Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wat die hart van vol is
11 Julie 2018

Ek wou nog altyd vir my ma ’n brief skryf soos die mense van wie ek geleer het, soos Antjie Krog en Fernel Abrahams. Nes Antjie gaan ek “jy” en “jou” sê, want my ma het my geleer respek is meer as net taal.

Só lyk my brief:

Liewe Mammie, somtyds staar ek na jou as jy met my praat. Ek bestudeer die plooie op jou gesig; hoe dit aansluit by die donkertes rondom jou oë en uitsprei na jou mond. Ek dink nie die plooie is ’n refleksie van jou ouderdom nie, maar liewer ’n getuienis van jou lewe. En soveel van jou plooie is as gevolg van jou onvoorwaardelike liefde vir my.

Mammie, ek weet nie hoe om die taal waarmee jy my grootgemaak het, te gebruik om te sê wat jy vir my beteken nie. So, ek gaan van my herinneringe gebruik om jou te wys hoe spesiaal jy vir my is.

Ek het nou die dag aan my eerste skooldag gedink. Ek onthou hoe jy my tussen jou bene laat staan en my gesig blink met die Vaseline gesmeer het. Nadat jy my gesig blink gepolish het, het ek my oë oopgemaak en in jou glimlag vasgekyk. Jou glimlag het tot in jou oë gestrek, want jou bedrywige gladdebekkind gaan skool toe. Ek dink Mammie was ’n bietjie verlig, want nou kon iemand anders al my vrae beantwoord.

Jy het gelag toe ek die Saterdagoggend wakker word en my skoolklere aantrek om skool toe te gaan. Jy kon nie glo ek is so opgewonde om te leer nie. Ek besef jy het my geleer om hardwerkend te wees. Ek kan op my een hand tel hoeveel keer jy al uit die werk gebly het. Jy het vroeg opgestaan sodat jy vroeër by die werk kan wees om jou dag uiteen te sit. Al was dit nie jou droomwerk nie, het jy dit met soveel toewyding en passie gedoen. Jy het my geleer jou tipe werk bepaal nie hoeveel moeite jy moet doen nie. Ek het by jou ’n werksetiek geleer waarvoor ek so dankbaar is. Soos jy altyd sê: jou werk is ’n refleksie van jou.

Ons het nie maklik grootgeword nie. Ek het een keer voor jou deur gestaan en jou hoor huil. Ek het geweet dis omdat jy nie werk kry nie en daar nie kos is nie.

Jy het my geleer hoe om lief te hê, maar belangriker hoe om vir myself om te gee en lief te wees.
Earl Basson

Maar jy het ’n plan gemaak; jy het ge-hustle. Om op ’n ashoop te sit, was nie ’n opsie nie, want dinge sou nie beter raak as jy met jou hand in jou palm sit nie.

Soms terg jy my omdat ek so besig is, maar dis omdat jy my geleer het om te hustle. Jy het my laat verstaan ons omstandighede is nie ideaal nie, maar dat daar geleenthede is om dit te verander. Soms het dit vereis dat ek ’n antie se kombuis moet skoonmaak vir ’n brood se geld of om treine en taxi’s te vat om my plek by ’n universiteit te verseker. Maar ’n ashoop was nooit ’n opsie nie.

Met al die struikelblokke op ons pad, het jy my steeds geleer om te lag. Ek hou van hoe jy lag; jou oë trek plat, jy sit altyd jou hande op jou mond en jou maag en jou stem slaan weg. Jy het veral so lekker gelag as jy my in die oggende wakker maak omdat jy verveeld is. Jy het saggies in die kamer gesluip, my voete gekielie en dan lag-lag uitgehardloop. Of jy het my geterg oor my ronde groottoon, wat ek steeds glo ek by jou geërf het.

Mammie, jy is die mees ondersteunende mens wat ek ken. Ek het jou gebel met trane wat oor my wange rol en gesê ek wil nie meer op universiteit wees nie, want ek pas nie in nie. Jy het my herinner aan hoekom ek in die eerste plek wou gaan. Jy het my aangemoedig om my passie vir tale te volg en my nie in jou idee van ’n perfekte beroep gestuur nie.

Vir my is jy die toonbeeld van menslikheid. Jy het my geleer hoe om lief te hê, hoe om vir ander om te gee, maar belangriker hoe om vir myself om te gee en lief te wees.

Ek is nie jammer oor hoe ek uitgedraai het nie, want ek weet jy het my lief nes ek is. Dit maak nie saak waar ek myself bevind nie, ek weet jy is my veilige hawe. Ek het jou verskriklik baie lief. Baie dankie dat jy my ma is. Gelukkige Moedersdag, Isobel Basson.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.