Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Genine: 'Pink eyes' pla
25 Julie 2018

Vraag: Is pink eyes aansteeklik?

Wat kan help vir pinkeye? Ek dink ek het dit, want my oë bly rooi en jeukerig. Ek is bang my baba kry dit. Is dit aansteeklik?

- Bekommerd

Antwoord: Beste Bekommerd

Die konjunktiva is die dun, deurskynende, klam vlies wat die oppervlak van die oog en die binnekant van die ooglid bedek. Pinkeye (konjunktivitis) word veroorsaak wanneer daar inflammasie van die konjunktiva is. Die oog kan pienk of rooi wees en kan gepaard gaan met pyn, jeuk of branderigheid.

Daar is verskillende oorsake van pinkeye: 

VIRUSSE:

Dit is die algemeenste oorsaak, en hou dikwels verband met ’n verkoue en/of ’n seer keel. Die infeksie begin gewoonlik by die een oog, maar kan maklik na die ander oog versprei.

Van die simptome is jeuk en baie tranerigheid. Die wit deel van die oog word ’n pienkerige kleur. Die behandeling is gewoonlik kunstrane. Steroïede moenie vir virale pinkeye gebruik word nie.

Ander virusse (Herpes Simplex en Varicella zoster) kan ’n ulkus (ulcer) op die oog veroorsaak en dit moet behandel word met anti-virale medikasie vir 7 – 14 dae

BAKTERIEË:

Dit veroorsaak vinnige aanvang van konjunktiewe rooiheid, swelling van die ooglid en ’n deurskynende geel of grys afskeiding (discharge) wat uit slym en etter bestaan. Dit veroorsaak dat die ooglede aan mekaar vassit, veral ná slaap. Dit begin gewoonlik net in een oog, maar versprei ná 2 – 5 dae na die ander oog. Dit veroorsaak verskriklike irritasie en krapperigheid. Dit voel amper asof daar ’n vreemde voorwerp in die oog is. Selde word ’n monster van die afskeiding na die laboratorium gestuur vir ontleding. Die behandeling is antibiotika (druppels in die dag en salf in die aand).

Indien die infeksie nie op die antibiotika-druppels of salf reageer nie, kan monsters van die afskeiding na die laboratorium gestuur word om die bakterie te identifiseer en ook die sensitiwiteit van die gepaste antibiotika te bepaal. Virusse en bakterieë versprei maklik tussen mense. Beide bakteriële en virale infeksies is aansteeklik.

Dit kan van persoon tot persoon oorgedra word en kan ook versprei deur besmette water of voorwerpe. Voorkom hierdie tipe pinkeye deur jou hande te was en nie met vuil hande jou oë te vryf nie. Inenting teen sekere virusse en bakterieë is ook effektief.

ALLERGIE:

Allergie kan onder meer veroorsaak word deur stuifmeel, dierehare, parfuum, rook, skoonheidsmiddels, stofmyte (dust mites) en selfs oogdruppels. Simptome behels rooiheid van die oog, swelling van die konjunktiva, jeuk en baie traanproduksie. Dit kan gepaard gaan met ’n loopneus of toe neus. Dit is nie aansteeklik nie.

Moenie anti-histamiene gebruik nie en moenie weer kontak maak met dit wat die allergie in die eerste plek aangewakker het nie. Steroïede-oogdruppels kan ook gebruik word.

CHEMIES:

As ’n alkaliese stof of suur in jou oog beland en jou oog beseer, kan dit ook pinkeye veroorsaak. Dit is nie aansteeklik nie. Behandel die pinkeye deur die oog uit te spoel totdat die pH neutraliseer. Om die pyn te verminder, kan verdowende oogdruppels gebruik word.

Waarskuwing:

Wanneer ’n pienk of rooi oog gepaard gaan met gevaarsimptome soos sigverlies of afname in visuele skerpheid, aansienlike oogpyn, oormatige sensitiwiteit vir lig, erge hoofpyn en naarheid – moet jy onmiddellik deur ’n dokter of verpleegkundige ondersoek word. Hulle sal eers ’n deeglike mediese geskiedenis neem.

Die ondersoek kan van die volgende behels:

Toets van jou visuele skerpheid en ondersoek vir nie-deurskynende letsels. Spesifieke oogdruppels kan gebruik word om ’n skeuring in die kornea uit te skakel en daar kan gekyk word of albei pupille op lig reageer. ’n Toets sal ook gedoen word om te kyk of oogbewegings reg is en of jou oë uitpeul. Siektes soos gloukoom (verhoogde druk in jou oog), keratitis, meningitis en skildklierafwykings kan dan uitgeskakel word. Indien nodig, sal jy verwys word na ’n oogspesialis (oftalmoloog).

Die mediese advies is net van toepassing op die briewe en SMS’e wat ontvang is en moenie as ’n mediese ondersoek gesien word nie. Dr. Genine Josias (MB. ChB; M. Fam. Med; Dipl. Klin Forens) en Kuier is nie verantwoordelik vir enige aksies of mediese probleme wat voortspruit uit die advies nie. Raadpleeg jou geneesheer vir enige mediese konsultasies en ondersoeke.

Foto: Dale Fourie

Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 25 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Gesondheid  |  Ooggesondheid  |  Kuier  |  Raad  |  Dr Genine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.