Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wellington leef in vrees ná reeks moorde
8 Augustus 2018

Wellington buite die Kaap sal nooit weer dieselfde wees nie. Inwoners van dié Bolandse dorp is geruk deur die nuus dat ’n beweerde reeksmoordenaar al sedert 2006, sonder hul medewete, daar doenig is. En na bewering het die beweerde moordenaar in Junie, in die middel van die winter, toegeslaan. Drie vroue se lyke is al opgegrawe en sommige dink die dodetal kan tot 15 styg . . .

Hulle het vermis geraak en was laaste in die geselskap van die beskuldigde, Johan Williams (47), van Wellington, gesien. Jy kan amper die skok, ongeloof en onsekerheid op die dorp aanvoel. Mense kan nie glo dat die skuldige glo jare lank houtgerus tussen hulle jag gemaak het op desperate vroue wat werk gesoek het nie.

En nou is die dorp vasgevang in ’n wurggreep van vrees. Ouers hou deesdae ’n fyner oog op hul kinders en niemand weet hoeveel lyke nog opgegrawe gaan word nie. Mense praat en gis oor wat gebeur het en wat nog voorlê . . .

Die sweer van geweld het oopgebars nadat die lyk van Chantell Matthysen (21) op 2 Julie vanjaar in ’n vlak graf naby die plaas, Aubon Rue, gevind is. Sy is glo verwurg. Twee dae later, op 4 Julie, is die gedeeltelik verbrande liggaam van Maria Isaacs (33) van die plaas Middelpos op Malmesbury, naby die plaas, Bakenhof op die R45 gevind.

En op 5 Julie is ’n geraamte langs die R45 gevind. Chantell is laas op 23 Junie gesien nadat sy ’n trein Wellington toe gevat het om die vermeende moordenaar te ontmoet nadat hy haar werk as ’n vrugtepakker in die omgewing belowe het. Baie glo as dit nie vir Chantell se ma, Carol Petersen, was nie, sou hulle Johan dalk nie vasgetrek het nie. ’n Vasbeslote Carol het dag en nag in Wellington na haar geliefde dogter gesoek. Carol vertel sy het nooit Johan se “liegstories” geglo nie.

Volgens haar het sy onraad vermoed toe sy nie van haar dogter hoor nie. “Elke keer as ek haar bel, was haar foon af of hy het die foon opgetel. Dan het hy net gesê sy is by die werk of sy het haar foon by die huis vergeet of dit is nie gecharge nie.” Johan is in hegtenis geneem kort nadat Chantell se lyk gekry is en hy het glo daarna die ander twee lyke aan die polisie uitgewys.

Klaarblyklik het hy dieselfde slenter met Maria Isaacs (33) en Natalie Jonkers (35) gebruik, want albei het vermis geraak nadat hy hulle glo werk belowe het. Vir Maria, ’n ma van drie, het hy blykbaar werk in Touwsrivier belowe. Sy het op 16 Junie vermis geraak. Vir Natalie het hy glo belowe hy sal ’n vergadering fasiliteer waar sy R5 000 kon kry om haar skuld af te betaal. Sy het op 12 Junie 2012 vermis geraak.

Gemeenskap geskok

Mense wat Johan ken, was glad nie voorbereid op die skok nie. Nie een van hulle het hom as ’n moordenaar aangesien nie.

Trouens, hulle beskryf hom as ’n stil, netjiese en behulpsame man wat hom uit ander se sake gehou het. Johan het op ’n plaas grootgeword. Bettie Goodman van Wellington, in wie se jaart hy die afgelope vier maande gewoon het, sê sy het niks agtergekom het nie. Bettie sê sy ken hom eintlik al vir die afgelope ses jaar en het nooit gedink hy is tot so iets in staat nie.

“Ek voel seergemaak. Wat as dit een van my meisiekinders was? Hy het veral met een van my dogters gespeel. Ek het hom vertrou,” vertel Bettie. Sy sê dit maak haar siek dat alles onder haar neus gebeur het en sy niks onraad vermoed het nie. “Die ding het my so siek gemaak ek kon skaars slaap. Dit het so te sê onder my dak plaasgevind en ek het niks agtergekom nie.” Bettie sê haar hart is stukkend en gaan uit aan die families wat hul geliefdes op só ’n wrede wyse verloor het.

Volgens haar het die moorde haar soos ’n vuishou getref en vat sy dit nou maar een dag op ’n slag om alles te verwerk. Nog ’n inwoner, Katie White, vertel sy was tot in haar skoene geskok toe sy Johan se gesig in die koerant sien. “Ek het gedink, ‘Haai, dis mos die man wat elke dag verby ons huis loop.’ Hy was altyd stil en het net gegroet.”

Mitchell Hartogh, die voorsitter van die Bellevue-buurtwag, vertel hulle het gehelp om na Chantell te soek. Mitchell ken Johan van sien in die gemeenskap en sê hy het glad nie vermoed Johan was eintlik die culprit nie. “Dit kon met enigeen van ons kinders in die gemeenskap gebeur het. Die gemeenskap sal nou meer waaksaam moet wees. Ons weet nie of daar dalk nog lyke is nie,” sê Mitchell. Abraham Mentoor, ’n inwoner en ook lid van die buurtwag, sê die hele gedoente het die gemeenskap erg skrik op die lyf gejaag.

Volgens hom het Johan nou vir Wellington ’n slegte naam gegee. Mentoor voel die owerhede moet nou strenger optree en rekord hou van elkeen wat in ’n wendy-huis in iemand se jaart wil kom bly. “Die gemeenskap is glad nie gelukkig oor die hele saak nie. Ons is seergemaak. Ons is bang vir ons kinders. Ons het nie gedink só iets hier sou gebeur nie.” As jy van aangesig tot aangesig met Johan Williams kom, soos ek gedoen het toe ek hom in die Allandale-gevangenis in Paarl besoek het, is daar geen teken van die stil man soos hy vroeër beskryf is nie.

Beskuldigde praat

Sy oë lyk wild en sy hande grof. Hy is korter as ek en hy praat met soveel selfvertroue. Toe ek hom eers ontmoet, het ek nie geweet hoe om te voel nie. Ek was eers erg senuweeagtig, maar dit het vinnig verander toe ek eers met hom begin praat.

Trouens, hy het nogal baie te sê. Hy is baie bekend onder die ander gevangenes en spog half by hulle dat ’n joernalis vir hom kom kuier het. Ek was nie juis bang vir hom nie en wou hom aan my kant hê. Maar eers soek hy R15 000 betaling, ’n gros sigarette en KFC voor hy begin praat.

Toe hy sien dit gaan nie materialiseer nie, begin hy vertel hoe hy elk van die drie vroue vermoor het. Hy wil sy kant van die saak stel, sê hy, “want alles wat in die media oor hom geskryf is, is leuens”. “Wanneer ek hier uitkom gaan ek almal sue. Hulle weet nie wat daartoe gelei het dat ek die moorde pleeg nie.

Die mense wat die goed in my kop geprint het, loop nou lekker daar buite rond.” Johan staan tereg op twee aanklagte van moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Met sy vorige hofverskyning het die hof gesê hulle mag dalk nog klagtes byvoeg. Hy verskyn op 11 September weer in die hof. Wat egter nog in die hof gaan uitkom, sal ons moet wag en sien.

Reeksmoordenaar

Prof. Dap Louw, ’n buitengewone professor in forensiese sielkunde en kriminologie, verduidelik: “Daar is verskeie definisies van ’n reeksmoordenaar. Die volgende omskrywing word egter wyd aanvaar: Dit is ’n persoon wat drie of meer persone oor ’n periode van meer as ’n maand vermoor het, met ’n redelike ‘afkoelingsperiode’ tussen elke moord. ’n Reeksmoordenaar moet nie met ’n massamoordenaar verwar word nie.

Johan Williams, ’n beweerde moordenaar, word daarvan verdink dat hy vroue in die Boland rondom Wellington gelok en vermoor het.

Laasgenoemde is iemand wat vier of meer persone tydens dieselfde geleentheid en op een plek vermoor. Daar is dus nie ’n ‘afkoelingsperiode’ nie. “Reeksmoorde kom min voor en maak minder as 1% van alle moorde uit. Hierdie soort moorde het nie noodwendig ’n seksuele motivering nie. Verskeie ander motiveringsfaktore kom voor, byvoorbeeld die blote emosionele opwinding (’adrenalien rush’) om iemand dood te maak, finansiële gewin, woede of selfs om ‘beroemd’ te wees. “Relatief min reeksmoordenaars ly aan so ’n ernstige psigiese versteuring dat dit deur die hof in aanmerking geneem sal word. Psigopatie, wat veral deur ’n gebrekkige gewetensfunksie gekenmerk word, kom wel dikwels voor.

“Dis interessant dat reeksmoordenaars tydens hul ‘afkoelingsperiode’ (wat selfs jare kan duur) met hul normale lewe voortgaan asof niks gebeur het nie. Hulle vertoon nie vreemd nie, het dikwels ’n huis, gesin en werk. Dis een van die hoofredes waarom hulle nie gouer gearresteer word nie. Reeksmoordenaars is ook dikwels ‘werksaam’ in ’n spesifieke geografiese area waarmee hulle bekend is. “Dit word algemeen aanvaar dat daar nie een identifiseerbare oorsaak van reeksmoord is nie.

Die goue reël in die sielkunde dat elke mense uniek is, dit geld ook vir reeksmoordenaars. Daar is dus nie ’n profiel van ’n reeksmoordenaar nie. Byvoorbeeld, hoewel reeksmoordenaars dikwels uit ’n onstabiele agtergrond kom, is van die bekendste reeksmoordenaars van stabiele en ondersteunende huisgesinne afkomstig. Reeksmoordenaars kom van enige etniese afkoms en meer as 90% is mans.”

Foto’s: Peter Abrahams en Verskaf


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Wellington-Moorde  |  Misdaad  |  Reeksmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.