Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
7 Augustus 2019

Die wêreld waarin ons leef, is maar ’n tawwe een vir vroue, tog bly ons sterk. Ons moet veg teen baie dinge in die samelewing en ons almal kom elke dag voor baie van dieselfde uitdagings te staan.

Die media en televisie wys ons om elke hoek en draai hoe ons nie volmaak is nie – hoe lank ons hare nié is nie, hoe maer ons nié is nie en hoe ryk ons nié is nie. Hulle probeer ons as vroue oortuig ons is minder werd as wat ons regtig is. En sommige van hulle kry dit reg om ons sleg oor onsself te laat voel.

Die res van die wêreld het jou oortuig jy is nie ’n vrou as jy nie getroud is nie of as jy nie kinders van jou eie kan baar nie. Maak ’n eggenoot van jou ’n vrou? Maak ’n ma-wees jou ’n vrou?

Ek glo vrouwees gaan oor iets dieper. Vrouwees is so uniek. Ons almal is enig in ons soort en bied iets besonders aan die samelewing.

Die verwagting wat gestel word vir ons as vroue is oorweldigend. Jy voel outomaties jy faal as jy nie die standaarde kan bereik wat mense vir vroue daarstel nie. Jy voel soos ’n mislukking omdat jy nie elke dag met hakskoene kan trotseer nie, omdat sexy onderklere nie in jou begroting is nie en omdat jy nog altyd sukkel met daardie maagvet wat net nie wil wegsmelt nie.

Soveel druk word op ons geplaas om perfek te wees. Ek is van mening vrouwees is dit wat binne jou is. Dis jou omgee en sagtheid waarmee jy die lewe aanpak. Dis die manier hoe jy ander rondom jou liefhet. Vrouwees vir my gaan oor daardie oomblikke wat vroue bymekaarstaan en mekaar help in goeie en slegte tye.

Dis daardie oor-die-tafel-sein wanneer een vriendin vir ’n ander wys sy het iets in haar tande sonder dat enigiemand anders hulle hoor of sien. Dis daardie oomblik wat almal tegelyk in hul sakke rondvroetel vir ’n sanitêre doekie vir ’n suster in nood. Daar is soveel klein goed waaruit vrouwees vir my bestaan, maar dis juis die klein goed wat maak wie ons is.

Vroue se rol – rolle wat aanvanklik deur mans bepaal is – in die lewe het oor die jare so baie verander.

Eers moes ons net kinders grootmaak en in die kombuis wees. Vandag is ons besigheidseienaars, leiers en mentors. Tog is daar konstante druk om beter as die volgende vrou te wees. Dis asof ons teen mekaar afgespeel word.

My ma sê altyd so mooi – ’n mens hoef nie vir enigeen terug te staan nie, want daar is ’n plekkie vir ons almal onder die son. Dis iets wat my bybly op dae wanneer ek nie so selfversekerd voel nie. Net die wete dat ons almal ’n verskil kan maak in die wêreld laat my gerus voel.

Jy kan ’n verskil maak deur te wees wie jy is. Ek lees nou die dag om iemand te komplimenteer of te help, vat niks weg van jouself nie. As ons dit meer toepas, sal ons dalk sien hoe waar dit is.

En dan is daar selfaanvaarding. Iets waarmee baie vroue sukkel juis oor die goed wat ek al genoem het. As jy aanvaar wie jy is en weet wat jy wil hê, hoef jy nie bedreig te voel deur enigeen nie.

Om jouself lief te hê en te aanvaar, is die beste geskenk wat jy vir jouself kan gee. Hoe meer ons lief is vir onsself, hoe meer straal ons liefde uit.

Die mooiste gebaar wat ek al ooit gesien het, is hoe vroue mekaar ophelp. Ons is soveel sterker as ons saamstaan en ons is soveel meer werd as wat die wêreld ons probeer oortuig. Ons kan fenomenaal wees sonder om die waardigheid van iemand anders aan te tas.

Ons waarde is onmiskenbaar en word nie gekenmerk aan ons voorkoms of hoe suksesvol ons is nie. Vrouwees is diep in ons. Ons harte loop oor van liefde en daar is ’n plekkie vir almal in ons harte. Sonder ons sagtheid en egtheid is die wêreld ’n koue plek. As ons net meer kan besef hoeveel ons beteken.

My wens vir alle vroue is dat elkeen moet aanvaar wie sy is. Omhels elke klein ding wat jou jóú maak. Jy is vrou-genoeg. Jy is volmaak nes jy is.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.