lauren. Dit is sy ouma wat oorlede is. Lauren se oë vergroot. Die groen trui! Sy probeer om kalm te bly toe haar gedagtes dwaal. Sy het duisende vrae. Die skok laat haar hele liggaam stokstyf.

“Is jy oukei? Ken jy haar?” wil Kyle weet. Lauren hoor nie ’n woord wat uit Kyle se mond kom nie. Sy weet net sy kon die antie se hande op hare voel. Nou hoe is dit moontlik? Dan onthou sy die stem wat fluisterend na haar geroep het . . .

* LEES OOK: Die lig van hoop (deel een)

* Moenie die slot in die volgende uitgawe misloop nie. Lauren is op Faith se spoor, sy het haar hande vol met haar pa en ’n ou erken hy is verlief op haar.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.