Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Marlene le Roux: 'Ek is nie 'n sterk vrou'
6 Augustus 2020


Marlene le Roux (52) is ’n formidabele vrou. Nie net het sy polio oorleef toe sy maar ’n skrale drie maande oud was nie, maar sy het van al die teleurstellings en struikelblokke in haar lewe geleent-hede gemaak om sukses te behaal. Haar passie was nog altyd om kuns en kultuur te gebruik om minderbevoorregte groepe te bemagtig en ’n verskil in ander se lewe te maak.

En sy doen dit met oorgawe. Sy is ’n gedrewe vrou wat haar meestersgraad en ’n eredoktersgraad in opvoeding verwerf het. Verder is Marlene regoor die wêreld vereer met toekennings vir haar bydrae tot menseregte en inklusiwiteit.

Sy het selfs die Commonwealth Point of Light-toekenning ontvang vir uitsonderlike diens in die bevordering van gestremdes se regte – geteken deur Haar Majesteit, die Britse koningin in 2018.

Haar nuwe geselsprogram op Via, Die lewe skuld jou niks, begin op 6 Augustus.

Haar geselsprogram

Nie net is sy die uitvoerende bestuurder van Artscape-teatersentrum nie, maar sy het deesdae haar eie geselsprogram, Die lewe skuld jou niks op Via (DStv-kanaal 147). Op dié hartroerende program neem Marlene kykers op ’n reis. “My eie storie van verlies oor vyf dekades het my uitkyk op die lewe onherroeplik verander, en ek is sterker as gevolg daarvan. Die lewe moet gelééf word,” vertel sy.

Op haar program gesels Marlene met mense soos onder andere Karin Kortjé, Bianca Flanders en Lynelle Kenned oor hul lewensreise. “Die stories van die mense wat ek gekies het, laat jou wonder hoe iemand deur so baie gaan, soveel nagmerries, en steeds voortgaan met die lewe,” vertel sy. “Almal se pad lyk anders, maar dit help om te weet jy is nie alleen nie.”

Die goue tema wat deur die reeks verweef is, is Marlene se eie mantra – die lewe skuld jou niks. “Die episodes was deel van my reis om heel te word. Die reis gaan nooit oor wees nie, maar die reeks het my reis begin.” In die eerste episode gesels sy met Ira Blanckenberg, ’n aktrise, skrywer en regisseur. Haar seun, Kieran, is in 2013 tragies oorlede op 14 toe hy op ’n rots gegly en tot sy dood geval het.

“Dis ’n storie wat soveel mense raak. Daar is nie ’n resep vir die rouproses nie. Maar aan die einde van die dag staan jy op en jy moet voortgaan met jou lewe . . .” verduidelik Marlene. Wanneer Ira haar storie vertel, gryp sy kykers se harte aan en as sy die woorde uiter: “My kind is dood”, kan jy amper nie help as om ’n stukkie van die verwoestende pyn te voel nie. Dis tydens dié onderhoud wat Marlene haarself vir die eerste keer toegelaat het om ook dié woorde te uiter, want sy het self ’n seun verloor . . .

Sy vertel ook die storie van ’n weduwee wat voel asof sy haar identiteit en ondersteuningsnetwerke verloor het met haar man se dood. “Mense nooi jou nie meer nie. Mense besef nie daardie persoon is eintlik iemand in eie reg nie. Jou man is oorlede, maar jy word eintlik uitgeskuif uit die samelewing. Maar as jy ’n wewenaar is, rally die gemeenskap om jou – hulle maak vir jou kos en soek eintlik amper vir jou ’n vrou. Daar is ’n stigma wat aan jou kleef en jy is eintlik bitter, bitter alleen,” vertel Marlene passievol. Dít gebeur ook as jy geskei is, veral as mense begin kant kies. ’n Ander storie wat sy vertel, is een van identiteit.

“Ouers stuur kinders na ‘beter skole’ toe, soos die ou Model C-skool. Jy is bruin en jy gaan na dié skool toe, maar jy bly miskien in Grassy Park. Smiddae moet jy weer huis toe kom, na die gemeenskap waar jy grootgeword het. So jy is eintlik gedurig in twee wêrelde, want die skool se kultuur het nie verander nie en jy sukkel met identiteite.

En dit maak diep binne-in seer. Dan spandeer jy ook so baie tyd daaraan om jou hare net glad te maak omdat dit jy moet vasmaak by die skool.” Marlene het ook gesels met ’n suksesvolle vrou wat as kind gesukkel het met die idee dat daar nie etniese hare in boeke was nie. “Sy het gesê sy wou so graag hê haar kinders moet eendag kan lees dis oukei dat jou hare só is, dat jy ’n bruin vel het . . .”

Moet sterk wees

Enigiemand wat al vir Marlene ontmoet het, sal nie huiwer om haar as ’n “sterk vrou” te beskryf nie, en tog is dit die heel laaste ding wat sy wil wees. In 1992 is Marlene gediagnoseer met ’n breingewas en nadat dokters dit verwyder het, het hulle gesê sy sal nooit kan kinders kry nie. “So dit was ’n groot verrassing toe ek swanger word met my wonderwerk, Aimee (nou 23), en weer in 2001 met my geliefde engel, Adam,” vertel sy met ’n liefdevolle glimlag. “Dit was vir my wow om te kan trou, dat iemand my raakgesien het en dit was nog meer wow dat ek, ten spyte van alles, verwagtend kon raak!” Ses maande ná sy geboorte is Adam gediagnoseer met serebrale gestremdheid.

“Ek kan tot vandag toe onthou toe dokters vir my vertel Adam sal nooit kan loop of praat nie, dat hy altyd ’n baba sou bly. Dit was soos om in ’n donker gat te val.” En dieselfde dag was daar ’n joernalis wat by haar huis gewag het om met haar te gesels oor haar rol as die eerste vroulike voorsitter van die Wes-Kaapse kulturele kommissie. “Die dokter was koud toe hy die nuus oorgedra het. Ek het huis toe gegaan met my kosbare engel. Verlore met geen guidance, niemand om my vas te hou en te sê dit gaan oukei wees nie.”

Marlene het vinnig in haar “sterk vrou”-persona ingespring. “Ek het besef ek moes dinge maak gebeur. Ek het in fix-it mode ingegaan. Die enigste opsie wat ek ken, is om die situasie oukei te maak vir almal anders. Ek moes ook vir myself bewys ek kon dit hanteer. Ek het my bes probeer om ’n normale huishouding te hê in abnormale omstandighede. Ek het vir Adam onvoorwaardelik aanvaar en ons wonderlike reis van liefde en sonskyn het daardie dag begin. Hy was my lig.”

Marlene sê omdat sy self gestremd is, het sy van vroeg af geleer om onafhanklik te wees, maar met Adam moes sy van vooraf weer leer om afhanklik te wees van ander mense. “Maar ek het nie toegelaat dat negatiwiteit of goed wat verkeerd gaan, my onderkry nie.” Adam se diagnose het egter met groot koste gekom omdat hulle verskeie mediese personeel en versorgers moes aanstel.

Kimbies, medisyne, kos, Epilim en rolstoele het hul nuwe normaal geword. Marlene moes ook aanhou werk, want net om vir Adam aan die lewe te hou, was by die R20 000 per maand. “Ek het heeltyd geweet ek kan nie die kind faal nie. My konstante bekommernis was die volgende operasie, dat hospitaalpersoneel nie behoorlik opgelei is om hom te versorg nie. Daarom was ek altyd by hom as hy in die hospitaal moes bly. Ek het myself belowe ek kon dit doen en dat ek hom nooit in ’n inrigting sal sit nie, so hy was omring deur liefde.”

Baie druk & verlies

Marlene en Adam was baie geheg aan mekaar.

Haar seun was haar sonskyn en almal wat hom geken het, het hom liefgehad. Veral sy suster, Aimee, was besonder na aan hom. “Maar in the long run, eis dit ’n tol op ’n huwelik,” sug sy. “Ek het met skuldgevoelens geworstel omdat ek nie vir my man ’n gesonde seun gegee het nie.” Tog het Adam nooit vir Marlene soos ’n las gevoel nie. “Hy het vir my meer dinge laat bereik, hy was my maatjie.”

In 2014 het Adam ’n enorme epileptiese toeval en ’n beroerte gehad. “Dokters het aangeraai dat ons die masjiene afskakel, maar ek het ’nee’ gesê. Die hartseerste deel was dat Adam sy vermoë om te glimlag, hardop te lag en te huil, verloor het. Ons kon mekaar net aanraak . . . Dit het gevoel asof ek hom gefaal het . . .” erken sy.

In 2017 het Marlene begin om haar tuin voor te berei vir Aimee se 21ste en haar 50ste verjaardag. Hulle verjaar op 17 September. “Maar ek sou nooit kon droom dat ek eers ’n begrafnis sou moes hou, twee weke voor ons milestone-verjaardae nie . . .” Adam is net voor sy 16de verjaardag oorlede op 25 Augustus 2017 – die dag ná Marlene se ma se 75ste verjaardag. Twee dae tevore het Marlene vir haar persoonlike assistent gesê dit voel haar kind verlaat haar. “Maar ek kan vir jou sê, jy is nooit voorbereid op die dood nie.”

Sy en Adam by haar doktorale gradeplegtigheid se viering twee maande voor sy sterfte.

Marlene het vir haar ma ’n partytjie by haar huis gegee. “Dis eintlik so wonderlik. Adam het altyd so alles aanvaar van die lewe. Sy bors was daardie dag nie lekker nie en ek was van plan om hom die volgende dag hospitaal toe te neem. Toe ek vir hom gaan nagsê, het hy my so met aandag gekyk,” onthou sy. Daardie aand het Marlene tot 01:00 haar huis skoongemaak. “My ma het nog vir my gevra of ek mal is,” lag sy. “Ek sê toe vir haar ek weet nie wat môre gebeur nie, so laat ek maar eerder skoonmaak.”

Vieruur daardie oggend is Adam in sy slaap oorlede. “My lig was afgeskakel,” vertel Marlene hartseer. Maar die impak wat haar seun, wat nie kon praat of loop nie, op mense gehad het, was verbysterend. “Die mense het vir Adam die ‘sielkundige van Boston’ genoem, want hy het almal se stories geken. Hulle sou met hom gesels as sy carer met hom gaan stap, want hulle het nie besef hy verstaan nie. Mense van heinde en ver het aan Adam kom hulde bring. Meer as 1 000 mense was by sy begrafnis,” onthou sy. “Maar die dag ná sy begrafnis, was ek stoksielalleen. Alles was weg.” Hoewel Marlene se hart in rou gedompel was, het haar lewe nie gaan stilstaan nie.

“In die eerste jaar ná Adam se dood het ek net swart gedra. Ek het myself saans aan die slaap gehuil en weer in trane wakker geword. Ek het werk toe gegaan en nie geweet hoe ek deur die dag gaan kom nie. In een dag het ek my seun, my carers (vir Adam) en my lewensmaat verloor. My huis was dolleeg. Alles was net weg.” Iets wat vir haar uitstaan ná Adam se dood, is die goed wat mense vir haar gesê het. “ ‘Marlene, jy moet verlig wees. Jy kan nou voortgaan met jou lewe,’ of ‘hy hardloop nou daar by Jesus’. Dit slaan jou asem weg, want ek het Adam aanvaar soos hy is. En mense het eintlik vergeet ek is net ’n ouer in rou. Al wat ek wou hê, is my kind terug in my arms. En ek moes alleen rou. Dit was verskriklik om nie op iemand se skouer te kon treur nie.”

Adam se dood was die grootste skok van Marlene se lewe. Maar sy kon nie haarself toelaat om op ’n hopie te gaan sit en vergaan nie. Sy het besef sy het nog ’n kind wat haar nodig het. Niemand sou ooit kon dink watter intense hartseer sy toe ervaar het nie. Die week ná Adam se dood, het sy haar tesis vir haar meestersgraad ingehandig. Drie maande ná sy dood, is sy geskei.

“En ’n egskeiding is ook maar ’n rou-proses.” Tog het sy geen meer bitterheid in haar hart oor teenoor haar eksman nie. “Hy is nou getroud met sy sielsgenoot en het geluk en vrede gevind.”

Ek het myself saans aan die slaap gehuil en weer in trane wakker geword.”

Broos & siek van rou

Haar lewe is steeds nie maklik nie. Dis amper asof haar rouproses nou eers werklik begin. “Ek probeer net deur die dag kom. Aimee gee my krag om op te staan, maar daar is dae wat ek nie kan asemhaal nie.” In haar ervaring laat baie vroue nie hulself toe om te rou nie. “Vroue moet altyd sterk wees. Mense sê altyd: ‘Oe, maar sy is ’n sterk mens’. Ek wil dit nooit weer hoor nie. Mense moet nooit weer vir my sê ek is ’n sterk mens nie,” sê sy passievol.

“Daar is nie so iets nie. Jy gee voor. Jy probeer . . . Kom ek verduidelik dit só: Ek het grootgeword met polio, maar ek het altyd probeer dat almal, veral my ma en my ouma, gemaklik moet voel; dat hulle nie moet voel dis hulle wat dit vir my gegee het nie, maar eerder dat hulle moet dink ek is ’n sterk mens.” Daarom het sy altyd probeer presteer om haarself te bewys.

Marlene en haar dogter, Aimee.

“Dit was vir my nog ’n wow om universiteit toe te kan gaan en vir mense te bewys ek kán dit doen. Ek was nog altyd verskriklik gedryf, ek het amper ge-overcompensate vir baie dinge.” Maar nou weet sy sy wil nie bekendstaan as ’n sterk vrou nie. “Mense verwag ’n sterk vrou moet net aangaan. Hulle besef nie jy het ook soms ’n skouer nodig om op te lê en te sê: ‘My good grief, this was just too much’ nie.”

Sy vertel hoewel daar vriendinne was wat haar bygestaan het, is daar ander wat net weggebly het. “Hulle het gesê: ‘Jy is mos ’n sterk vrou. Jy sal dit kan hanteer.” Dít in ’n tyd wat sy gevoel het sy kan nie weer opstaan nie. “Ek het gevoel my liggaam gee in. Ek het in die hospitaal beland op ’n stadium. Jy kan siek raak van rou.”

Vir haar is dit belangrik dat mense besef die rouproses gaan nooit verby nie. “Mense sal vir jou sê tyd genees. Ek is nou in my derde jaar en dit voel vir my dit raak net erger. Ek mis hom elke dag. Maar jy leer om met dit saam te leef en te aanvaar. Ek gaan vir die res van my lewe ’n afvlerk-swaeltjie wees wat gedurig na die son moet soek. Die pad is moeilik, maar jy raak elke dag ’n kleine bietjie sterker,” vertel sy eerlik. Marlene vertel sy is nou in “post-polio”-fase, waar haar spiere verswak – ook dié van haar longe wat haar ’n baie hoë risiko maak vir Covid-19.

“Dís hoekom ek dié reis (geselsprogram) wou ondergaan met hierdie ongelooflike mense. Die lewe wíl geleef wees . . .” glimlag sy. Soms lyk dit die son gaan nooit weer skyn nie, maar stukkie vir stukkie, kom dit weer op. Ten spyte van die pyn het jy ’n rede om te leef en jy kan nog ’n verskil maak in ander se lewens.

Meer oor:  Kuier  |  Via  |  Marlene Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.