Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vroueboer stukkend ná wrede plaasaanval
18 Maart 2020


Spaar my net, ek pleit by julle. Spaar my lewe . . .” Só moes ’n bekende Vrystaatse sakevrou en boer tydens ’n plaasaanval om haar lewe pleit. Die trauma sit steeds rou in Mimie Jacobs (52) se oë wanneer sy terugdink en vertel van die aand toe sy in Februarie vanjaar op haar plaas buite Bloemfontein deur drie gewapende mans oorval, aangerand, gemartel en met die dood en verkragting gedreig is.

Die merke aan haar arms, waar die boos-wigte haar met toue vasgebind het, is steeds twee weke ná die aanval sigbaar. Hoewel sy steeds vreesbevange is en sukkel om te slaap, is boer steeds in haar hart en gaan sy aanhou om te boer, kom wat wil. Mimie kom uit ’n trotse familie van boere.

Haar pa, Piet Jacobs, was ’n boer in murg en been en haar vier broers, Willie, Sakkie, Graham en Hennie boer almal op grootskaal in die Vrystaat. “Ek is só trots dat ons pa ons almal geleer het om te boer. Ons is maar landboumense,” vertel sy.

Mimie, ’n voormalige private bankier, boer die afgelope sowat nege jaar op die plaas Rosemead hoofsaaklik met lusern. Die trotse boervrou, wat ook die eerste boer was om mout aan Heineken te verskaf, het ook voorheen boontjies vir Tiger Brands verbou, maar boer nou hoofsaaklik met lusern en het pas ook pekanneute geplant.

Mimie is in 2016 deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling as die provinsie se wenner in die afdeling vir vroulike graan- en groenteboere aangewys. Sy is ook voorsitter en stigter van die Vrystaatse kamer van koophandel en nywerheid (FSCCI), asook ’n raadslid van die Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci).

Terwyl sy met haar vingers oor ’n warm koppie koffie vryf, vertel Mimie van die angswekkende nag toe sy met die dood en verkragting gedreig is en in haar eie bloed gegly en deur haar huis rondgesleep is. Sy is die aand van 22 Februarie in haar plaashuis sowat 35 km buite die Rosestad (in die rigting van Bultfontein) oorval, aangerand en vir sowat ’n uur aangehou.

Hoewel sy nie alleen op die plaas bly nie, was sy daardie aand alleen by die huis. Sy vertel sy het ’n harde slag gehoor terwyl sy op ’n rusbank voor die televisie ná ’n harde dag se werk ontspan het. Die volgende oomblik het drie mans die deur oopgebreek, op haar gespring, haar aan haar hare rondgepluk voordat sy met ’n mes in die gesig gesteek is.

Die mespunt het in haar skedel afgebreek en die bloed het soos ’n stroom gevloei. Haar wangbeen is ook in die voorval gekraak. Sy is verder ook aangerand, geskop en hardhandig hanteer terwyl sy verskeie kere met die dood en verkragting gedreig is. “Ek kon niemand herken nie, alles het so vinnig gebeur. Die een oomblik het ek voor die televisie gelê, ’n harde slag gehoor en skielik was drie mans voor my. Hulle het op my gespring. Alles het so vinnig gebeur. Daar was soveel bloed, maar as gevolg van die adrenalien het ek geen pyn ervaar nie.”

Stryd om te oorleef

Mimie in die hospitaal die aand ná die plaasaanval.

Een van die mans het vir Mimie gevra of sy weet hoekom sy die aand gaan sterf. “Dit is die slegste deel. Hy het gevra of ek wou weet hoekom ek vanaand doodgaan. Volgens hom het van die werkers glo aan hulle gesê ek bly alleen op die plaas en dat ek geld by my aanhou.” Sy sê sy weet nie hoe waar dit is nie, maar sy het al dié inligting aan die polisie deurgegee.

“Hulle het geld gesoek, hoewel ek telkemale aan hulle verduidelik het dat ek geen kontant op my het nie, omdat ek die vorige dag my werkers betaal en ook kruideniersware vir hulle gekoop het.” Mimie sê sy dank die Here dat Hy deur die hele beproewing by haar was.

“Ek dank die Here dat Hy my kalmte gegee het. Ek het nie gepanic nie, ek het probeer om kalm te bly. Hulle is ook mens en netso senuagtig soos ek.” Sy het weer vir hulle gesê om te vat wat ook al hulle wil hê. Een van die aanvallers het heeltyd haar hand vasgehou, die mes teen haar nek gedruk en gesê sy lieg vir hulle. “Hy het gesê hy sal my moet doodmaak en dat ek nie na hom moet kyk nie, want ek moet hom nie herken nie.”

Sy onthou ook die baie bloed en hoe sy deur haar eie bloed gesleep is. Soveel dinge het deur haar kop gemaal. “Ek het gedink ek kan nie nou sterf nie. Daar is soveel dinge wat ek nog moet doen op die plaas, vir ander mense wat steeds ongedaan is. Daar is soveel goed wat onaangeraak is, soveel dinge wat ek steeds wil aanpak en as ek vanaand moet sterf, gaan dit nie gebeur nie.”

Dié fyn vrou, wat man-alleen op sowat 256 ha grond boer, is hierna vasgebind en op ’n bed in een van die slaapkamers gesit terwyl die mans geld en vuurwapens van haar geëis en ook na die kluis gesoek het. “Ek het vir hulle gesê ek het nie ’n kluis of ’n vuurwapen nie en wie ook al dit vir hulle vertel het, het vir hulle gelieg.” Terwyl die trane vloei, vertel ’n erg emo- sionele en steeds getraumatiseerde Mimie hoe sy moes gly in haar eie bloed terwyl die mans haar van kamer tot kamer gesleep het, opsoek na ’n kluis, kontant en vuurwapens.

“Ek het aanhoudend vir hulle gesê om my bankkaart te vat, alles daarin te trek, maar om asseblief net my lewe te spaar.” Selfs haar foon het gevries terwyl sy probeer het op per eWallet geld na die aanvallers te stuur. Hulle het uiteindelik ná wat vir haar soos ’n ewigheid gevoel het, gevlug nadat sy haar bankkaart en PIN aan hulle oorhandig het en iemand glo die kode telefonies uit Bloemfontein geverifieer het. “Een ou het pertinent gesê hulle moet nou chise (wegkom) en dat die geheime kode geverifieer is, maar die ander een wou my eers verkrag.

Hy het gesê hy moet dit eers doen voordat hy my los. Ek’t vir hom gesê ek het dan gedoen wat jy my gevra het. “’Kan jy dit nie net los nie?’, het ek gevra. Ek’t so hard gebid dat hy sal luister. Ek het vir hom gesê die Here gaan hom seën as hy my sal aflos. Hy het my toe gelos.” Dié aanvaller het toe ’n kussing oor haar gesig gesit en die kamerdeur agter hom toegemaak voordat hy saam met sy twee makkers met klere, haar Samsung-selfoon en huissleutels gevlug het. ’n Wegkom-voertuig sou hulle glo langs die hoofpad kom oplaai.

Gaan soek hulp

Ná die aanval het Mimie van die bed af-gerol, die toue om haar hande afgebyt en sowat 5 km in die stikdonker na ’n nabygeleë plaas geloop om hulp te gaan soek. Mimie het nie daardie aand ’n motor by haar gehad nie. “Ek het baie gebyt en geknaag totdat die toue aan my hande uiteindelik los was. Daarna het ek die toue om my voete verwyder, stewels en ’n warm baadjie aangetrek en die huis se spaarsleutels gesoek voordat ek om hulp gaan soek het.” Een van die skuifdeure was gelukkig nie behoorlik gesluit nie en sy kon daar uitkom.

Mimie het gaan hulp soek in die teenoorgestelde rigting wat die aanvallers hulle uit die voete gemaak het. “Vir 5 km het ek in die donker nag geloop, al was ek deurmekaar en al het die vrees my steeds oorval. Gelukkig ken ek die plaas soos die palm van my hand.” Sy het toe die stikdonker nag ingevaar. Dít terwyl die bloed steeds by haar gesig afgestroom het. Sy het by ’n boer van ’n nabygeleë plaas hulp gaan soek, wat toe die nooddienste ontbied het. In daardie stadium was sy deurmekaar, vertel Mimie, en sy het buite inmekaargesak.

Toe sy bykom, het die boer by haar gewaak totdat die ambulans opgedaag het. Intussen is ander boere in die omgewing van die aanval in kennis gestel en hulle het al die paaie afgesper om te help soek na die misdadigers. Mimie sê daardie aand het sy gesien hoe baie steun daar is. “Boere gee nie om watter kleur jy is nie.

Kleur het nie vir hulle saak gemaak nie. Dit het gegaan oor hulle mede-boer wat in die nood was. Dit was hul medeboer wat hulp nodig gehad het.” Nadat sy die feite van die aanval aan die boere op die toneel deurgegee het, het sy haar broer, Willie, wie se nommer sy uit haar kop ken, gebel en van die aanval vertel. Sy sê die menslikheid van die boere en almal wat kom groet het, was ’n lig in ’n donker tonnel. “Hulle het uitgesprei opsoek na die aanvallers en gesweer hulle sal hulle aankeer.”

Willie en ander familielede het hulle na die hospitaal gehaas om deur die nag by Mimie te waak. Mimie is uiteindelik na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein vervoer, maar ná ure se gewag op behandeling is sy na MediClinic Bloemfontein vir behandeling gebring. Mimie sê tydens die aanval het daar soveel gedagtes deur haar kop geflits en was die vrees so werklik, maar te midde van dít alles het sy onophoudelik gebid.

“Here, ek glo nie dit is U Wil dat ek op só ’n manier moet sterf nie. Daar is soveel ongedane sake wat ek nog nie aan aandag gegee het nie, soveel dinge wat ek nog wil doen en bereik.” “En waarlik waar was die Here se Hand oor my lewe.” Sy sê haar ma, Elizabeth Jacobs, het tydens die aanval by haar opgekom en daarom het sy aanhoudend soos haar ma gebid, deurentyd met die booswigte saamgewerk en by hulle gepleit om haar lewe te spaar. Met haar terugkeer na die plaas ’n week ná die aanval, is sy oorval deur emosie en sit die trauma steeds rou in haar oë, terwyl sy die aanval herleef. Sy sê sy was en is steeds bang om op die plaas te bly, maar sy besef dís iets wat sy moes doen.

“Ek kon nie ophou huil nie, alles het weer voor my afgespeel. Ek is steeds bang. Daar is steeds ’n sekuriteitsprobleem, want dalk ken misdadigers die opset van die plaas. Ek slaap glad nie goed in die aand nie – as dit aand word, vrees ek van voor af. Die vrees gaan seker altyd daar wees. “Ek moet oor dit kom, ek moet sterker word. Ek wil nie gebuk gaan onder ’n las van vrees nie. Jy kan nie bang wees vir die lewe of om te bly boer nie. Ek gaan steeds boer, dit is steeds in my hart. Ek moet veiligheid opskerp, daar was ’n gaping in veiligheid en mense het dit geweet en dit vir hul eie gewin benut.”

Mimie sê sy besef elke dag opnuut dat die Here se hand oor haar lewe daardie aand was en dat dít nie haar tyd was nie en dat dinge soveel erger kon wees. Máár sy besef ook dat die boeregemeenskap, ongeag van velkleur mekaar veral in tye van nood ondersteun. “Terwyl ek in die ambulans behandel was, het tientalle boere ’n drukkie of ’n woord van bemoediging kom gee. Sowat 70 boere het dadelik bymekaargekom om na die booswigte te soek. Dit het nie vir hulle oor velkleur gegaan nie, maar oor mede-boere wat mekaar ondersteun en onderskraag in tye van nood.”

Ondersteuning

Mimie sê as daar een ding is wat sy uit die aanval geleer het, is dat misdadigers in zoom op die gaping tussen wit boere en boere van ander rasse. “Hulle benut sulke geleenthede, maar ons as boere moet dit nie toelaat nie. Ons boere-band moet nouer gebind word.” Haar grootste vrees is om weer alleen op die plaas te gaan bly, omdat die aanvallers steeds in besit van haar selfoon is, daar niemand nog aangekeer is nie en sy nie weet wie betrokke by aanval mag wees nie.

“Maar terugkeer, gaan ek. Ek kan nie toelaat dat hulle my vreugde van my steel nie. Ek gaan my vrees oorkom, ek moet net eenvoudig. Ek wil en gaan steeds boer. Boerdery is in hart in, my gene. Dit is wie ek is.” Maar vir eers sterk sy by familielede aan wat in dié moeilike tyd van trauma, min slaap en angs, meer as familie is.

“Hulle versorg my, sien om na my, luister na my as ek wil praat en troos my as dit te veel raak.” Hoewel die pad na genesing nog lank en ver is, vat sy dít dag vir dag tot dié dag wanneer sy uiteindelik gereed is om weer terug te keer na haar geliefde plaas wat sy ná jare se sweet, harde werk in ’n suksesvolle boerdery omskep het.

Ek moet oor dit kom, ek moet sterker word. Ek wil nie gebuk gaan onder ’n las van vrees nie. Jy kan nie bang wees vir die lewe of om te bly boer nie. Ek gaan steeds boer, dit is steeds in my hart.
Mimie


Só het plaasaanvalle toegeneem

• Plaasaanvalle het in die afgelope tien jaar landwyd toegeneem. In 2010 was daar 115 aanvalle en 64 moorde.

• In 2019 is 552 aanvalle aangemeld en bevestig – 27% meer as 2018.

• Altesaam 57 moorde is in 2019 gepleeg, drie meer as in 2018.

• Daar was tot dusver vanjaar 48 aanvalle landwyd, wat 7 plaasmoorde insluit.

• In Januarie vanjaar was daar 15 plaas- aanvalle en nie een moord nie. In Februarie was daar 21 aanvalle en 7 moorde.

• Die Oos-Kaap het die swaarste in Februarie deurgeloop met drie moorde, gevolg deur Gauteng met twee, KwaZulu-Natal en Limpopo met elkeen een plaasmoord.

• Die meeste aanvalle was op ’n Donderdag (16%), gevolg deur Vrydag (16%), Saterdag (15%) en Dinsdag (15%).

• Sowat 22% van plaasaanvalle word tussen 18:01 en 21:00 gepleeg; 20% tussen middernag en 03:00; 19% wat ná 21:01 en 24:00 voorkom.

• Die gemiddelde ouderdom van slagoffers is 55 jaar.

(Bron: AfriForum)


Wat is die impak op die gemeenskap?

Volgens dr. Jane Buys, ’n risiko-en-veiligheidsontleder van Vrystaat Landbou (VL), het altesaam 174 plaasaanvalle, wat 20 moorde insluit, vanaf 2016 tot 2019 in die Vrystaat plaasgevind.

Dit was sewe produsente, drie opkomende boere en nege werkers op plase of kleinhoewes.

Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, sê behalwe vir die hersiene landelike veiligheidstrategie doen die regering eintlik nie veel oor plaas-aanvalle nie. “Plaasaanvalle vernietig ’n gemeenskap, talle mense word dikwels ook werkloos gelaat.

Die trauma is egter die krisis. Boere organiseer hulself toenemend in plaas- en buurtwagte, met goeie skakeling met plaaslike veiligheidsrolspelers.

“Daarbenewens is hulle meer bewus van hulle veiligheid en doen meer moeite om paraat te wees, om sodoende moontlike bedreigings die hoof te kan bied en hulself, hul familie en hul werkers doeltreffend te verdedig.

Só word noodplanne opgestel en gereëld ingeoefen, wat lei tot vinniger en meer doeltreffend reaksie ná insidente.”

* Foto’s: Pierce van Heerden/Bloemfontein Courant en verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Misdaad  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.