Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Patricia
11 Junie 2020

VRAAG: PEE TE VEEL

Wat kan dit wees?

Ek is ’n 64-jarige gesonde man, maar dit pla my dat ek ’n paar keer in die nag moet opstaan om my blaas leeg te maak. Wat kan dit wees?

- Oom Isaac

ANTWOORD

Daar is verskeie toestande wat dit kan veroorsaak, maar die algemeenste in jou ouderdomsgroep is prostaatvergroting of BPH (Benigne-prostaathiperplasie). Dit is nie ’n kwaadaardige toestand nie.

Een uit elke drie mans bo 50 ondervind dit. Die prostaat is ’n klier so groot soos ’n okkerneut en sit onder die blaas en voor die rektum. Dit omring die uretra wat urine vervoer vanaf die blaas na buite. ’n Vergrote een plaas druk op jou uretra en veroorsaak die ongemaklike simptome. Die kans vir prostaat-issues is groter as jy ’n familiegeskiedenis het.

Nog algemene oorsake van nagtelike urinering is: Jy drink te veel en laat saans vloeistof, jy drink waterpille laat smiddae of saans, urienweg- of prostaat-infeksie, ooraktiewe blaas, diabetes en groeisels van die blaas, prostaat of pelviese area.

Simptome

Die simptome begin meestal ná 50 en vererger oor die jare. Die algemeenste is: Jy wil baie pee (maar min kom uit), ’n swak stroompie, urine lek, jou pee kom nie onmiddellik uit nie, alles kom nie uit nie en jy moet snags opstaan om te pee.

Diagnose

Die dokter sal ’n paar vrae vra gevolg deur ’n algemene ondersoek. ’n Rektale ondersoek sal gedoen word om die grootte en vorm van die prostaat of massas in die rektum te voel. Jou urine sal getoets word vir tekens van infeksie, suiker of proteïene wat niersiekte kan aandui. ’n Bloedtoets sal bepaal wat die PSA-vlak (prostaat- spesifieke antigeen) is. Dit help ook met die diagnose van prostaatkanker. As die PSA-vlak baie hoog is, sal die dokter ’n prostaatbiopsie aanvra. Dis wanneer ’n naald in die prostaat gesteek word onder lokale verdowing om ’n paar stukkies te stuur vir ontleding.

BEHANDELING IS VIERLEDIG

1. Lewenstylveranderinge:

Vermy medikasie wat die simptome kan vererger soos antihistamiene en pseudoefedrien wat in verkouemedisyne gekry word. Probeer om geen vloeistowwe ná 18:00 te drink nie. Drink minder alkohol en kaffeïen.

2. Wag-en-kyk onder leiding van ’n dokter:

Mans met baie geringe simptome benodig gewoonlik nie behandeling nie. Jaarlikse opvolge vir ’n ondersoek en bloedtoets word gereël.

3. Medikasie:

Alpha-blokkers ontspan die spiertjies van die prostaat en blaasnek en laat vloei die urine makliker. Voorbeelde is Doxazosin (Cardura), Tamsulosin (Flomax) en Alfuzosin (Uroxatral). Dit werk redelik vinnig en word aanbeveel as jy geringe tot matige simptome het.

Algemene newe-effekte is duiseligheid en lae bloeddruk. Tamsulosin and Alfuzosin het geen interaksies met medikasie vir erektiele disfunksie (Viagra en Cialis) nie, maar die ander het wel en mag nie saam gebruik word nie.

Alpha-reduktase inhibitore soos Finasteride (Proscar) verhoed dat die prostaat verder vergroot en kan dit selfs laat krimp. Dit verminder die nodigheid vir operasies. Minder algemene newe-effekte is verlaagde seksdrang, erektiele en ejakulasieprobleme.

Dit is omkeerbaar. Sommige mans het ’n kombinasie van bogenoemde medikasie nodig. Die meeste mans moet ook medikasie lewenslank neem tensy ’n operasie gedoen word.

Kruiemiddels: Daar is baie min wat bewys is om effektief te wees, maar daar is heelwat beskikbaar by apteke.

4. Operasie:

TURP (Transuretrale reseksie van die prostaat) behels dat die uroloog stukkies van jou prostaat afsny.

Ander opsies: Laserchirurgie, prostaatverwydering, UroLift (permanente toestel wat die prostaat of uretra lig sodat urine makliker vloei) en kateters.

Goeie gewoontes: Eet gereeld “rooi kosse” soos tamaties en waatlemoen wat lycopene bevat. Gaan jaarliks vir ’n screening: 40 (familiegeskiedenis van prostaatkanker) of 45 (sonder). Hou op rook en oefen.

WhatsApp die woorde KUIER DOKTER en jou vraag na 0607840589, of stuur ’n e-pos na kuier@kuier.co.za met DOKTER in die onderwerplyn. 

Die mediese advies is net van toepassing op die boodskappe of vrae wat ontvang is en moenie as ’n mediese ondersoek gesien word nie.

Dr. Patricia van Wyk (Huisartskunde) en Kuier is nie verantwoordelik vir enige aksies of mediese probleme wat voortpruit uit die advies nie.

Raadpleeg jou geneesheer vir mediese konsultasies en ondersoeke.


Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.