Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gestremde agtjarige al 'n maand soek
getruida diergal, jeneva diergal

Dis ’n ma se grootste nagmerrie – jou kind verdwyn spoorloos. En tog raak ’n kind elke vyf ure vermis in Suid-Afrika, volgens Missing Children South Africa. Dit is amper 2 000 kinders per jaar! Volgens hul statistieke, word 77% van hierdie kinders gelukkig gevind, maar dit los steeds 23% leë bedjies en ouers met gebroke harte.

Een só ’n ouer is Gertruida Diergal (35) van Klawer, ’n klein dorpie in Namakwa-land in die Wes-Kaap.

Haar agtjarige gestremde dogter, Jeneva, het op 25 Januarie vanjaar verdwyn en weke later is daar nog geen leidrade oor waar sy kan wees of wat met haar gebeur het nie.

Wanneer ’n mens deur die rustige Klawer ry, omring deur die allermooiste berge en plase, kan jy jou amper nie indink dat enigiets hier verkeerd kan loop nie. Maar Donkerhoek-plakkerskamp het die plek geword waar Gertruida se grootste vrees bewaarheid is.

Dit was ’n doodgewone Vrydag. Gertruida, of Nana, soos haar familie haar noem, het rondom vieruur die middag vir Jeneva by Gertruida se suster, Juanita (24), gelos sodat sy gou kon dorp toe gaan.

klawer, diergal
Antie Maria hou nie op soek na Jeneva nie.

“?’n Mens kan nie vir Jeneva saamvat winkel toe nie. Sy raak benoud tussen baie mense en sy was te besig!” vertel Gertruida se antie, Maria Jantjies (44).

Jeneva (of Neva soos haar familie haar noem) en haar vierjarige niggie, Margery, het eers by Juanita gespeel, maar toe afgedwaal en voor Gertruida se huis gaan speel. Die laaste keer wat enigiemand vir Jeneva gesien het, was sy kaalvoet en het sy ’n kort, swart spanbroekie met ’n pienk Barbie-top aangehad. Wat hierna gebeur het, is steeds ’n raaisel.

Toe Juanita agterkom Jeneva is soek, het sy dadelik vir Gertruida ’n boodskap gestuur, so net voor sesuur, om te sê hulle kry Jeneva nêrens. “Ons het gesoek en gesoek. Ek ken mos vir Jeneva. As sy miskien verdwaal het, sou sy net daar gaan sit en wag het. Maar toe ons haar nie kon kry nie, is ons polisiestasie toe,” onthou Gertruida.

Die Saterdag het die familie werklik die erns van die situasie begin besef en bekommerd begin raak. “Dis toe dat my ma sê miskien het iemand haar gevat. Maar daar is niks. En niemand het enigiets gesien nie. Niemand sê iets nie. Daar sit altyd mense, maar daai dag lyk my was daar niemand nie. Nou dink ek my kind is gevat, maar dit moes ’n bekende mens gewees het. Ek voel dit aan,” vertel Gertruida.

Antie Maria voeg by: “Party mense sê Jeneva het agter haar ma aangehardloop winkel toe, maar sy sou dit nie doen nie.”

Jeneva se regterarm is gestrem en sy praat en beweeg nie normaal nie. Sy ly ook aan epilepsie. Tog is sy ’n opgewekte, besige meisie wat nie toelaat dat haar gebreke haar terughou nie. Sy is altyd vol grappies en storietjies en is lief daarvoor om op en af te speel, ’n woelige kind. “Sy is ook baie slim en het goed verstaan,” vertel die ma trots.

Almal soek

Getruida Diergal, Jeneva se ma, word deur haar ma, ouma Berlina Saxon (links), en antie Maria Jantjies (Getruida se antie) ondersteun.

Die gemeenskap en plaaslike polisie het saamgetrek en vir dae aaneen geroep en gesoek, maar tevergeefs. Daar was selfs ’n duik-eenheid wat die kanaal gefynkam het wat deur die area loop en ’n helikopter het ook help soek. Die gesin en verskeie gemeenskapslede soek al vier weke onverpoos na Jeneva. Mathilda Baines, ’n plaaslike raadslid, was persoonlik betrokke by elke soektog en het ook geld ingesamel as beloning.

Sedertdien is daar amper soveel teorieë en stories oor wat met Jeneva kon gebeur het as wat daar mense op Klawer is. Dit lyk asof almal hul eie idee het oor haar lot. Iets wat dit moontlik aanspoor, is die beloning van Rxxx wat uitgeloof is.

Tog het elke leidraad wat die gesin en die polisie tot op hede gekry het, in ’n doodloopstraat geëindig. Dis ’n teer saak.

“Dis omdat al die stories stink. Dis opgemaak. ’n Mens praat nie net soos jou mond staan nie,” glo Maria.

Sommige mense dink Jeneva is gevat en vir muti verkoop. Ander glo weer ’n man van Clanwilliam het haar gevat. Mense skinder dat Gertruida daardie Vrydag loop drink het en nie haar kind opgepas het soos sy moes nie. Nog ’n storie wat die gemeenskap op hol gehad het, was dat Gertruida self haar dogter vir R300 verkoop het aan ’n swart man op Klawer.

“Die polisie het my by die huis kom haal en gesê ek het vir Jeneva verkoop en ek moet nou vir hulle sê aan wie. Hulle wou my opsluit! Die polisie glo nou die goed, enige ding wat inkom, want hulle voel hul hande is afgesny,” meen sy. Nadat die polisie haar blykbaar vir baie lank oor en oor oor dieselfde goed ondervra het, het hulle haar laat gaan. “Maar watse ma sal haar kind verkoop? Dít vir ’n R300,” wonder sy.

Kort nadat Jeneva as vermis aangemeld is, het ’n man wat bekend is aan die familie, na vore gekom om te sê hy het haar in die middel van die N7-hoofweg gesien op pad terug van Vanrhynsdorp af. Luidens gerugte het hy haar op die kant van die pad gesien speel.

Vir Gertuida en haar gesin is hierdie storie egter te dik vir ’n daalder. “Die kind kon nie so ver gestap het nie. En as sy het, sou iemand haar raakgesien het, want sy loop nie soos ander kinders nie. Sy stap nie, sy hol. Jy kan van ver af sien dis sy,” verduidelik dié ma van vier. “Ja,” beaam antie Maria, “En watter tipe mens los in elk geval ’n kind wat jy ken in die pad. Jy sal haar mos huis toe vat na haar mense toe!”

Maar deesdae kan ’n mens nie eens meer ’n kind vertrou nie – hoe weet jy daar is nie volwassenes agter die bos wat vir jou wag om te stop en jou dan oorrompel en beroof nie? Of hoe weet jy jy gaan nie beskuldig word van allerhande booshede wanneer die kind by jou gevind word nie?

Verpletterd

getruida diergal, jeneva diergal
Getruida Diergal van Klawer is verpletterd oor haar agtjarige dogter, Jeneva, se verdwyning

Terwyl die donker reënwolke onheilspellend oor die berge borrel, is dit asof ’n oorweldigende hulpeloosheid oor die gesin kom. Daar is so baie plekke waar hul dogtertjie kan wees. Soveel bossies, ’n kanaal wat vir kilometers strek, en dan shack-op-shack-op-shack. Sedert daardie verdoemende Vrydagaand wat Jeneva vermis geraak het, woon Gertruida en haar ander kinders by haar ma, Berlina Saxon (59), op ’n plaas buite Klawer. Die herinneringe in Donkerhoek is net te vars in Gertruida se eie plek. “As ek daar kom, voel dit vir my sy kyk vir my uit een van die ander hokke. Ek voel haar daar. Dat sy my kan hoor en my kan sien, maar my nie kan roep nie. Dit voel sy dink ons het haar net daar gelos, dat ons nie omgee nie. Dat ons haar nie meer soek nie,” snik sy saggies terwyl trane van verlange en seer oor haar wange rol.

Die ander twee vroue stem saam.

“Iewers moet Jeneva wees. As ons op pad is na haar huis toe, dan is dit daai gevoel wat ek aanmekaar binne my kry – Jeneva is iewers en sy kyk vir ons. Hoekom my hart so seer is, is omdat sy dalk dink ons stel haar teleur. Sy is by vreemde mense, sy weet nie wie dit is nie en ons kom haal nie vir haar nie,” verduidelik Maria. Maar hulle hou nooit op soek nie. “Soos ons loop, loop en soek ons. As ek en my man ry, sê ek vir hom hy moet stadiger, want ek wil soek. Ek kyk oral. My oë is al so gefokus. Want net per ongeluk staan Jeneva miskien daar en dan sien ons haar nie.”

Diep binne-in haar glo Maria dat Jeneva nog op Klawer is. So nie, is daar iemand daar wat weet waar sy is, of wie haar verkoop het.

Ouma Berlina is al so moedeloos en hartgebroke sy kan amper nie meer daaroor praat nie. “Hoekom sal jy net ’n eenvoudige kind vat? Ek weet nie meer nie,” sê sy afgetrokke en tuur oor die yard.

Dis asof sy haarself afgesny het van die wêreld waarin haar Jeneva nie meer is nie. Want dié borrelkind het tot begin vanjaar tussen haar en haar suster, antie Maria, se huise op die plaas grootgeword, toe sy uiteindelik plek gekry het in die skool op Klawer. “Sy was heeltyd hier by my. En toe stuur ek haar Donkerhoek toe om skool toe te gaan en toe gebeur dít nou. Ek weet nie of sy sal terugkom nie,” fluister ouma Berlina met ’n stem wat kraak van emosie. Sy het van die begin van die tragedie af elke paar dae die twee ure se stap aangedurf dorp toe om te hoor of daar al nuus is.

“Ek kan nie glo sy kon sommer net so verdwyn nie,” prewel sy. “Hoe is so iets moontlik? Hoe loop ’n kind, ’n gestremde kind daarby, verby baie mense en niemand sien haar nie? Ek het gesê hulle moet dáár (Donkerhoek) gaan hokke oopmaak en kyk, maar nee,” sê sy vies. Volgens die gesin het die polisie daardie aand mense wat ingestem het se huise deursoek, maar sonder lasbriewe kan hulle nie sommer enigiemand se huis betree nie en sonder bewyse is dit amper onmoontlik om dit te bekom.

jeneva diergal
Jeneva is al sedert einde Januarie soek.

“Ek kan nie meer dink nie. Ek vat maar elke dag soos dit kom, maar dis baie seer. Ek mis vir Jeneva die hele tyd,” vertel antie Maria, wat amper soos Jeneva se ander ouma was. “Sy sit nie vir een oomblik stil nie. Sy loop by die huise waar sy die mense van ken. Maar sy gaan nie daar loop om daar te sit vir ure en ure nie. Sy sal net daar natmaak en dan loop Jeneva weer huis toe. Sy weet presies waarnatoe om te loop. Sy gaan nie ’n ander straat vat of ’n ander ding doen nie.”

Volgens Maria was daar baie stories en die polisie het gesê hulle moet elke leidraad opvolg. “Daai dae wanneer dit so 40 grade was, dan loop ons in die veld en soek. Elke dag wat die Here gee, loop ons en soek. Maar ons kry haar nêrens.”

Antie Maria vertel sy is deesdae so raadop sy het al vir die Here gevra as dit dan moet, moet Hy leidrade uit die mond van ’n dronk mens stuur – iemand wat te heilig is as hulle nugter is, maar dat die waarheid dan uitkom wanneer hy gedrink het. “Maar hoekom vat jy iemand anders se kind? Dis dan nie jou kind nie. Wat wil jy met haar maak? Hoekom? En dan Jeneva van alle kinders, wat nie eens ’n vlieg kan seermaak nie. Wat is die use? Sê net wat jy wil hê – geld of ’n kar of skoene, enige ding – dan gee ons dit vir jou. Bring haar net terug. En as sy dan dood moet wees, gee dan vir ons die liggaam dat ons kan vrede vat,” pleit sy en gooi haar hande in die lug.

Antie Maria sê sy probeer maar elke dag lag en sterk staan ter wille van Gertruida en Berlina, maar haar hart is in skerwe.

Sal nie weg loop nie

Getruida staan voor haar plek waar Jeneva laas gesien is.

Wat die drie vroue amper die meeste laat wonder, is dat Jeneva ’n skaam meisie is wat nie van vreemdelinge hou nie. “Sy sal nie saam met jou geloop het as sy jou nie ken nie,” verduidelik Gertruida beslis. Die dae is deesdae maar lank en eensaam vir Gertruida, haar drie ander dogters (onderskeidelik sewe, vier en twee), ouma Berlina en antie Maria.

“Ek mis haar die meeste saans net ná sononder, veral wanneer dit was-tyd is. Sy is so lief vir bad. Elke namiddag-skemer kom daai diep verlange. En as ek so lê dan is haar plekkie in my bed leeg, want Neva is nie daar nie. Soggens voor ek wakker word dan hoor ek haar roep ‘opstaan!’. Vir my voel dit sy lewe nog. My hart is nog nie daar dat ek kan sê my kind is... Sy is nie meer met ons nie. Ek weet nie watse mense is saam met ons op aarde nie. My hart sê vir my my kind lewe. Sy is by ons, ons weet net nie waar nie. Ek het nog altyd daai verwagting sy kom netnou huis toe.”

By navraag het sersant Noloyiso Rwe-xana van die SAPS Wes-Kaapse mediasentrum bevestig Jeneva word nog vermis, dat sy gesoek word en hoewel die polisie onverpoos saam met belanghebbendes werk en alle leidrade opvolg, is daar nog geen nuwe verwikkeling nie.

“Ons vertrou maar op die Here en sy genade,” fluister antie Maria terwyl sy saggies oor haar oë met ’n verwronge tissue vryf.

Volgens Bianca van Aswegen van Missing Children SA (MCSA), gee hulle nooit op nie. “Daar is altyd hoop, maar in Jeneva se geval is tyd beslis teen ons. Al is sy al geruime tyd weg, gee ons as organisasie nooit moed op om ’n kind lewendig te vind nie.” Sy kan nie verder kommentaar lewer op Jeneva se verdwyning nie omdat die soektog en ondersoek nog aan die gang is. Tog, sê sy: “Kinders wat vir langer periodes weg is en lewend gevind word, het gewoonlik hulp nodig afhangende van die situasie en wat met hulle gebeur het.” In haar ervaring bly families altyd hoopvol omdat daar altyd hoop is om ’n kind weer te vind. “As ouer sal jy nooit moed opgee nie totdat daar ‘closure’ is – totdat jou kind gevind is, hetsy lewend of dood.”

Bianca sê Jeneva se saak sal by die polisie oop bly totdat sy gevind word, dat hulle steeds soek en alle leidrade opvolg. Sy wil mense aanmoedig om nie te wag voordat hulle iemand as vermis aanmeld nie. “Daar is geen wagperiode om ’n vermiste aan te meld nie. Hoe gouer hoe beter om die kind veilig op te spoor.” 

jeneva diergal
Jeneva is al sedert einde Januarie soek.

Kontak

Enigiemand wat dalk inligting het oor Jeneva se verdwyning, word aangemoedig om vir kaptein Leon Matthys van Vredendal se Familie- en Kindereenheid te kontak by 082 334 8862 of die Klawer-polisie by 027 201 6806.  

MCSA sê beskerm jou kinders só:

Ken die name, adresse en nommers van al jou kind se vriende.

Leer jou kind haar eie naam, adres, jou naam en telefoonnommer.

Leer jou kinders om 'n geraas te maak wanneer 'n vreemdeling hulle nader.

Leer jou kind om nooit alleen te loop nie en moenie jou kind alleen winkel toe stuur nie.

Meld jou kind as vermis aan

Moenie 24 uur wag voordat jy jou kind as vermis aanmeld nie.

Vul so gou moontlik ’n SAPD 55-vorm in by jou naaste polisiestasie.

Kontak MCSA by 072 MISSING (647 7464) en gee dié inligting: Naam en ouderdom van die vermiste kind, omstandighede rondom die verdwyning, die saaknommer, betrokke polisiebeampte en mees onlangse foto van die kind.

Meer oor:  Vermiste Kinders  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.