Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra Dr. Genine: Help, ek wandel in my slaap!
8 Augustus 2018

Vraag: Soek hulp met lopery

Ek is 35 jaar oud en ek loop in my slaap. Ek was by die dokter en het die medikasie gebruik. Ek het vir so drie weke sonder medikasie normaal geslaap, maar toe gebeur dit weer. Dokter, wat veroorsaak dit en kan ek genees word? - Wandelaar

Antwoord: Beste Wandelaar

Die goeie nuus is dat somnambulisme of slaaplopery ’n goeie prognose het en is gewoonlik nie ’n ernstige toestand nie.

Die slaapsiklus van ’n mens gebeur in fases:

Fase 1 is die begin van die slaapproses wanneer jou spiere ontspan en dit moeilik is om jou oë oop te hou.

Fase 2 is ’n ligte slaap, terwyl fases 3 en 4 diep slaap is. Die fase daarna gaan gepaard met drome. Hierdie fases duur altesaam tussen 90 – 120 minute. Dit word so 4 of 5 keer tydens slaap herhaal.

Elke fase is sowat 10 – 15 minute lank. Wanneer mense in hul slaap loop, gebeur dit tydens die diep slaapfases. Mense kan tydens slaaplopery regop sit, loop of hardloop asof hulle wil ontsnap of hulself aan- of uittrek. Hulle kan meubels skuif of byvoorbeeld in ’n kas urineer. Sommige mense praat wanneer hulle slaaploop en ander kan selfs ’n motor bestuur.

Tydens hierdie episodes van slaaplopery is hul oë oop, glaserig en dis asof hulle regdeur jou kyk. Die episodes kan ’n paar sekondes of so lank as 30 minute duur. Die persoon onthou gewoonlik niks van die voorval wanneer hulle terug na hul bed gelei word en nie wakker gemaak word nie. Ouer kinders voel skaam en sommige jonger kinders kan selfs die bed natmaak. Dit hou nie verband met vorige slaaproetines, alleen in ’n kamer slaap, woede-uitbarstings of bang wees vir die donker nie.

OORSAKE:
Dit kan oorerflik wees. Dit kan ook veroorsaak word deur te min slaap, baie hoë koors, stres, ’n magnesiumtekort, alkohol-intoksikasie, swangerskap, menstruasie, abnormale hartritme, nagtelike asma, nagtelike epilepsie, obstruktiewe slaapapnee (wanneer asemhaling tydelik tydens slaap ophou), refluks van suur uit die maag na die slukderm, paniekaanvalle, posttraumatiese stres en selfs medikasies soos slaappille, kalmeermiddels, anti-psigotiese middels, stimulante en antihistamiene. Die diagnose van slaaplopery verg ’n deeglike geskiedenis van jou dokter of verpleegkundige en geen mediese toetse.

’n Mediese ondersoek om bogenoemde mediese oorsake uit te skakel, ’n sielkundige evaluasie vir stres- of slaapstudie-toetse kan gedoen word indien hulle onseker is van die diagnose.

BEHANDELING:

Aanpassings wat jy self tuis kan doen, sluit in: Slaap genoeg om moegheid, stres en angs teen te werk. Doen ontspanningsoefeninge en mediteer gereeld. Begin ’n ontspannende roetine voor jy slaap.

Jou roetine kan byvoorbeeld die volgende insluit: Was jouself, slaap omtrent dieselfde tyd elke aand, maak seker jou kamer is donker voor jy slaap, vermy drankies of kos met kaffeïen, gaan toilet toe voor jy slaap, lees ’n boek, doen diep asemhalingsoefeninge.

Vermy enige geraas of stimuli (soos alkohol), harde musiek, gesels of die skerp lig van ’n televisie- of rekenaarskerm voor jy slaap.

Maak jou omgewing veilig: Pak speelgoed en ander goed waaroor jy kan val, weg. Skuif meubels weg om ’n oop spasie te maak, sit ’n alarm aan jou kamerdeur, verseker dat daar diefwering of swaar gordyne voor die vensters is en bêre vuurwapens en ander wapens veilig weg. Slaap op die grondverdieping indien moontlik.

Vra iemand om jou wakker te maak net voor die tyd wanneer jy gewoonlik begin slaaploop. Dit kan jou slaapsiklus verander en miskien die slaaplopery keer. Mediese behandeling kan toegepas word as ’n mediese oorsaak gevind word, byvoorbeeld om nagtelike epilepsie of asma te behandel. Dit moet natuurlik deur ’n dokter of verpleegkundige voorgeskryf en gemonitor word.

Sekere medikasie (soos antidepressante) kan gebruik word veral as jou slaaplopery gevaar inhou vir jou huismense, hul slaaptyd beïnvloed of jy die volgende dag verslaap. Beraders of sielkundiges kan jou help om stres te behandel. Ander metodes van behandeling sluit hipnose en ontspanningstegnieke in.

Die grootste komplikasie van slaaplopery is jou eie veiligheid en dié van jou huismense. Raadpleeg jou dokter as dit aanhoudend is, met ander simptome gepaard gaan, baie gevaar inhou (byvoorbeeld as jy ’n motor bestuur tydens slaaplopery) of dalk deur medikasie veroorsaak word.

Let wel

Die mediese advies is net van toepassing op die briewe en SMS’e wat ontvang is en moenie as ’n mediese ondersoek gesien word nie.

Dr. Genine Josias (MB. ChB; M. Fam. Med; Dipl. Klin Forens) en Kuier is nie verantwoordelik vir enige aksies of mediese probleme wat voortspruit uit die advies nie.

Raadpleeg jou geneesheer vir enige mediese konsultasies en ondersoeke.

Foto: Dale Fourie

Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Slaapwandelaar  |  Kuier  |  Dr Genine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.