Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Genine: Help met seer mondhoeke
12 Junie 2019


Vraag: Skeure in mondhoeke pla erg

Hallo, Dokter. Het jy nie raad vir seer mondhoeke nie? Ek sal dit waardeer as jy kan help.

- Seer

Antwoord

Stomatitis is die term wat gebruik word om inflammasie van die mond en lippe te beskryf. Cheilitis beteken inflammasie van die lippe. Seer mondhoeke staan bekend as hoekstomatitis of hoekcheilitis. Dit kan ook perlèche genoem word.

OORSAKE:

In baie gevalle is daar nie ’n duidelike oorsaak nie. Telkens begin dit wanneer die mondhoeke vir ’n lang tyd nat bly as gevolg van speeksel. Wanneer die speeksel verdamp, raak dit droog en dan begin die irritasie. Dan lek jy jou lippe om die droogheid te verlig en dít veroorsaak meer vog, wat dan die vel vererger. Die vel kan kraak, oopbars, afskilfer en selfs bloei. Die oopgekraakte vel laat dan toe dat kieme (soos swamme, bakterieë of virusse) ingaan.

Dit kan een of albei mondhoeke op dieselfde tyd affekteer. Dit kom voor as rooi of pers letsels en kan geswel, gekraak, blase vorm, jeuk of pynlik wees. Jou lippe kan droog en ongemaklik voel, asof dit brand. Dit kan ook ’n slegte smaak in jou mond veroorsaak. As die irritasie erg is, kan dit moeilik wees om te eet en jy kan selfs gewig verloor.

Die volgende is faktore wat jou meer vatbaar maak om seer mondhoeke te kry:

1. Orale swaminfeksies: Diabetes verswak jou immuunstelsel. Dit kan boonop jou tande en tandvleis beskadig en jou sodoende meer vatbaar maak vir swaminfeksies. Orale swaminfeksies kan by ouer mense veroorsaak word as hulle sistemiese steroïede of antibiotika gebruik.

2. Kunstande: As kunstande veral nie reg pas nie of as die tandvleis verswak weens ouderdom, kan dit ook orale swaminfeksies veroorsaak.

3. Swak voeding: ’n Tekort aan yster (bloedarmoede) of sekere vitamiene, veral vitamiene B, kan ook daartoe lei.

4. Sistemiese siektes: Crohn se siekte, ulseratiewe kolitis, kanker van die lewer, niere, long, pankreas of bloed is faktore.

5. Sensitiewe vel wat veroorsaak word deur velsiektes soos atopiese ekseem.

6. Genetiese vatbaarheid: Siektes soos Down-sindroom.

7. Sekere medikasie vir aknee en psoriase

8. As jy jou duim suig.

9. As jy rook.

DIAGNOSE:

Jou dokter of verpleegkundige kan gewoonlik die infeksie diagnoseer sonder om deppers na die laboratorium te stuur, maar dit mag nodig wees as die behandeling nie effektief is nie. Dit is nie nodig om ’n velbiopsie te neem nie.

BEHANDELING:

In die meeste gevalle is behandeling nie nodig nie, want dit sal vanself weer gesond word. Dit is nie ’n ernstige toestand nie en kan maklik behandel word as dit nodig is. Die oorsaak bepaal ook natuurlik die behandeling, veral as jy ’n infeksie het.

Jy moet jou lippe beskerm deur gereeld lip balm of Vaseline aan te smeer. Só keer jy dat die speeksel aan jou mondhoeke raak, dit uitdroog en jou vel vererger.

Jou dokter kan ’n steroïede-room aanbeveel, wat kan help met die branderigheid en gejeuk van jou vel. Jy kan ook antiseptiese middels aanwend. Antibiotikasalf of -pille werk vir bakteriële infeksies, teenswammiddels (salf of pille) vir swaminfeksies, en antivirale salf of pille vir virale infeksies.

Vitamiene en ysteraanvullings kan help om die gevolge van swak voeding teen te werk. Jy moet jou diabetes goed bestuur, gesond eet en minder rook of heeltemal ophou. Maak ook seker jou kunstande pas reg in jou mond.

Daar is selde komplikasies van hoekcheilitis, maar as dit nie beheer word nie, kan die infeksies verder versprei as net jou mondhoeke.

Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Dr. Genine  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.