Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Patricia: Help, my kaak is uitgehaak!
6 Augustus 2020

Vraag: Help, dis uitgehaak!

My kakebeen is vir die afgelope agt maande uitgehaak. Ek sukkel met my spraak en my tande is nou meer vorentoe. Kan ek nog hulp kry? - Bekommerd

Antwoord

Dit is nooit te laat om mediese hulp te soek nie. Indien kaakontwrigting vermoed word, moet ’n dokter so gou moontlik geraadpleeg word om komplikasies te voorkom. Kakebeenontwrigting (dislocation) vind plaas wanneer een of meer bene van die kaakgewrig uit hul normale posisie kom. Dit kan volledig of gedeeltelik uithaak. Dit kan skielik gebeur of herhalend voorkom.

OORSAKE

Die algemeenste oorsaak is direkte gesigsbeserings, maar ander faktore kan ook daartoe lei soos epileptiese aanvalle en onderliggende bindweefselsiektes. Alledaagse aktiwiteite soos gaap, sing, oopmond lag en braking kan dit ook veroorsaak as die mond oormatig wyd oopgemaak word en die kaak dan uitglip. Tandheelkundige en ander mediese prosedures soos intubasie is minder algemene oorsake.

SIMPTOME

Simptome soos kaakpyn (net voor die oor) wat vererger met kou, onvermoë om jou mond toe te maak, kwyl, moeilike spraak en kou asook ’n kaak wat vorentoe gedruk word en snaaks kan lyk. Die kaak voel ook styf en geswolle of asof dit vashaak. Baie mense ervaar ook hoofpyne.

DIAGNOSE

Die diagnose word gemaak deur ’n dokter wat gaan uitvra oor wat gebeur het, die kaak te ondersoek en die kaak ontwrigting te bevestig met ’n X-straal. Die X-straal word ook gedoen om ’n beenbreuk (fracture) uit te skakel.

BEHANDELING

Behandeling hang natuurlik af van die onderliggende oorsaak. 1. Akute of onlangse ontwrigting: ’n Dokter kan onmiddellik die kaak onder sedasie of verdowing en pynmedikasie in sy normale posisie terugplaas. Indien die prosedure onsuksesvol is, kan ’n operasie benodig word om dit te herstel. Dit gebeur gelukkig baie min. 2. Langstaande of herhaalde ontwrigting: Dít is ’n bietjie moeiliker om te hanteer. Opsies sluit in inspuitings in die kaakgewrig met verskillende middels, onder meer Botox. Soms word ’n draadjie of rekkie gebruik om die kaakgewrig te stabiliseer. 3. Operasies word as die laaste uitweg gesien.

SELFSORG

• Nadat die kaak terug in posisie geplaas is, kan pyn verlig word deur ’n gereelde pynstiller soos Brufen te gebruik vir ’n week of twee.

• Sit ’n yspak op die wang om swelling te verlig.

• Deur half regop of op drie kussings te slaap, kan die swelling ook verminder.

• Eet sagte kos sodat jou kaak nie te veel beweeg wanneer jy kou nie.

• Moenie bubblegum of taai goed kou nie en moenie jou mond te wyd oopmaak nie.

• Probeer ook om nie jou tande styf te klem nie.

• Ontspan die kaakspiere snags deur ’n warm waslap op jou wang te sit.

• ’n Mondstut kan snags gedra word om knersing van tande te voorkom en ook vir wanneer jy aan sport deelneem.

• Ondersteun jou kaak wanneer jy gaap met jou hande vir ses weke ná die reduksie.

• Fisioterapie help ook met kaakoefeninge vir spierversterking en ontspanning.

WhatsApp die woorde KUIER DOKTER en jou vraag na 0607840589, of stuur ’n e-pos na kuier@kuier.co.za met DOKTER in die onderwerplyn. 

Die mediese advies is net van toepassing op die boodskappe of vrae wat ontvang is en moenie as ’n mediese ondersoek gesien word nie. Dr. Patricia van Wyk (Huisartskunde) en Kuier is nie verantwoordelik vir enige aksies of mediese probleme wat voortpruit uit die advies nie. Raadpleeg jou geneesheer vir mediese konsultasies en ondersoeke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.