Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vir my mense, deur my mense
4 September 2019
lynette francis


Voor jy verder blaai, maak ’n mental note om weer na die winkelrakke vol tydskrifte te kyk. Hoeveel cloras sien jy op die voorblaaie van Suid-Afrikaanse tydskrifte, wat nog te sê van vrouetydskrifte? Hoeveel bruin vroue sien jy daarop pryk?

Bruin vroue op magazine covers is nie net skaars nie, maar amper non-existent! Behalwe vir Kuier, natuurlik.

Dit is maar hoe dit nog altyd was. As tiener het ek boeke en tydskrifte verslind. Ek het self as assistent-redakteur by twee vrouetydskrifte gewerk. Ek onthou hoe ek vir ’n bruin gesiggie in die blokkiesraaisels gesoek het. Of geblaai het op soek na ’n uitskieter oor wie daar berig word. Kyk’ie, as daar een was, dan was dit ’n foto van ’n huishulp in ’n uniform wat daar so in die agtergrond in ’n vae skoot deurskyn. As daar enige stories was oor bruin mense dan was dit oor bendes en drugs. Seriaas.

Daar was egter een jaar ’n ligpuntjie – toe Amy Kleinhans-Curd gekroon word as Mejuffrou Suid-Afrika. Toe kon hulle (die hoofstroommedia) ons nie ignoreer nie. Eish, maar die gehore wou ook nie daaraan byt nie. Ek moes dikwels hoor dat bruin voorbladgesigte nie verkoop nie. Trouens, daar was lesers wat die voorblad sou afskeur en dit terugpos aan die tydskrif om so die middelvinger vir hulle te wys.

Terug by Amy Kleinhans-Curd en haar voorblad. Ek was as verslaggewer saam op een van haar “outings” na George. Dit was skreeusnaaks, want saam met die entourage van verslaggewers wat haar besoek op George vir die koerante en TV dek, was ek die enigste ander coloured.

My jare in die uitsaaibedryf en joernalistiek het my geleer as daar meer as een coloured by ’n plek werk, doen min mense moeite om ons van mekaar te onderskei. Sy is ’n clora so haar naam is Anthea, Lynette of Jacky. Nou nog. Jy raak onsigbaar al werk jy al hoe lank daar. So ek moes seker ’n niggie of iets wees van Amy, want wat soek ek dan daar?

O, ja, ek en Amy het ’n trek, sê die verslaggewer. Sy kan dit sien. #Ek-slaan-my-oë-op-na-die hemel emoji. ’n Bestuurder van die restaurant waar ons kuier, meen weer ons krullerige hare gee die game weg. Enige mens kon sien dis ’n geval van Duimpie en Langeraat. Amy is ’n model, mense! Sy is Miss SA! Die enigste gemeenskaplikheid was ons velkleur.

Byt vas

Sommige het ook gevoel ’n tydskrif net vir bruin vroue is net té ’n groot waagstuk omdat die mark konsuis nie groot genoeg nie. Besides, hulle koop anyways al klaar die ander tydskrifte, so ons kan hier en daar ’n storie doen dan voel hulle verteenwoordig. Maar ’n hele, vollende tydskrif met net bruin gesigte, bruin skrywers, ’n bruin leefwêreld is a bit too much. Hoe “ekonomies volhoubaar” is dit?

En as jy wel stories oor bruin vroue doen, gaan jy die bestaande lesers vervreem! Wat soek hulle in óns tydskrif? I’ve heard it all... Die byna 3,4 miljoen bruin mense in die land wat Afrikaans lys as huistaal, is ook om gerieflikheidshalwe misgekyk. Of dat die sowat 2,7 miljoen bruin vroue maybe hul eie resepte in ’n boek sou wou sien! Koe’siestas en ’n diep Cass Abrahams-kerrie proe net nie dieselfde as jy praat van koljander pleks van dhanya nie. Met ’n lekker roti wat jy vinnig aanmekaar slaan! Wel, nie op my lippe nie.

Daardie soort resepte was net nie in die hoofstroomtydskrifte te vinde nie. Cass het via Peter Veldsman destyds op die radio beland terwyl sy al vir jaaarrre kook. En ek weet, want ek het vir haar daar ruimte geskep op die program Vrouerubriek op die destydse Afrikaans Stereo, nou RSG.

Nou ken jy vir antie Flori en Koelsoem en Fatima Sydow, danksy Kuier.

Soos die demokrasie begin kruip en strompel het, het die stemme al hoe meer opgegaan vir groter verteenwoordiging in nuuskantore en tussen die blaaie van koerante en tydskrifte. Op televisie en op radio was dit soos om die laaste druppeltjies kondensmelk uit die blikke te lek – so yl was die verteenwoordiging op die kassie.

Het jy geweet voor die aankoms van ’n Kuier is baie stories wat jy in sogenaamde “swart” uitgawes gelees het, nie deur swart skrywers geskryf nie? Ek praat nou nie van die geletterdheidstydskrif Ons Leer Mekaar onder leiding van prof. Hein Willemse nie. Gesiene tydskrifte waar wit skrywers onder swart skuilname geskryf het om dit meer acceptable te maak.

So nege jaar gelede skryf ene Paula Marais in ’n boek Rainbow Nation Navigation – a practical guide to South African Cultures ons is baie geworry oor ons hare. Ons grootste worry is dat dit gaan mince.

Volgens dié juffroutjie groet ma’s hul kinders met ’n “awê, ma se kind” en ons stapelvoedsel is baked beans en aartappels. Dis nou van die persepsies oor ons. Fast forward na 2019.

Dit is hoekom ek des moers was oor daai “navorsingstuk” wat by Universiteit Stellenbosch gedoen is oor bruin vroue in wat ’n groter risiko vir “lae kognitiewe werking” het weens ons lae onderwysvlakke en ongesonde leefstyl.

Dit het die beelde versterk dat ons bottel kap, met swirlkouse en slippers rondloop (wie se biesagheid issit anyway?) en net wag op Sassa om op te maak vir die papgeld wat die baby daddy nie betaal nie. Ons kan nie leer nie en ons functioning is af. Vat my (en die ander gooste) bleddie laag. Kyk my vlak.

Dit was nou ’n lang aanloop tot Kuier se geboorte, maar dit is die agtergrond waarteen dié nuwe publikasie haar eie identiteit moes uitkerf. Met Kuier se geboorte was dié persepsies nog sterk geanker.

Toe kom Kuier en wys sy is daai goose. Min gespin oor vooroordele, maar met haar vinger op die pols van waaroor bruin vroue praat en hoe hulle praat. Kyk net hoe vat die susters hulle uit vir die jaarlikse High Tea en hoe verkoop die kaartjies as daar ’n do by GrandWest of die Convention Centre is.

Ons koop ook kaartjies vir die kore by die Suidoosterfees, luister ook Andrea Bocelli met gemak as Early B ’n rukkie gelede oor die loudspeakers geklop het.

Bruin vroue is nie ’n one size fits all nie. Ons laaik diversity. Ons het ook grade (en ruggrate) agter ons name; weet hoe om lemon meringue uit te spreek al slaughter Aunty Merle van Belgravia die uitspraak. 

Ek kry nou die anderdag ’n WhatsApp van ’n student by die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy sê een van die slides in sy Afrikaans-klas was ’n Kuier-voorblad met my en my dogter Maya ná haar geboorte en Trevor Noah op ’n Kuier-voorblad. Imagine, ek en Trevor saam op ’n slide! Dit bewys die reikwydte en trefkrag wat dié tydskrif binne die bestek van tien jaar in die psige van die gemeenskap uitgekerf het. Dit word al in Afrikaans-klasse gehuldig. 

Ek is gelukkig dat ek al ’n paar stories vir Kuier kon skryf en het al een of twee keer op die voorblad gepryk. My ma het sedert die tydskrif se ontstaan vir my opdrag gegee om dit te koop en ek doen dit getrou. Op ’n kol het sy avocado-pitte in botteljies gesit en warm lemon water elke oggend gedrink, want sy het dit in die tydskrif se wenke gelees. Kuier het deel van ons huishouding geword soos die Rapport Ekstra en Sunday lunch met skaapboud, geelrys en soetpatats. #IssieCulture.

Lees net op sosiale media die interaksie tussen die lesers en die span en hoe hulle deurlopend terugvoering kry oor stories. Daar sit Ernusta (eens ’n skrywer) nou op die kassie en vertel ons mense se stories in Op Seer se Spoor!

Mense wil hulself sien, hulself hoor in hul eie taal, in hul eie stem. Kuier het ’n ruimte en platform vir bruin lesers geskep waar hulle voel hulle word raakgesien. Validation is belangrik vir mense. Maar ons vat ’n brêg ook, want ons het baie om te vier. Ons het ’n Wayde van Niekerk, Barbara Boswell, Emo Adams, Jill Levenberg, Vinette Ebrahim, Diana Ferrus en Adam Small.

Maar bo alles: Homegrown, awê.

Meer oor:  Kuier  |  Lynette Francis  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.