Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verwoestende brand: Jong vrou verloor familie
21 Augustus 2019

Die prentjie van lekkende vlamme wat haar gesin en hul woning verswelg het, is een wat nog vir baie lank by Sunelle Booysen (18) van Worcester in die Boland gaan spook. Die tiener het nie net haar ma, twee susters en twee susterskinders in ’n verwoestende brand verloor nie, maar ook haar 17 maande oue babadogtertjie.

Dít het haar hart uit haar borskas geruk. Hoe staan jy op ná so ’n tragedie? Hoe gaan jy aan wanneer die mense wat sin aan jou lewe gegee het, nie meer daar is nie? Hoe vul jy daardie groot gat van vermisting? Dis alles waarmee die jonge Sunelle deesdae worstel. Sy het nie meer ’n ma na wie sy kan gaan vir raad nie; sy het twee sibbe verloor en syself het nie meer haar dogter nie.

Toe Kuier Alphastraat in Worcester besoek, was die roet teen die mure en die vae rookreuk die stille getuienis van die brand wat weke vroeër hier gewoed het. Die stilte is treffend en dít is iets wat hulle daagliks tref, meen die oorblywende familie. Die kinderstemme wat nog net weke vantevore helder hier opgeklink het, is doodstil.

Die gesin se anker, Elizabeth Booysen (46), ’n ma van vyf (vier dogters en ’n seun) se stem is ook stil. Elizabeth, haar dogters Daniella (26) en Jamie-Lee (12), en kleinkinders, Delmain (7), Jermaine (2) en Suné (17 maande), Sunelle se babadogter, het in die vroeë oggendure van 30 Junie in hul wendyhuis in Hexpark, Worcester, doodgebrand. Delmain en Jermaine is Daniella se kinders.

Volgens kolonel André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n geregtelike doodsondersoek begin nadat die ses lede van die gesin doodgebrand het. “Die brand is vermoedelik deur ’n elektriese kortsluiting veroorsaak en geen arrestasies is in die saak gemaak nie.” Sunelle en haar ma-hulle (al die oorledenes wat vroeër genoem is) het op haar oupa se jaart in ’n tweevertrek-wendyhuis gebly.

Delmaine
Elizabeth
Jermaine en Daniella
Jamie-Lee
Suné Booysen

Voel skuldig

Sunelle is die enigste oorlewende van die brand en die tiener wroeg nog daagliks met verwyte. Toe Sunelle die gru-gebeure van daardie noodlottige nag herroep, sit die seer vlak en moet sy eers ’n paar keer sluk aan die knop in haar keel voor sy begin vertel van die brand wat meer as die helfte van haar gesin uitgewis het.

“Ek het wakker geskrik omdat ek die toilet moes gebruik. Maar nog voor ek my kon omdraai om van die bed te klim, het ek net vlamme gesien. Ek het na my ma begin roep en vir hulp geskree, maar niemand het my geantwoord nie. Nie eens my ma nie en sy antwoord altyd . . .” Klein Suné het ook daardie noodlottige oggend by haar ouma in die kamer geslaap.

Volgens Sunelle het sy uitgehardloop en toe weer terug in die wendyhuis. “Ek wou hulle help, maar ek was te laat. Ek het te laat wakker geskrik. Ek het my sussie hoor roep, maar sy was reeds verswelg deur die vlamme. Toe ek na haar roep, het sy vir my gesê, ‘Gaan maar, Bouwa’, soos sy my genoem het, ‘ek gaan saam met Mammie dood. Ek is fine’. ” Die vlamme was teen die tyd só erg dat Sunelle nie langer in die struktuur kon bly nie en sy het weer buitentoe gehardloop. Sy vertel die gebeure van daardie noodlottige oggend spook steeds by haar.

“Ek het myself verwyt. Ek is die een wat wakker geskrik het en voel ek kon meer gedoen het om hulle te help. My babatjie was nog so klein en het nog soveel gehad om voor te lewe en ek kon haar nie red nie. Ek kon niemand red nie.” Almal in die wendyhuis, behalwe Sunelle, het doodgebrand. “Daar is baie tye waar ek myself blameer het en dink aan hoe ek hulle kon gehelp het, maar ek het besef dinge het gebeur soos dit moet. Daar is niks wat ek kon doen nie . . .” Ná die voorval kan Sunelle dit nie eens meer hanteer om in die hoofhuis te wees nie.

“Dit is vir my te stil hier. Ek sit liewer buite by die kinders in die straat, want hulle laat my nader aan my kind voel. Om met ander kinders te speel en tyd te spandeer, help my om oor my seer te kom. Die stilte hier by die huis is oorverdowend. Hier word nie meer gehuil, gelag en na ’n rand gesoek nie. Die gemis is groot.”

Sy sien tans ’n sielkundige en sê die sessies help haar om die seer te verwerk, maar ongelukkig kan sy nie vergeet nie. “Om oor die voorval te praat, help baie, maar die werklikheid het nog nie ingesink nie. Dit voel vir my asof my familie gaan terugkom. Ek het dit nog nie aanvaar nie.” Dis te verstane, want hoe aanvaar jy dat jou huismense saam met wie jy nog die vorige aand gelag en gesels het binne ’n oogwink van jou weggeruk is? En erger nog, dat jy hierdie verskriklike tragedie oorleef het, maar dat jou lewe nou so absoluut leeg is. Sunelle se stem breek toe sy vertel van die verhouding wat sy en haar kind gehad het.

“Sy was so ’n pragtige kind. Lief vir eet en gesels – ’n gelukkige kind. Suné was baie lief vir rondkruip en met ander kinders speel.” Sunelle en haar baba het ’n baie nou band gedeel, ook Elizabeth en haar kleinkinders was baie na aan mekaar. “My ma was ’n familievrou. Haar kinders en kleinkinders was haar alles. En nou is sy saam met al haar kleinkinders weg. Dit is steeds so onwerklik, so rou.”

Hulle wys die plek waar die wendyhuis voor die brand gestaan het.

Verloor steunpilaar

Nóg iemand wat steeds nie kan glo sy geliefdes weg is nie, is Elizabeth se enigste seun, Alistair Booysen (22). Alistair sê hy het ten tyde van die brand by sy neef oorgeslaap. Hy was op pad huis toe toe ’n vriend hom voorkeer en sê hy moet gou maak, want dit brand by die huis. “Met my aankoms was die polisie, ambulans en forensiese mense reeds hier. Hoewel daar amper niks oor was van die wendyhuis nie, het ek steeds geglo almal wat binne was, was ongedeerd.”

Volgens Alistair het die polisie aanvank-lik vir hom gesê niemand is dood nie. Toe hy egter nie sy ma en sibbe gewaar nie, het hy onrustig begin raak. “Ek het na hulle begin soek en niemand kon vir my antwoorde gee nie, almal het net verslae rondgestaan.” Dis eers toe hy sien hoe die forensiese mense lyke in body bags uitdra dat die realiteit van die situasie hom getref het.

“Ek kan nie die emosies beskryf wat ek ervaar het nie. Dit was ’n mengsel van histerie en hartseer. Hulle het dan gesê niemand is dood nie.” Alistair se stem begin bewe en hy vee vinnig die trane wat oor sy wange begin loop af. “Sak ná sak het hulle uitgedra. Elke keer as hulle nog een uitgebring het, het ek gedink dis seker nou die laaste, maar dit was nie . . .”

Die bedroefde jong man sê al wat hy wil hê, is dat iemand vir hom moet sê dat dit net ’n nagmerrie is waaruit hy binnekort gaan wakker skrik. “Ek het net my ma gesoek en toe hulle haar óók uitdra in ’n sak, het ek geknak. My ma was my steunpilaar; hoe gaan ek nou aan? Sy was die een wat ons almal bymekaargehou het en nou is sy skielik weg. Dis ’n seer wat ek niemand toewens nie, nie eers aan my grootste vyand nie.” Dit is Marisca Booysen (29) wat haar broer ’n bemoedigende drukkie aan die skouer gee voor sy begin vertel wat sy van daardie aand onthou. “Alles was normaal. Dit is nie asof een van ons eers ’n voorgevoel gehad het nie.

“Ek het soos oudergewoonte by my ma-hulle gekuier en was heeldag hier onder by haar.” Marisca bly ’n paar strate weg van haar ma af. “My sussie, Jamie-Lee, het nog ons hare gewas en geblow en ons het heeldag gelag en gesels.” Sy vertel haar ma was ook haar beste vriendin en die aand voor die voorval het hulle nog ’n naweek weg beplan. “Ons het nog gepraat dat ons die volgende naweek Bonnievale toe gaan en lekker daar gaan kuier, maar daai kuier het nooit gerealiseer nie, want dit was die laaste keer dat ek my ma gesien het.”

Dis ’n hartseer Marisca wat sê dat haar ma haar nog gevra het om die volgende oggend vroeg te kom en koffie en suiker saam te bring. “Sy wou ook hê ek moes oorslaap, maar ek het besluit om huis toe te gaan. As ek maar net geweet het dat dit die laaste keer was dat ek my ma sou sien, sou ek seker by haar gebly het. Haar laaste oomblikke met haar spandeer het.”

Marisca dink met heimwee aan hul geliefdes wat hulle so skielik op een slag aan die dood moes afstaan. “My ma was ’n mens wat altyd haar laaste aan ander gegee het. Al het sy min gehad. Dit is wie sy was en dit is hoe sy ons geleer het. Ek en my suster Daniella het saam grootgeraak en sy was baie lief vir foto’s neem jong!”

Sy lag voor sy stil raak en sê dat Delmaine en Jermaine die lewe was op die jaart en hulle was sommer baie gruwelik. “En my sussie, Jamie-Lee, liewe Jamie, wat altyd alles vir almal gedoen het en nooit gekla het as jy haar gestuur het of gevra het om iets vir jou te doen nie. Ek mis hulle so verskriklik baie.” Marisca se stem raak sag en haar oë skiet vol pyn wanneer sy praat oor hoe baie sy haar familielede mis. Volgens haar het sy die paaie “vol gate geloop na my ma se huis”.

“Sy was my beste vriendin en ons was baie keer meer soos susters as ma en dogter en dit is wat ek die meeste gaan mis – haar teenwoordigheid, haar vriendskap en haar raad.” Marisca kyk na haar boetie en sussie en sug swaar voor sy haar kop sak en haar nat oë vinnig afvee. Dit is asof sy met haar sug opnuut weer moed skep om aan te gaan sonder haar familielede.

Die sibbe Sunelle, Alistair en Marisca Booysen sukkel om die stukke op te tel ná die verwoestende brand.

Vir altyd in hart

Maar al is haar geliefdes nie meer hier nie, voel Marisca hulle steeds baie na aan haar hart. Sy weet hulle is nie meer hier nie, maar haar hart wens dat hulle enige oomblik weer by die jaart ingestap gaan kom. “Ek hoor steeds my ma se stem, ek hoor steeds die kinders speel – ek hoor en voel steeds hulle teenwoordigheid. Dit voel vir my asof hulle net êrens gaan vakansie hou het en nou enige dag gaan terugkom. Ek sit soms hier voor die venster en kyk uit met die verwagting dat ek hulle by die hekkie gaan sien inkom, maar dit gaan nooit weer gebeur nie. Ek gaan hulle nooit weer sien nie en dit is ’n harde werklikheid om te aanvaar.”

Maar al is die familie steeds platgeslaan, moet hulle nou opstaan en aangaan met hul lewens. En dit is ook hoekom hulle die begrafnis, wat ’n week ná die brand plaasgevind het, as ’n viering van die ses se lewens eerder as ’n afskeid gesien het. “Ons het nie baie gehuil nie, want in die chaos van die seer en al die reëlings, het ons besef hulle is op ’n beter plek en dat dinge gebeur het soos dit moes,” sê Marisca. Sy sê dit egter meer aan die ander as haarself. Sy is nou die ma-figuur vir Sunelle en Alistair.

“My ma sou wou hê dat ons op mekaar moet staatmaak om die seer te oorleef en dit is wat ons gaan doen.” Die gesin se pyn is tans ondenkbaar, maar meen Marisca, Sunelle en Alistair, dat ook die pyn draagliker sal word met tyd. En hoewel hul stemme en voetstappe stil is, leef die herinneringe van Elizabeth, Daniella, Jamie-Lee, Delmaine, Jermaine en Suné voort in Alphastraat . . .

Wat sê die kenner

Hayden Knibbs, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, beskryf wat Sunelle dalk ná die dood van haar ses familielede ervaar, as “survivor’s guilt”. Volgens hom ontstaan dit wanneer ’n oorlewende hom/haarself verwyt ná ’n traumatiese gebeurtenis.

“Dit is moeilik om presies te sê watter tipe mense dié tipe skuldgevoel sal ervaar omdat elke mens en die konteks van ’n situasie verskil. “Dit kom gewoonlik voor wanneer iemand ’n ongeluk of situasie oorleef het waarin hul geliefdes gesterf het.

“Die emosies wat die persoon dan grotendeels kan ervaar sluit in ’n gevoel van erge verlies, kwaadheid, verwyte en ook ’n desperate gemis na hul geliefdes wat die skuldgevoelens moontlik kan aanspoor.” Volgens Hayden is die aanvaarding van die verlies van hul geliefdes vir oorlewendes baie moeilik omdat hulle worstel met hul eie gevoelens en ook die dood van hul geliefdes.

“Dit is moeilik om te bepaal presies wanneer hy/sy by ’n punt van aanvaarding sal kom omdat elke individu se emosies en gemoedstoestand verskil. Wat wel belangrik is, is dat mense bewus moet wees van die pyn wat hulle ervaar.”

Hy sê voorts mense is geneig om te dink dit sal beter word as hulle nie oor die pyn dink nie. “Dit gaan egter nie beter word as jy die gevoelens net onderdruk nie. Praat oor hoe jy voel, al voel dit vir jou asof daar niks gedoen kan word om die situasie te beredder nie. Soek professionele hulp. Moenie dink jy kan op jou eie hierdeur kom nie, want in baie gevalle is dit nie moontlik om dit op jou eie te verwerk nie.”

Meer oor:  Kuier  |  Brand  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.