Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra Dr. Genine: Stene maak seer
19 September 2018

Ek is ’n ou tannie van 81 wat by my kinders bly. Ek het twee galstene. Toe die dokters dit drie jaar gelede wou uithaal, het my hart vir so 20 minute gaan staan. Hulle moes my ribbe breek om by my hart uit te kom. Nou wil my dokter dit nie uithaal nie. Ek kry elke nou en dan baie seer. Wat kan ek gebruik?
TAN’ MARTIE

Beste tan’ martie

Ek is baie dankbaar dat jou goeie dokters drie jaar gelede uitstekende mediese sorg tydens die operasie toegepas het.

Die raad wat ek jou gee, is ook vir mense wat nie ’n operasie wil ondergaan om hul galblaas te verwyder nie of mense wat ’n groot risiko het om galstene te ontwikkel.

Die galblaas is ’n klein “sakkie” wat onder die lewer geleë is. Gal is ’n dik geel-groen-bruin vloeistof wat deur die lewer vervaardig word en dan met nou pypies na die galblaas vervoer word, waar dit gestoor word. Die galblaas het ook ’n pypie wat na die eerste gedeelte van die dunderm (die duodenum) lei.

Wanneer vetterige kosse van die maag na die dunderm gaan, stimuleer dit die galblaas om sametrekkings te ondergaan sodat die gal na die dunderm kan vloei om die vette in die kos te verteer.

Een van die grootste komponente van gal is cholesterol. Onder sekere omstandighede word die cholesterol in die gal hard en vorm cholesterolgalstene.

Daar is ook ’n ander tipe galsteen (pigmentgalsteen), maar dit kom selde voor in lande buite Asië.

Oorsake van cholesterolgalstene:

1. Hoë vlakke van estrogeen: Dié hormoon verhoog die cholesterol in die gal. Dit verminder sametrekkings van die galblaas soos in die gebruik van voorbehoedpille, hormoonver­vangingsmedi­ka­sies en tydens swanger­skap. Galstene kom dus meer voor by vroue as mans. Jy moet daarom produkte wat jou hormoonbalans beïnvloed, vermy.

2. As jy oorgewig is.

3. Sekere medikasie wat cholesterol verlaag.

4. Diabetes

5. Hoë ouderdom

6. Inflammatoriese dermsiektes soos Crohn se siekte en ulseraktiewe kolitis.

7. As jy ’n dieet volg met ’n lae vetinhoud kan jy dit ook kry, want dit laat toe dat die gal lank in die galblaas gestoor word en dan vorm dit cholesterolgalstene. So, om gewig te verloor en galstene te voorkom, is dit beter om ’n dieet met hoë vet- en lae koolhidrate-inhoud te volg. Dit sal verseker dat die vette in die dieet die galblaas stimuleer om gal uit die galblaas na die dunderm te stoot.

LET WEL: As jy reeds galstene het, is dit raadsaam om ’n dieet met min vet te volg. Die rede hiervoor is dat wanneer die galblaas saamtrek, kan ’n galsteen in die nou pypie vassit wat na die dunderm lei en dan baie pyn veroorsaak.

Ander simptome van galstene is rugpyn, pyn onder die regterribbe, koue koors, naarheid en braking, gevoel van opgeblaasheid en sooibrand.

Riglyne vir ’n dieet met min vet vir wanneer jy reeds galstene het: Vermy volroommelk of roomkaas, beskuit, brood, pannekoek, pasteie, koek, waffles, koeksisters, roomys, vetterige wors, vleis, eend, blikkiesvis wat in olie is, vetterige sop, roomsop, sjokolade, pasta, slaptjips en groente-olie. As jy eiers wil eet, moet dit een per dag of vier per week wees en gekook of gepoach is.

Daar is medikasie wat jy kan gebruik om die maak van cholesterol te verminder en die cholesterol in die gal op te los. Dit kan net deur jou dokter voorgeskryf word. Dit kan nie gebruik word vir radio-opaak, pigmentgalstene of gekalsifiseerde galstene nie. Jou dokter moet jou ondersoek en toetse soos bloed­toetse vir lewerfunksies, X-strale en sonars gebruik om die regte diagnose te maak en te verseker dat jou lewer goed werk.

Dié medikasie het newe-effekte soos diarree, sooibrand, gejeuk van die vel en hardlywigheid. Dit kan medikasies soos pille vir diabetes en epilepsie, voorbehoedmiddels en sekere teensuurmiddels (antacids) se werk belemmer

Daar is ook raad met natuurlike middels soos suurlemoensap, appelsap, pepermenttee, kalsium, warm water met seesout of Engelse sout (nie tafelsout nie), sitrusvrugte, donker blaargroente, tamaties, neute en lensies.

Raadpleeg altyd jou dokter om seker te maak jou dieet belemmer nie ander siektes of medikasies nie.

Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Dr Genine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.