Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dean Smith vol passie en moed
25 Junie 2020

Wanneer Dean Smith (26) by ’n vertrek instap, is dit bitter moeilik om hom nie raak te sien nie. En dis nie net omdat hy gebou is om te hou nie! Nee, wanneer dié klong ’n vertrek betree, word dit gevul met sy teenwoordigheid en jy is onmiddellik intens bewus van hom. Hy is soos ’n vars briesie – kinderlik opgewonde, energieke persoonlikheid, intense groen oë en ’n Colgate-glimlag wat menige vrou se hart kan vermurwe . . .

Daar is net iets aan dié klong van Malmesbury in die Wes-Kaap wat ’n mens onmiddellik aangryp. Met sy plat soos ’n Minora blade-gesindheid en verwelkomende aura kan ’n mens nie anders as om by hom aanklank te vind en van hom te hou nie. Dan is hy nog boonop iets vir die oog ook!

Veelsydig & talentvol

Maar wie is Dean Smith in sy binnekamers? In die gemak van sy nessie en in die veiligheid van sy ouerhuis? Kykers het Dean Smith die eerste keer in 2017 ontmoet toe hy sy verskyning as Wade Daniels in die Safta-bekroonde kykNET-sepie Suidooster gemaak het. Met sy easy going houding en bokkie-oë het hy sommer dadelik die aandag getrek.

Wade is ’n spreekwoordelike “lekker ou” wat vir die oomblik leef. ’n Impulsiewe mens met sy voete plat op die aarde – soos Dean. Dit is egter vir Dean belangrik dat hy nie net as Wade gesien word nie. “Mense moet ook na my kyk as Dean Smith en dit is hoekom ek altyd aan my brand werk om dit te versterk en ook my craft te verbeter. Ek is soveel meer as net Wade.” Dit is ’n baie chilled Dean wat vertel dat hy net homself wil wees in die binnekamers van sy nessie en in die veiligheid van sy ouerhuis.

“Dit is vir my belangrik om gemaklik te wees en my waardes te onthou. Wanneer ek by die huis is, raak ek dus ontslae van alle tierlantyntjies en trek vir my ’n lekker pap tracksuit aan, en meisie, dan chill ek.” Hy vertel met ’n ernstige stemtoon dat mense altyd verwag dat hy opgewek en energiek moet wees. “Wanneer ek by ’n kuier of gathering aankom en nie so energiek as gewoonlik is nie, wil mense altyd weet of iets fout is. My antwoord is, nee – daar is daai kant ook van my. Ek is nie ongelukkig net omdat ek stil is nie, ek is at ease met myself. Dit is vir my baie moeilik, want mense plaas jou in ’n boks en wanneer jy nie aan daai boks se verwagtinge voldoen nie, dink hulle iets is fout.”

Dit is vir my belangrik om gemaklik te wees en my waardes te onthou.

’n Mens besef gou dat jy nie sommer die man op sy baadjie (of net op sy looks) moet takseer nie. Hy het al amper alle rolle onder die son gespeel – van ’n getatoeëerde gangster op die planke tot ’n prettige tiener op die kassie. En ’n one-trick pony is Dean beslis nie. Dit is juis met sy huidige storielyn in Suidooster, waar sy karakter se broer ’n tumor op die brein het en die emosionele stryd waardeur die twee broers gaan, dat jy werklik sien hoe talentvol Dean regtig is.

“Dit was vir my lekker om dieper te delf in die karakter en te wys dat Wade nie net ’n happy go lucky juice jockey is wat net lemoene uitdruk nie, maar dat hy ook mense se hartsnare kan roer.” Die storielyn is ook ’n baie moeilike en intense een vir Dean. “Ek het my oupa aan kanker verloor en hy het ook stelselmatig agteruitgegaan.

So, in ’n mate ken ek die seer waardeur my karakter tans gaan. Ek ken die stryd. Dit is nie iets waaroor ek graag praat nie, maar dit het gebeur. En dit het bygedra tot hoe ek die rol vertolk omdat ek dit al persoonlik in my lewe ervaar het.” Dean is nie die enigste een in die familie wat in die TV-besigheid is nie. Sy pa het vir jare televisies reggemaak vir Tedelex en het selfs house calls gedoen.

Die Smith-gesin se huis was dus altyd vol van ander mense se TV’s. “Die enigste verskil is dat ek voor die kameras woeker en my pa is ’n televisietegnikus!” Wanneer Dean oor sy pa praat, kom ’n mens onmiddellik agter dat dié twee ’n hegte band deel. “Ek besef hoe gelukkig ek is om so ’n teenwoordige pa te hê. Hy het altyd gesê: ‘Jy het die reg om baie te dink van jouself, maar nie die reg om minder te dink van ander mense nie’.

Waardevolle lesse wat steeds van toepassing is op my lewe. Dit is hoe ek so plat op die aarde bly – dít en die feit dat my ma my sommer sal klap as ek vir my punt in die wind moet hou!” Tog moet Dean erken dat hy nie aldag maklik is op homself nie. “Ek plaas baie druk op myself. Ek wil altyd beter doen en beter wees, maar ek het al geleer dat om myself te bejammer my nie veel in die sak gaan bring nie. Staan op, stof af en probeer weer. Dít is die houding wat ek al van kleins af aangeleer het. Wanneer ek gekonfronteer word met die wêreld en al sy struikelblokke, is dit vir my belangrik om tot stilstand te kom en my probleme vierkantig in die oë te kyk.”

Werk hard

In die tye waarin ons leef, meen Dean dat ons maklik op mekaar se tone kan trap. “Ons lewe nou in ’n tyd wat nie die normale manier van dinge doen vir ons is nie. Dit is dus belangrik om ’n bietjie positiwiteit te versprei.” Hy doen dit deur middel van skreeu-snaakse video’s op sosiale media te plaas. “Die oomblik wanneer jy oor iets kan lag, kan jy dit ook sommer oorkom. Ja, daar is natuurlik sekere dinge waaroor ’n mens glad nie kan lag nie, maar as jy net vir daai oomblik van die wêreld en al sy probleme vergeet en kan lag – is jou lewe ’n klein bietjie beter.”

Die bedryf waarin hy is, is baie mededingend en vir Dean is dit ook nie maklik nie. “Daar is ’n magdom nuwe talent – goeie akteurs wat jaar ná jaar die bedryf betree. Dit is hoekom dit vir my belangrik is om altyd jou beste gee. Wanneer jy vir mense wys dat jy bereid is om te leer en bereid is om te groei, gaan daar altyd vir jou geleenthede wees. Jy kan nie net opdaag en verwag mense moet vir jou dinge op ’n silwer platter gee nie, nee pappatjie, dit is nie hoe die lewe werk nie.”

Snaaks genoeg is dit dikwels hoe millennials, van wie Dean een is, gesien word. As mense wat gou resultate wil sien en nie die harde werk wil insit nie. “Daar is die culture onder millenials dat wanneer ons iets wil hê, wil ons dit nou hê, maar waar is die longevity? Dit is maklik om die kortpad te vat, maar daai kortpad gaan jou nie vir die res van jou lewe onderhou nie. Harde werk, consistency en om konstant aan jou craft te werk – dít is wat jou anders maak van die res. Dit is hoe jy gaan survive in die jungle.”

Staan op, stof af en probeer weer. Dít is die houding wat ek al van kleins af aange- leer het.

En dit is maar net hoe Dean is, niks is amper ooit vir hom te veel moeite nie. Só het hy sommer self ingespring vir ons fotosessie. Kuier probeer kontak sover moontlik in die pandemie vermy daarom het Dean spesiaal gaan inkopies doen om op sy beste te lyk vir sy eerste solo-Kuier-voorblad. Sy ewe talentvolle vriend en mede Suidooster-akteur, Gantane Kusch, het fotograaf gespeel en die stilering vir die voorblad behartig.

“Dit is vir my lekker en belangrik om geluk te vind in die klein dingetjies in die lewe. Ek was so opgewonde hieroor omdat dit vir my iets was om na uit te sien en ’n voorreg was dat Kuier wéér met my wou werk. Dit spruit uit die feit dat jy altyd jou beste moet gee sodat mense weer op jou knoppie kan druk.” Hy staan vas by sy woord dat die dinge wat jy vandag doen, môre reflekteer.

“Wees gemaklik in jouself, maar maak ook net seker dat ander mense gemaklik is in jou teenwoordigheid. Vind vir jou iets om na uit te sien. Moenie net daar lê nie, staan op en probeer weer. “Alles begin by jouself – wanneer jy groot droom en groot doen, gaan die mense om jou ook in jou trap volg. Moenie jouself limit nie en gebruik dié tyd om jouself beter te leer ken. En wanneer ons aan die ander kant uitkom dan, dala jy wat jy moet, masekin!”

Meer oor:  Kuier  |  Dean Smith  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.