Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Wees dáár vir mekaar
7 Augustus 2019

Ken jy die irriterende gevoel van ’n verdraaide bra strap? Of ’n te klein panty wat jou boude heeldag knyp? Moes jy al ’n ander vrou vra om te kyk of jy nie op jou klere gemors het nie, want jy het jou maandstonde en voel selfbewus? As jy nie weet waarvan ek praat nie, is jy ’n man en praat ek dus nie met jou nie. Die meeste mans het seker in elk geval ophou lees by “maandstonde”.

Vroue het baie persoonlike uitdagings wat hulle elke dag in die gesig staar. Die bogenoemde voorbeelde is maar ’n druppel in die emmer. Ek meen maar, wag tot jy met die verkeerde shade foundation by die huis aankom en eers jou fout agterkom ná jy dit oopgemaak het.

Op ’n ernstiger noot: Ons word nie verniet die kwesbare geslag genoem nie. Volgens Statistieke Suid-Afrika se syfers vir 2018, is Suid-Afrika een van die lande met die hoogste verkragtingsyfers. Sowat 70% van die slagoffers is vroue. Die aantal vroue wat seksueel aangerand word, is nie eens deel van dié syfer nie.

Behalwe dat vroue met die kwesbaarheid moet deal, is hul skouers nog oorlaai met die verwagtinge van die samelewing. “Moet jy nie al getroud gewees het nie? Jy is al so oud en jy het twee kinders van verskillende mans? Wanneer koop jy huis of kar? Wanneer kom die kleintjies?”

Dan worstel ons ook nog by tye met selftwyfel. Is ek mooi, maer of slim genoeg? Wys die rok nie te veel nie of laat dit my nie oud lyk nie?

Ons vroue het klaar te veel hooi op ons vurke om nog tyd te hê om mekaar af te druk. Maar glo my vry, vroue sal plek maak op hul vurke om ander af te druk pleks van mekaar oplig en te ondersteun.

Ek het al baie gehoor hoe vroue sê hulle verkies om liewer vriende met mans te wees as met vroue, want “vroue skinder te veel oor als”. Maar mans het soms nie takt nie en skinder eintlik netso baie.

En wat weet mans in elk geval van die bevrydende gevoel wanneer jy jou hare losmaak ná ’n lang dag? Of wanneer jy jou bra uittrek en jou stres sommer ook weg is?

Ek sal skynheilig wees as ek sê ek was nooit aan die ander kant van die draad waar ek ’n ander vrou geoordeel of bespreek het nie. Nee kyk, die Here het die hele waarheid lief. As ons kan eerlik wees met mekaar, het jy al gevoel jy hou net nie van iemand omdat jy net nie van haar hou nie? Geen geldige rede nie.

“Ek like haar net nie. Ok?” Dit was my antwoord vir my vriendin oor my gevoel teenoor ’n ander student in my klas op universiteit – totdat my vriendin vir my die meisie se storie vertel het. Haar ma en haar pa was geskei. Die oom het haar ma, sonder ’n sent, vir ’n jonger vrou gelos. Haar ma was toe ’n enkelouer en het vrou-alleen gesorg dat haar studiegeld betaal word.

“En sy is eintlik baie nice, jy moet haar net ’n kans gee,” hoor ek nog my vriendin. En sy was reg, ek het anders na haar gekyk.

Ek het ’n gesprek met ’n kollega in die bedryf gehad. Dié kollega is nie baie geliefd onder ander kollegas nie omdat hulle meen sy is te stuck-up. Sy vertel my toe van haar gesin. Hoekom dit haar so lank gevat het om ’n bestuurslisensie te kry en hoekom sy liewer openbare vervoer gebruik as haar eie kar. “Want my kar is eintlik vir familiegebruik,” sê sy.

My punt is dat ons mekaar soms uit die staanspoor oordeel sonder om die hoekoms of waaroms te ken. Ons weet nie hoeveel dit ander kos om net hul gesigte in die publiek te wys nie.

Dieselfde energie wat dit vat om iemand nie te like, is dieselfde wat jy kan gebruik om iemand op te lig. In plaas van skinder, groet, komplimenteer en gesels met die vrou wat die onderwerp sou wees. Los die kompetisies en wees bly met en vir mekaar. Kom ons vier mekaar se oorwinnings, want om jaloers te wees, gaan jou ook nie beter laat voel nie.

Het jy al gevoel hoe lekker is dit as die span vir wie jy skreeu, wen? Ons vroue is een groot span en hoort mekaar se grootste fans te wees.

Moenie bang wees om ’n ander vrou te kroon nie. Jou beurt gaan ook nog aanbreek. Tot dan, skreeu vir jou span van die kantlyn af.

Meer oor:  Kuier  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.