Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wayne McKay laat almal steeds lag
2 Oktober 2019

Sy eerste vertoning voor mense was ’n ramp, maar hy het oorleef en uit sy dop gekruip. En nou 18 jaar later laat hy steeds gehore skater!  

Die komediant Wayne McKay.

Enigeen wat al die Kaapse komediant Wayne McKay in aksie gesien het, weet dié man kan jou laat lê van die lag. En op 43 is hy nog ver van klaar! Maar Wayne het nooit gedink hy sou eendag sy brood en botter verdien deur mense te laat lag nie.

Want kyk wat het gebeur toe hy as kind moes deelneem aan sy kleuterskool se Kersvertoning. Wayne vertel hy was so skaam dat hy die hele vertoning met sy rug na die gehoor gestaan het.

Vir twee weke ná die konsert het almal hom daaroor gespot. Hy het homself toe belowe hy sal nooit weer weg van ’n gehoor draai nie en vandag tree hy elke week voor honderde mense op. Met soveel mense wat voor hom sit en soveel oë wat na hom kyk, vat sy optredes hom dus behoorlik uit sy comfort zone uit.

Wayne meen dit is deel van die rede hoekom hy vir soveel jare al in die bedryf is en hoekom hy steeds relevant bly. Hy vertel eers gou ’n grappie in die koffiewinkel waar ons sit en gesels en dan sê hy ernstig dit is belangrik om nog ’n bietjie bang te wees wanneer jy op die verhoog gaan, want dit beteken dat dit nog belangrik is vir jou. Hy waarsku dat komediante nooit so selfversekerd moet wees om te dink dat hulle almal in die gehoor sal laat lag nie.

Almal gaan nie altyd dink jy is snaaks nie en daar-van hou wanneer jy oor sekere onderwerpe praat nie, maar jy moet op jou voete dink en jou gehoor lees.

Connect met gehoor

Wayne, wat al altesaam 18 jaar professioneel komedie doen, maak nie nog grappies wanneer hy praat oor die belangrikheid daarvan om jou gehoor te respekteer nie. “Almal gaan nie altyd dink jy is snaaks nie en daarvan hou wanneer jy oor sekere onderwerpe praat nie, maar jy moet op jou voete dink en jou gehoor lees. Dit is nie iets wat alle komediante kan doen nie, maar dit is ’n belangrike eienskap om te hê,” sê hy.

Volgens Wayne dink baie mense hulle wil komediante wees omdat hulle snaaks is, maar om snaaks te wees, is nie goed genoeg nie. “Jy moet jouself en jou gehoor kan push, seker maak jy het altyd nuwe materiaal en dat jy bybly met die tye.”

Wayne sê al was dit nie aanvanklik sy droom om ’n komediant te word nie, het hy nie verwag om so baie daarvan te hou toe hy dit as ’n stokperdjie begin doen het nie. Hy luister van kleins af na komediante omdat sy ouers tydens sy grootwordjare in Kensington, naby Kaapstad, elke naweek na komedieradio geluister het. Hy glimlag nou nog breed wanneer hy aan almal se skaterlag dink. Dit is hierdie slap stick komedie waarna hy elke naweek op die radio geluister het wat hom geprikkel het, vertel hy.

Hy voeg by hy hou netso daarvan om sy maag lekker seer te lag soos wat hy ander mense laat lag. Dit is ook waar sy liefde vir komedie, radio en flieks begin het. Wayne glo dit is sy waarnemings en die feit dat hy so intens op sy gehoor konsentreer wat tot sy sukses lei.

Terwyl hy voel ouer komediante soos hy kan wel baie dinge by nuwe komediante leer, voel hy hulle steun te veel op sosiale media, kort video clips en spesifieke onderwerpe. Volgens hom is dít die rede hoekom hul loopbane nie baie lank hou nie en hoekom hulle spesifieke gehore het. Hy voel die rede hoekom sy loopbaan so lank gehou het, is juis omdat hy in enige vertrek kan instap en sy gehoor lees.

“Dit is ’n skill om sommer so in ’n vertrek te kan stap en jou gehoor te kan lees, om te sien wie die karakters is en hoe jy hulle vir jou storie kan gebruik. Dit is iets wat ek oor die jare geleer het en iets wat ek nog elke keer gebruik wanneer ek ’n show doen.

“Maar ek voel dit is ook belangrik om by te hou met nuusgebeure en dinge wat plaaslik en internasionaal die tonge laat klap. Dit maak dit makliker vir jou om op jou voete te dink en met verskillende gehore te identifiseer. Dit is eintlik nie so maklik om snaaks te wees nie. Ja, dit is ’n talent, maar dit moet ook geoefen word sonder om rehearsed te klink.” Wayne sê navorsing is baie belangrik. Hy voel soos met enige beroep moet jy ’n bietjie kennis het om grappe te kan maak en mense te vermaak. Hy sê deesdae is dit baie moeilik om ’n komediant te wees veral omdat mense baie meer sensitief is en jy mense makliker kan omkrap. Maar tog voeg hy by, wil mense soms van hul realiteit laat ontsnap en net vir ’n paar ure lag.

Wayne in die ateljee by Bush Radio.

Sy resep werk

Vir ’n tydjie was die komedie scene in die Kaap baie stil en was Wayne bekommerd dat dit nooit weer sal regkom nie. Daar was baie min nuwe talent en mense het verveeld geraak van dieselfde gesigte. Hy sê dit is een van die redes hoekom hy bly is dat daar nuwe talent in die mark is, want hulle het dit nodig gehad. Maar aan die anderkant is hy ook glad nie bekommerd dat dit sy werk gaan minder maak nie.

Wayne werk by die gemeenskapsradiostasie Bush Radio en doen tussendeur comedy gigs en ook seremoniemeesterwerk. Hy voel ook nie die druk om soos die jonger komediante op sosiale media te wees nie. Hy reken dit is great om sosiale media te gebruik om jou show te adverteer, maar dit is nie die plek waar hy sy grappe vertel of mense probeer vermaak nie.

Hy glo nog in daardie persoonlike one on one audience experience en wil hê mense moet na hom kom kyk. Dit werk ook beter vir iemand soos hy, wat sy gehoor gebruik om baie van sy materiaal aanmekaar te sit. “Ek weet sosiale media werk vir baie van die jonger komediante, maar vir my kry jy nie daardie selfde effek op video as wat jy face to face kry nie.

Dit is dikwels hoekom baie mense teleurgesteld is wanneer hulle een van hierdie video sensations iewers live sien. Hulle kom nie so snaaks voor nie, want net omdat jy snaaks is op video, beteken nie dit gaan dieselfde wees wanneer jy nou voor ’n gehoor is nie. Maar soms werk dit wel uit en elke persoon het iets anders waarna hulle soek en wat hulle laat lag.”

Wayne het ook raad vir opkomende komediante. “Daar is baie verskillende tipes komedie en elke komediant het sy eie styl. Mense weet presies wat hulle wil hê en baie van my werkgeleenthede kom steeds van word of mouth. Solank jy net jouself is en doen wat vir jou die beste werk, sal mense met jou connect. As hulle met jou connect, gaan hulle vir jou vra. Maar dit is ook belangrik om met die tye te beweeg, jy kan steeds jou eie styl en grappies hou, maar gooi elke nou en dan iets nuuts in.” Nee wat, Wayne McKay is dalk ouer, maar hy is nog lank nie klaar om ons te laat lag nie. Hy lag dan net so lekker saam!

Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Wayne Mckay
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.