Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Weggooibabas: Vrou maak hart en huis oop
11 Desember 2019


Min dinge vermurwe ’n mens se hart so vinnig soos die tandlose glimlag van ’n baba. En dit is die eerste gesig wat jou begroet wanneer jy by Atlantic Hope in Seepunt instap – glimlaggende babas. Dit is moeilik om te glo dié einste oënskynlik, gelukkige en gesonde babas was nie so lank terug nie aan hul eie genade oorgelaat en sonder heenkome.

Maar Atlantic Hope versorg nie net weggooibabas nie, hulle kyk ook na dié wat wag vir aanneming, kinders wat uit hul voogde of ouers se sorg gevat is weens verwaarlosing of mishandeling en babas wat vermoedelik slagoffers is van kinderhandel. Dit is ’n plek van veiligheid vir babas en bied holistiese ontwikkelings-, liggaamlike en emosionele versorging aan verlate en kwesbare babas vanaf geboorte tot ’n jaar oud. Hulle sorg dat daar in die babas se mediese behoeftes voorsien word, dat hulle gevoed, warm gehou word en toegeneentheid geniet in ’n stabiele en uiters koesterende omgewing.

Marilyn May (55), stigter van Atlantic Hope en ’n voormalige verpleegster, vertel met ’n glinster in haar oog hoe die organisasie ontstaan het. “Ek het vrywillige werk by ’n plaaslike staatshospitaal gedoen en mammas in die kraamsaal gehelp met borsvoeding. Terwyl ek eendag daar was, was daar ’n baba wat aanhoudend gehuil het. Ek het hom opgetel en sy hart teen my bors voel klop en die verpleegster gevra waar sy ma is. Sy het gesê sy ma het hom in die hospitaal gelos.”

Dié herinnering aan daardie dag laat Marilyn met ’n knop in haar keel. Sy moet ’n paar keer sluk voor sy vertel dat sy daadwerklik opgetree het om by maatskaplike werkers uit te kom sodat die seuntjie saam met haar kon huis toe gaan. “Ná verskeie navrae het ek uitgevind ek kan ’n veiligheidsouer word wat na babas kan kyk tot hulle aangeneem of in sorg geplaas kan word. Dit was die begin van Atlantic Hope in Maart 2010. Die begin van ’n nuwe lewe vir my en die babas.”

Ná verskeie screenings en prosesse is Marilyn geskik verklaar om as veiligheidsouer in te tree en drie maande ná sy die huilende seuntjie in die hospitaal opgetel het, het sy die oproep gekry dat sy haar eerste baba gaan ontvang. “Ek was oorweldig met emosies. Dit was beide opgewondenheid en angs. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar die stem in my het my laat besef dis my doel op die aarde.”

Maak ’n verandering

Marilyn vertel laggend dat die tweede, derde, vierde en vyfde baba kort op die eerste baba se hakke gevolg het. Sy moes groot veranderings in haar huis aanbring om die kinders te huisves. “Ek het my sitkamer en eetkamer omskep in ’n veilige en koesterende ruimte waar ses babas op ’n slag kan bly.” Volgens Marilyn was dit ’n baie groot aanpassing vir haar en haar twee kinders.

“Daar is baie uitdagings wat ons al moes trotseer, maar die goed oorheers lag-lag die kwaad.” En nou nege jaar later bestaan Atlantic Hope steeds. Marilyn se tuiste en die groep bekwame versorgers en personeel wat 24 uur per dag na hulle omsien, is die toevlug vir hierdie klein babatjies.

Met Kuier se besoek aan Atlantic Hope is twee tienervrywilligers, Idana Saven (14) en Thea de Lange (15), besig om tyd met die babas te spandeer. Dit is moeilik om te glo dié twee is so jonk as jy sien hoe hulle die babas met liefde en versigtigheid hanteer. Dié twee vertel opgewonde dat hulle elke Dinsdag ná skool by Atlantic Hope deurbring. Die babas “gesels” en lag met hulle en jy kom agter hulle is welbekend en vertroud met hulle. Atlantic Hope het tans 17 vrywillige werkers en nege permanente werkers insluitend Marilyn.

90% van verlate kinders is jonger as een jaar oud.
Mediese Navorsings raad (2018)

Die nege permanente versorgers werk in skofte. Met ’n sagte stem vertel Marilyn hulle verskaf nie net kinderveiligheiddienste by Atlantic Hope nie, maar ook na-ure-sorg. “Só moet maatskaplike dienste byvoorbeeld in die nag uitgaan as hulle ’n oproep kry oor die bure se kind wat aanhoudend huil en die ouers is nêrens te vinde nie. Hulle vat die kind en sal die kind na ons toe bring om na hom of haar om te sien tot die departement van maatskaplike ontwikkeling intree en/of die kind tydelik in ons sorg los of die kind in ander sorg plaas.”

Volgens haar is daar twee soorte kinderverlating. “Een wat ons noem safe abandonment en dan unsafe abandonment. Safe abandonment is wanneer die ma die kind op ’n veilige plek los waar sy weet iemand die kind sal kry en versorg. Daar het al ’n ma haar kind by iemand op die parade gelos en gesê sy gaan gou badkamer toe, sy het nooit weer die kind kom haal nie. Dit is safe abandonment.”

Daarteenoor is unsafe abandonment waar die baba se lewe in gevaar gestel word. “As die kind in ’n toilet of drein gelos word, is daar amper geen moontlikheid dat die kind sal oorleef nie.” Marilyn raak bewoë as sy praat oor die babas en die toestande waaruit hulle kom. “Dit breek my hart, maar wat ek altyd sê is dat ’n mens nie die ma’s kan oordeel nie omdat jy nie weet waardeur hulle gaan nie. Miskien was die vrou verkrag of sy het nie geweet dat sy maatskaplike dienste kan nader om haar te help met die aanneming van die kind nie.”

Een van haar uitdagendste ervarings was die plasing van ’n baba wat ’n ontstellende abandonment gehad het, maar tog oorleef het. “Dit is ’n groot beloning om die kinders te kan koester en die nodige liefde te gee as ’n mens dink aan wat kon gebeur het.” Sy sê wanneer die kinders by Atlantic Hope kom, is hulle gewoonlik ondervoed en het ook gesondheidsprobleme. “Maar met die nodige liefde, gesondheidsorg en aandag is hulle binne in ’n japtrap fris en gesond. En dit is waarna ons streef – om vir die babas die nodige fondasie te lê van vroeë liefde en sorg en dit sal dan die fondasie wees vir die res van hul lewens.” Sy vertel nostalgies van die eerste keer toe ’n kinderlose paartjie een van die babas aangeneem het.

“Om die geluk op daai ouers se gesig te sien, was priceless. Dit is oomblikke soos dié wat ek vir niks sal verruil nie. ’n Liefde vir ’n kind is een wat alle grense oorskry. Dit is regtig ongelooflik.” Ten spyte van verskeie uitdagings sê Marilyn haar passie vir die werk en vir die babas is wat haar staande hou. “Om te sien hoe die kinders verander van die dag dat hulle hier kom tot die dag wat hulle weggaan is iets wat ek nie in woorde kan omskryf nie. Om vir ’n kind stabiliteit en liefde te kan bied, is die beste geskenk wat jy hulle ooit sal gee. En ek het die voorreg om dit al vir amper 10 jaar te doen. Daar is niks meer wonderlik as dit nie . . .”

* Atlantic Hope fasiliteer nie aannemings nie. Besoek www.atlantichope.co.za as jy kontak met die organisasie wil maak.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.