Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wat die hart van vol is
11 Julie 2018

“Gaan maak ’n verskil.” Met hierdie inspirerende woorde van hul dosente verlaat menige begeesterde aspirant-onderwysers hul verskeie tersiêre instellings en vaar hulle die diverse skole van Suid-Afrika in. Jonk, energiek, vol idees en gretig om dáái verskil te gaan maak waaroor daar vier lange jare gepreek was.

En soos dit ’n goeie nuwe besem betaam, vee die juffroue en menere nogal skoon wanneer hulle die onderwysstelsel betree. Maar vir baie van dié “verskilmakers” ontaard die eens edele beroep in ’n lang nagmerrie.

Verlede jaar is ’n onderwyser in die noorde van ons land sinneloos vermoor en ek het die nuus aandagtig gevolg. Onderwysers van regoor die land was in rep en roer en het hul kommer en vrees uitgespreek oor die geweld in ons skole. Pleidooie om die lyfstraf terug te bring, is uit alle oorde gerig.

Dis daarom geen verrassing dat daar so ’n enorme uittog van jong én ervare Suid-Afrikaanse opvoeders is wat besluit om hul heil in die vreemde te gaan soek nie. Met ’n lang lys van regte wat leerders geniet, word die handjievol regte wat opvoeders het, dikwels misken. ’n Klag van die leerders se kant af, hoe klein ook al, sal ten alle tye deeglik deur die departement ondersoek word om hul menseregte te beskerm. Maar wanneer daar ’n klag van die opvoeder se kant is, sal daar eers ondersoek ingestel word om te kyk wat die leerder gedryf het om disrespek teenoor die oppergesag te toon.

Waar is die dae van “Ja, Juffrou” en “Nee, Meneer” en basta met die res! Deesdae moet opvoeders behoorlik op hul onderlip byt voor hulle ’n woord uiter, want enige vorm van ordentlike berisping sal beskou word as ’n skending van die “onskuldige leerder” se menseregte.

Ek vervies my gereeld vir die uitgesprokenes wat sê onderwysers het die “lekkerste” werksure. Wie kan kla as jy teen skuins ná drie tuis is en boonop het jy nog vier keer per jaar vakansie!

Deesdae moet opvoeders op hul onderlip byt voor hulle 'n woord uiter.

Slegs ’n oningeligte sal dink dat bogenoemde waar is, want die daaglikse skedule van ’n opvoeder is genoeg om enigeen teen die mure uit te dryf, smekend vir ’n blaaskans. Om vir die meer­derheid van jou werksdag jou stembande die werk te laat doen (dikwels harder as wat hulle veronderstel is om te werk), berader te speel, afrigter te wees ná jy jou primêre taak verrig het, jou veiligheid op die spel te plaas deur tussenbeide te tree as daar moeilikheid is, goed uit jou eie sak koop om “ander se kinders” te bemagtig met kennis en hulle te help om ’n beter toekoms uit te kerf, is ’n taak wat nie gering geskat moet word nie.

Voeg hierby ongedissiplineerde leerders wat geen benul het wat die definisie van respek is nie (goeies uitgesluit), ontydige besoeke van omgekrapte ouers gereed om aan te val, administratiewe rompslomp en hope nasienwerk, dan sal ’n mens bietjie meer simpatie én empatie met die persoon voor in die klas het.

Ek haal dus my hoed af vir my kamerade wat daagliks, onseker of hulle weer heel gaan terugkeer na hul geliefdes, steeds opstaan om dáái verskil in iemand se lewe te gaan maak. Ek salueer die meneer en juffrou wat ten spyte van dreigemente deur leerders en ouers, afbrekende woorde, disrespek en oorlading van werk, steeds vorentoe beur om ander se drome te verwesenlik.

Hoe hartseer is dit nie dat die mense wat vir die meerderheid van die dag in die plek van ouers staan, nou moet vrees vir hul veiligheid nie? Hoe het dit gebeur dat dié wat eens aansien in hul gemeenskap gehad het, nou verneder word?

Op 16 Junie 1976 het leerders opgestaan vir hul regte en baie van hulle het tragies hul lewens verloor. Dis tyd dat opvoeders óók opstaan vir hul regte en die departement tot die besef dwing dat geen skool kan funksioneer sonder daardie mense wat elke dag in vrees werk nie. Mag God die dapperes beskerm wat elke dag voor ’n klas staan.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.