Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Videospeletjies: Verdien speel-speel jou inkomste
22 Januarie 2020


Jare lank het ouers met hul hande in hul hare gesit omdat hul kinders ure lank videospeletjies gespeel het pleks van studeer. Maar deesdae kan jy videospeletjies speel vir ’n lewe en boonop goeie geld maak. En nee dit is nie net in die buiteland waar vroue hul plek in dié bedryf volstaan nie, dit is ook hier in Suid-Afrika, waar daar professioneel getokkel word.

Kuier het met drie van ons eie gesels om uit te vind wat presies dit is wat hulle doen en hoe hulle in dié bedryf beland het. Drie van SA se top- vroulike videospelers is dit eens – gaming is nie meer net ’n manier van ontsnap nie, dit is ook ’n manier om kos op die tafel te sit en jou merk te maak in die wêreld van Esports.

Esports is ’n soort georganiseerde sportkompetisie met videospeletjies. Deelnemers in verskillende ligas of spanne sê hul teenstanders die stryd aan in gewilde videospeletjies waaronder Fortnite, League of Legends, Counter-Strike, Call of Duty, Overwatch en Madden NFL. Die spelers word dopgehou en gevolg deur miljoene aanhangers regoor die wêreld wat regstreekse geleenthede bywoon of op TV of aanlyn inskakel.

Stroomdienste soos Twitch laat kykers toe om te kyk hoe hul gunsteling-gamers regstreeks speel.

Julia Robson

JULIA: Sy is ’n social media manager en ’n Esport- korrespondent. Sy speel in ’n span Apex Legends.

Julia of “Bish” (24) van Kaapstad sê sy geniet die verskeidenheid van gaming. “Ek geniet die meeste die Esports-gemeenskap en om nuwe mense te ontmoet wat ’n soortgelyke passie as ek vir dié sport het.”

Sy vertel sy het al op ’n baie jong ouderdom begin speel. “Ek en my jonger boetie het saam videospeletjies gespeel en ons het connect deur teen mekaar te speel. Daarna het ons na gaming events gegaan en competitive gaming betree.”

Volgens haar kry vroulike gamers plaaslik en internasionaal die platform om hul vaardighede ten toon te stel. “Daar is geen rede vir ’n vroulike gamer om nie haar volle potensiaal te bereik nie. Wat videospeletjies betref, word ’n speler nie gedefinieer deur hul geslag nie, nee, hulle word gedefinieer deur hul vaardigheid.”

Plaaslik word pogings aangewend om vroulike mededingende spelers te bevorder in speletjies soos Counter-Strike: Global Offensive, met toernooi-gashere wat fokus op ligas wat slegs vir vroue is om klem te lê op talentvolle spelers. Sy benadruk dat dit nie gedoen word om verdeeldheid te veroorsaak nie, maar eerder om bewustheid te kweek en vroue aan te moedig om deel te neem. Julia, social media manager en Esports-korrespondent, spandeer tussen vier en agt ure per dag aan gaming en maak om en by R70 000 per jaar deur competitive gaming.

“Sommige naweke spandeer ek so 12 ure per dag of langer aan games saam met my vriende – gemiddeld 24 – 32 ure per week.” Sy en haar span, wat Matt “DaStwika” Ries en Chris “Stat1c_za” Clarke insluit, speel Apex Legends en word geborg deur Acer Africa en Predator Gaming.

Wat videospeletjies betref, word ’n speler nie gedefinieer deur hul geslag nie, nee, hulle word gedefinieer deur hul vaardigheid.
Julia Robson

Julia moedig ouers aan om kinders wat ’n passie het vir gaming, betrokke te laat raak by dié sport en om ook self die wêreld van Esports te probeer verstaan. “Plaaslik het ons soveel wonderlike geleenthede vir kinders om meer sosiaal betrokke te raak, hul rekenaarvaardigheid te verbeter en om hulself te geniet in ’n veilige omgewing.”

Sharon Waison

SHARON: Sy is ’n mededingende Counter-Strike-speler.

Volgens dié Johannesburger is Esports ’n baie fassinerende sport en die enigste sportsoort ter wêreld waar mans en vroue gelyk is. “Dis ’n goeie ding dat al hoe meer vroue deesdae gaming betree, want dit breek die stereotipes af dat net mans goed videospeletjies kan speel.”

Volgens “Shazzkl” soos sy bekend is, het mans glad nie ’n fisiese voordeel as dit by gaming kom nie. Almal is dus op dieselfde speelveld. Sharon (28) vertel sy het begin speel op 12. Sy is tans ’n mededingende Counter-Strike-speler. “Ek is vir 15 jaar in die bedryf en ek moet sê die bedryf het beslis oor die jare baie in SA gegroei.”

Sy het al vir prysgeld van R50 tot R1 miljoen meegeding. “Ongelukkig is die bedryf nog nie so groot soos oor die waters nie, maar vir die geld waarvoor ’n mens deesdae kan meeding, kom ons stadig maar seker daar.”

Volgens haar word daar tog steeds neergekyk op vrouespelers. “Daar is die stereotipe dat vroue nie kan games speel nie, maar daar is beslis meer vroue wat dié stereotipes verbreek.” Sharon ly aan nierversaking en as sy nie voor haar rekenaar sit nie, is sy besig met dialise.

Sy spandeer tans 10 ure per week aan gaming. “As ek nie speel nie, is ek óf by die hospitaal óf besig om aan my gesondheid te werk. Ten spyte daarvan herinner ek myself enigiets is moontlik met vasberadenheid en harde werk. Ons is besig om die narrative te verander en daar is niks beter as vrouebemagtiging nie!”

Sam Wright

SAM: Sy is die redakteur van Tech Girl en speel tans Borderlands en Apex Legends.

Sam of “Tech Girl” (32) is van Johannesburg en die redakteur van Tech Girl, ’n Suid-Afrikaanse tech blog vir vroue.

Volgens haar moes sy hard werk om ’n plekkie in die son te kry in Esports. “As ’n vroulike gamer het ek die geleentheid gekry om my vaardighede ten toon te stel, maar ek moes baie hard werk daarvoor.” Sam het die wêreld van gaming op 10 betree toe sy saam met haar broer begin speel het.

Sy sê vroulike gamers wat voor haar die pad oopgetrap het, het dinge beslis vergemaklik. “Vroue soos Sjokz en Sheever oorsee en Pippa Tshabalala van SA het dit definitief makliker gemaak om gesien te word, maar ek persoonlik het dit steeds moeilik gevind om ’n hoofsaaklik mansgedomineerde ruimte binne te gaan.”

Volgens Sam was daar egter ’n drastiese, maar goeie toename van vroue wat die wêreld van gaming betree het. “My grootste wens is dat ek ook ander vroue kan inspireer om die spasie te occupy.”

Sam toer regoor die wêreld om op te tree as host by verskeie groot gaming kompetisies. Dís hoe sy haar brood en botter verdien. “Die bulk van my werk word oorsee gedoen omdat Esports baie groter is in ontwikkelde streke soos Europa. Om eerlik te wees, dink ek nie dis hier groot genoeg om voltyds ’n lewe daaruit te maak nie, maar solank daar groei is, is daar hoop.”

Volgens Sam hou sy nie meer tred van hoeveel ure sy aan gaming spandeer nie omdat dit heeltemal te veel is! Die borrelende blondine, wat tans Borderlands en Apex Legends speel, sê soos enige sport is dié bedryf tog winsgewend vir die bestes van die bestes. Dié bedryf in SA is aan’t groei en al is daar nie instansies waar jy kan aansoek doen om professioneel te game nie, is daar ’n aantal erkende instansies wat kursusse vir videospeletjieontwerp aanbied.


STUDEER HIER:

UNIVERSITEIT VAN KAAPSTAD:

Kursus: Computer Games Development

Webtuiste: www.uct.ac.za, Tel.: 021 650 9111

FRIENDS OF DESIGN:

Kursus: Game Design

Webtuiste: www.friendsofdesign.net

UNIVERSITEIT VAN WITWATERSRAND

Kursus: BA in Performing and Visual Arts met hoofvak as Game Design

Webtuiste: www.wits.ac.za; Tel.: 011 717 1888

Meer oor:  Videospeletjies  |  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.