Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vry aanlyn: Kliek-kliek jy’s gepick
5 Februarie 2020

Niemand kan stry dat die koms van die internet ons lewens onherroeplik verander het nie, maar min sou seker kon raai dat dít die plek gaan word waar mense na maats gaan soek.

Trouens, so baie mense is deesdae aanlyn om liefde te soek dat navorsing deur eHarmony, ’n verhoudingwebtuiste, gewys het 38% van mense wat wêreldwyd tussen 2018 en 2019 getrou het, hul lewensmaats aanlyn ontmoet het. Kenners voorspel ook dat meer as 70% van mense wat teen 2040 gaan trou, hul maats aanlyn sal ontmoet.

Verder voorspel hulle 2031 is wanneer die spreekwoordelike lyn oorgesteek gaan word en meer paartjies aanlyn as “aflyn” (met ander woorde mekaar vir die eerste keer in die regte lewe) gaan ontmoet.

Aanlyn-liefde is ook groot besigheid en in 2015 was die bedryf wêreldwyd na raming $1,5 biljoen werd. Na raming sal dié bedrag vanjaar tot $3,2 biljoen styg.

Daar is verskeie dating apps om van te kies en watter een jy gebruik, hang af van jou voorkeure en watter tipe verhouding jy soek. Daar is apps vir gays, Christene, ens.

Die meeste apps bied ’n gratis opsie, maar om ’n meer spesifieke pasmaat te vind en jou kanse op ware liefde te verbeter, moet jy gewoonlik tussen $9 (ongeveer R130) en $64 (R917) opdok vir ’n pakket vir drie maande.

Van die bekendste dating apps is Tinder, elitesingles.com en okCupid. Die meeste apps maak gebruik van foto’s en ’n stel vrae om mense met ander te match. Tinder was die eerste webtuiste wat swiping (waar jy na links of regs oor ’n foto vee om te wys of jy van iemand hou of nie) gebruik het, maar deesdae is dit hoe die meeste apps werk.

Die era van die internet en verhouding-apps het die poel van potensiële kandidate heelwat groter en meer toeganklik gemaak. Nou hoef jy nie jou soektog tot jou straat, dorp of land te beperk nie – jy kan nou letterlik oor die hele wêreld heen (of selfs die ruimte) soek as jy wil! Maar dit beteken nie noodwendig sake is nou makliker of veiliger nie, want ná 50 swipes moet jy steeds wag en hoop dat jy met iemand gaan match. Selfs nadat jy iemand gevind het, kan die eerste ontmoeting ’n ramp wees. Daar is ook geen waarborg dat hy nie oor homself gelieg het en dalk ’n reeksmoordenaar is nie! Maar moenie moed verloor nie, onthou die statistieke. Miljoene mense vind deesdae liefde aanlyn.

’n Ware connection

Johan Joubert (32) van Kaapstad sê hy kan nie kla nie, want hy het die liefde van sy lewe op Facebook ontmoet en is al vier jaar gelukkig getroud. “Ek het haar foto op ’n vriend se Facebookblad gesien. Ons het begin gesels, nadat ek haar ’n boodskap gestuur het en kort daarna het ons besluit om te ontmoet. Ons het onmiddellik van mekaar gehou en is ná drie jaar saam getroud,” sê hy.

“Voor haar het ek met baie meisies oor sosiale media en dating apps gesels, maar niks het daarvan gekom nie. Dit is maar ’n risiko wat jy neem. Daar is baie mense wat jou slegs op jou foto judge en jy sal moont-lik eers baie teleurstellings hê voordat jy die een vir jou vind. Maar hou aan, want sy is die moeite werd.”

Alison Oktober (28) van Kaapstad het haarself heeltemal van aanlyn dating apps verwyder nadat ’n man wat sy aanlyn ontmoet het, haar vir 11 maande gevolg het en selfs by haar werk en vriende se huise opgedaag of buite gewag het. “Ek was so bang en moes aan die einde van die dag polisie toe gaan vir ’n interdik. Ek het ook meer as R5 000 verloor toe iemand van wie ek baie gehou en jammer voor gevoel het vir my gejok het. Hy het gesê sy ma is siek. Hy het toe met my geld verdwyn. Aanlynliefde is nie vir my nie.”

Volgens die verhoudingkenner dr. Jeremy Nicholson, wat in sosiale en persoonlikheidsielkunde spesialiseer, maak dit nie saak hoe paartjies ontmoet nie solank hulle ’n konneksie maak wat hulle toelaat om saam ’n lewe te bou. Hy waarsku dat deel van die probleem met online dating die feit is dat vroue nie meer mans nodig het om vir hulle te sorg nie, so die standaard vir ’n lewensmaat is hoër omdat hulle avontuur en pret soek.

Moets & moenies

Selfs al gebeur die kommunikasie aanvanklik net aanlyn, moet jy steeds jou gesonde verstand gebruik sodat jy nie jou veiligheid in gevaar stel of finansiële skade ly nie.

Hier is ’n paar tips om veilig te bly:

1. Moet nooit jou persoonlike inligting uitgee nie, selfs nie eens nadat jy die persoon ontmoet het nie. Jou gevaarligte moet flikker as hulle wil weet hoeveel geld jy het of waar presies jy bly.

2. Maak seker jy het wagwoorde op jou foon of rekenaar wat nie maklik is om te raai nie en jy moet dit beslis NOOIT deel nie.

3. Ontmoet voornemende maats altyd in ’n openbare plek en maak seker iemand weet waar en met wie jy is.

4. Probeer altyd voornemende maats se naam, inligting en foto op ’n ander platform soos Facebook of Google se reverse photo search te bevestig.

5. Moet nooit vir mense jou huisadres gee nie.

6. Moet nooit foto’s met jou familie of vriende op ’n verhoudingwebtuiste of -app laai nie. Hulle kan dalk geteiken word.

Dit is maar ’n risiko wat jy neem. Daar is mense wat jou op jou foto judge en jy sal moontlik eers baie teleurstellings hê voordat jy die een vir jou vind.

Dating oor die dekades:

1900’s:

In daardie jare was daar nie eintlik regtig dating nie. Die mans in jou familie het die besluite gemaak en meestal besluit met wie die meisies trou. Jong vroue kon ook nie alleen in mans se geselskap wees nie en is altyd deur ’n chaperone vergesel.

Mense het eintlik eers regtig mekaar leer ken nadat hulle getroud is. Dit was ook baie ongewoon om met iemand te trou wat nie van dieselfde klas of ras was nie.

1920’s – 1940’s:

In die 1920’s het die konsep van dating begin verander. Dit was die tyd waarin paartjies op dates begin uitgaan het, wat ook beteken het dat hulle hul eie keuses begin maak het. Die begeerte om die sosiale leer te klim, het minder geword en die begeerte om ’n regte konneksie te maak, het groter geword.

1950’s:

In die vyftigerjare het die term hooking up (wat verwys na die feit dat jy nou iemand sien, maar nie noodwendig eksklusief is nie) sy kop uitgesteek. Op universiteitskampusse het paartjies hul besluit om eksklusief te word, bekend gemaak as die man ’n kledingstuk vir die vrou gegee het om te dra, soos ’n baadjie, trui of selfs ’n ring.

1960’s:

Vir ’n lang tyd kon mense nie oor seks praat nie, maar die 1960’s het dit verander. Skielik was seks voor huwelik normaal en het alle reëls oor verhoudings verander. Mense het gedoen wat hulle wou, met wie hulle wou, wanneer hulle wou.

1990’s:

Die internet het in 1991 die lig gesien en in 1995 is die eerste verhoudingwebtuiste Match.com gestig. Dit het die manier hoe mense mekaar ontmoet en leer ken heeltemal verander.

2020’s:

Vandag is daar meer as 500 verskillende aanlynverhouding-apps en voorspel kenners dat 90% van alle verhoudings teen 2045 aanlyn sal begin. Daar is ook verskillende platforms vir mense wat geskei is, wat gay is en wat gemik is op spesifieke ouderdomme. Die opsies is nou eindeloos, maar selfs met al die opsies is daar steeds mense wat nie geluk vind nie.

39% van mans wêreldwyd gebruik verhouding-apps

25% van vroue wêreldwyd gebruik verhouding-apps


Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.