Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra Dr. Genine: Raad vir naels
11 July 2018

Fungus pla erg

Ek soek raad vir fungus onder my groottoonnaels. Ek kan ook nie enige skoen dra nie. Toontjie

Beste Toontjie

Die mediese terme vir swam-infeksie van naels (vinger- of toonnaels) is onycho­mycosis of tinea unguium. Dit is meer algemeen onder toonnaels as vingernaels, want tone is meermale warm en vogtig (wat die ideale klimaat is vir swamme om te groei) in sokkies en skoene.

OORSAKE: In gesonde mense word tinea unguium veroorsaak deur ’n swam wat in warm, nat areas floreer – soos in openbare storte. Instrumente soos naelknippers, naelvyle, voetbaddens of handdoeke wat nie reg gesteriliseer word nie, kan ook die oorsaak wees.

Stywe skoene veroorsaak trauma aan die toonnaels en naelbed en maak dit meer vatbaar vir tinea unguium. Swaminfeksie van die voete (atleetvoet) kan ook na die naels versprei. Ander risiko-faktore is in mense met ’n verlaagde immuunstelsel met siektes soos diabetes, psoriase, MIV/vigs, kanker of medikasie soos steroïede wat jou weerstand verlaag.

Dit kom ook voor by ouer vroue weens verlaagde estrogeen, mense met perifere vaskulêre siektes waar klein bloedvate vernou en selfs in mense wat kunsnaels dra (byvoorbeeld acrylic naels of wraps). Wanneer kunsnaels aangewend word, word die naeloppervlak gevyl en as die instrumente nie gesteriliseer is nie, kan daar water en infeksie onder die kunsnael gaan en tinea unguium veroorsaak. Dit is nie aansteeklik nie.

Simptome: Kosmeties is dit ’n groot probleem, want die nael verdik, verkrummel, splinter af en verkleur wit, geel of bruin. Die nael skei van die naelbed af en kan maklik breek. Dit kan ook gepaard gaan met pyn en ongemak veral as jy skoene dra wat druk. Die diagnose word gewoonlik deur ’n algemene dokter of verpleegkundige bevestig deur net ’n deeglike geskiedenis en ondersoek te doen.

Indien die gepaste behandeling nie help nie, kan jou dokter of verpleegkundige ’n monster van die nael na die laboratorium stuur vir ’n definitiewe diagnose. Daar is ander siektes wat simptome van tinea unguium het, soos verkleurde naels. Geel of groen naels kan deur ’n bakterie veroorsaak word en gaan gewoonlik gepaard met ’n vuil reuk. Onycholysis (wit of geel naels) is wanneer die nael vanself van die naelbed skei.

Hou die naels knort en wend naelpolitoer aan vir kosmetiese redes. Dié naels is vatbaar vir swaminfeksie. In dié geval moet jy ’n voetheelkundige raadpleeg. Swart of rooi naels is wanneer daar ’n bloedklont onder die nael is as gevolg van trauma (byvoorbeeld jy het jou nael in die deur geklap). Die swart of rooi kol sal met die nael uitgroei, so geen behandeling is nodig nie. Indien geen trauma plaasgevind het nie en daar ’n swart letsel onder die nael is, gaan sien ’n kundige om velkanker (melanoma) uit te skakel.

BEHANDELING: Hou die naels kort en vyl die verdikte naels sodat dit makliker in ’n skoen kan pas en drukking verminder. Room en salf is nie so effektief nie omdat die nael te hard is vir die room of salf om tot op die naelbed te gaan. Die behandeling met salf en room kan tot op 18 maande duur.

Pille of medisyne is die beste behandeling. Dit duur vir 6 – 12 maande, want dis die tydperk wat dit ’n nael neem om te groei. Die medikasie kan op voorskrif by ’n dokter gekry word. Chirurgie is ook ’n tipe van behandeling waar die toonnael verwyder word, maar dan moet medikasie nog steeds gebruik word, anders kan die nael weer uitgroei met die swaminfeksie.

Die volgende metodes word selde aangewend: Laserterapie en ’n spesiale naelpolitoer wat die mikroklimaat van die nael verander sodat die swam nie kan groei nie. Tuisraat (klapperolie en asyn) word gebruik, maar geen wetenskaplike bewyse bestaan dat dit effektief is nie.

VOORKOMING: Hou jou naels kort, droog en skoon, moenie storte deel nie of maak dit gereeld skoon, moenie stywe skoene dra nie en dra twee of meer paar oefenskoene sodat dieselfde skoene nie baie gebruik word nie en kans kry om reg droog te word. 

WhatsApp die woorde KUIER DOKTER en jou vraag na 060 784 0589, of stuur 'n e-pos na kuier@kuier.co.za met DR. GENINE in die onderwerplyn.
Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Dr Genine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.