Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Wat die hart van vol is
6 Maart 2019

Ek en ’n vriendin gesels nou die dag oor ditjies en datjies en die topic van liefde duik op.

Ek dink liefde is iets wat jy koester. Liefde is omgee. Die Bybel sê so mooi dit verdra alles en vergewe alles. Liefde oordeel nie. In die liefde is daar nie iets soos die kleur van jou vel of die taal wat jy praat nie. Liefde is die rede hoekom Jesus aan die kruis vir ons gesterf het. Ek word elke keer getref met die wete dat iemand my so liefhet dat Hy gekies het om verneder en doodgemaak te word vir my sonde, sodat ek nie verlore sal gaan nie.

Soos ek en my vriendin verder praat, kom ons uit by dié vraag: Is ons deel van ’n generasie wat te maklik opgee as dit by die liefde kom of is ons net vryer en meer gevorderd? Wel, ons het hard gedink oor wie nou eintlik die regte konsep van liefde het: toeka se mense of deesdae se jong mense?

In die ou dae, soos ons al hoeveel keer by ons ouers gehoor het, was daar nie enige toestelle en gevorderde tegnologie nie. As jy lief was vir iemand het jy ouers gaan vra, toestemming gekry en kinders by dosyne gehad.

Vandag verloop dinge ietwat anders. Eers boodskappe by dosyne, julle ontmoet, ’n aankon­diging op Facebook van jul verhouding gevolg deur ’n hoop likes en wow-reaksies en só gaan die lysie aan. Jy hoef net in te log op Facebook om te verstaan wat ek bedoel. Maar dis nou maar hoe die lewe nou is.

Wat ek wel dink, is ons kan baie leer by ons oupas en oumas. Hulle sal jou leer as iets breek, maak jy dit reg. Om weg te hardloop, is nie ’n opsie nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, natuurlik is daar situasies waar wegloop die beste is en daaroor hoef niemand skuldig te voel nie.

As jy in ’n situasie is waar jou emosionele en fisieke welstand in gevaar is, moenie huiwer om jouself eerste te stel nie. Die begraafplase en hospitale is vol van mense wat hulself telkemale oortuig het die ander persoon sal verander. Omdat liefde vergifnis is, beteken dit nie jy moet bly nie. ’n Mens kan iemand vergewe sonder om daardie persoon weer in jou lewe te wil hê.

Wat ons by ons grootouers kan leer, is om meer tyd saam te spandeer eerder as op sosiale media.

Om terug te kom by die punt hoekom die ou mense ons ’n stappie voor is. Ons is geneig om vinnig op te gee veral omdat ons wil hê die lewe moet soos ’n movie wees waar almal een perfekte partner het. Maar dit is nie en dan vervang die jonger generasie so vinnig maats, dis eintlik scary. Sosiale media het ’n platform geword waar ons ons liefde meer vir mekaar wys as wat ons in persoon doen.

Ek hoor die ander dag ’n paartjie voor my in ’n winkelsentrum gesels en die ou wil by haar hoor of hy daardie aand by haar moet kom kuier. Sy antwoord doodluiters, “Nee. Dis fine. Ons Skype sommer”.

Dít het my by dié topic gebring: Ek het begin wonder of die jonger generasie besig is om ’n nuwe konsep van liefde te ontwikkel. Is ons so besig dat ons mekaar eerder aanlyn vry? Te besig dat ons eerder probleme aanlyn probeer uitwerk? Te besig met ander goed as om in persoon vir mekaar ons liefde te wys?

Ouma en oupa het nie honderde volgelinge op sosiale media gehad wat iets te sê het oor hul verhouding nie. Hulle het ook nie horde posts oor hul persoonlike lewe opgesit nie. Ek dink hulle was te besig om saam gehaltetyd te spandeer.

Ons kan egter tog iets by die jong mense leer. Jare gelede toe Oupa in die oorlog was of weg gewerk en vreeslik na Ouma verlang het, was daar nie goed soos Skype nie. Vandag is daar. En as dit reg gebruik word, is dit ’n goeie oplossing vir talle paartjies. Wat ons by ons grootouers kan leer, is om meer tyd saam te spandeer as op sosiale media.

Ons almal moet leer om liefde op ’n sterk fondasie te bou. Sosiale media is nie altyd ’n slegte ding nie, maar ook nie altyd goed nie. Hoewel almal waarskynlik ’n ander definisie van die liefde het, ervaar ons tog almal dieselfde gevoel. Kom ons leer hoe om mekaar reg lief te hê.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.