Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Genine: Daar is bloed in my stoelgang
22 Augustus 2018

Vraag: Wat is die oorsaak van bloed in my stoelgang?

My man pou bloed. Wat kan die oorsaak wees?

- Bekommerd

Antwoord

Bloed in jou stoelgang beteken dit bloei êrens in jou spysverteringskanaal. Die kleur van die bloed kan min of meer aandui waar dit ontstaan het en sodoende ook die moontlike oorsaak.

Helderrooi of maroen bloed kom gewoonlik vanaf die onder tot middelste gedeelte van die spysverteringskanaal (anus, rektum, dikderm of dunderm). Swart of teeragtige stoelgang beteken daar is bloeding in die boonste gedeelte van die spysverteringskanaal (slukderm of maag).

LET WEL: Daar is sekere kos soos beet en tamaties wat jou stoelgang tydelik kan rooi maak. Ysterpille, bismut-medisyne (maagmedisyne) of bloubessies kan ook jou stoelgang tydelik swart maak. Dis ook belangrik om te weet vir hoe lank en hoeveel bloed in die stoelgang is, en of dit gepaard gaan met ander simptome.

Die simptome kan wees: maagpyn, sooibrand, braking, hardlywigheid, diarree, swakheid, kortasem, gewigsverlies en slym in die stoelgang. Wanneer jy baie bloed in ’n kort tydperk verloor, kan dit ’n mediese noodgeval word. As jy simptome van skok en bloedarmoede (anemie) ontwikkel, soek onmiddellik mediese hulp.

Oorsake van helderrooi bloed in stoelgang:

Aambeie: Bloedvate in die anus of rektum is normaal, maar wanneer dit swel, jeuk of bloei, word dit aambeie. Die swelling word veroorsaak deur drukking in die bloedvate. Dit kan die gevolg wees van byvoorbeeld hardlywigheid, diarree, swangerskap, as jy oorgewig is, vorige operasies aan die rektum of anus, verswakte weefsels wat die bloedvate ondersteun by ouer mense, seksuele omgang (anaal), ruggraatbeserings of kanker in die dikderm.

Aambeie kan binne, buite of afgesak (prolapsed) wees. Dit kan self terug in die anus gaan of sagkens teruggedruk word.

Divertikulitis: Divertikels is klein, ballonagtige uitstulpings in die dikderm en wanneer dit ontsteek, noem ons dit divertikulitis. Die simptome sluit in abdominale pyn, koors, diarree of hardlywigheid en bloed in die stoelgang. Die gevaar is dat dit ’n abses kan vorm en wanneer dit bars, kan dit lewensgevaarlik wees.

Chron se siekte: Dis inflammasie van die spysverteringskanaal en kan enige plek tussen die mond en anus voorkom. Simptome is abdominale pyn, slymerige diarree, koors, gewigsverlies, veluitslag, artritis en inflammasie van oë. Die dun- of dikderm kan verstop of kanker tot gevolg hê.

Ulseratiewe kolitis: Dis inflammasie van die lining van die dikderm en kan seertjies vorm. Simptome sluit in slymerige diarree met rektale bloeding, geen eetlus, koors en moegheid.

Poliepe en kanker in dun- of dikderm: Poliepe begin as nie-kwaadaardige groeisels in die dikderm en het geen simptome nie. Dit kan egter vergroot en kwaadaardig (kanker) word. Van die simptome is bloed in die stoelgang, diarree, hardlywigheid, gewigsverlies en abdominale pyn.

Oorsake van swart of teeragtige stoelgang:

Abnormale bloedvate, bloeiende maagsere, gastritis, skeur in die slukderm as gevolg van geweldige braking of inwendige trauma. Maagsere ontwikkel in die lining van die maag of voorste gedeelte van die dunderm.

Die simptome sluit in sooibrand, braking van bloed en pyn voor of ná ete. Inflammasie van die gastriese mukosa (voering van die maag) staan bekend as gastritis. Een van die simptome is bloed in die stoelgang. Dis raadsaam om jou dokter of verpleegkundige te besoek vir ’n ondersoek.

Daar is ’n paar spesiale toetse wat aangevra kan word om die diagnose te bevestig: Bloedtoetse kan gedoen word om te bepaal of jy bloedarm is. ’n Gastroskopie kan ook gedoen word. Dit behels die sluk van ’n baie klein kamera wat aan ’n dun buigbare instrument is.

Die spesialis kan dan die slukderm, maagwand en eerste gedeelte van die dunderm beter sien. ’n Rektale ondersoek kan gedoen word om aambeie te ondersoek. ’n Kolonoskopie kan aanbeveel word. Dit behels dieselfde metode as ’n gastroskopie, maar dit word vanaf die anus gedoen. Dit kan help om die oorsaak van helderrooi bloeding te bepaal.

Die mediese advies is net van toepassing op die briewe en SMS’e wat ontvang is en moenie as ’n mediese ondersoek gesien word nie.

Dr. Genine Josias (MB. ChB; M. Fam. Med; Dipl. Klin Forens) en Kuier is nie verantwoordelik vir enige aksies of mediese probleme wat voortspruit uit die advies nie. Raadpleeg jou geneesheer vir enige mediese konsultasies en ondersoeke.

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.