Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Weggeruk: Elfjarige steek glo seun op George dood
6 Augustus 2020
Brendon Booyse (12) is glo deur ’n 11-jarige doodgesteek.

Die idilliese prentjie van seunskinders wat kaalvoet deur die strate hardloop en met selfgemaakte waentjies en albasters speel, is van die eerste gedagtes wat opkom wanneer ’n mens dink aan 11- en 12-jarige seuns in vroeër jare. Dit staan sterk in kontras met dié van hedendaagse seuns wat veels te vroeg deur hul omstandighede rypgedruk word. Maar dit is die realiteit en ons kan dit nie langer miskyk nie.

Wanneer ’n mens dink aan kinders in dié ouderdomsgroep is dit ook moeilik om te glo dat hulle in staat kan wees om te moor. Dat kinders op dié ouderdom reeds gestroop kan wees van hul onskuld en kindwees. Dit laat ’n mens met tergende vrae – hoekom pleeg kinders moord? Hoe integreer daai kind weer in die gemeen-skap? Is dit moontlik om die kind te rehabiliteer? Wie se skuld is dit en wat het in daai kind se lewe gebeur wat hom oor die afgrond gestoot het?

Dít is vrae waarmee ’n mens worstel wanneer jy hoor van ’n kind wat iemand vermoor het. ’n Steekvoorval wat Woensdag 24 Junie omstreeks 18:20 in Brucestraat, Borcherds in George plaasgevind het, het skokgolwe deur hierdie klein gemeenskap gestuur. Nie omdat steekvoorvalle nie algemeen is in die gemeenskap nie, maar omdat dit ’n 11-jarige kind is wat na bewering sonder om twee keer te dink die lewe van ’n 12-jarige, Brendon Booyse, weggeruk het.

Dit is iets wat die gemeenskap tot in sy fondamente geruk het. Kuier mag nie die beskuldigde se identiteit of dié van sy familie bekend maak nie omdat hy nog minderjarig is. Volgens lede van die gemeenskap kan hulle steeds nie glo dat iets so wreedaardig in hul gemeenskappie gebeur het nie. “Wat word van ons kinders?” wou ’n ouer bekommerd weet. ’n Ander is van mening kinders word te vroeg aan verkeerde dinge blootgestel en dan kry hulle nie berading om deur hul emosies te werk nie. “Maak ons dan nou moordenaars groot?” was die vraag van ’n ander. Hoe dit ook al sy, dié voorval is een wat dié gemeenskap met talle vrae gelaat en in rou gedompel het.

Brendon se klasmaats by sy begrafnis.

Daardie aaklige dag

Twee kinders wat mekaar glad nie geken het nie. So verskillend, maar waar dit omstandighede betref, ook tog so dieselfde. Albei het hul ma op ’n baie jong ouderdom aan die dood afgestaan. Nie een van hulle het berading ontvang nie en moes voortgaan met hul lewens asof niks gebeur het nie. Voor hul tyd rypgedruk deur omstandighede en nou is een oorlede en die ander se lewe het sedert daardie noodlottige dag onherroeplik verander.

Brendon is Saterdag 4 Julie ter ruste gelê ná sy ontydige dood. Doodgesteek op die ouderdom van 12. Dit maak nie saak hoeveel keer ’n mens dit sê nie; die skok wil nie wyk nie en ons koppe én harte sukkel om te begryp wat binne ’n oogwink so verkeerd kon gaan . . . Steyn Booyse (64), beter bekend as antie Sophie en Brendon se grootmaakma en ouma, is steeds in skok ná sy steekdood. “Die dood is nie onbekend aan ons nie. Ons almal weet ons gaan dood, maar ek het nooit gedink dat ek my kind op só ’n manier aan die dood gaan moet afstaan nie. Ek het ook nie gedink dat sy lewe so wreedaardig kortgeknip sou word nie.”

Antie Sophie onthou die dag van Brendon se afsterwe asof dit gister was. “Soos gewoonlik het Brendon hier buite gespeel. My seun het vir sy kind (Brendon se niggie) gevra om haar neef te gaan roep. Brendon het gesê dat hy saam met sy niggie gaan loop en die twee is laggend hier weg.” Dié twee kinders het te lank gemaak en ná ’n rukkie het die antie en haar seun hulle gaan soek. “Ons kon hulle nie kry nie en het maar weer huis toe gegaan. Ons het geweet dat hulle spoedig sal terugkeer. Hulle het nooit te lank weggebly nie.”

Volgens die antie was sy skaars in die huis toe iemand haar kom roep en vertel dat Brendon daar bo in die pad lê. “Ek kon dit nie glo nie en het gedink hy het miskien siek geraak of iets, want hoekom sal hy dan nou in die pad lê?” Dit is toe dat sy hoor dat hy gesteek was. “Om eerlik te wees het dit steeds nie tot my deurgedring nie, want wie sal dan nou vir Brendon wil steek? Hy is nie die tipe kind wat met ander kinders moeilikheid soek nie en ek het nooit eens gehoor dat hy met ’n ander kind baklei het nie.”

Haar ergste vrese is egter bewaarheid toe sy by die toneel aankom en haar bebloede kleinkind daar aantref. “Daar was bloed oral. Ek kon nie eens sien waar presies die bloed vandaan kom nie. Die kind het hom daar gelê en doodbloei en al wat ek kon doen, was om toe te kyk.” Sy het toe begin rondvra. “Een van die mense het aan my uitgewys dat die kind wat dit gedoen het ook daar staan. Ek kon nie glo dat dit ’n 11-jarige kind was wat dit gedoen het nie. Watter kind steek iemand met ’n mes sonder om te dink aan die ge-volge van sy aksies? En dan staan en kyk jy ook nog. Dit was vir my te veel . . .”

Deur baie storms

Dit is ’n hartseer antie Sophie wat vertel die gemeenskap het ook oproerig geraak. “Hulle moes die kind (wat na bewering vir Brendon gesteek het) en sy pa toesluit in ’n huis, want die mense het antwoorde gesoek. Omdat almal weet watter tipe kind Brendon was, kon mense nie glo dat dit juis hý was wat doodgesteek is nie.”

Volgens antie Sophie (na aanleiding van wat Brendon se niggie en ook die antie se kleinkind haar vertel het) het die neef en niggie straataf gehardloop toe die 11-jarige seun hulle voorgekeer het. “Hy het glo op ’n muurtjie gesit en toe hulle straataf kom, het hy afgespring. Hy het toe glo aan Brendon gesê: ‘Jy kom ek en jy d*nner mekaar’ en toe Brendon hom nie antwoord nie, het hy die mes uitgepluk en Brendon in die nek gesteek.” Die gedagte aan hoe Brendon gesteek word, is vir die antie een te veel en sy kan die trane nie meer keer nie.

Só het die George Herald oor die voorval berig.

“Weet jy Brendon was ’n kind wat lief was vir speel? Meeste van sy vriende was meisiekinders en ek het hom altyd gevra hoekom hy ook nie met die seuns speel nie. Hy was ’n liefdevolle kind, hoekom sal die kind dan nou vir hom wil seermaak? Hoekom hý? Hy kon dan nie eens ’n vlieg skade aandoen nie.”

Antie Sophie moet vir ’n rukkie eers asemhaal om haar emosies onder beheer te kry. “Ek glo vas dat hy nog sou kon geleef het. Hy het letterlik daar gelê en doodbloei. Dit het ure vir die polisie en ambulans gevat om te kom. Ek sien nou nog die bloed in my geestesoog. Daar is nou so klomp stories oor die twee kinders wat baklei het, maar hulle het nie baklei nie. Hy het geen rede gehad om Brendon te steek nie. Niemand het die reg om iemand anders se lewe te neem nie, niemand nie . . .”

Dit is duidelik dat die wond nog rou is. “Elke dag sit ek buite en sien hoe die kinders aangehol kom van die skool af. En elke dag sit en wag ek vir Brendon om ook om daai draai te kom, tevergeefs, want hy sal nooit weer om daai draai kom nie. Daar gaan nooit weer kos in sy bak geskep word nie.” Sy vertel dat sy soms in haar huisie sit en dan wil sy na Brendon uitroep.

“Dan moet ek myself herinner dat hy nie meer daar is nie. Die kind wat alles vir my gedoen het, is nie meer nie. Hoe kom ’n mens oor dié hartseer?” wou die antie weet terwyl sy die trane met die agterkant van haar hand afvee. Dan glimlag sy skielik. “Hy was so opge-wonde om volgende jaar hoërskool toe te gaan. Hy was so ’n liewe kind en dit is juis hoekom dit so bitter moeilik is om te aanvaar dat hy op só ’n manier van ons weggeneem is. Hy was ’n slim kind, slimmer as die ander klôgoed. Hy het sommer sy huiswerk by die skool gedoen en hy kon jou altyd reghelp met ’n syfer. Sy toekoms was blink. Hy het drome gehad en hy het altyd gesê dat hy hard gaan werk om vir my ’n beter lewe te gee. En nou is hy weg . . .”

Antie Sophie vertel dis so ironies dat Brendon ook doodgesteek is omdat sy pa op dieselfde manier ’n paar jaar terug gesterf het – ook onskuldig. “En hy was die dag by toe hulle sy pa steek met die mes. Hy het gesien hoe hulle sy pa doodsteek en dit is natuurlik iets wat hom altyd bygebly het. Eers het hy sy ma verloor (toe hy vyf was) en toe so skielik en wreedaardig sy pa.

Vir sy jong ouderdom moes hy al baie storms trotseer, maar hy het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie. Kinders wat sonder ouers grootraak is geneig om maar ’n bietjie van die pad af te dwaal, maar hy het nie toegelaat dat sy omstandighede die rigting van sy lewe bepaal nie. Hy was maar altyd positief al het hy al so baie in die lewe verloor.”

Seer vir albei families

Steyn Booyse, Brendon se ouma, is steeds in stukke ná haar kleinkind se afsterwe.

Chris Spies, ’n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die Conville-polisie ondersoek ’n saak van moord ná die dood van ’n 12-jarige seun. ’n Voorlopige ondersoek het getoon dat die slagoffer en ’n seun ’n struweling gehad het. Die slagoffer het toe ’n steekwond aan die nek opgedoen en is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.”

Volgens die polisie is die 11-jarige seun dieselfde Woensdag in hegtenis geneem in verband met die saak. “Een van sy ouers het hom na die polisiekantoor gebring ná die voorval. Hy is later in die sorg van sy ouers vrygelaat.”

Die beskuldigde het nie in die hof verskyn nie aangesien hy ingevolge die Wet “onder ouderdom” is. Die saak is aan maatskaplike dienste oorhandig. Antie Sophie sê dat sy geen haat in haar hart kan dra nie, maar erken dat sy nog nie die kind vergewe het nie.

“Soos ek verstaan, het daai kind ook al deur baie in sy lewe gegaan, maar dit gee hom nie die reg om te doen wat hy gedoen het nie. My kop raas elke keer wanneer ek dink dat dit ’n 11-jarige kind is wat Brendon gesteek het. Hoe kan ’n kind ’n ander kind so seermaak? Doodmaak? Is dit die tye waarin ons lewe? ’n Tyd waar kinders mekaar vermoor en meer hartseer veroorsaak as vreugde? Dit kan mos nie so werk nie!” sê sy terwyl die trane weer vrylik oor haar wange rol. Sy verduidelik wat die seer nog erger maak, is dat die polisie of maatskaplike dienste nie eens met hulle kommunikeer nie.

“Die polisie was nog nooit weer by my huis ná die voorval nie. Ek weet nie of hulle die kind in ’n plek van veiligheid gaan plaas nie. Ons weet absoluut niks en dit is nie regverdig nie. Ons verdien om te weet wat gedoen gaan word om daai kind te rehabiliteer en reg te help. Daar is duidelik iets fout en dit moet aangespreek word.”

Sy klasmaats bring hulde aan hom by sy bank.
Brendon in die klas.

Sy vertel dat Brendon se niggie, wat saam met hom tydens die steekvoorval was, steeds berading ontvang. “Daai kind was deurmekaar en ons moes noodgedwonge hulp inroep om haar te help. Dit was ’n baie traumatiese ervaring en ons is bly sy het ongedeerd daarvan afgekom.” ’n Familielid van die beskuldigde sê die voorval het ook húl lewens onherroeplik verander.

“Dit is ’n tragedie wat hier gebeur het en niks wat ’n mens sê, kan dit goedpraat nie.” Volgens die familielid is die beskuldigde se ma onlangs oorlede en die wond is nog rou. “Hy het nog nie tyd gehad om met sy ma se dood vrede te maak nie en om jou ma op so ’n ouderdom te verloor, kan enige kind knak. Ek praat dit nie goed nie, maar ek dink as hy berading of hulp ontvang het ná sy ma se dood kon die tragedie vermy gewees het.”

Volgens die familielid is die kind in sy pa se toesig vrygelaat, maar die kind is tans by ander familielede uit vrees vir sy veiligheid. “Die kind is natuurlik nou bang en hy is by ander familielede sodat hy tyd kan neem om oor die ergste skok te kom. Die voorval het ook dié kind se lewe verander en sy onskuld heeltemal weggeneem. Ek kan nie dink die emosies waarmee hy nou moet sukkel nie.”

Die kind ontvang tans berading. “Dit gaan nou baie beter met hom. Meer as dit kan ek nie sê nie. Ons as familie treur saam met Brendon se familie en ons harte gaan uit na hulle.”

Dan moet ek myself herinner dat hy nie meer daar is nie. Die kind wat alles vir my gedoen het. Hoe kom ’n mens oor dié hartseer?

Sielkundige se raad

Dr. Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê mense moenie geskok wees as hulle hoor van kinders wat so jonk moor nie. Sy het al met soortgelyke voorvalle gewerk. “Dis iets wat al hoe meer voorkom. Ons kinders is produkte van die samelewing. Ons moet ’n oomblik vat en dink wat ons kan doen om daai kind te help. Dis ons almal se verantwoordelikheid om by te dra tot die welstand van ’n kind.”

Sy verduidelik daar is twee dele in die brein wat moet ontwikkel vir ’n kind om empaties te wees. “As ’n kind in ongunstige omstandighede grootwoord waar daar armoede, misdaad, mishandeling, verlies en al daai tipe goed betrokke is, is dit moontlik dat die twee dele nie genoegsaam ontwikkel nie. Dit gee dan aanleiding dat ’n kind nie empatie voel teenoor sy medemens en selfs diere nie. Dit lei dan tot kinders wat moor of mense seermaak.”

Volgens Marita is dit moontlik om kin- ders te rehabiliteer en herintegreer in gemeenskappe as hulle só ’n tipe misdaad gepleeg het. “Mense moet verstaan dat rehabilitasie en genesing nie in ’n sielkundige se kantoor of by ’n detensiesentrum plaasvind nie. Die kind se omstandighede moet aangepas word. Verandering en rehabilitasie begin by die huis. Dit baat nie die kind kry sielkundige hulp, maar moet teruggaan na die omstandighede wat hom/haar tot die uiterste gedryf het nie.”

Sy glo ons kan verhoed dat kinders met die gereg bots deur die gesegde “it takes a village to raise a child” toe te pas. “Mense moet die houding my kind is jou kind aanneem. As jy sien ’n kind sukkel, moet jy intree en help. Ons gaan net ons kinders kan help as ons daadwerklik optree en verantwoordelikheid neem vir hulle. Kinders is produkte van ons samelewing, kom ons skep ’n gunstiger samelewing met gunstiger omstandighede.”

Meer oor:  Kuier  |  Misdaad  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.